Lydenstyd 2023: “Visio Divina” 8 April 2023

VISIO DIVINA #46

8 APRIL – Deel 1

Gepas word hierdie ikoon die “Klaaglied” genoem. Theodosia Poulopos, ‘n tapiserieborduurder, het in 1599 op die bloedrooi lap die toneel met goue gare borduur. Dit beeld die begrafnisritueel uit van die vroue wat Jesus se liggaam vir die graf voorberei en salf. Volgens Lukas en Matteus was dit Josef van Arimatea wat voor die aanbreek van die Sabbat Sy liggaam van die kruis kon afhaal. Joh 19:31-34 vertel dat dit die gebruik was om die liggaam se bene te breek as die gekruisigde nog nie dood was nie, maar Jesus was toe reeds dood.

Hierdie is almal se klaaglied. Vir Maria was gesê dat ‘n swaard deur haar siel gesteek sal word (Luk 2:35) en met haar seun se kop op haar skoot weet sy dit. Petrus, die een wat gesê het, “ek ken Hom nie”, is die een wat by sy bene staan, gereed om die doek om Jesus te draai.

VISIO DIVINA #46

8 APRIL – Deel 2

TEKSVERS: “En nie alleen dit nie, maar ons self ook wat die eerstelinge van die Gees het, ons sug ook in onsself in afwagting …” (Rom 8:23, 1953-vertaling).

Hoe ouer ek word, hoe meer worstel ek met pyn. Nie fisieke pyn nie. Dit ken ons almal baie goed! Maar dit is die emosionele pyn van die mensdom; die brutaliteit waarmee ons leef; die onnodige ellende waarin die mensdom gedompel word (of dit selfgemaak is deur oorloë, of deur natuurrampe of wat ook al) wat my so onrustig maak. Ek verlang na ‘n ander lewe! Ek sug! Ek sug!

Stil Saterdag is die dag van sug! Jy kan nie anders as jy om jou kyk nie. Die pyn is sigbaar, reg om jou; ook binne jou eie lewe. Dit is wat Visio Divina doen – nie net om die mooi raak te sien nie; maar ook die toestand van die wêreld waarvan ons deel is. Visio Divina dwing jou om eerlik te word, want eers as jy eerlik is oor jou eie aandeel in die gebroke wêreld moet jy, soos ‘n Maria en ‘n Petrus, daardie klaaglied uit jou lyf uit sug. Dit is as gevolg van dáárdie gebrokenheid dat die Man daar gehang het. Dit is hoe hooploos voel! Jy moet dit raaksien.

Maar Sondag breek aan. Aan hooploosheid kom ‘n einde. Waarom? Die son kom op. Die duisternis kon nie die Lig verdryf nie. Daarvan is ons getuies!

GEBED: Heilige Lig wat die duisternis uitdryf; dryf dit ook uit my om U lig te kan reflekteer.

————

Op Dag 46 van ons Lydenstydreeks #VisioDivina luister ons na Audrey Assad se weergawe van die bekende “Abide with me” –

Bannier-van-NG-Weltevreden1
Ontwikkel en saamgestel vir die NG Kerk Weltevreden

Kopiereg: Dr. R.M. Bezuidenhoudt
Hierdie reeks ‘Visio Divina‘ word deur Kopiereg beskerm.
Geen gedeelte van hierdie reeks mag gedupliseer of herversprei word sonder die eksplisiete goedkeuring van die outeur: Dr. R M Bezuidenhout nie.

Indien hierdie reeks u geïnspireer het kan u haar bediening finansieel ondersteun deur die volgende skakel te volg:
https://ronellbezuidenhout.co.za/steun