“Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog goed is, sal jou hele liggaam lig hê. Maar as jou oog sleg is, sal die hele liggaam sonder lig wees. As die lig in jou donker is, hoe donker moet dit nie wees nie!”
Matt 6: 22-23
Hoe kyk jy na alles om jou? Sien jy die mooi en die goeie raak, of vind jy fout met alles om jou. Is die lig in jou gedoof, sodat jy net altyd die slegte raak sien. Sodat niks anders as kritiek by jou opkom, wanneer jy na enigiets kyk nie. Beide Mattheus en Lukas (Luk. 11:34-36) noem hierdie lig en duisternis wat deur Christus beskryf word in die Bergpredikasie.
Hoe donker is alles om jou as jy nie die genade gawes wat God elke dag oor jou pad bring nie kan raaksien nie. Hoe maklik verval mens nie in totale moedeloosheid en depressie, wanneer die ongelooflike alledaagse wonders, soos die natuur en alles wat hardloop, vlieg, sing en kruip om jou, nie vir jou sigbaar is nie. Daardie klein wonders wat ons gedurig daaraan herinner watter wonderlike daad Jesus Christus vir elkeen van ons moontlik gemaak het deur die dood te oorwin en op te vaar na die hemel, waar Hy in alle heerlikheid saam met die Vader regeer.
Van daar het God vir ons ook die Heilige Gees gestuur, sodat ons oë die lig van die Liefde, en die genadegawes van ‘n glimlag, erkenning, ‘n vriendelike groe en omgee van mense kan ervaar. Sodat die donkerte uit ons lewens verdryf kan word deur die lig wat in ons is. Laat jou oog goed wees, sien die wonderbare skepping en gawes wat elke dag jou pad kruis. Dít verdryf die duisternis vanuit jou binneste, en verlig jou lewe. Jesus Christus het Sy aardse taak volbring deur die Hemelvaart.


