Stof tot nadenke: Krag van Geloof

“…ja, vir julle wat, deur julle geloof, deur die krag van God bewaar word vir die verlossing…”
1 Pet. 1 : 5

Dit is interesant dat in die Ou testament wanneer daar van geloof gepraat word, dit pertinent verwys na die feit dat God geloof en verheerlik moet word. Van die nuwe testament in Matt. 8 word die gebruik van geloof nou gebruik om ons glo in God te beskryf. Matt. 8 beskryf die geloof van ‘n man wat nie ‘n israeliet is nie. In Christus se woorde: “Ek sê vir julle: By niemand in Israel het ek so ‘n groot geloof gevind nie.” Watter aantuiging is dit nie teen die Israeliete nie? Ook in Lukas 18: 8 vra Christus die vraag: “Sal die Seun van die mens, wanneer Hy kom, geloof op aarde vind?”

Is dit in ons mag om te glo. Is dit uit ons eie sterkte wat ons tot geloof kom? 1 Pet. 1: 5 stel dit duidelik. Dis deur die krag van God dat ons geloof het en dat dit bewaar word deur die krag van die Heilige Gees wat in ons woon. Uit onsself is ons tot niks in staat nie. Met die gelykenis van die saaier, en die saad wat op verskillende plekke val (Matt 13:1-9; Mark. 4: 1-9; Luk. 8: 4-8) vra Christus dat ons moet luister na sy woorde. Almal hoor maar verstaan nie, of sommiges begin groot en vol entoesiasme, maar die habitat of groeiplek is nie ideaal nie.

Jesus maan ons ook om soos kinders te glo. Maar tog is dit net waar die saad op vrugbare grond geval het wat die saad van geloof vrugbaar groei. Elkeen van ons wat glo dat Jesus die Christus is, het die belofte dat ons uit God gebore is, en elkeen van ons wat die Vader liefhet, moet ook almal lief he wat uit Hom gebore is (1 Joh. 5:1). As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en jy glo met jou hele hart dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy verlos word. (Rom. 10: 9). Christus vra aan Thomas: “Glo jy omdat jy My gesien het? Gelukkig is hulle wat nie gesien het nie, en tog tot geloof gekom het.” (Joh. 20: 29).

Mag elkeen van ons, omdat ons glo dat Jesus Christus vir ons sondes gesterf het, ten spyte van die feit dat ons dit nie beleef of gesien het nie, deur die Krag van die Heilige Gees van God die Vader vir die verlossing bewaar bly.

Stof tot nadenke: Oordeel en vergifnis

“Want as julle die mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle die mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie.”
Matt. 6: 14-15

Wie van ons het nie al mense wat ons reken is nie in ons klas, of hoort nie in ons geselskap nie, net eenvoudig geïgnoreer, en soos die verhaal van die barmahartige Samaritaan (Luk. 10: 25-37) net eenvoudig ver verby gehou, sodat ons tog net nie met die seer, pyn en smart van die ander betrokke hoef te raak nie. Ons is so besig met netelighede, wat ons as mens belangrik ag, dat ons net eenvoudig nie tyd het vir iemand wat dalk meer van ons tyd nodig mag kry, as wat ons bereid is om te gee nie.

Om iemand te ignoreer, is een vorm van oordeel oor ‘n ander, wat ons as ons reg beskou. As ek iemand nie ‘raaksien’ nie, kan niemand my tog kwalik neem as ek nie help nie. Selfs as dit een van jou familie is, is dit soveel makliker. Jy ignoreer daardie mens of kyk af op so iemand, en in die proses fel jy eintlik ‘n oordeel oor jouself. Maar Prediker waarsku ons dat God elke mens sal oordeel, want Hy is alomteenwoordig en ken ook ons gedagtes. (“Want oor elke daad sal God self oordeel, oor alles wat verborge is, of dit goed is of kwaad. Pred. 12: 14.)

In Psalms word mense wat hulleself as ‘magtig’ reken gewaarsku teen geweld en onreg.(“Magtiges, is julle werklik besig met regspraak, oordeel julle mense billik? Selfs in julle harte beoefen julle onreg; in die land maak die geweld van julle hande vir julle die pad skoon.” Psm. 58: 2-3). Hulle wat misdaad en oorloë gebruik. Dit kom egter baie nader aan ons wanneer Maleagi ons waarsku oor wat God se oordeel kan inhou wanneer ons nie gehoor gee aan Sy oproep om ons oor ander te ontferm nie. (“Ek sal na julle toe kom vir die oordeel en Ek sal sonder om te huiwer ‘n getuie wees teen towenaars, egbrekers en wie vals sweer; teen hulle wat dagloners, weduwees en vaderlose kinders verdruk en hulle wat vreemdelinge wegwys en nie ontsag vir my het nie,” sê die Here, Heerser oor alle magte.” Maleagi 3: 5)

Ons kan ook soos in die gebed van Ps 119: 66 (“Leer my goeie oordeel en kennis, want ek vertrou op die Here,volgens u woord.”) van die Here vra om ons insig en goeie oordeel te gee. Sal ons soos Samuel kan vra dat God sal oordeel, en dat ons nie ons eie hand teen iemand sal lig om oordeel te fel nie (1 Sam 24:13)? Sodat ons kan voldoen aan die vereiste van Matt 7: 1-2 (“ Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie. Want met die maat waarmee julle meet, sal vir julle afgemeet word.”). Ons kan net bid dat soos in die dae van Hiskia, ons, ons sal verootmoedig, sodat die toorn van die Here nie teen ons sal voortduur nie. (2 Kronieke 32:26) “

Christus self noem in Joh. 5: 30 dat Hy kan oordeel, omdat Hy die wil van God nastreef (“Uit Myself kan Ek niks doen nie. Ek oordeel volgens wat Ek hoor, en my oordeel is regverdig, omdat Ek nie my wil nastreef nie, maar die wil van Hom (God) wat my gestuur het.”) Christus kan vergewe omdat Hy ons harte ken (1 Kon 8:39; Matt 18). In Kol. 3: 13 word ons gemaan om mekaar te verdra en, as enigiemand ‘n klagte teen iemand anders het, mekaar te vergewe . Net Soos die Here ons vergewe het, so moet ons ook vergewe, tot selfs sewe maal ‘n dag (Luk 17:3-4).

