“Waar die wil van die Here nie bekend gemaak word nie, verwilder ‘n volk; dit gaan goed met met elkeen wat die wet van die Here onderhou.”
Spr. 29: 18
Jesus Christus het opgestaan uit die dood, waarvoor hoef ons dan te vrees. Ons wat bevoorreg was om in hierdie land groot te word, waar ons blootgestel en vrylik die wil van die Here kon beleef, ons kan elke dag geniet. Sien die dinge raak wat God aan jou gee. Besef die wonder van Christus se opstanding. Waardeer elke genade gawe; elke natuur wonder; elke vriendelike glimlag en groet.
Waardeer die mense om jou wat die wet van die Here onderhou. Wat vashou aan die geloof in hierdie asemrowende God wat vir ons so lief was dat hy Christus deur die helse vuur laat stap het, sodat ons nietige mense die ewige lewe kan hê. Wat geleer het om lief te hê ondanks wie en wat om hulle is…wat streef om meer en meer soos Christus te wees.
Dit maak nie saak wat jou aardse lewensomstandigheid is nie, sien die mooi van die lewe raak. Hoor die gekoer van die tortelduif in die dag en die duette van die naguiltjies in die nag. Dit is ‘n herinnering dat God by jou is. Dag en nag. Hy wat vir ons gesorg het in die genadegawe van Christus, sorg ook elke dag vir jou in al die klein dingetjies. Sien dit raak en waardeer dit. Geniet hierdie dag wat God jou geskenk het!


