Gebedsgids vir elke dag van Januarie 2026

1 Januarie – Donderdag –  Ek sal julle  nooit verlaat nie

Hemelse vader, sal U ‘n helder vlam voor my wees, sal U die sterrewyser bo my wees en sal U ‘n gelyke pad onder wees. My goeie Herder – vandag, vanaand en vir altyd.

2 Januarie – Vrydag –  U werp ons sondes in die see

Vader, ek wil wegstap van die verlede se foute en begin werk aan ‘n nuwe lewe.  Dankie dat U sondes vergewe en dat U nie vir altyd kwaad bly nie.  U betoon liefde en sê U sal al ons sondes in die see werp. 

3 Januarie – Saterdag – Wanneer die storms kom

Wanneer jy deur diep waters gaan, sal Ek by jou wees en hulle sal jou nie oorstroom nie.  Wanneer jy deur die vuur gaan, sal jy nie skroei nie, en die vlam sal jou nie brand nie.                                          

4 Januarie – Sondag –  Straf ons, maar nie in U toorn nie

Here, ek kan my eie voetstappe nie rig nie.  Lei my in U waarheid en korrigeer my, maar straf my nie in u toorn nie.  Ek wil op U vertrou en my wil aan U wil onderwerp.

5 Januarie – Maandag –  Blaas die vuur weer aan

Die genadegawe wat God jou gegee het moet weer soos ‘n vuur aangeblaas word.  Moenie skaam wees om die boodskap van die Here te verkondig nie. 

6 Januarie – Dinsdag –  God se weë is onbegryplik

U is ‘n God wat spreek en U planne sal nie gedwarsboom word nie.  Al verstaan ek nie die omstandighede rondom my nie, sal ek U soewereiniteit vertrou en aan U wil oorgee.

7 Januarie – Woensdag – Die uitnemendheid van God

As ons saam met Hom gesterf het, sal ons saam met Hom lewe;  as ons volhard, sal ons saam met Hom regeer. As ons Hom verloën, sal Hy ons verloën; as ons ontrou is, bly Hy getrou, want Hy kan Homself nie verloën nie.

8 Januarie – Donderdag – Jesus is met eer en heerlikheid gekroon

Vir ‘n kort tydjie het die Here homself verneder, laer as die engele, om die dood vir almal te smaak. Hy is uitermate verhoog en met heerlikheid gekroon. Help my Here om my oë op U en U ewige plan te vestig en te vertrou op U oorwinning.                       

9 Januarie – Vrydag – Die grootheid van die Seun van God

God het die wêreld geskep, en Sy Seun die erfgenaam van alles gemaak. Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God. 

10  Januarie – Saterdag – Maak my oë dof vir die waardelose dinge

Geen versoeking sal oor julle kom behalwe ‘n menslike een nie.  God is egter getrou – Hy sal nie toelaat dat julle bo julle vermoë versoek word nie, maar sal saam met die versoeking ook  uitkoms gee sodat julle dit kan verduur. 

11 Januarie – Sondag – Christus die volkome offer

Ons ontvang Sy voltooide werk aan die kruis waardeur ons sondes gereinig is en die mag van sonde gebreek word.  Deur Sy bloed word ons van die duisternis verlos en die ewige lewe en ‘n herstelde verhouding met God gegee.

12 Januarie – Maandag  –  U vul my lewe weer met vreugde

Here, waarom moet ek ‘n dorre woestyn vol dorings oorsteek?  Ek bid vandag vir deurbraak in my lewe.  Ek kies om U te vertrou want U bring altyd nuwe lewe. 

13 Januarie – Dinsdag – Onwrikbare geloof  gedurende moeilike tye

Here, herinner my daaraan dat U my nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee het nie, maar van geloof en liefde. Gee my uithouvermoë en deursettingsvermoë om aan te hou.

14 Januarie – Woensdag – Die verbondsgesin is ‘n pêrel van groot waarde

Ons bid dat ons kinders ‘n keuse sal maak om ‘n dissipel van Christus te wees en dat hulle vreesloos staande sal bly onder daaglikse  groepsdruk. Ons bid dat ons kinders ‘n geseënde nuwe jaar in hulle lewe ervaar.

15 Januarie – Donderdag – Hy is nie blind nie

Vader, help my om kalm te bly en op U te vertrou wanneer verraad en oneerlikheid ontstaan en die bose een planne beraam. Ons weet dat U bewus van die oortredings is en dat U nie sal toelaat dat onregverdigheid sal seëvier nie.

