Gebedsgids Junie 2025 – NG Kerk Groot-Brakrivier

God se stem in die seisoene

U wat al die seisoene van die aarde vasgestel het; somer en winter is die werk van U hand” – Psalm 74:17.

GEBEDSGIDS – JUNIE  2025

1 Junie – Sondag –  Prys die Here van die aarde af

U hande skep die weerligstrale en die donderwolke wat water dra. Die reën deurweek die aarde, die oes spruit uit die grond.  U sorg vir mens en dier,  U skenk die lewensbrood.  Gebieder van wind en weer, ons loof U soos die Woord ons leer.

2 Junie – Maandag –  Jy is vergewe

Soos U eenmaal geoffer is vir ons sondes, weet ons verseker dat as U weer verskyn, kom U om verlossing vir ons te bring – vir dié wat Hom verwag. Vader,  dankie dat U ons Trooster, Heiligmaker en ons Redder is.  U het die prys betaal.

3 Junie – Dinsdag – My genade vir jou is genoeg

Vader, U krag kom tot volle werking wanneer ek swak is en daarom sal ek liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees.  Ek is dankbaar oor swakhede en ontberings terwille van Christus.  Want as ek swak is, is ek sterk.

4 Junie – Woensdag – Jesus se onvoorwaardelike liefde

Kol 2:13 God het julle egter saam met Christus lewend gemaak deurdat Hy ons al ons sondes vergewe het.  Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak.  Deur dit aan die kruis te spyker.  Hy het dit vir goed weggeneem.

5  Junie – Donderdag – Onmeetbare grense                                                                                     

Here,  ons het mekaar altyd nodig – in tye van krisis, smart en twyfel, maar ons afhanklikheid van U is onmeetbaar.  Ons kan nie sonder U goedheid leef nie.  U vrygewigheid ken geen perke nie en U genade ken geen grense nie.

6 Junie – Vrydag – Geen einde aan U seëninge

Dankie Vader dat U groter is as ons wildste drome.  U het seëninge, geleenthede en deurbrake voorberei wat buite ons begrip is.  Wanneer ons toelaat dat die Heilige Gees ons lei, begin ons om die volheid van U plan vir ons lewens te beleef.

7 Junie – Saterdag –   Nader aan Jesus

Wanneer ons Jesus volg, vrywaar dit ons nie van hartseer, swaarkry of versoekings nie, maar weet vir seker dat Hy ons altyd sal lei na die toppunt van oorwinning.  God se liefde sal nooit opraak en my nooit verlaat nie.                                                                                                                     

8 Junie – Sondag – Skaaplammers van die kerk

Vader, dit is moeilik om in die skoene van die jeug te staan. Ons as gemeente moet hulle aanmoedig  en hulle die vryheid gee om te groei.  Vader, mag hulle geïnspireer word om U woord te ondersoek en hulle ‘n honger hart sal kry na geloof en wysheid in U.

9 Junie – Maandag –  Oorvloedige dankbaarheid

As dit goed gaan met jou, moet nooit vergeet dat dit die Here se seëninge is nie, as dit sleg gaan moet nooit vergeet dat Sy seëninge net een gebed ver is nie.  As jy siek, hartseer of moedeloos is, onthou die onbeperkte bron wat in jou werk, Dis God, want Hy kan.                                                     

10 Junie – Dinsdag – Van vroegdag tot laatnag

Hemelse Vader, dankie vir nog ‘n dag wat ons U kan verheerlik en behaag.  Ek wil U teenwoordigheid soek, van vroegdag as die son opkom tot wanneer dit ondergaan.  U lof sal altyd op  my lippe wees. Ek doen dit alles tot eer van God.

11 Junie – Woensdag – Gemeenskaplike byeenkoms

Jesus, ons bid vir vandag se blokbyeenkoms en vra dat ons met positiewe gedagtes  na mekaar sal uitreik en bereid sal wees om nederig en dienend teenoor mekaar te wees  My hartsbegeertes is om U naam te verheerlik.

12  Junie – Donderdag –  By Jesus se voete

Dankie Here dat U ons elke dag koester met U liefde en sorg.  Vandag bid ons vir elkeen wat hulle pyn, hartseer en kommer verberg.  Mag die son in hulle  harte skyn en Jesus se  vrede ervaar. Die hoogste plek waar ons nou wil wees, is aan die Voete van Jesus.

13 Junie – Vrydag – Onskatbare beloftes

Die koninkryk van die hemele is soos ‘n skat wat in die veld begrawe lê.  Iemand ontdek dit en gooi dit toe om dit later weer oop te maak.  God het vir ons so baie skatte beskikbaar gestel – dit is die beloftes van God in Sy Woord en die waarde daarvan is onskatbaar.

