| 1 Joh 5:4 “Want alles wat uit God gebore is, oorwin die wêreld; en dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin het, naamlik ons geloof” |
1 November – Saterdag – God se genade is vir vandag
Here, help my om die mense wat my pad vandag verbykom nie mis te kyk nie, maar my oor hulle te ontferm. Hulle is dalk honger, koud, siek, eensaam of hartseer. God se genade is vir almal beskikbaar maar ek moet net die bereidwillige instrument wees.
2 November – Sondag – Ek is nie bang nie
Mag die liefde van God en Sy beloftes jou altyd verseker van Sy nabyheid en beskerming. Mag Sy vrede jou gemoedsrus gee en Sy blydskap jou beskerm. Al druis en skuim die waters van die see, weet ek U is vir my ‘n beskutting.
3 November – Maandag – Aanvaar net Sy plan
Het God vandag jou planne gekanselleer om gevaar te vermy? Hy het dalk jou ‘n ander pad laat ry om jou lewe te red. Jy moet dit net aanvaar, want Sy plan is beter as joune.
4 November – Dinsdag – Die veelkleurigheid van God
Jesus se paaie is hoër as myne, Sy gedagtes is by verre meer verrykend en kan nie met myne vergelyk word nie. Sonder Hom is ek totaal verlore. Jesus, neem my hand en lei my veilig na U Koninkryk.
5 November – Woensdag – Wandel deur geloof
God wil hê ons moet gister se laste agter laat, want Sy genade is elke oggend nuut. Hy wil saam met ons wandel, want Hy het reeds die pad vir ons voorberei. Hou jou oë gerig op Hom, dan sal jy nooit in die duisternis wandel nie.
6 November – Donderdag – Hy is die kern van alles
Jesus, U is nie net deel van die skepping nie, maar die middelpunt waartoe alles lei. U is die Brood van die lewe, die Opstanding en wat die ewige lewe bied aan diegene wat in U glo – te midde van lyding en dood.
7 November – Vrydag – Sout van die aarde
Vader, leer ons ook hoe om die sout van die aarde te wees soos wat ons in U woord lees. Ons moet die gemeenskap met medelye, geregtigheid en barmhartigheid kan geur deur aktief die leringe van Jesus uit te leef.
8 November – Saterdag – Here, leer ons
Here, help ons om ‘n baken van U liefde te wees. Gee ons die wysheid om geduldig en vriendelik te wees met elkeen wat ons pad kruis. Help ons om U lig uit te leef.
9 November – Sondag – My spesiale kind is deel van Sy plan
Wanneer ouers verneem dat hul baba met Downs Sindroom gediagnoseer is, dui jou wêreld ineen. Jy wil nie hierdie grondpad loop nie. Maar as jy met God die pad stap, dan kry jy die mooiste waardering vir die klein mensie wat jou lewe inkleur.
10 November – Maandag – Volhard in geloof
Vader, help my om te volhard in geloof met die wete dat U my nooit sal verlaat nie. Anker my siel in U waarheid en hou my vas in tye van twyfel en onsekerheid.
11 November – Dinsdag – Die lang vermoeiende pad
Jesus, wanneer ek so verlang na my familie of kinders wat so wyd versprei is, is dit net U wat my kan troos. Dit is ook net U wat langs my staan en my optel as die pad vir my te lank is.
12 November – Woensdag – Die prys is ook vir jou betaal
Jesus word geslaan, gekruisig en Hy sterf. Hy beleef die uiterste liggaamlike pyn. Hy word verwerp en verloën. Hy kan nou vir jou meegevoel en troos bied want Hy het die ergste reeds beleef deur die prys vir ons redding te betaal.
13 November – Donderdag – Vermy jy die kruis?
Vermy ons dalk die kruis omdat dit ontbering en opoffering is? Kom ons hardloop eerder na die kruis, nie in vrees nie, maar met volharding. Die doel is om die wedloop van die lewe te voltooi, met Jesus as die Leidsman en Voleinder.
14 November – Vrydag – Wanneer ons Jesus se voetstappe hoor
Jesus, wat ‘n wonderlike voorreg om U voetstappe te hoor, veral wanneer ons oorweldig en moedeloos voel. Om by U voete te sit, is vir my ‘n plek van veiligheid en vurige gebed.
15 November – Saterdag – Vertrou Hom met jou hele hart
God sê: “Ek is die opstanding en die lewe wat die dode laat verrys. Ek is die Waarmaker van jou drome – laat my toe om jou drome wat gesterf het weer te laat herleef. Jy sal leer om My stem te herken, moenie bang wees om My te vertrou met jou hele hart nie.
