“…ja, vir julle wat, deur julle geloof, deur die krag van God bewaar word vir die verlossing…”
1 Pet. 1 : 5
Dit is interesant dat in die Ou testament wanneer daar van geloof gepraat word, dit pertinent verwys na die feit dat God geloof en verheerlik moet word. Van die nuwe testament in Matt. 8 word die gebruik van geloof nou gebruik om ons glo in God te beskryf. Matt. 8 beskryf die geloof van ‘n man wat nie ‘n israeliet is nie. In Christus se woorde: “Ek sê vir julle: By niemand in Israel het ek so ‘n groot geloof gevind nie.” Watter aantuiging is dit nie teen die Israeliete nie? Ook in Lukas 18: 8 vra Christus die vraag: “Sal die Seun van die mens, wanneer Hy kom, geloof op aarde vind?”
Is dit in ons mag om te glo. Is dit uit ons eie sterkte wat ons tot geloof kom? 1 Pet. 1: 5 stel dit duidelik. Dis deur die krag van God dat ons geloof het en dat dit bewaar word deur die krag van die Heilige Gees wat in ons woon. Uit onsself is ons tot niks in staat nie. Met die gelykenis van die saaier, en die saad wat op verskillende plekke val (Matt 13:1-9; Mark. 4: 1-9; Luk. 8: 4-8) vra Christus dat ons moet luister na sy woorde. Almal hoor maar verstaan nie, of sommiges begin groot en vol entoesiasme, maar die habitat of groeiplek is nie ideaal nie.
Jesus maan ons ook om soos kinders te glo. Maar tog is dit net waar die saad op vrugbare grond geval het wat die saad van geloof vrugbaar groei. Elkeen van ons wat glo dat Jesus die Christus is, het die belofte dat ons uit God gebore is, en elkeen van ons wat die Vader liefhet, moet ook almal lief he wat uit Hom gebore is (1 Joh. 5:1). As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en jy glo met jou hele hart dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy verlos word. (Rom. 10: 9). Christus vra aan Thomas: “Glo jy omdat jy My gesien het? Gelukkig is hulle wat nie gesien het nie, en tog tot geloof gekom het.” (Joh. 20: 29).
Mag elkeen van ons, omdat ons glo dat Jesus Christus vir ons sondes gesterf het, ten spyte van die feit dat ons dit nie beleef of gesien het nie, deur die Krag van die Heilige Gees van God die Vader vir die verlossing bewaar bly.