Daar is egter ‘n uitsondering op hierdie vergifnis beleid van God, soos duidelik in Markus genoem word. Alle sondes en lasteringe sal vergewe word, maar enige lastering teen die Heilige Gees, sal skuldig wees tot in alle ewigheid en sal geen vergifnis kry nie. (“Ek sê vir julle: Alle sondes en lasteringe wat mense ook al uitgespreek het, sal hulle vergewe word, maar wie teen die Heilige Gees laster, kry tot in ewigheid geen vergewing nie, maar bly skuldig aan ‘n ewige sonde.” (Mark 3: 28-29).

Stof tot nadenke: Waarvan is jou hart vol?

“Maar U Here, U ken my; U sien my en toets of my hart by U is…”
Jer. 12: 3

Uit Matt 4: 4 (“Want waar die hart van vol is, loop die mond van oor”) weet ons dat ons nie dit waarvan ons hart vol is kan verborge hou nie. Dit kom soos ‘n stroom water uit, wat onkeerbaar vloei. Mattheus waarsku ons ook dat dit nie is wat ons eet wat ons onrein maak nie, maar wat by die mond uitgaan (Matt 15: 11). Ons woorde kom uit ons hart (Matt 15: 18), en dit is hierdie woorde wat kwetsend is, of vir die wêreld om jou wys waarvan jou hart vol is.

Ons moet soos Dawid dit van die Here smeek om die vermoë te hê om insig te hê en ‘n fyngevoelige instelling te ontwikkel vir ander mense se seerkry; en om ons sodoende te weerhou van negatiewe kommentaar, ongeag die gehoor of selfs ter wille van die hoorders. Dawid maan ons in Ps. 39: 2 om ons tonge van sondige uitsprake te weerhou. Ons moet ‘n wag voor ons monde plaas wanneer godeloses in ons teenwoordigheid is, want dit is hulle wat ons woorde sal verdraai en teen ons gebruik. Dawid stel dit so mooi in Ps 141: 3 ( “Here, plaas ‘n wag voor my mond, bewaak die deur van my lippe.”).

In Pred. 5: 5 en Pred. 10: 12 word ons gemaan dat die woorde uit die mond van ‘n wyse guns bring, en die lippe van ‘n dwaas hom oorweldig. So dikwels besef mens dat mense onnadenkend uitlatings maak wat die hart se volheid luidkeels uitskree, en die aanhoorders soms stom laat oor die onvanpaste woorde. Dit skrei soms van die onvermoë van die spreker om te besef dat wat so pas geuiter is wys waarvan die hart van vol is…wat nie aanneemlik voor God of mens is nie.

Ons kan net vra dat God ons harte sal vul met Sy wysheid, sodat my mond sal vol wees van die lof van die Here, die Vader die Seun en die Heilige Gees, sodat elkeen van ons net die hele dag lank vol heerlikheid vir hierdie asemrowende, genadige skepper kan wees (soos in Ps 71: 8). Laat ons harte en monde oorloop van die liefde en begrip vir ander, mans vroue, minder bevoorregtes, weduwees en wees. Vul jou hart met vreugde want die Skepper leef en regeer, en is altyd in beheer!

Stof tot nadenke: “Hou God van jou? “

“Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy unieke Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. God het immers nie sy Seun na die wêreld gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom verlos kan word.”
Joh. 3: 16-17

God het ons onvoorwaardelik lief. Dit weet ons virseker. Hierdie twee bekende verse in Johannes 3 kan ons koester en vashou. Iemand vra toe of dit ook beteken dat God van ons hou? Dit is ‘n eg menslike vraag. Ouers is dikwels onvoorwaardelik lief vir hul kinders, maar beteken dit dat hulle noodwendig van elkeen van hulle kinders hou? Ons word ook voor die “jy moet jou medemens lief hê soos jouself” vereiste geplaas. Kan ons hulle lief hê, maar nie van hulle hou nie?

Persoonlik glo ek dis een van daardie dinge wat moeilik is om te oorkom. In ons menslike swakheid is daar so dikwels mense wat jou ontstel, wat jy nie heeltemal en volkome kan aanvaar as vriende nie. Wat net anders is as jy; wat die lewe anders benader; wat baie ander waardes belangrik ag en wat nie vir jou belangrik is nie, dus ontstaan daar uit ons menslike perspektief die gevoel van afkeur, of die gedagte ‘nie hou van nie’. Dis deel van ons menslike stryd.

God beloof ons egter dat Hy ons so lief het, dat Hy selfs bereid was, en wel van die begin af, om sy Seun vir ons op te offer. Vanuit ‘n menslike perspektief voel dit soms onmoontlik om dieselfde te voel en omdat elkeen van ons weet hoe ver ons te kort skiet, ontstaan hierdie gedagte dat God dalk nie eintlik van elkeen van ons kan hou nie. Persoonlik dink ek egter dat God ons so lief het dat God het ons van die begin van elkeen van ons se bestaan, reeds beplan hoe ons sal wees. Hy het ook elkeen van ons op ‘n unieke vormingstog geplaas, sodat ons by Sy Plan kan inpas, daar waar Hy ons nodig het.

