Lydenstyd 2023: “Visio Divina” 6 April 2023

VISIO DIVINA #44

6 APRIL – Deel 1

Terwyl Jesus in Getsemane gebid het stuur die Joodse geestelike- en volksleiers ‘n groep gewapende mans saam met Judas om Jesus gevange te neem. Met wapens omhoog gryp een Hom aan die bors; ‘n ander een het Hom aan die arm beet.

Maar kyk net hoe beeld die Flaamse kunstenaar, Dirk Bouts (1400’s), die mense se reaksie uit. Daar is ‘n beangste man vlak op die grond; ‘n aggressiewe een wat oor hom buk. Maar wat is op die ander se gesigte? Is dit verbasing? Asof selfs Judas, die een wat die soen moet gee, ook op ‘n reaksie wag.

En tog staan Jesus net.

Dalk het almal gehoop dat as Hy homself sou teësit. Dan kon hulle rede vind om Hom in hegtenis te neem. Maar niks gebeur nie. Hy staan – soos ‘n lam gelei ter slagting.

VISIO DIVINA #44

6 APRIL – Deel 2

TEKSVERS: “Toe het al sy dissipels Hom in die steek gelaat en weggehardloop” (Matt 26:56; Mark 14:50).

Sonder om te raai weet ons dat dit Jesus in die blou kleed is, al lyk hierdie Jesus dalk nie soos die bekende uitbeelding wat ons ken nie. Twee ander figure herken ons ook: Judas wat teenaan Jesus se wang buig, en Petrus met die swaard in sy hand. (Volgens Joh 10:18 is die man op die grond die slaaf, Malgas.) Maar dit is oor Simon Petrus en Judas dat ek wonder.

Vroeg in hierdie reeks (#VD4) het ons reeds oor Petrus gesels wat Jesus verraai het. Wat maak sy verraad anders as Judas Iskariot s’n? Waarom word Judas so uitgesonder as genoem word dat al twaalf dissipels Jesus in die steek gelaat het?

In die teologie word Judas soms as die “negatiewe tweeling” van Petrus beskryf. Wat sou daarmee bedoel word?

Martin Luther het geoordeel daar is inderwaarheid geen verskil tussen Petrus en Judas nie, BEHALWE … En daardie “behalwe” maak al die verskil! Inderdaad verraai beide vir Jesus (soos die ander ook). Maar Matt 27:3-5 leer dat Judas so skuldig gevoel het dat hy homself opgehang het. En Petrus? Lukas 62:22 leer dat Petrus “buitentoe gegaan en bitterlik gehuil (het).

En dít maak al die verskil! Skuldgevoel oorweldig die een. Berou oorweldig die ander een. Die een draai kruis toe. Die ander een nie.

En dit maak die verskil.

GEBED: Here, laat ek tog nooit verkeerd kies nie!

Op Dag 44 van ons Lydenstydreeks #VisioDivina luister ons na ‘n Oos-Ortodokse oggendgebed. Die Engelse woorde van die gebed:

Almighty God,

you are the way, the truth and the life.

You know how few people walk with you in these times.

There are few who emulate you, their head,

in humility and silence, in poverty and purity,

in diligence and patience.

The path of Satan is open and many are walking along it.

Minister to your small flock,

so that they do not become discouraged,

but follow you along the narrow path until the end. Amen

Bannier-van-NG-Weltevreden1
Ontwikkel en saamgestel vir die NG Kerk Weltevreden

Kopiereg: Dr. R.M. Bezuidenhout
Hierdie reeks ‘Visio Divina‘ word deur Kopiereg beskerm.
Geen gedeelte van hierdie reeks mag gedupliseer of herversprei word sonder die eksplisiete goedkeuring van die outeur: Dr. R M Bezuidenhout nie.

Indien hierdie reeks u geïnspireer het kan u haar bediening finansieel ondersteun deur die volgende skakel te volg:
https://ronellbezuidenhout.co.za/steun