GEBEDSGIDS SEPTEMBER 2025 NG Kerk Groot-Brakrivier

1 Johannes 3:16  Hieraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê.

1 Sep – Maandag – Jesus se nuwe seisoen begin met ‘n wildernis tyd

Nadat Jesus gedoop was, het Hy dadelik uit die water uitgeklim en die  Hemele het meteens vir Hom oopgegaan. Dit is Sy nuwe seisoen en Hy  verwag ook dat ons elke seisoen van ons lewe vreugdevol sal ervaar tot ere  van Sy naam.    

2 Sep – Dinsdag – ‘n Fondasie vir ewige lewe

Jesus, dankie dat U die ewige en onwrikbare rots in my lewe is waarop ek  my fondasie kan bou.  Met U kan ek die storms en aanslae teëstaan sonder  om te val.

3 Sep – Woensdag – God se genade is baie meer

Die dorings van ons lewe is baie, maar God se genade is baie meer. En daar  waar jy die seerste kry, is waar God se genade op sy grootste is.

4 Sep – Donderdag –  Wie het ek buiten U in die hemel?

Buiten U in die hemel, begeer ek niks op aarde nie. Dankie Vader vir U  teenwoordigheid in my lewe.  Al is ek afgetakel na liggaam en gees,  aan U  behoort ek vir altyd.    

5 Sep – Vrydag – God se beloftes

Jesus, versterk ons geloof sodat ons op U alleen sal vertrou.  Verlos ons van  die kleingeloof wat ons verhinder om U wonderwerke te sien en te ervaar.

6 Sep – Saterdag  – Brandende Bos

Here, help ons om bewus te wees van die brandende bosse in ons lewens.  Gee ons die vermoë om U stem duidelik te hoor en ons harte oop te maak  vir U leiding. 

7 Sep – Sondag – Nasionale Biddag vir Dowes 

Hou my vas Here Jesus te midde van stormagtige weer. Wanneer vrese en  twyfel ontstaan wil ek U liefde en vrede ervaar. Hou my naby U Jesus, daar  voel ek veilig.      

8 Sep – Maandag –  Is jy gereed?

Vader, ek wil elke dag gereed wees om U te verheerlik.  Ons vertoon U  beeld en moet U koningskap en liefde weerspieël. Sonder U is ons geestelik swak.

9 Sep – Dinsdag  – Geestelike Fiksheid

Wat help dit my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Dankie Here vir geleenthede om geestelik fiks te bly, om vir die gemeenskap te bid en iemand na die Here toe te lei.

10  Sep – Woensdag – Waak en bid

Dankie Vader dat U ons toerus met sintuie om waaksaam te wees. Ons sal  aanhou waak en bid om oorwinning oor die wêreld, die vlees en die vyand te  behaal. 

11 Sep – Donderdag  – Dankbaarheid van kind van God

Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders  van God, en ons is dit ook. En die wêreld ken ons nie, omdat hulle Hom nie  ken nie. 

12 Sep – Vrydag  – Wees soos ‘n arend

Vader, ons wil gevul wees tot volheid van U. Ons wil uitstyg soos ‘n arend,  want saam met U is daar geen beperking van U liefde en genade vir ons nie.

13 Sep – Saterdag  – U liefde is oneindig groot

Vader, ons begryp hoe oneindig diep die liefde van Christus strek. Mag ons  U liefde ken wat ons verstand te bowe gaan en vervul word met die volheid  van God.

14 Sep – Sondag –   Sending aan Melaatses

Vader, ons bid dat elkeen wat geaffekteer is met die siekte, U net kan  aanraak. U het nie gekom om ons liggame te genees nie, maar om ons  verhouding met God te herstel.  

15 Sep – Maandag – Koninkrykswerk

Laat God toe om jou toe te rus vir Sy werk.  Kom ons reik uit en raak  betrokke by die kerk se sendingwerk, gemeenskapswerk of by die ontferming oor die kwesbares.