14 Junie – Saterdag –   Oorwinnaarskrans

Hemelse Vader, ons is losgekoop deur U enigste Seun wat aan die kruis vir my gesterf het – ‘n soenoffer vir ons sondes en daarom wil ek voor Hom buig.  Ek wil tot die dood toe getrou bly aan Hom – Jesus sal vir ons die oorwinnaarskrans van die lewe gee.

15 Junie – Sondag –  Vir al ons vaders

Liewe Heer, dankie vir my pa wat my geleer het om te kniel en te bid sodat ek Jesus kon vind.  Mag U liefde, vrede en genade elke vader vandag omvou en hulle toerus met die wysheid en krag. Ons wil hulle vandag omhels – hulle is ons liefde en ons trots.  

16 Junie – Maandag – Jeugdag – Hou op om terug te kyk

Vergeet die dinge wat agter is en strek uit na wat voor is en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Jesus Christus.  Jou roeping lê voor jou, jou identiteit is in Christus, nie in jou verlede nie.

17 Junie – Dinsdag – Gesprekke met Jesus

Elkeen wat in Jesus Christus glo, ontvang vrede met God.  Jesus se vrede is in ons harte – dit gee vrymoedigheid om in ‘n diep persoonlike verhouding met Hom te leef.  Jesus se vrede is kosbaar en uniek.

18 Junie – Woensdag –  Blokbyeenkomste

Heb 10:24:  Laat ons na mekaar omsien deur aansporing tot liefde en goeie dade.  Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly nie maar mekaar eerder aanmoedig en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom.  

19 Junie – Donderdag – Omsoom jou lewe met gebed

Dankie Vader dat ons U kan aanroep wanneer ons siek  en afgemat is en soms verslae en lusteloos.  Ons moet net aanhou bid en nie vreugdeloos en kragteloos word nie.   Ons staan op God se beloftes, maar ons moet volhard in gebed elke dag.

 20 Junie – Vrydag – Vertrou God vir deurbrake

Vader, ons wil U dien met al ons talente, vir watter rede en doel.   Ek is ‘n leë kruik, kom vul dit met U genade en vul my siel met U liefde. Dankie dat U my gebed gehoor het toe my rug  teen die muur was –  finansieel en geestelik  uitgeput.

21 Junie – Saterdag – Jesus verander harte

Ons dank die Here dat Hy ons harte van klip wil verruil vir ‘n hart van vlees.   Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorsprong van die lewe.

22 Junie –  Sondag – Moenie terughou nie

Jesus was nie weerhou deur skares toe Hy twee blinde mense wou genees nie.  Hy wou ook die leiers van Jerusalem wat blind was vir die Messias, bewys wie Hy is.  Ons moet dus ook getrou wees teenoor ons roeping in die Koninkryk –  moet niks terughou nie.

23 Junie – Maandag – Wees ‘n instrument

Ons dank U Vader vir die talente wat vir ons toegedeel is.  Rus my toe sodat ek U kan dien en verheerlik. Dankie dat ons instrumente in U hand is, gereed vir U werk.

24 Junie – Dinsdag –  Wanneer ek swak is

Rom 8:26  Die Gees staan ons ook in ons swakheid by –  ons weet nie hoe om te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie. Wat gebreek is, sal Jesus kom heelmaak. Deur sy Woord weet ons alles  maak sin.

25 Junie – Woensdag – Beplan en doelgerig

Vader, U het die son, maan en sterre volgens skepping in hulle eie bane gesit – elkeen met rigting en doel.  Ek dank U dat ons deel van U plan was en bid dat U my ook in ‘n unieke baan sal plaas waar ek doelgerig en toegewyd diensbaar vir U kan wees.

26 Junie – Donderdag –  Dien die Here met blydskap                                          

Hemelse Vader, ons bid vir ons boere gemeenskap wat van vroegdag tot laatnag op landerye swoeg om voedsel te voorsien.  Ons bid vir hulle beskerming en dank U vir lewe in oorvloed.

27 Junie  – Vrydag –  Gebed vir ons kinders

Here, dit is ‘n voorreg om ons kinders in U woord en liefde groot te maak.  Gee ons elke dag die nodige wysheid om hulle voor te berei op hulle lewenspad.

28 Junie –  Saterdag – Kragtige deurbraak

Vader, wanneer alles donker om ons lyk, gee dat U lig van genade sal deurbreek en die donkerte verdryf.  Ons bly getrou aan U Vader, want ons weet U sal mildelik voorsien. 

29 Junie – Sondag – Jan Kriel Akademie is uniek

Bring die kinders na Jesus, Hy sal hulle beskut en beskerm.  Vader, voorsien asseblief in ons kinders se fisiese en emosionele behoeftes.  Hulle is geliefd en tydelik geleen aan ons.

30 Junie – Maandag – Ons Vader voorsien oorvloedig

Dankie Vader  vir seëninge in oorvloed, vir U vrygewigheid en lankmoedigheid.  Dankie vir ons bene om die wedloop te hardloop en vir my stem om van U goedheid te getuig.