Gebedsgids – Januarie 2025

Woensdag, 1 Januarie – Feesvieringe

Almal vier fees vir die begin van die nuwe jaar en bid ons dat die vieringe tot eer van Jesus sal wees wat elke jaar vir ons nuut maak en nuwe kanse gee.

Donderdag, 2 Januarie – Drie-eenheid aanbid

Vandag is ons aan die begin van die nuwe jaar en bid ons dat die Here, Jesus en Heilige Gees deur die jaar aanbid sal word elke dag. Bid ook dat die mense die Here sal vereer soos die Wet sê.

Vrydag, 3 Januarie – Leraars

Kom ons begin vandag en dink daaraan om elke dag ons Leraars aan die Here op te dra dat Hy Sy boodskap wat Hy wil oordra aan die gemeente aan hulle sal openbaar en maak hulle getrou om die boodskap uit te dra soos God dit wil.

Saterdag, 4 Januarie – Mans in ons samelewing

Ons bid dat die mans geinspireer sal word om in moeilike tye Priester, Koning en Profeet in hulle huise te wees en dat hulle ‘n voorbeeld sal stel aan hul jong kinders en hul vroue so lief soos hulself te hê.

Sondag, 5 Januarie – Huis JJ Watson Tehuis vir Bejaardes

Bid vandag dat die mense sal insien wat hulle vir ons bejaardes doen en bid dat mense ook hul geldinsamelingsfunksies by Blikkiesdorp sal ondersteun vir ekstra fondse.

Maandag, 6 Januarie – Werksgeleenthede

Bid vir werksgeleenthede vir ons broodwinners waar daar dalk groot nood is of werksverlies in die onsekere tye waarin ons leef.

Dinsdag, 7 Januarie – Gevangenes

Mag ons vandag bid vir alle gevangenes dat hulle deur die sendingwerk van ons gemeentelede ook die Gees van God sal aanvaar en God sal leer ken en Hom sal aanvaar as Hul Heer en Meester.

Woensdag, 8 Januarie – Geestestoestand

Lê vandag alle persone wat sukkel met depressie en ander geestestoestande aan die voete van die Here dat hulle die regte medikasie en hulp sal kry sodat hulle ook beter sal voel en weer lus sal hê vir die lewe.

Donderdag, 9 Januarie – God se Liefde

God het die mens so Lief gehad dat Hy sy Enigste Seun vir ons sondes gegee het. Bid en dank God dat Hy ons so Lief het en dat Hy sal gee dat ons dit ook aan ander sal vertel.

Vrydag, 10 Januarie – Natuur

“Jesus, U het die wêreld so goed gemaak dat alles mooi was in U oë. Die mens pas egter nie die wêreld op nie en bid ons dat hulle bewus sal wees van wat U gemaak het en dat hulle dit weer sal versorg.”

Saterdag, 11 Januarie – Boere

Laat ons vandag aan ons boere landwyd dink wat elke dag met die natuur moet saamwerk om vir ons kos op die tafel te gee. Bid vir hulle vir moed en uithouvermoë.

Sondag, 12 Januarie – Spesiale offer vir Jan Kriel Instituut

Hier word kinders met spesiale sorg gehelp om aan te pas in die daaglikse lewe en ons bid dat mense bewus sal wees van die behoeftes en uitgawes by so ‘n skool.

Maandag, 13 Januarie – God se sorg

Ons bid vandag dat ons vir God sal vertrou vir Sy sorg vir al ons behoeftes en dat ons sal onthou Hy sorg vir die veld en so sal Hy ook vir die mens voorsien.

Dinsdag, 14 Januarie – Onsekerheid

Wag jy vir ‘antwoord van God en is onseker? Bid en lê jou probleem aan God voor en wag dan getrou vir Sy antwoord. God het Sy eie tyd, maar wees gerus dat God sal antwoord. 1 Pet. 5: 7

Woensdag, 15 Januarie – Skole heropen

Bid vandag vir ons leerkragte dat hulle uitgerus en met moed die nuwe jaar sal aanpak en met passie en insig die leerders sal leer en lei.

Donderdag, 16 Januarie – Kinders

Ons kinders is so spesiaal en bid ons vandag dat daar vir elke kind se behoefte ‘n uitkoms sal wees en dat hulle sal besef dat hul hul beste moet gee om te vorder.