16 Sep – Dinsdag – As die lewenstrome woedend om jou slaan

My toevlug en my bergvesting, my God op wie ek vertrou. Hy sal jou dek  met sy vlerke, en onder sy vleuels sal jy skuil. Ek dank U vir U beskerming,  leiding, wysheid en liefde.

17 Sep – Woensdag – Gee jy soms oor

Dankie Hemelse Vader dat U die duurste prys vir ons betaal het. U is  my  rots by wie ek skuil. U is die stuurman van my lewe en my veilige hawe. Sonder U is ek niks. 

18 Sep – Donderdag  – Verwoesting in jou hart?

Wees nie afgunstig op die kwaaddoeners nie en begeer nie om met hulle  saam te wees nie. Hulle hart bedink verwoesting en hulle lippe spreek  moeite. 

19 Sep – Vrydag –  God is my rigtingwyser

Here, ek erken dat ek nog te veel beheer oor my eie besluite het en vra  vergifnis vir my rebelsheid. Onderrig my met wysheid in oorvloed. U leiding is konstant.

20 Sep – Saterdag – Die begeerte om te kan hoor

Jesus het gekom om ons te versoen met die Vader. Hy is die lewende weg  na die troon – die voorhangsel is geskeur. Dit is ons geboorte-voorreg om Sy  stem te kan hoor.

21 Sep – Sondag – Bediening aan die dowes

Here, ons buig nederig voor U en dank U vir genade so groot. Ons bid vir  herstel in ons liggame wat gebreek en gekneus is.  Vader, raak asb die  gehoor aan van diegene wat nie al hulle sintuie kan geniet nie. By U is niks  onmoontlik nie.

22 Sep – Maandag – Word ‘n visser van mense

Laat jou geloof sigbaar word in jou dade. Deel jou geloof en maak dissipels  vir Jesus. Volhard sodat jy eendag alles wat Jesus vir jou in die hemel  bewaar, in besit neem.  

23 Sep – Dinsdag  –  Sy oneindige liefde vir jou

God ken ons lewe. Hy het die pad reeds voorberei. Hy ken die toekoms,  vertrou Hom net. Hy ken jou bekommernis, gee dit oor en raak stil. Hy ken  jou hartseer, teleurstellings en sien jou trane – Hy sal dit afdroog. Daar is geen einde aan Sy goedheid nie.               

24 Sep – Woensdag – Erfenisdag 

Vader, ons dra hierdie land met sy kulturele diversiteit op aan U. Seën  asseblief ons land en mense en leer ons hoe om mekaar te kan aanvaar, te  vergewe en lief te hê.  

25 Sep – Donderdag –  Alle eer aan U

Dankie Vader vir die wonderlike gawe om te kan kommunikeer. Lei ons om  dit met oorgawe te gebruik om mekaar aan te moedig en te vertroos en om  U te eer. 

26 Sep – Vrydag – God laat alles ten goede werk 

Here, ek weet dat U tot alles in staat is en alles kan uitvoer volgens U wil.   Soms is ons ongeduldig as ons gebede nie dadelik verhoor word nie.   Vergewe ons ongeduld Here – U is altyd op tyd. 

27 Sep – Saterdag –  Is die losprys te hoog?

Deur die oortreding van een mens het baie gesterf, maar deur die genade  van God en die genade van een mens, Jesus Christus, was Hy bereid om die  losprys te betaal – vir jou.

28 Sep – Sondag  – Bediening aan Jode 

Johannes 8:31 – Jesus sê vir die Jode wat in Hom geglo het: As julle in my woord  bly, is julle waarlik my dissipels. En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.

29 Sep – Maandag – Jesus is jou skans

Jesus is die vrede in tye van moedeloosheid, siekte en hartseer. Jy is nie  gemaak om hierdie storms te beleef en te beveg nie. Jy is gemaak om God  te beleef en te sien hoe Hy jou storms stilmaak. 

30 Sep – Dinsdag  – Die uniekheid van Jesus

Hy is die enigste seun van God. Hy is ewig en die enigste weg na die Vader.   Hy het die mag om lewe te gee en die enigste Regverdige wat vir ons  sondes verruil het.