Ek glo vas dat God ons onvoorwaardelik lief het net soos ons is, met elkeen se eie unieke, soms eienaardige, persoonlikhede. Hy is die pottebakker, en ons die klei. Hy het ons so gevorm soos wat ons is. Daarom hou Hy van elkeen van ons, net soos ons is. Daarom het Hy Jesus Christus na hierdie aarde gestuur om vir ons sondes te sterf en op te staan, sodat die dood oorwin kon word. God die Vader hou so baie van ons dat Hy ook die Heilige Gees gestuur het om elkeen van ons, elke dag, by te staan totdat ons Hom van aangesig tot aangesig sal kan sien.

Stof tot nadenke: Hoe oordeel jy?

“Die Here het vir Jona gesê: “Jy is besorg oor die Komkommer plant waarvoor jy nie gewerk het nie en wat jy nie versorg het nie. Dit het oornag opgekom en oornag is dit dood. Maar ek mag nie besorg wees oor die groot stad waarin daar meer as duisend mense is wat nie weet wat reg of verkeerd is nie, en ook nog baie diere?”
Jona 3: 10-11

So pas het ek ‘n boek voltooi met die naam ‘Hideaway’, of Wegkruipplek as on dit direk sou vertaal. Dit het gegaan oor ‘n afgeleë dorp waar daar lekker wegkruip geleentheid was. ‘n Dorp waar almal kerk toe gegaan het, maar waar daar ook baie geveinsde Christene was, wat meer skade as goed doen aan die gemeenskap van gelowiges. Mense wat ook die geestelike soekende mense genoeg afgeskrik het dat hulle hulleself liewer wou distansieer van enigiets wat te doen het met die kerk. Jona mense. Mense wat dink hulle kan oordeel oor ander, en wat nie kan wag om die oordeel voltrek te sien nie.

Wanneer ons egter hierdie twee verse in Jona lees ruk dit mens tot stilstand. Is dit vir ons as mense om ‘n oordeel oor ander te fel? Het ons die reg om die vergifenis wat God aan ander bewillig het, te stop? Kan ons ongelukkig wees oor ‘n ander, ongeag waar hulle vandaan kom, se redding?

Die een sê-ding in die boek wat my getref het was iets wat ‘n opregte Christen vir ‘n ander soekende persoon gesê het: “Moenie God se kerk oordeel na aanleiding van mense se dade nie, oordeel die kerk van God na aanleiding van God se dade!” Dit pas so mooi aan by hierdie twee verse uit Jona. God se reddende genade moet ons in verwondering laat, en nie in sak en as dompel, omdat ons as mense, in ons menslike swakheid voel dat ‘n ander nie verdien om gered te word of goed genoeg is vir die reddende genade van God nie. Hoe oordeel jy? Of dit die kerk of die ander mense om jou is, sien jy die werk van God raak, en besef jy dat jy nie ‘n aandeel het in die redding van ‘n ander nie, maar dat dit God, die Vader, Seun en Heilige Gees is wat aan werk is. Werk wat nie gestop kan of sal word nie…tot aan die voleinding van die wêreld!

Stof tot nadenke: Lig in die duisternis.

“In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie’”
Joh. 1: 4-5

Nou na die Drie-Eenheid Sondag bly ons steeds in dankbaarheid oor die genade van die Vader, wat van ewigheid af daar was. Wat ons so lief het dat Hy sy eniggebore Seun gestuur het om vir ons te sterf. Hy wat vir ons lewe gebring het. Hierdie lewe wat vir ons as mense die lig is. ‘n Lig wat geen duisternis kan uitdoof nie. Die Engelse NJ vertaling stel dit ook mooi: “The light shines in the darkness but has not understand it” Joh. 1: 5. Mense wat in die duisternis leef kan nie verstaan nie.

Lees meer “Stof tot nadenke: Lig in die duisternis.”

Stof tot nadenke: “Jesus Christus alleen…”

“Ek het self ook nie geweet Wie Hy is nie, maar God wat my gestuur het om met water te doop, het vir my gesê : ‘Die Een op wie jy die Gees sien kom en bly, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop. Ek het dit self gesien, en daarom getuig ek: Hy is die Seun van God’”
Joh. 1: 33-34

Die herinnering aan die uitstorting van die Heilige Gees is nou weer agter ons, en met die reeks wat ons in Groot Brakrivier beleef het is ons herinner daaraan dat ons deur die Heilige Gees se aanraking nuwe mense, met nuwe prioriteite sal word. Dat die goue draad van God se beplanning van wat hier gebeur dwarsdeur die Bybel beskryf word. Die lewe staan nie stil nie en ons word dikwils weer vasgevang in ons alledaagse bedrywighede.

Lees meer “Stof tot nadenke: “Jesus Christus alleen…””

Stof tot nadenke: “Paulus en Timoteus se gebed”

“God is my getuie, Hy weet hoe ek na julle almal verlang met die liefde van Christus Jesus in my hart. Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom. Dan sal julle op die dag wanneer Christus kom, onberispelik en sonder blaam wees”
Fil. 1: 9-10

Ons is in ‘n tyd van Pinkster en met gebed en in afwagting op die herinnering aan die kragtige werking soos met die uitstorting van die Heilige Gees beleef is in die Bybelse tyd. Elke jaar word dit met nagmaal afgesluit.

Lees meer “Stof tot nadenke: “Paulus en Timoteus se gebed””

Stof tot nadenke: “Hoe kyk jy na alles?”

“Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog goed is, sal jou hele liggaam lig hê. Maar as jou oog sleg is, sal die hele liggaam sonder lig wees. As die lig in jou donker is, hoe donker moet dit nie wees nie!”
Matt 6: 22-23

Hoe kyk jy na alles om jou? Sien jy die mooi en die goeie raak, of vind jy fout met alles om jou. Is die lig in jou gedoof, sodat jy net altyd die slegte raak sien. Sodat niks anders as kritiek by jou opkom, wanneer jy na enigiets kyk nie. Beide Mattheus en Lukas (Luk. 11:34-36) noem hierdie lig en duisternis wat deur Christus beskryf word in die Bergpredikasie.

Lees meer “Stof tot nadenke: “Hoe kyk jy na alles?””

Stof tot nadenke: God se Gees

“Dit is die Gees wat iemand lewend maak; die mens self kan dit nie doen nie. Wat Ek vir julle gesê het, kom van die Gees.”
Joh. 6: 63

In die geskrewe woord van Johannes, die geliefde dissipel van Christus, word Christus se eie woorde weergegee. Christus wat ons verseker dat ook Hy self het onder die leiding van die Gees hierdie aarde bewandel het. Dit is nie vir ons mense moontlik om deur eie wil of krag vir ander mense te probeer lief wees en die wet te onderhou nie nie.

Lees meer “Stof tot nadenke: God se Gees”

Stof tot nadenke: Uitvoering van God se wet…

“Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie. Daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet.”
Rom. 13: 10

Paulus skryf in Rom. 13: 8-14 dat deur jou medemens lief te hê voldoen jy aan al die vereistes van die wet. Kan dit so maklik wees. Volgens Paulus is die hele wet saamgevat en sal ons oor geen een van die voorskrifte struikel as ons in liefde ons daaglikse pad wandel nie. Struikel ons nie telke male deur hierdie eenvoudige konsep nie. As ons mekaar liefhet, sal ons net die beste vir die ander wil hê. Ons sal hulle nie veroordeel vir hulle swakhede nie. Ons sal ten goede bydrae deur al ons dade en hantering van diesulkes wat swaar kry en swak is, wanneer ons aan ‘n ander doen soos ons graag aan onsself gedoen wil hê.

Lees meer “Stof tot nadenke: Uitvoering van God se wet…”

Stof tot nadenke: Die lig van God

“God wat gesê het: “Laat daar lig skyn uit die duisternis,” het ook in ons harte ‘n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus Christus uitstraal.”
2 Kor. 4: 6

God wat Hom oor ons ontferm het, en wat Sy Seun gestuur het om vir ons sondes te sterf en die dood te oorwin, het daardeur die lig in ons harte aangesteek deur die Heilige Gees. Dis hoekom ons nie moedeloos hoef te word nie. Dis hoekom ons verkeerde praktyke vermy. Dit wat nie die lig van God uitdra nie, het geen plek in ons lewe nie.

Lees meer “Stof tot nadenke: Die lig van God”

Stof tot nadenke: Vrede van God

“God wat vrede gee, het ons Here Jesus wat deur die bloed van die ewige verbond die groot Herder van sy kudde is, uit die dood teruggebring.”
Heb. 13: 20

Dis God wat vrede in ons gemoed as genadegawe gee. Die Vader wat ons so lief het dat Hy ons nie wil laat verlore gaan nie. Hy wat dit gewil het dat ons deur die Heilige Gees bygestaan word en daagliks toegerus word, sodat ons Sy wil kan doen. Dis nie uit ons eie krag of sterkte nie. Die herinnering aan die uitstorting van die Heilige Gees wat ons in Pinkster gedenk, is ook een van die belangrike, deur Christus beloofde gebeurtenisse, waarsonder ons nie onder God se leiding kan bly nie.

Lees meer “Stof tot nadenke: Vrede van God”

Stof tot nadenke: Geniet hierdie dag!

“Waar die wil van die Here nie bekend gemaak word nie, verwilder ‘n volk; dit gaan goed met met elkeen wat die wet van die Here onderhou.”
Spr. 29: 18

Jesus Christus het opgestaan uit die dood, waarvoor hoef ons dan te vrees. Ons wat bevoorreg was om in hierdie land groot te word, waar ons blootgestel en vrylik die wil van die Here kon beleef, ons kan elke dag geniet. Sien die dinge raak wat God aan jou gee. Besef die wonder van Christus se opstanding. Waardeer elke genade gawe; elke natuur wonder; elke vriendelike glimlag en groet.

Lees meer “Stof tot nadenke: Geniet hierdie dag!”

Lydenstyd: “Visio Divina” Dag 46

VISIO DIVINA #46

Deel 1

Gepas word hierdie ikoon die “Klaaglied” genoem. Theodosia Poulopos, ‘n tapiserieborduurder, het in 1599 op die bloedrooi lap die toneel met goue gare borduur. Dit beeld die begrafnisritueel uit van die vroue wat Jesus se liggaam vir die graf voorberei en salf. Volgens Lukas en Matteus was dit Josef van Arimatea wat voor die aanbreek van die Sabbat Sy liggaam van die kruis kon afhaal. Joh 19:31-34 vertel dat dit die gebruik was om die liggaam se bene te breek as die gekruisigde nog nie dood was nie, maar Jesus was toe reeds dood.

Hierdie is almal se klaaglied. Vir Maria was gesê dat ‘n swaard deur haar siel gesteek sal word (Luk 2:35) en met haar seun se kop op haar skoot weet sy dit. Petrus, die een wat gesê het, “ek ken Hom nie”, is die een wat by sy bene staan, gereed om die doek om Jesus te draai.

