Lydenstyd 2023: “Visio Divina” 7 April 2023

VISIO DIVINA #45

7 APRIL – Deel 1

Kenners bevestig, daar is geen ander toneel wat meer deur kunstenaars uitgebeeld is as die kruisiging van Jesus nie. Om een te kies vir #VisioDivina is soos om ‘n enkele ster aan die hemelruim te kies en dan te motiveer waarom dit jou keuse is. My soektog het tot stilstand gekom by die 1922-penskets (en waterverf) van David Jones. Ek kon nie ophou kyk nie.

Ek weet dat daar baie indrukwekkender kunswerke oor hierdie toneel is. Maar sonder ‘n woord bring hierdie visuele beeld met sy enkele lyne, so eenvoudig en gestroop, ‘n roering in jou hart. “Heilige kyk” word “heilige hoor”.

Neem jou tyd en kyk net biddend na hierdie skets. Die uitgestrekte arms word ‘n weegskaal waarin die wêreld rus. Riviertjies bloed sypel afwaarts. Waarom teken die kunstenaar die oë so groot? Om wat te sien?

VISIO DIVINA #45

7 APRIL – Deel 2

TEKSVERS: “Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos? Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here” (Rom 7:24-25).

Die Latyn weerskante van die Jesus-figuur van David Jones kom uit Jes 53:2, “Hy het nie skoonheid of prag gehad dat ons na hom sou kyk nie, nie die voorkoms dat ons van hom sou hou nie.” Alles aan Jesus was onindrukwekkend: gebore in ‘n stal, ‘n ongeletterde seun van ‘n timmerman. Lukas 23 bevestig dit: Pilatus wil redeneer – Jesus reageer nie. Herodus wil ‘n wonderwerk sien – Jesus staan net. Die soldate kasty hom – Jesus ruk nie los nie. Dit is presies wat Jesaja voorspel: “Soos ‘n lam wat na die slagplek toe gelei word en soos ‘n skaap wat stil is as hy geskeer word, het hy nie gekla nie” (Jes 53:7). Die volk wou die Leeu van Juda hê! Daarom skreeu almal, “Kruisig Hom!”

Wees net eerlik – ons hou maar almal van indrukwekkende mense. Sukses beïndruk ons. Sterk leiers laat ons veilig voel. Wat sou óns skreeu as ons tussen die skare was? Hoe durf hierdie man beweer Hy is die Seun van God is. Die regte Messias sou nooit ‘n doringkroon dra nie! Die regte Messias moet die volk red! En hier hang hy aan ‘n kruis…

En terwyl ek aanhou kyk na die Latynse woorde van die kunswerk kom Paulus se woorde skielik by my op: “Ek ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos…

Dan verander die sogenaamde “man van geen aansien” aan daardie kruis in die “Skoonheid van God”: die bloed word wyn; die liggaam word brood.

GEBED: Jesus Christus, ek kyk na U aan die kruis, en ek roep saam met Paulus uit, “Ek ellendige mens, wie sal my red?” Daar is net Een – U!

————

Op Dag 45 van ons Lydenstydreeks #VisioDivina luister ons na ‘n buitengewone weergawe van die “Kyrie Eleison” deur “Chant of the Mystics”. Dit is musiek wat uiters gepas is om stil te sit en te onthou dat Jesus bid: “Vader, vergewe hulle.”

Bannier-van-NG-Weltevreden1
Ontwikkel en saamgestel vir die NG Kerk Weltevreden

Kopiereg: Dr. R.M. Bezuidenhoudt
Hierdie reeks ‘Visio Divina‘ word deur Kopiereg beskerm.
Geen gedeelte van hierdie reeks mag gedupliseer of herversprei word sonder die eksplisiete goedkeuring van die outeur: Dr. R M Bezuidenhout nie.

Indien hierdie reeks u geïnspireer het kan u haar bediening finansieel ondersteun deur die volgende skakel te volg:
https://ronellbezuidenhout.co.za/steun