16 November – Sondag – Ons diepe afhanklikheid van God
Jesus Christus het juis aan die kruis ons siektes op Hom geneem en ons swaarkry gedra. Ons besef ons diepe afhanklikheid van God en weet dat Hy alleen in beheer is.
17 November – Maandag – Hy is my geliefde Seun, ‘n Kind so na my hart
Hy is die Seun van God, die Opstanding en die Lewe, die Alfa en die Omega. Hy is die Goeie Herder. Jesus Christus is onveranderlik – tot in ewigheid. Amen.
18 November – Dinsdag – God laat alles ten goede meewerk
God se waarheid is nie afhanklik van ons emosionele toestand nie. Al is ons van alles gestroop, is Jesus steeds die Koning van die konings en is aan stuur van ons lewe – ongeag wat die uitkoms gaan wees. Vertrou Hom, Hy is steeds in beheer.
19 November – Woensdag – Hoe gaan dit regtig met jou
Here, help my om op u beloftes te vertrou en op u voorsiening staat te maak. Ek wil my bekommernisse en angs aan u voete neerlê. Ek vertrou alleen op U.
20 November – Donderdag – Vertroetel die huwelik
Hemelse Vader, ons bid vir alle verhoudings en huwelike en dat U hulle sal beskerm teen elemente wat dit wil vernietig. Seën hulle met ‘n diep liefde vir mekaar en vul hulle met ‘n passie om mekaar elke dag opnuut te ontdek en te waardeer.
21 November – Vrydag – God se goedheid en guns
Vader, as ek my hoof buig voor ‘n bord kos, dan wil ek U ook dank vir lepels vol genade, koppies vol hoop en bakke vol liefde. Mag elkeen se beker vandag oorloop in die teenwoordigheid van Jesus. U goedheid en guns is nimmereindigend.
22 November – Saterdag – Mededeelsaamheid
Laat ons dan gedurig deur Hom aan God ‘n lofoffer bring, dit is die vrug van die lippe wat Sy naam bely. Vergeet die weldadigheid maar nie van mededeelsaamheid nie, want God het ‘n welbehae aan sulke offers.
23 November – Sondag – Reik uit na die ongekende
Psalm 142:7 Luister tog na my hulpgeroep want ek is magteloos. Red my van my vervolgers want hulle is te sterk vir my. FEBA verkondig die Goeie Nuus onder die nasies sodat elke man, vrou en kind die Evangelie van Jesus Christus kan hoor.
24 November – Maandag – Omsluit my van alle kante
Here, U ken my en sien dwarsdeur my. U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom. U is goed bekend met my paaie – of ek reis of oorbly, U bepaal dit. Hoe kan ek anders om myself volkome oor te gee aan God wat so Almagtig is?
25 November – Dinsdag – Elkeen sterf, maar net een het opgestaan
Hemelse Vader, die dood is buite ons beheer, dit is bedreigend en onvriendelik. Die angel van die dood, die sonde, is aan ‘n kruishout vasgeslaan. Die skuldbrief is vereffen en daar is geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie. Ons loof U!
26 November – Woensdag – Sprei jou vlerke en vlieg my kind
Spreuke 4:4 “Wat ek jou sê, moet jy vashou. Moenie my woorde vergeet en daarvan afwyk nie en wees veral versigting met wat in jou hart omgaan”. So moet ons ook ons kinders as verantwoordelike, selfstandige volwassenes die lewe instuur.
27 November – Donderdag – Uit eerbied vir God, respekteer die bejaardes
Hemelse Vader, ons wil vir elke bejaarde bid vir gesondheid en krag, hoop en vertroosting, vrede en berusting en bid dat hulle familielede hulle met baie liefde sal omring. Maak dit vir hulle ‘n tyd van verdieping en voortgesette diens.
28 November – Vrydag – Welk ‘n vriend het ons in Jesus
Welk ‘n vriend het ons in Jesus, wat ons sonde straf wou dra. Wat ‘n voorreg dat ons alles, in gebed van God kan vra. As ons vriende ons verlaat het, dra ons hul op aan die Heer, in Sy arms is ons veilig, Hy vertroos ons keer op keer. Amen.
29 November – Saterdag – Vir ons onderwysers
Here, rus die opvoeders toe met wysheid om gedagtes te vorm. Rus hulle toe met die waarheid en visie om die toekoms te vorm en leer hulle van liefde om die wêreld te vorm. Ons is dankbaar vir hul onbaatsugtige liefde in elke kind se lewe.
30 November – Sondag – Wees U vir ons kinders ‘n toevlug
Vader, ons bid vandag vir beskerming vir ons kinders en kleinkinders in hierdie wêreld waar dit so boos is. Seën hulle oorvloedig en help hulle om in U wysheid te groei en U weë te wandel.