Deel 2

TEKSVERS:

“En nie alleen dit nie, maar ons self ook wat die eerstelinge van die Gees het, ons sug ook in onsself in afwagting …” (Rom 8:23, 1953-vertaling).

Hoe ouer ek word, hoe meer worstel ek met pyn. Nie fisieke pyn nie. Dit ken ons almal baie goed! Maar dit is die emosionele pyn van die mensdom; die brutaliteit waarmee ons leef; die onnodige ellende waarin die mensdom gedompel word (of dit selfgemaak is deur oorloë, of deur natuurrampe of wat ook al) wat my so onrustig maak. Ek verlang na ‘n ander lewe! Ek sug! Ek sug!

Stil Saterdag is die dag van sug! Jy kan nie anders as jy om jou kyk nie. Die pyn is sigbaar, reg om jou; ook binne jou eie lewe. Dit is wat Visio Divina doen – nie net om die mooi raak te sien nie; maar ook die toestand van die wêreld waarvan ons deel is. Visio Divina dwing jou om eerlik te word, want eers as jy eerlik is oor jou eie aandeel in die gebroke wêreld moet jy, soos ‘n Maria en ‘n Petrus, daardie klaaglied uit jou lyf uit sug. Dit is as gevolg van dáárdie gebrokenheid dat die Man daar gehang het. Dit is hoe hooploos voel! Jy moet dit raaksien.

Maar Sondag breek aan. Aan hooploosheid kom ‘n einde. Waarom? Die son kom op. Die duisternis kon nie die Lig verdryf nie. Daarvan is ons getuies!

GEBED:

Heilige Lig wat die duisternis uitdryf; dryf dit ook uit my om U lig te kan reflekteer.


Audrey Assad – “Abide with me” –

Op Dag 46 van ons Lydenstydreeks #VisioDivina luister ons na Audrey Assad se weergawe van die bekende “Abide with me” –

Bannier-van-NG-Weltevreden1
Ontwikkel en saamgestel vir die NG Kerk Weltevreden

Kopiereg: Dr. R.M. Bezuidenhoudt
Hierdie reeks ‘Visio Divina‘ word deur Kopiereg beskerm.
Geen gedeelte van hierdie reeks mag gedupliseer of herversprei word sonder die eksplisiete goedkeuring van die outeur: Dr. R M Bezuidenhout nie.

Indien hierdie reeks u geïnspireer het kan u haar bediening finansieel ondersteun deur die volgende skakel te volg:
https://ronellbezuidenhout.co.za/steun

Lydenstyd: “Visio Divina” Dag 45

VISIO DIVINA #45

Deel 1

Kenners bevestig, daar is geen ander toneel wat meer deur kunstenaars uitgebeeld is as die kruisiging van Jesus nie. Om een te kies vir #VisioDivina is soos om ‘n enkele ster aan die hemelruim te kies en dan te motiveer waarom dit jou keuse is. My soektog het tot stilstand gekom by die 1922-penskets (en waterverf) van David Jones. Ek kon nie ophou kyk nie.

Ek weet dat daar baie indrukwekkender kunswerke oor hierdie toneel is. Maar sonder ‘n woord bring hierdie visuele beeld met sy enkele lyne, so eenvoudig en gestroop, ‘n roering in jou hart. “Heilige kyk” word “heilige hoor”.

Neem jou tyd en kyk net biddend na hierdie skets. Die uitgestrekte arms word ‘n weegskaal waarin die wêreld rus. Riviertjies bloed sypel afwaarts. Waarom teken die kunstenaar die oë so groot? Om wat te sien?

Deel 2

TEKSVERS:

“Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos? Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here” (Rom 7:24-25).

Die Latyn weerskante van die Jesus-figuur van David Jones kom uit Jes 53:2, “Hy het nie skoonheid of prag gehad dat ons na hom sou kyk nie, nie die voorkoms dat ons van hom sou hou nie.” Alles aan Jesus was onindrukwekkend: gebore in ‘n stal, ‘n ongeletterde seun van ‘n timmerman. Lukas 23 bevestig dit: Pilatus wil redeneer – Jesus reageer nie. Herodus wil ‘n wonderwerk sien – Jesus staan net. Die soldate kasty hom – Jesus ruk nie los nie. Dit is presies wat Jesaja voorspel: “Soos ‘n lam wat na die slagplek toe gelei word en soos ‘n skaap wat stil is as hy geskeer word, het hy nie gekla nie” (Jes 53:7). Die volk wou die Leeu van Juda hê! Daarom skreeu almal, “Kruisig Hom!”

Wees net eerlik – ons hou maar almal van indrukwekkende mense. Sukses beïndruk ons. Sterk leiers laat ons veilig voel. Wat sou óns skreeu as ons tussen die skare was? Hoe durf hierdie man beweer Hy is die Seun van God is. Die regte Messias sou nooit ‘n doringkroon dra nie! Die regte Messias moet die volk red! En hier hang hy aan ‘n kruis…

En terwyl ek aanhou kyk na die Latynse woorde van die kunswerk kom Paulus se woorde skielik by my op: “Ek ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos…”

Dan verander die sogenaamde “man van geen aansien” aan daardie kruis in die “Skoonheid van God”: die bloed word wyn; die liggaam word brood.

GEBED:

Jesus Christus, ek kyk na U aan die kruis, en ek roep saam met Paulus uit, “Ek ellendige mens, wie sal my red?” Daar is net Een – U!


