Psalm 94:19
“Toe ek met baie onrus in my binneste sit, het u vertroosting my tot rus gebring.”
1 Julie – Woensdag – Volkome gehoorsaamheid
Here, ons wil U gesag en heerlikheid herken en U met blydskap dien. Lei ons in gehoorsaamheid sodat die Heilige Gees ‘n sigbare vrug in ons lewens kweek.
2 Julie – Donderdag – Ons grootste Leermeester
Dankie Vader dat U woord vir ons toeganklik is en dat ons aan U voete kan sit om U wil te soek, wysheid vir my besluite te vind en op U te vertrou op daaglikse voorsiening.
3 Julie – Vrydag – Sy lewensasem hou jou staande
Maak jou hart vandag vir Hom oop sodat Hy jou kan vul met Sy vrede en liefde. Hy wil jou omring waar jy ookal gaan. God is met jou – elke asemteug wat jy gee.
4 Julie – Saterdag – My gebed vir jou vir elke dag
Wees waaksaam en bid gedurig met volharding. Doen dit alles biddend en smeek God by elke geleentheid deur die Gees – ook wanneer dit goed gaan.
5 Julie – Sondag – Jesus is die bron van alle lewe
Ons Vader is vir ons ‘n vloeiende rivier met genade. Sy liefde vir ons is so groot soos die oseaan. Aan die Here kom al die lof toe want Hy het jou gebed gehoor.
6 Julie – Maandag – Ons ewige Rots
Vader, vul my asseblief vandag met die wysheid van U Gees. U is my rots en die vaste fondament wat nie deur vloedwaters of winde verskuif nie. U bied my ‘n onwrikbare anker in onsekere tye.
7 Julie – Dinsdag – Vrug op hulle arbeid
Here ons bid vir elkeen wat in die voorste linies van U koninkryk werk. Wees ‘n skild rondom hulle en gee hulle die wysheid om elke uitdaging die hoof te bied. Laat U Koninkryk deur hulle werke uitbrei en laat harte aangeraak word.
8 Julie – Woensdag – Ons snoer ons kragte saam vir Sy koninkryk
Vader, ons bid dat U ons gemeente en gelowiges sal saamsnoer in ‘n band van volmaakte liefde. Mag die wêreld U liefde in ons sien wanneer ons hande neem en uitreik na gemeenskappe in nood.
9 Julie – Donderdag – God los jou nooit alleen
Hemelse Vader, dankie dat U my nooit alleen los nie. Wanneer ek bang is of deur die lewe oorweldig voel, hou ek vandag aan U belofte vas.
10 Julie – Vrydag – U hulp staan vas
Here, ek ruil my swakheid vir U krag. Vul my met U Heilige Gees sodat ek nie op my eie insig hoef staat te maak nie. Gee my bomenslike krag om ‘n lig te wees vir die mense rondom my wat in die donker sit.
11 Julie – Saterdag – Ek vertrou op U onfeilbare liefde
U grenslose genade en U onvoorwaardelike liefde is die hoeksteen van my lewe, ‘n stewige fondament te midde van die skuiwende sand van hierdie wêreld. Ek juig omdat U my gered het (Psalm 13:6).
12 Julie – Sondag – Net U kan die storm stilmaak
Here, U ken die storms wat binne ons woed. Ons bid vandag vir elkeen wie se eie gedagtes teen hulle gedraai het. Vir diegene wat vasgevang is in die donkerte van angs of verwarring. Wees U die anker en bring stilte in hul gees.
13 Julie – Maandag – Vrede bo omstandighede
Here, ons bid vir die mense wat elke dag moet oorlof in die oorlog geteisterde lande. Hulle beleef uitmergelende konflik en is voltyds afhanklik van humanitêre hulp. Laat U lig skyn in die skaduwee van die dood.
14 Julie – Dinsdag – Verbly jou in God
Hemelse Vader, dankie dat U ons Koning is en dat U Heerskappy naby ons is. Help ons om U wil bo ons eie te soek en ‘n instrument van U liefde en vrede te wees.
15 Julie – Woensdag – Radikale liefde vir elkeen
Here, U opdrag aan ons was liefde vir God en liefde vir ons naaste. U het ook die grense verskuif om almal in te sluit – selfs diegene wat anders is as ons – selfs ook die vyande.
16 Julie – Donderdag – Swaard van die Gees
Jesus, maak my vandag arm van gees sodat ek net van U afhanklik sal wees. Die Gees wat U ons gegee het, vul ons met krag en liefde en selfbeheersing. Vul my hart met sagmoedigheid en ‘n honger na dit wat reg is.
