“Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy unieke Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. God het immers nie sy Seun na die wêreld gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom verlos kan word.”
Joh. 3: 16-17
God het ons onvoorwaardelik lief. Dit weet ons virseker. Hierdie twee bekende verse in Johannes 3 kan ons koester en vashou. Iemand vra toe of dit ook beteken dat God van ons hou? Dit is ‘n eg menslike vraag. Ouers is dikwels onvoorwaardelik lief vir hul kinders, maar beteken dit dat hulle noodwendig van elkeen van hulle kinders hou? Ons word ook voor die “jy moet jou medemens lief hê soos jouself” vereiste geplaas. Kan ons hulle lief hê, maar nie van hulle hou nie?
Persoonlik glo ek dis een van daardie dinge wat moeilik is om te oorkom. In ons menslike swakheid is daar so dikwels mense wat jou ontstel, wat jy nie heeltemal en volkome kan aanvaar as vriende nie. Wat net anders is as jy; wat die lewe anders benader; wat baie ander waardes belangrik ag en wat nie vir jou belangrik is nie, dus ontstaan daar uit ons menslike perspektief die gevoel van afkeur, of die gedagte ‘nie hou van nie’. Dis deel van ons menslike stryd.
God beloof ons egter dat Hy ons so lief het, dat Hy selfs bereid was, en wel van die begin af, om sy Seun vir ons op te offer. Vanuit ‘n menslike perspektief voel dit soms onmoontlik om dieselfde te voel en omdat elkeen van ons weet hoe ver ons te kort skiet, ontstaan hierdie gedagte dat God dalk nie eintlik van elkeen van ons kan hou nie. Persoonlik dink ek egter dat God ons so lief het dat God het ons van die begin van elkeen van ons se bestaan, reeds beplan hoe ons sal wees. Hy het ook elkeen van ons op ‘n unieke vormingstog geplaas, sodat ons by Sy Plan kan inpas, daar waar Hy ons nodig het.
Ek glo vas dat God ons onvoorwaardelik lief het net soos ons is, met elkeen se eie unieke, soms eienaardige, persoonlikhede. Hy is die pottebakker, en ons die klei. Hy het ons so gevorm soos wat ons is. Daarom hou Hy van elkeen van ons, net soos ons is. Daarom het Hy Jesus Christus na hierdie aarde gestuur om vir ons sondes te sterf en op te staan, sodat die dood oorwin kon word. God die Vader hou so baie van ons dat Hy ook die Heilige Gees gestuur het om elkeen van ons, elke dag, by te staan totdat ons Hom van aangesig tot aangesig sal kan sien.