“Kyrie Eleison” deur “Chant of the Mystics”

Op Dag 45 van ons Lydenstydreeks #VisioDivina luister ons na ‘n buitengewone weergawe van die “Kyrie Eleison” deur “Chant of the Mystics”. Dit is musiek wat uiters gepas is om stil te sit en te onthou dat Jesus bid: “Vader, vergewe hulle.”

Bannier-van-NG-Weltevreden1
Ontwikkel en saamgestel vir die NG Kerk Weltevreden

Kopiereg: Dr. R.M. Bezuidenhoudt
Hierdie reeks ‘Visio Divina‘ word deur Kopiereg beskerm.
Geen gedeelte van hierdie reeks mag gedupliseer of herversprei word sonder die eksplisiete goedkeuring van die outeur: Dr. R M Bezuidenhout nie.

Indien hierdie reeks u geïnspireer het kan u haar bediening finansieel ondersteun deur die volgende skakel te volg:
https://ronellbezuidenhout.co.za/steun

Lydenstyd: “Visio Divina”Dag 44

VISIO DIVINA #44

Deel 1

Terwyl Jesus in Getsemane gebid het stuur die Joodse geestelike- en volksleiers ‘n groep gewapende mans saam met Judas om Jesus gevange te neem. Met wapens omhoog gryp een Hom aan die bors; ‘n ander een het Hom aan die arm beet.

Maar kyk net hoe beeld die Flaamse kunstenaar, Dirk Bouts (1400’s), die mense se reaksie uit. Daar is ‘n beangste man vlak op die grond; ‘n aggressiewe een wat oor hom buk. Maar wat is op die ander se gesigte? Is dit verbasing? Asof selfs Judas, die een wat die soen moet gee, ook op ‘n reaksie wag.

En tog staan Jesus net.

Dalk het almal gehoop dat as Hy homself sou teësit. Dan kon hulle rede vind om Hom in hegtenis te neem. Maar niks gebeur nie. Hy staan – soos ‘n lam gelei ter slagting.

Deel 2

TEKSVERS:

“Toe het al sy dissipels Hom in die steek gelaat en weggehardloop” (Matt 26:56; Mark 14:50).

Sonder om te raai weet ons dat dit Jesus in die blou kleed is, al lyk hierdie Jesus dalk nie soos die bekende uitbeelding wat ons ken nie. Twee ander figure herken ons ook: Judas wat teenaan Jesus se wang buig, en Petrus met die swaard in sy hand. (Volgens Joh 10:18 is die man op die grond die slaaf, Malgas.) Maar dit is oor Simon Petrus en Judas dat ek wonder.

Vroeg in hierdie reeks (#VD4) het ons reeds oor Petrus gesels wat Jesus verraai het. Wat maak sy verraad anders as Judas Iskariot s’n? Waarom word Judas so uitgesonder as genoem word dat al twaalf dissipels Jesus in die steek gelaat het?

In die teologie word Judas soms as die “negatiewe tweeling” van Petrus beskryf. Wat sou daarmee bedoel word?

Martin Luther het geoordeel daar is inderwaarheid geen verskil tussen Petrus en Judas nie, BEHALWE … En daardie “behalwe” maak al die verskil! Inderdaad verraai beide vir Jesus (soos die ander ook). Maar Matt 27:3-5 leer dat Judas so skuldig gevoel het dat hy homself opgehang het. En Petrus? Lukas 62:22 leer dat Petrus “buitentoe gegaan en bitterlik gehuil (het).”

En dít maak al die verskil! Skuldgevoel oorweldig die een. Berou oorweldig die ander een. Die een draai kruis toe. Die ander een nie.

En dit maak die verskil.

GEBED:

Here, laat ek tog nooit verkeerd kies nie!

Oos-Ortodokse oggendgebed

Op Dag 44 van ons Lydenstydreeks #VisioDivina luister ons na ‘n Oos-Ortodokse oggendgebed. Die Engelse woorde van die gebed:

Almighty God,

you are the way, the truth and the life.

You know how few people walk with you in these times.

There are few who emulate you, their head,

in humility and silence, in poverty and purity,

in diligence and patience.

The path of Satan is open and many are walking along it.

Minister to your small flock,

so that they do not become discouraged,

but follow you along the narrow path until the end. Amen

Bannier-van-NG-Weltevreden1
Ontwikkel en saamgestel vir die NG Kerk Weltevreden

Kopiereg: Dr. R.M. Bezuidenhout
Hierdie reeks ‘Visio Divina‘ word deur Kopiereg beskerm.
Geen gedeelte van hierdie reeks mag gedupliseer of herversprei word sonder die eksplisiete goedkeuring van die outeur: Dr. R M Bezuidenhout nie.

Indien hierdie reeks u geïnspireer het kan u haar bediening finansieel ondersteun deur die volgende skakel te volg:
https://ronellbezuidenhout.co.za/steun

Lydenstyd: “Visio Divina” – Dag 43

VISIO DIVINA #43

Deel 1

Hierdie 6de eeuse mosaïëkuitbeelding is die derde voorbeeld uit die basilika in Ravenna, Italië in ons reeks. Elf dissipels sit-lê saam met Jesus rondom ‘n tafel. Die afwesige dissipel is natuurlik Judas. Die elf mans is geklee soos tipiese Romeinse mans van daardie tyd. Jesus lyk heeltemal anders – nie net met die ligglas om sy kop nie, maar ook oor sy kleed. Hy dra ‘n persblou kleed – blou is die kleur van die hemel, en pers is die koninklike kleur. (Hier word Jesus dus reeds in sy Godheid uitgebeeld).