Vrydag, 17 Januarie – Polisiemag

Jesus, ons wil vandag kom intree vir elke polisiebeampte en bid dat U hulle sal beskerm waar hulle elke dag in gevaar hul werk onverskrokke moet verrig en ons landsburgers beskerm.

Saterdag, 18 Januarie – Huwelike

“Jesus, ons bid vandag vir elke getroude egpaar en wil ons vra dat U hulle sal bystaan om mekaar met sorg en liefde en respek sal behandel en mekaar te ondersteun”.

Sondag, 19 Januarie – Spesiale Offer: Gemeente Instandhoudingsfonds

Daar is altyd ietsie te doene by die Gemeente se geboue en vandag sê ons dankie vir elkeen se bydrae om dit mooi te maak en in stand te hou.

Maandag, 20 Januarie – Radio Feba

Radio Feba doen ‘n wonderlike werk om die Here se woord uit te dra d.m.v. radio en bereik so verafgelëe plekke soos China. Bid vir hulle vir fondse maar ook dat hul die woord op so ‘n manier kan versprei sonder om vervolg te word.

Dinsdag, 21 Januarie – Bybelstudie in ons gemeente

Bybelstudie in ons gemeente word goed bygewoon en bid ons dat die groepe sal uitreik na die wie dalk nog nie weet waar hulle moet bywoon nie en ons bid dat hulle sal leer tot eer van die Here.

Woensdag, 22 Januarie – Eensames

Kom ons bid vandag aan alle mense wat alleen is en iemand aan die dood afgestaan het. Ons bid dat hulle God se teenwoordigheid en liefde sal aanvoel deur die optrede van ons ander lidmate

Donderdag, 23 Januarie – Gesondheid

God is ons Geneser. Sy helende Hand salf ons wonde, dra ons laste en droog ons trane af. Bid vir goeie gesondheid uit God se wonderwerkende Hand en glo en dank Hom vir Sy genesing onbeperk.

Vrydag, 24 Januarie – Geloof

Bid sonder ophou vir onwankelbare geloof in Jesus en dat die ongelowiges tot Jesus gelei sal word en sal glo dat Hy ons enigste Redder is.

Saterdag, 25 Januarie – Roeping

Wat is jou roeping. Gaan sit by Jesus se voete en vra dat Hy vir jou wys waar Hy wil hê dat jy jou talente moet gebruik tot eer en verheerliking van Sy Naam en tot die uitbreiding van Sy koninkryk.

Sondag, 26 Januarie –Alta du Toit skool

Die skool maak leerders wat nie in die gewone skool aanpas nie, gereed vir die wêreld daar buite en vier hulle vanjaar hul 60ste verjaardag. Bid dat hulle gesëend sal wees met bydraes om die skool se sake te vlot.

Maandag, 27 Januarie – Beskerming

In Heb. 13:5 sê die Here dat Hy ons nooit sal verlaat en nooit in die steek sal laat nie. Bid dat ons na Hom toe sal gaan vir skuiling en beskerming en dat ons nie bedreig sal voel nie.

Dinsdag, 28 Januarie – Sending

Kom ons vou ons hande saam en dra al ons sendelinge aan die Here op. Ons vra dat Jesus hulle sal lei maar ook versorgers sal stuur sodat hulle nie moed verloor nie, maar die roeping moedig sal uitleef en die Woord van God versprei aan die ongelowiges.

Woensdag, 29 Januarie – Prys God

Kom ons sing ‘n nuwe lied vir God vir al sy seӫninge en ons dank Hom spesiaal vir ‘n wêreld so mooi waarin ons mildelik uit Sy Hand ontvang.

Donderdag, 30 Januarie – Troeteldiere

Bid vandag vir die sorg van ons troeteldiere en dat mense nie hul diere sal verwaarloos nie, maar sal versorg met liefde en omgee.

Vrydag, 31 Januarie – Kinders in ander lande

Ons bid vandag vir ons kinders wat ‘n lewe in ander lande maak en nie elke dag hul geliefdes kan sien nie, maar alleen in’n vreemde wêreld is. Help hulle om te onthou, God is altyd daar, maar dat hul geliefdes ook net ‘n oproep ver is vir ondersteuning.