Stof tot nadenke: Uitvoering van God se wet…

“Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie. Daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet.”
Rom. 13: 10

Paulus skryf in Rom. 13: 8-14 dat deur jou medemens lief te hê voldoen jy aan al die vereistes van die wet. Kan dit so maklik wees. Volgens Paulus is die hele wet saamgevat en sal ons oor geen een van die voorskrifte struikel as ons in liefde ons daaglikse pad wandel nie. Struikel ons nie telke male deur hierdie eenvoudige konsep nie. As ons mekaar liefhet, sal ons net die beste vir die ander wil hê. Ons sal hulle nie veroordeel vir hulle swakhede nie. Ons sal ten goede bydrae deur al ons dade en hantering van diesulkes wat swaar kry en swak is, wanneer ons aan ‘n ander doen soos ons graag aan onsself gedoen wil hê.

Daar sou geen egbreek, moord, diefstal of ongeoorloofde begeertes wees, wanneer ons vir ons medemens lief is soos ons vir onsself is nie. Paulus waarsku ons teen uitspattige lewens, ontug, onsedelikheid, rusie en jaloesie. Daardie emosies en gevoelens wat ons so dikwels laat struikel. Daardie onvergenoegdheid met wat ons het. Dit laat onsself so dikwels in sak en as sit. Om lief te hê, soos Christus liefgehad het, is sooveel meer vervullend.

Verder maan Paulus ons in Rom. 14: 1-12 dat ons niemand moet veroordeel omdat hulle anders as ons is nie. Hetsy of dit is oor wat hulle eet, of nie eet nie; oor hulle manier van werk of wat hulle as belangrik beskou nie. God het elkeen van ons uniek gemaak. Ons moet mekaar aanvaar soos wat God ons gemaak het. Wie is ons om oor ‘n ander te oordeel as ons nie die weë van God eers altyd verstaan nie. In hierdie tyd waar ons wag om weereens die uitstorting van die Heilige Gees deur Pinkster te vier, moet ons mekaar onvoorwaardelik liefhê, sodat ons daardeur aan die wet kan voldoen.