Stof tot nadenke: Die lig van God

“God wat gesê het: “Laat daar lig skyn uit die duisternis,” het ook in ons harte ‘n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus Christus uitstraal.”
2 Kor. 4: 6

God wat Hom oor ons ontferm het, en wat Sy Seun gestuur het om vir ons sondes te sterf en die dood te oorwin, het daardeur die lig in ons harte aangesteek deur die Heilige Gees. Dis hoekom ons nie moedeloos hoef te word nie. Dis hoekom ons verkeerde praktyke vermy. Dit wat nie die lig van God uitdra nie, het geen plek in ons lewe nie.

Deur die Heilige Gees in ons harte toe te laat kry ons leiding en krag om nie die woord van God te vervals nie, want ons wil die waarheid openlik bekend maak. Indien die evangelie tog deur ‘n sluier bedek is, is dit versluier vir die wat verlore gaan, volgens Paulus, omdat hulle verblind is deur die god van hierdie wêreld en nie die lig van die evangelie kan sien nie (2 Kor. 4: 3).

Vandat God die lig in ons harte aangesteek het, moet ons dus nie onsself verkondig nie, maar alleenlik Jesus Christus. Ons kan nog steeds nie op onsself roem nie, want ons is kleipotte wat maklik breek. Die krag, wat alles oortref, kom dus nie van onsself nie, maar van God. Ons kan dus net in nederigheid God se lig om ons laat skyn.