17 Julie – Vrydag – Hoop en Ewige Lewe
Jesus se boodskap is dat die dood en die donkerte nie die laaste sê het nie. Deur Sy opstanding het Hy die lewe oorwin. Dit gee ons die hoop dat ons ‘n ewige toekoms saam met Hom het.
18 Julie – Saterdag – Sy Koninkryk vir almal
Ons vra vir U vertroosting, nie net vir onsself nie, maar ook vir diegene wat verlore en belas voel deur die gewig van bekommernisse. U is altyd naby om oor ons te waak met liefde en deernis.
19 Julie – Sondag – Sout en Lig
Here, U sê ek is die sout en die lig vir die wêreld. Help my om só te leef dat ander dit kan sien. Laat my woorde smaak gee en my dade U lig versprei sodat mense U sal aanbid.
20 Julie – Maandag – Ons kinders is uniek
Vader, seën ons kinders en gee hulle wysheid om hulle beste te doen. Beskerm hulle harte teen bekommernis en help hulle om soos U lig tussen hulle maats te wees.
21 Julie – Dinsdag – My Stuurman
Vader, ek kies om my in U te verbly. My situasie is dalk nie perfek nie, maar U liefde en getrouheid sal nooit faal nie. Ek kies om dankbaar te wees omdat U my weg bepaal.
22 Julie – Woensdag – Sy aanraking is oorvloedig
Hemelse Vader, U is die Groot Geneesheer. Ons bid vir verligting vir pyn en herstel vir die liggaam. U genees die gebrokenes van hart en verbind hulle wonde. Seën ook diegene wat hulle versorg en rus hulle toe met wysheid en geduld.
23 Julie – Donderdag – Hy is ons metgesel in pyn
Jesus, U ken die hart van die gebrokenes – U het self swaarkry en verwerping ervaar. Help ons om nooit moed te verloor nie, want U gee nie moed op met ons nie.
24 Julie – Vrydag – Die waarborg van ‘n ewige lewe
Jesus, ons jubel omdat die graf U nie kon vashou nie! U het die dood oorwin en opgestaan as die Ewige Oorwinnaar. Alle mag in die hemel en op die aarde behoort aan U.
25 Julie – Saterdag – Christus het die grondslag gelê
Ons kyk op na U, ons Koning wat regeer. Dankie dat U vir ons intree en dat u teenwoordigheid ons die krag gee om elke dag in volheid en oorwinning te leef. Onderrig ons om soos U te wees – ‘n hart wat sag en gewillig is.
26 Julie – Sondag – My doelwit is die Koninkryk
Vader, ons wedloop gaan nie oor wêreldse rykdom of status nie, maar oor u Koninkryk. Rig my voete op die smal pad en vul my hart met die ewige skatte wat saak maak vir U.
27 Julie – Maandag – Wees ‘n vredemaker in konflik
Heilige Gees, maak my ‘n instrument van U vrede. Waar daar konflik of verdeeldheid in my familie, werkplek of gemeenskap is, help my om versoening te bring. Seën my met die wysheid en geduld wat nodig is om mense bymekaar te bring.
28 Julie – Dinsdag – U lig vervaag nooit
Hemelse Vader, wanneer my lamp vervaag, bid ek vir krag om te doen wat reg is, sodat my dade U lig weerkaats en ander lei om U te prys. Mag my daaglikse lewe ‘n getuienis wees van U genade en waarheid.
29 Julie – Woensdag – Hoop en Ewige Lewe
Jesus se boodskap is dat die dood en die donkerte nie die laaste sê het nie. Deur Sy opstanding het Hy bewys dat lewe oorwin. Dit gee ons hoop dat geen situasie op aarde ooit heeltemal verlore is nie, en dat ons ‘n ewige toekoms saam met Hom het.
30 Julie – Donderdag – Laat U lig skyn in die skaduwee van die dood
Here, ons bid vir die mense in oorlog geteisterde lande. Hulle is moontlik sonder skuiling, sonder kos en bo alles, sonder hoop wanneer alles rondom hulle in puin lê. Ons bid onoophoudelik vir ‘n einde aan die geweld.
31 Julie – Toevlugsoord vir elkeen
Ons dank U vir ons gemeenskap hier in Groot-Brakrivier Here. Ons wil ‘n veilige hawe wees vir die vreemdeling en ‘n genesende toevlugsoord vir die gebrokenes. Mag ons kerk ‘n baken van U onvoorwaardelike liefde wees.


