VISIO DIVINA #42
Deel 1
Nadat Maria Jesus se voete gesalf het (#VD41) vind die volgende groot insident in die Johannesevangelie weer rondom ‘n tafel plaas. Aldus Joh 3:4 het Jesus opgestaan en sy bokleed uitgetrek. Presies soos hierdie Russiese ikoon uit die 1500’s illustreer, staan Jesus sonder die gebruiklike hemelblou bokleed met ‘n ryklik-geborduurde handdoek om sy middel gebind. