Gebed verander alles. Moenie angstig wees nie. Bid tot God.
As God vir ons is, wie kan teen ons wees.
1 Maart – Sondag – Teologiese Kweekskool
Ons bid vandag in die besonder vir die kweekskool wat opkomende dominees leer om die Woord te versprei en reg oor te dra. Ons offer by die deure is ook vandag spesifiek om hul bediening en opleiding te help.
2 Maart – Maandag – Watervoorsiening
Bid dat die mense wat die water in die Johannesburg area moet regmaak, die ou sisteme sal opgradeer en erns met die saak sal maak en dat hul hul probleme sal oorkom met die voorsiening van konstante watervoorsiening.
3 Maart – Dinsdag – Oorbesteding
Bid teen die neiging van oorbesteding en eerder te koop volgens ons behoeftes, asook die behoeftes van die mense in nood.
4 Maart – Woensdag – Bybelvertaling
Daar is miljoene mense wat nog nie een woord van die skrif in hul eie taal gehoor of gelees het nie. Bid dat die Bybel binnekort in meer tale vertaal sal word.
5 Maart – Donderdag – Mediese personeel
Bring mediese personeel in hospitale, noodeenhede en nasorg fasiliteite in gebed na God. Bid vir hulle vir krag, akkurate diagnoses, geduld en liefdevolle sorg aan hul pasiënte.
6 Maart – Vrydag – Biddag vir vroue
Vandag bid vroue die wêreld oor en volgens die vroue van Nigerië se tema : “Kom, Ek sal julle rus gee”. Vlg. Matt.11:28-30. Sluit aan by die vroue en kom bid saam.
7 Maart – Saterdag – Biddag vir mans
Vandag kom die manne bymekaar om te bid en vra ons dat jul dit wyd en syd verkondig en gaan bid saam waar daar groepe bymekaarkom.
8 Maart – Sondag – Persone met gestremdhede (NCPD)
NCPD werk hard om persone met gestremdhede te help met toegang by geboue en om dit vir hulle ook makliker te maak om meer vrylik by geboue, ens. te kom. Bid dat die gemeente mildelik sal gee by vanoggend se spesiale offer by die kerk.
9 Maart – Maandag – Derde Lydensweek
Gaan jy vas? Mediteer vandag om te besluit wat jy gaan vas en vir hoe lank om te dink aan wat Jesus vir ons gedoen het met Paasfees.
10 Maart – Dinsdag – Eindtyd voorspellings
Baie mense het al dramatiese voorspellings gemaak wat nie vervul is nie en sodoende meer skade as goed gedoen. Bid dat sulke profete sal wegdraai van hul bose weë en tot inkeer sal kom.
11 Maart – Woensdag – Verslawing
Ons bid vir soveel mense wat vasgevang is deur een of ander vorm van verslawing soos alkohol, dwelms, kos, tegnologie of slegte gewoontes. Vra vir die oortuiging van die Heilige Gees om hulle uit die duisternis na die lig te bring.
12 Maart – Donderdag – Ons optrede
Kom ons bid vandag dat ons dade en ons woorde ooreenstem, laat ons‘n bewustelike keuse maak om ‘n verskil te maak daar waar ons is en weet dat ons optrede die Here se stem is.
13 Maart – Vrydag – Verhoudings
Bid vandag vir huwelike, verhoudings tussen ouers en kinders en tussen kinders en kinders onder mekaar. Bid vir sagte harte in die daaglikse omgang met mekaar.
14 Maart – Saterdag – God se Naam
Kom ons besin vandag oor God se Naam en die misbruik daarvan in die media en bid dat die mense die nodige eerbied teenoor God se Naam sal toon.
15 Maart – Sondag – Omgeebediening
Kom ons bid vandag vir die werk wat die omgeebediening doen en dat hulle die nodige insig sal ontvang om die regte hulp aan te bied en ook vir bydraes en skenkings van die gemeente sodat hulle kan help waar daar nood is.
16 Maart – Maandag – Midde-Ooste
Bid asb. vir alle Christene wat in die Midde-Ooste en Asië woon om steeds met vrymoedigheid van die liefde van Christus teenoor ander te getuig en dat hulle sal getrou bly aan U.
17 Maart – Dinsdag – Leraars
Kom ons begin vandag en dink daaraan om elke dag ons Leraars aan die Here op te dra dat Hy Sy boodskap wat Hy wil oordra aan die gemeente aan hulle sal openbaar en maak hulle getrou om die boodskap uit te dra soos God dit wil.
18 Maart – Woensdag – Seëninge
Kom ons sing ‘n nuwe lied vir God vir al sy seëninge en ons dank Hom spesiaal vir ‘n wêreld so mooi waarin ons mildelik uit Sy Hand ontvang.
19 Maart – Donderdag – Opvoeders
Ons bid vandag baie ernstig vir die belangrike taak van opvoeders en vra dat probleme wat tans ondervind word, spoedig opgelos sal word, sodat leerders hulle volle potensiaal kan bereik. Ons bid ook vir ouers en leerkragte wat hieraan meewerk sodat ons leerders die regte opvoeding sal ontvang.
20 Maart – Vrydag – Gevangenes
Bid dat gevangenes, veral jongmense, ‘n persoonlike openbaring van die liefde van Christus sal ervaar. Ons bid dat hulle harte ontvanklik sal word en dat hulle gewillig sal wees om te leer en getrou aan die rehabilitasie projekte sal deelneem.
21 Maart – Saterdag – Middelpunt van ons bestaan
Bid dat ons gemeente elke dag van die week en nie net Sondae, alle eer aan ons Hemelse Vader sal gee en besef dat Hy die middelpunt van alles en elkeen is.
22 Maart – Sondag – Carpe Diem Skool
Die skool help kinders met leer, fisiese en verstandelike leergestremdhede wat nie in die hoofstroom skole kan funksioneer nie.
23 Maart – Maandag – Beskerming
In Heb. 13:5 sê die Here dat Hy ons nooit sal verlaat en nooit in die steek sal laat nie. Bid dat ons na Hom toe sal gaan vir skuiling en beskerming en dat ons nie bedreig sal voel nie.
24 Maart – Dinsdag – Onsekerheid
Wag jy vir ‘antwoord van God en is onseker? Bid en lê jou probleem aan God voor en wag dan getrou vir Sy antwoord. God het Sy eie tyd, maar wees gerus dat God sal antwoord. 1 Pet. 5: 7.
25 Maart – Woensdag – Blokbyeenkomste
Elke Woensdag word Blokbyeenkomste gereël waar ons in kleingroepe bymekaarkom. Bid dat die nuwe intrekkers hier sal inskakel en deel van die gemeente sal word. Laat dit ook ‘n samesyn tussen die bloklede bewerkstellig.
26 Maart – Donderdag – Regering
Ons bid vandag vir ons regering (Rom 13:1-7). Die owerhede is daar deur God se beskikking. Ons vra ernstig dat U Gees harte en lewens sal verander en dat magsug, hebsug, korrupsie en misdaad uitgeroei sal word.
27 Maart – Vrydag – Moslem kerkdag
Vandag is dit die Moslems se “kerkdag”. Bid dat hul die Woord sal hoor en tot inkeer sal kom. Ons bid ook vir die baie bekeerde Moslems wat nie in hul eie huise en families aanvaar word nie, maar daagliks agtervolg word.
28 Maart – Saterdag – Arbeidsbediening
Môre is daar insameling vir die arbeidsbediening en vra ons vir Jesus dat die hande en harte oopgemaak sal word om mildelik te gee en bid ook dat hul met goeie gees ontvang sal word by die besighede.
29 Maart – Sondag – Palmsondag
Palmsondag is ‘n Christelike fees wat op die Sondag voor Paasfees gehou word. Dit is die sesde en laaste Sondag van die vastyd en lei die Heilige Week net vóór Paasfees in. Christus was geëer met palmtakke en dink ons spesifiek aan Jesus se optrede.
30 Maart – Maandag – Geleenthede vir studente
Bid vir werksgeleenthede vir die studente wat hulle studies voltooi en hul grade, diplomas of sertifikate ontvang het. Bid ook dat hulle hul lewe en toekoms aan God sal toevertrou vir die regte geleenthede en leiding.
31 Maart – Dinsdag – Kerk se projekte
Ons bid vir alle projekte wat in ons kerk geloods word en dat dit deur U geseën sal word. Ons dank U vir lidmate wat getrou is met die Kategese-klasse, projekte, sopkokers, nasorg-aktiwiteite, gebede groepe en bid vir kreatiewe idees, geduld en liefde om hierdie groot werk te doen.


