“Maar U Here, U ken my; U sien my en toets of my hart by U is…”
Jer. 12: 3
Uit Matt 4: 4 (“Want waar die hart van vol is, loop die mond van oor”) weet ons dat ons nie dit waarvan ons hart vol is kan verborge hou nie. Dit kom soos ‘n stroom water uit, wat onkeerbaar vloei. Mattheus waarsku ons ook dat dit nie is wat ons eet wat ons onrein maak nie, maar wat by die mond uitgaan (Matt 15: 11). Ons woorde kom uit ons hart (Matt 15: 18), en dit is hierdie woorde wat kwetsend is, of vir die wêreld om jou wys waarvan jou hart vol is.
Ons moet soos Dawid dit van die Here smeek om die vermoë te hê om insig te hê en ‘n fyngevoelige instelling te ontwikkel vir ander mense se seerkry; en om ons sodoende te weerhou van negatiewe kommentaar, ongeag die gehoor of selfs ter wille van die hoorders. Dawid maan ons in Ps. 39: 2 om ons tonge van sondige uitsprake te weerhou. Ons moet ‘n wag voor ons monde plaas wanneer godeloses in ons teenwoordigheid is, want dit is hulle wat ons woorde sal verdraai en teen ons gebruik. Dawid stel dit so mooi in Ps 141: 3 ( “Here, plaas ‘n wag voor my mond, bewaak die deur van my lippe.”).
In Pred. 5: 5 en Pred. 10: 12 word ons gemaan dat die woorde uit die mond van ‘n wyse guns bring, en die lippe van ‘n dwaas hom oorweldig. So dikwels besef mens dat mense onnadenkend uitlatings maak wat die hart se volheid luidkeels uitskree, en die aanhoorders soms stom laat oor die onvanpaste woorde. Dit skrei soms van die onvermoë van die spreker om te besef dat wat so pas geuiter is wys waarvan die hart van vol is…wat nie aanneemlik voor God of mens is nie.
Ons kan net vra dat God ons harte sal vul met Sy wysheid, sodat my mond sal vol wees van die lof van die Here, die Vader die Seun en die Heilige Gees, sodat elkeen van ons net die hele dag lank vol heerlikheid vir hierdie asemrowende, genadige skepper kan wees (soos in Ps 71: 8). Laat ons harte en monde oorloop van die liefde en begrip vir ander, mans vroue, minder bevoorregtes, weduwees en wees. Vul jou hart met vreugde want die Skepper leef en regeer, en is altyd in beheer!