16 Januarie – Vrydag – Ons Gids na Kalm Waters

Vader, wanneer ons krag soms van ons weggeneem word, wanneer hartseer ons oorweldig en ons harte bewe van ons verlies, versterk die oortuiging in ons harte dat ons in die dood, net soos in die lewe, aan U behoort.  

17 Januarie – Saterdag –  Jesus se gebedsworsteling

Gedurende sy aardse lewe het Hy gebede en smekinge met vurige geroep en trane aan God gerig wat hom van die dood kon red. En sy gebede is verhoor vanweë sy eerbiedige onderworpenheid aan God.

18 Januarie – Sondag – Luister na Sy Stem

Heb 3:12  Solank daar nog ‘n “vandag” is,  moet julle mekaar aanspoor sodat niemand van julle deur die misleiding van die sonde verhard word nie.

19 Januarie – Maandag – Hou jou oë gevestig op Jesus

Terwyl daar ‘n groot wolk getuies rondom ons is, laat ons elke las afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik en die wedloop wat vir ons voorlê met volharding hardloop. 

20 Januarie – Dinsdag –  Bly verbonde en wees gelukkig

In Hom kry ons standvastigheid en groei ons in geloof wat baie kosbaarder is as goud.  Ons ervaar dan vrede, hoop en blydskap wat  nêrens anders te vinde is nie.

21 Januarie – Woensdag – Vind jou vreugde in die Here

Dierbare Vader, daar is niemand soos U nie. U beskik oor allesomvattende genade – dit is onuitputlik en oorvloedig. U voorsien aan diegene selfs nadat hulle gesondig het.

22 Januarie – Donderdag – Wonderlike Lig van die wêreld

Joh 12:35: As iemand my sien dan sien hy ook vir God wat My na die wêreld gestuur het. Ek het gekom om ‘n lig vir die mense van die wêreld te wees.  Elkeen wat in My glo, sal nie meer in die donker lewe nie.

23 Januarie – Donderdag –  U het ook vir my in ‘n stofpad geloop

Vader, my pad voel vandag klipperig en steil, maar ek weet ek stap nie alleen nie. Dankie vir die struikelblokke in my lewe wat my nader aan U bring.

24 Januarie – Vrydag – Hou die pylkoker gevul

“Ek veg vir jou, en bou ‘n muur van beskerming rondom jou en jou familie.  Ek gee vir jou die skild van geloof waarmee jy die vurige pyle van die vyand kan afweer”. 

25 Januarie – Saterdag – Mense moet sien wie jy kies

Mat 12:30: “Wie nie aan my kant is nie, is teen My; en wie nie saam met My die skape bymekaarmaak nie, jaag hulle uitmekaar”. Leef só dat mense kan sien wie jy gekies het!

26 Januarie – Sondag – Laat ons nooit vergeet nie

Here, U is terwille van ons oortredinge deurboor en terwille van ons ongeregtighede is U verbrysel. Deur U wonde het daar vir ons genesing gekom.  Laat ons nooit vergeet wat U vir ons gedoen het nie.  

27 Januarie – Maandag – In so ‘n Redder sal ek roem

Aanskou die Heiland, sien die kruis, die Hemelvors was verag, verguis. Vir my het Hy hom daar laat hang, Hy leef en sterf in my belang. Van God en mens verlaat, Hy seën waar ander spot en haat. Hy verdra, vergeef, versoen, in so ‘n Redder sal ek roem.

28 Januarie – Dinsdag – God se liefde het geen perke

Sy liefde oortref en delf dieper as enige liefde wat ons as mense kan bied. Dit is onbeperk en grensloos diep. Sy onwrikbare liefde het ‘n hoogtepunt bereik toe Hy Sy Seun geoffer het terwyl ons nog teenstanders was.

29 Januarie – Woensdag –  Die Here neem nie sy oë van jou af nie

Ons is konstant onder God se waaksame blik en Hy verseker gelowiges dat hulle nooit alleen is nie, maar dat hulle versorg, gelei en beskerm word deur Sy krag.

30 Januarie – Donderdag –  Ek hou vas aan U kleed

Here, hou my styf vas wanneer my voete gly en op verkeerde paaie bly.  Troos my wanneer die trane vloei en wanneer my hart so maklik bloei. Wees my geneesheer wanneer ek siek is en vol pyn en wees my kragbron as my kragte begin kwyn.

31 Januarie – Vrydag – Verbly God se hart

Die belangrikste wat julle moet doen is om mekaar lief te hê.  Wanneer julle regtig vir mekaar omgee en lojaal teenoor mekaar is, doen julle presies wat God van julle vra.