Wat opval is die twee reuse visse op die tafel. Die vis was sedert die vroegste eeue ‘n simbool vir Jesus. Die Griekse woord vir vis is ook ‘n akroniem vir “Jesus Christus, Seun van God, die Verlosser.”

Die Goddelike Jesus sit aan tafel, maar Jesus in sy mensheid lê soos ‘n offer op die tafel. Presies wat ons in die nagmaal ervaar.

Deel 2

Ons reeks loop na ‘n einde, maar die pad loop nie dood nie! Elke keer wanneer ons die nagmaal gebruik, herinner die nagmaalsformulier ons: hierdie is ‘n herinneringsmaaltyd; maar dit is ook ‘n toekomsmaaltyd. Kyk terug en onthou wat gebeur het. Maar kyk ook vorentoe met versugtinge, want daar is ‘n belofte wat nog in vervulling moet kom. Dit is die alreeds en die nog-nie fees.

Dit is belangrik om met hierdie twee perspektiewe (die terugkyk en die vorentoekyk) die gebeure van Lydenstyd te vier. Juis daarom kan ons dit ook jaar-na-jaar doen. Elke jaar het die rimpeleffek al verder uitgedy en is ons nader aan ons die realisering van die belofte. Ons geloof is nie ‘n historiese geloof nie; ons geloof is ‘n toekomsgerigte geloof. Waarom soveel klem hierop lê? Omdat ons maklik kan dink dat dit wat Jesus gedoen het afgehandel is. Ja, dit is afgehandel; maar dit is nie klaar nie! Daarom kon Paulus skryf dat ons “in Christus geseën is met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is” (Ef 1:3) en net ‘n paar verse verder kan hy byvoeg, “Die Heilige Gees is die waarborg dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het, wanneer Hy almal wat aan Hom behoort, volkome sal verlos” (v14).

Jy het alreeds alles ontvang! Maar wat jy ontvang het is maar nog net die begin.

GEBED:

Here, dankie dat my terugkyk en onthou my toekomsverwagtinge na U kragtiger maak.

“In Remembrance of Me” deur Robert Kochis

Op Dag 43 van ons Lydenstydreeks #VisioDivina luister ons “In Remembrance of Me” soos uitgevoer deur Robert Kochis. Die woorde verskyn in die video.

Bannier-van-NG-Weltevreden1
Ontwikkel en saamgestel vir die NG Kerk Weltevreden

Kopiereg: Dr. R.M. Bezuidenhout
Hierdie reeks ‘Visio Divina‘ word deur Kopiereg beskerm.
Geen gedeelte van hierdie reeks mag gedupliseer of herversprei word sonder die eksplisiete goedkeuring van die outeur: Dr. R M Bezuidenhout nie.

Indien hierdie reeks u geïnspireer het kan u haar bediening finansieel ondersteun deur die volgende skakel te volg:
https://ronellbezuidenhout.co.za/steun

Lydenstyd: “Visio Divina” Dag 42

VISIO DIVINA #42

Deel 1

Nadat Maria Jesus se voete gesalf het (#VD41) vind die volgende groot insident in die Johannesevangelie weer rondom ‘n tafel plaas. Aldus Joh 3:4 het Jesus opgestaan en sy bokleed uitgetrek. Presies soos hierdie Russiese ikoon uit die 1500’s illustreer, staan Jesus sonder die gebruiklike hemelblou bokleed met ‘n ryklik-geborduurde handdoek om sy middel gebind. Terwyl Hy Petrus se voete was beduie Petrus ook in die rigting van sy kop – “Here, nie net my voete nie, maar ook my hande en my gesig,” pleit hy (13:9).

Maar iets moet ons nie miskyk nie; reg in die middel van die paneel bo-op ‘n hoë pilaar sit ‘n hoenderhaan. Nie net Petrus en Judas sou Jesus verraai nie; in werklikheid sou die haan vir al 12 dissipels kraai. Almal sou Hom verlaat. Die pad vorentoe verloop vir Jesus alleen.

Deel 2

Die Donderdagaand voor Jesus se inhegtenisneming gebeur ‘n paar aangrypende dinge, o.a. begin die Messias sy dissipels se voete was. Ook Judas s’n! Op die ikoon sien jy Judas in die boonste ry aan die regterkant by die deuropening sit. Dit is waar hy sal moet uitglip wanneer Jesus later vir hom sou sê, “Wat jy wil doen, moet jy baie gou doen!” (Joh 13:27).

Sodra Judas uit die vertrek is begin Jesus die oorblywende elf weer leer: “Ek gee julle ‘n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is” (v34).

Dissipelskap is nie ‘n saak om oor te filosofeer nie; dit is ‘n saak van dienend-doen. Dit is ‘n leefwyse. Dit is nie prestige nie. Dit vra nie geleerdheid nie. Die kenmerk van christene is mense met ‘n handdoek om die middellyf. Dit is mense wat versorg en versoen en vergewe. Dit is die enigste manier hoe ‘n mens van vyande en vreemdelinge vriende kan maak.

Ons hou daarvan om die “goeie voetjie” voor te sit; maar Jesus kyk veel dieper – tot daar waar ons ons geheime wegsteek. Soos ons ons skurwe hakke en ons verknobbelte toonnaels eerder in skoene bedek. Of liefs nie ons sokkies voor mense uittrek nie. Maar selfs ons verleenthede is iets wat Jesus met deernis in sy hande neem en was.

Sou ons ooit Jesus se opdrag kon verstaan as Hy dit nie vir ons sélf geïllustreer het nie?

GEBED:

Here, ek sukkel om “soos U” lief te hê. Maar ek wil. Omdat U dit wil.

“I Give You A New Commandment” deur Bob Hurd.

