1 Julie – Dinsdag – Siekes
Ons Bid vandag vir alle siek mense en allerhande soorte siektes van ons tyd en bid dat hulle die nodige geduld sal hê om dit te hanteer en ook bid ons vir U genesende hand.
2 Julie – Woensdag – Besluite
Liewe Vader, ek wil nie net besluite neem en my kop stamp nie. Laat ek volgens U wil bid en in U spoor loop sodat ek die regte optrede aan die dag sal lê.
3 Julie – Donderdag – Leraars
Ons bid vir ons leraars om insig in U Woord te kry sodat hulle weer met die nodige insig en empatie U Woord kan oordra en ook op so ‘n wyse dat die gemeente dit sal verstaan.
4 Julie – Vrydag – Vyande se seën
Maar Ek sê vir julle wat luister: Julle moet jul vyande liefhê en goed doen aan die wat vir julle haat. Seën die wat vir julle vervloek, en bid vir die wat julle beledig.
5 Julie – Saterdag – Getuig!
Jesus self gee vir ons instruksies. Hy belowe dat Hy die Heilige Gees opdrag sal gee om woorde in ons mond te lê as ons getuig. Luk. 21:12-15.
6 Julie – Sondag – Instandhouding van ons gemeente
Ons dank u, Vader dat hy ons bystaan om ons kerk en gemeente in stand te hou en veilige hawe vir U volk sal wees.
7 Julie – Maandag – God is by jou
Volgens 1 Kor. 6: 18 is die Heilige Gees in my en jou en hoef jy nie meer vir ver afstande af te lê om met God te praat nie. Hy is by jou en het Sy Gees vir ons gegee om ons elke dag by te staan en met Hom in kontak te kom.
8 Julie – Dinsdag – Eindtyd
Is julle reg? Die eindtyd moet nie kom nie – dit is al hier en vir elkeen van ons is dit baie naby. Wag jy ook op die eindtyd met genoeg olie in jou lampie? Sorg dat jou lampie vol is en genoeg in het vir die Bruidegom as Hy kom.
9 Julie – Woensdag – Moedverlore
In Sag.1-2 sê die Here vir ons dat ons nie moed moet verloor nie. Die Here is hartstogtelik begaan oor Sy kinders en het vir ons aan die kruis gesterf en sal ons vertroos.
10 Julie – Donderdag – Here, U ken my
Here, U ken my en ken my vrese en drome. Gee dat my drome in lyn met U wil is en wys my dat U by my is in my donkerste dag en nag.
11 Julie – Vrydag – Leiers
Vader, daar is baie leiers om ons. Leiers in die skool, kerk, dorp, land en in die wêreld. Hulle besluite raak ‘n klomp mense om hulle en ons bid dat hulle oordeel nie bedenklik sal wees nie, maar met insig en kennis hul besluite sal neem en uitvoer.
12 Julie – Saterdag – Verlos ons van die Bose
Ons pleit by U om ons elke dag van die bose te verlos. U moet my tog nooit toelaat om vrede met die bose te maak of speletjies met hom en sy trawante te speel nie.
13 Julie – Sondag – Sendelinge
Vader, aanvaar ons offer vir ons sendelinge en ons vra dat U sal meewerk dat dit op die regte plek aangewend sal word sodat U boodskap uitgedra word aan almal en oral in die hele wêreld.
14 Julie – Maandag – Koninkryk van God
Bid vandag dat ons altyd die koninkryk van God eerste sal stel in ons lewe en dat ons so sal lewe dat ons optrede mense/ongereddes en koeles weer na die Here en Sy koninkryk sal lei.
15 Julie – Dinsdag – Aanvaarding
Vader, ons bid vir alle rasse in Suid- Afrika en ons bid dat al die verskillende rasse met mekaar sal kan saamwerk en die verskille sal omarm en sal leer by mekaar en elkeen se verskillende optredes.
16 Julie – Woensdag – Honger en Armoede
Here, maak ons hande en harte oop vir die armes en hongeriges wat in die koue dakloos is en geen ander inkomste om te sorg.
17 Julie – Donderdag – VADER
Dankie Vader vir U groot genade dat ons U ons Vader mag noem en dat U ons met U liefde omarm soos vir ‘n geliefde kind.
18 Julie- Vrydag – Die Here ken jou
Hy ken selfs jou gedagtes(Ps.139:2) Daar is waarlik nie EEN soos Hy nie. Hy het niemand nodig nie, maar U ken my so goed en weet alles van my.
19 Julie – Saterdag – Dankbaar
Vader, ons wil vandag vir U kom bedank vir al ons genade wat U aan ons bewys en dat U altyd vir ons sorg met presies wat ons nodig het en maak ons ook genoegsaam dat ons U seëninge sal raaksien.
20 Julie – Sondag – Studentebearbeiding
Ons kollekte is vandag vir studentebearbeiding en bid ons dat dit positief tot Jesus se koninkryk aangewend word.
21 Julie – Maandag – Gestremdes
Ons bid vir ons mense wat gestremd is en wat nogtans voluit vir U lewe en ook elke dag met hoop en positiwiteit uitreik na ander om hulle. Bid ook dat hulle nie moed sal verloor nie.
22 Julie – Dinsdag – Leerkragte
Here, vandag open die skole en bid ons dat ons leerkragte die nodige krag en insig het om ons leerlinge op die regte pad te help en dat hulle sal weet om altyd op U te steun vir leiding en insig.
23 Julie – Woensdag – Leerlinge
Hemelse Vader, ons bid vandag vir ons kinders van alle ouderdomme en plaas ons hulle in U sagte, maar kragtige hande.
Bevry hulle van verleidings en oorvloei hulle met bonatuurlike geloof, liefde en vrede.
24 Julie – Donderdag – God se liefde
Wie kan ons van die liefde van Christus skei? U is ons vashouplek en ons geniet U liefde en dra ook die liefde van U na ons medemens om ons. (Rom. 8:35).
25 Julie – Vrydag – Geduld
Ons vra vandag dat U ons geduld leer en U tyd sal verstaan en nie ons eie tyd en dinge wil laat gebeur nie. Ons moet leer om stil te raak en te wag op U antwoord op ons vrae.
26 Julie – Saterdag – Uitdagings
“Vader, ons bid dat U sterkte met ons sal wees elke dag om die daaglikse uitdagings die hoof te bied en sterk te staan indien dit moeilik gaan.
27 Julie – Sondag – Gemeentebediening
Ons gemeente het baie nood en vra dat die getuienis bediening moet uitreik en help met die nodige asook die boodskap van hoop. Ons bid dat daar altyd genoeg voorraad in die “kaste” van die kerk sal wees om die hoop te versprei.
28 Julie – Maandag – Vergifnis
“Here, vergewe my, en help my ook om ander te vergewe soos ek deur U vergewe word. U weet dit is moeilik om my foute raak te sien en te erken. Ek dank U Here vir U groot genade.”
29 Julie – Dinsdag – Radio Feba
Die Radio word gebruik om uitreike te doen en bid ons vandag vir die shamans in die berge wat rituele uitvoer op mense en hulle ook verbied om oor God te praat. Ons bid ook dat die Goeie Nuus Boodskap by almal sal uitkom en in ‘n goeie gees ontvang sal word.
30 Julie – Woensdag – Polisiemag
Ons dra vandag elke polisielid aan u op en vra U hand van bewaring oor hul lewe en hul gees. Gee dat hul familie sal weet dat U ook daar by hulle sal wees en bedank ons U dat U na hulle omsien, soos hulle na ons welsyn omsien.
31 Julie – Donderdag – Wedergeboorte
Dankie Here dat ons die wedergeboorte kan ontvang en gewek kan word tot ‘n nuwe lewe as U kinders.



Een antwoord op “GEBEDSGIDS – JULIE 2025 NG Kerk Groot-Brakrivier”
Kommentare is gesluit.