VISIO DIVINA #43
Deel 1
Hierdie 6de eeuse mosaïëkuitbeelding is die derde voorbeeld uit die basilika in Ravenna, Italië in ons reeks. Elf dissipels sit-lê saam met Jesus rondom ‘n tafel. Die afwesige dissipel is natuurlik Judas. Die elf mans is geklee soos tipiese Romeinse mans van daardie tyd. Jesus lyk heeltemal anders – nie net met die ligglas om sy kop nie, maar ook oor sy kleed. Hy dra ‘n persblou kleed – blou is die kleur van die hemel, en pers is die koninklike kleur. (Hier word Jesus dus reeds in sy Godheid uitgebeeld).
Wat opval is die twee reuse visse op die tafel. Die vis was sedert die vroegste eeue ‘n simbool vir Jesus. Die Griekse woord vir vis is ook ‘n akroniem vir “Jesus Christus, Seun van God, die Verlosser.”
Die Goddelike Jesus sit aan tafel, maar Jesus in sy mensheid lê soos ‘n offer op die tafel. Presies wat ons in die nagmaal ervaar.
Deel 2
Ons reeks loop na ‘n einde, maar die pad loop nie dood nie! Elke keer wanneer ons die nagmaal gebruik, herinner die nagmaalsformulier ons: hierdie is ‘n herinneringsmaaltyd; maar dit is ook ‘n toekomsmaaltyd. Kyk terug en onthou wat gebeur het. Maar kyk ook vorentoe met versugtinge, want daar is ‘n belofte wat nog in vervulling moet kom. Dit is die alreeds en die nog-nie fees.
Dit is belangrik om met hierdie twee perspektiewe (die terugkyk en die vorentoekyk) die gebeure van Lydenstyd te vier. Juis daarom kan ons dit ook jaar-na-jaar doen. Elke jaar het die rimpeleffek al verder uitgedy en is ons nader aan ons die realisering van die belofte. Ons geloof is nie ‘n historiese geloof nie; ons geloof is ‘n toekomsgerigte geloof. Waarom soveel klem hierop lê? Omdat ons maklik kan dink dat dit wat Jesus gedoen het afgehandel is. Ja, dit is afgehandel; maar dit is nie klaar nie! Daarom kon Paulus skryf dat ons “in Christus geseën is met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is” (Ef 1:3) en net ‘n paar verse verder kan hy byvoeg, “Die Heilige Gees is die waarborg dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het, wanneer Hy almal wat aan Hom behoort, volkome sal verlos” (v14).
Jy het alreeds alles ontvang! Maar wat jy ontvang het is maar nog net die begin.
GEBED:
Here, dankie dat my terugkyk en onthou my toekomsverwagtinge na U kragtiger maak.
“In Remembrance of Me” deur Robert Kochis
Op Dag 43 van ons Lydenstydreeks #VisioDivina luister ons “In Remembrance of Me” soos uitgevoer deur Robert Kochis. Die woorde verskyn in die video.

Kopiereg: Dr. R.M. Bezuidenhout
Hierdie reeks ‘Visio Divina‘ word deur Kopiereg beskerm.
Geen gedeelte van hierdie reeks mag gedupliseer of herversprei word sonder die eksplisiete goedkeuring van die outeur: Dr. R M Bezuidenhout nie.
Indien hierdie reeks u geïnspireer het kan u haar bediening finansieel ondersteun deur die volgende skakel te volg:
https://ronellbezuidenhout.co.za/steun


