“God wat vrede gee, het ons Here Jesus wat deur die bloed van die ewige verbond die groot Herder van sy kudde is, uit die dood teruggebring.”
Heb. 13: 20
Dis God wat vrede in ons gemoed as genadegawe gee. Die Vader wat ons so lief het dat Hy ons nie wil laat verlore gaan nie. Hy wat dit gewil het dat ons deur die Heilige Gees bygestaan word en daagliks toegerus word, sodat ons Sy wil kan doen. Dis nie uit ons eie krag of sterkte nie. Die herinnering aan die uitstorting van die Heilige Gees wat ons in Pinkster gedenk, is ook een van die belangrike, deur Christus beloofde gebeurtenisse, waarsonder ons nie onder God se leiding kan bly nie.
Die Heilige Gees is God se manier om ons daagliks toe te rus, sodat ons Sy vrede kan beleef. Wanneer ons onder totale beheer van die Heilige Gees, in diep afhanklikheid en bewus van ons tekortkominge leef, dat ons bewus word van elke genadegawe wat ons ontvang. God se vrede is nie die vrede wat mense dikwels begryp nie, maar is ‘n vrede van gemoed wat alle verstand te bowe gaan.
Die opstanding van Jesus Christus, wat waarlik opgestaan het, is Sondag so mooi beskryf as die grootste en sentrale kosmiese gebeurtenis. Dit is werklik ‘n onmisbare begrip vir elke mens en gee elkeen wat in Hom glo, die vrede wat God vir ons bedoel het, deur die bystand van die Heilige Gees.