Op Dag 42 van ons Lydenstydreeks #VisioDivina luister ons na ‘n bekende Engelse gesang: “I Give You A New Commandment” deur Bob Hurd.

Die lirieke:

I give unto you
That you love one another
As I have loved you,
That you love one another
As I have loved you.
By this shall all men
Know you are My disciples
If you have love one to another.

Bannier-van-NG-Weltevreden1
Ontwikkel en saamgestel vir die NG Kerk Weltevreden

Kopiereg: Dr. R.M. Bezuidenhoudt
Hierdie reeks ‘Visio Divina‘ word deur Kopiereg beskerm.
Geen gedeelte van hierdie reeks mag gedupliseer of herversprei word sonder die eksplisiete goedkeuring van die outeur: Dr. R M Bezuidenhout nie.

Indien hierdie reeks u geïnspireer het kan u haar bediening finansieel ondersteun deur die volgende skakel te volg:
https://ronellbezuidenhout.co.za/steun

Lydenstyd: “Vision Divina” Dag 41

VISIO DIVINA #41

Deel 1

Veral in die Middeleeue was persoonlike gebedeboekies (sg. “Book of Hours”) baie gewild ‘n Voorbeeld is die “Varie Hours” – 11.7 cm x 8 cm groot, 97 blaadjies, almal ryklik geïllustreer. Die boekie dateer uit 1445 en die eienaar was die Fransman, Simon de Varie. Vier verskillende kunstenaars wat in miniatuurkuns spesialiseer het saamgewerk aan die klein illustrasies.

Matteus en Markus se weergawe van die onbekende vrou wat Jesus se voete gesalf het stem bykans woord-vir-woord ooreen (Matt 26:6-13; Mark. 14:3-9). Die Johannesevangelie se weergawe is anders – sy word op haar naam genoem: Maria, die suster van Marta en Lasarus. Dit is juis by Joh 12:1-8 waar hierdie klein illustrasie gevoeg is.

Muurgrootte of miniatuurgrootte, van hierdie vrou word gesê dat sy die eerste volgeling van Jesus was wat Sy boodskap werklik verstáán het.

Deel 2

Die uitbeelding in Deel 1 is so klein dat ‘n mens beswaarlik kan sien waaroor dit gaan. Daarom plaas ek graag ook ‘n groter foto. Kyk mooi, daar is nie net mans om die tafel nie. Hoe vreemd! Die kunstenaars kombineer duidelik twee bybelverhale in een illustrasie. Ons onthou (#VD14) hoe Marta Jesus versoek om haar suster, Maria, te berispe. Weereens is hier spanning tussen die twee susters. Kyk net hoe beskuldigend wys die ouer suster, Marta, met haar hand na benede. Vergroot die uitbeelding dan sien jy dat daar betekenisvolle oogkontak tussen Marta en Jesus is, so asof sy met haar oë vir Jesus wil dwing om iets te sê! Iets soos, “nou kan U self sien … sy steek werklik lyf weg.”

Maar, Maria steek nie lyf weg nie. Sy is in werklikheid die enigste een wat besig is om Jesus te dien!

Deel 3

TEKSVERS:

“Toe het Maria ‘n halfliter egte, baie duur nardusolie gebring en dit op Jesus se voete uitgegiet en sy voete met haar hare afgedroog. Die hele huis is deurtrek met die geur van die reukolie” (Joh 12:3).

Waar Lydenstyd ‘n tydperk van stroping is met die klem op vas en eenvoud en sondebelydenis, is hier ‘n toneel wat presies op die teenoorgestelde dui. Dit is uitspattigheid in oortreffende trap! Dit sluit nie net die onmiddellike vermorsing in nie, maar vir dae lank sal die aroma van die reukolie nog in die huis hang.

Hierdie woorde van Joh 12:3 herinner ons aan ‘n ander deel in die Ou Testament – Psalm 45. Dit is ‘n sg. Messiaanse koningspsalm. Só word van die koning gesê: “Die geur van mirre, aalwyn en kaneel deurtrek al u klere…” (Psalm 45:9).

Maria tree hier op as die profeet. Nie net wys sy Jesus se naderende dood aan. In die Ou Testament het die profeet die koning gesalf; en hier sien ons ‘n vrou wat Jesus as die Messias en Koning salf. G’n wonder dat Jesus sê, “Dit verseker Ek julle: Oral waar hierdie evangelie in die hele wêreld verkondig word, sal daar ook vertel word wat sy gedoen het, tot ‘n herinnering aan haar” (Matt 26:13).

GEBED:

Here, dankie vir elke profeet wat U boodskap getrou kon verkondig! Ook vir hierdie vrou wat dit met olie en trane gedoen het.


“The Psalm Project” – Psalm 45.

Op Dag 41 van ons Lydenstydreeks #VisioDivina luister ons na “The Psalm Project” se verwerking van Psalm 45.

Die “Psalm Project” is ‘n musiekgroep wat al 150 psalms met elke enkele vers per psalm nuut getoonset vir ‘n moderne gehoor.

Bannier-van-NG-Weltevreden1
Ontwikkel en saamgestel vir die NG Kerk Weltevreden

Kopiereg: Dr. R.M. Bezuidenhoudt
Hierdie reeks ‘Visio Divina‘ word deur Kopiereg beskerm.
Geen gedeelte van hierdie reeks mag gedupliseer of herversprei word sonder die eksplisiete goedkeuring van die outeur: Dr. R M Bezuidenhout nie.

Indien hierdie reeks u geïnspireer het kan u haar bediening finansieel ondersteun deur die volgende skakel te volg:
https://ronellbezuidenhout.co.za/steun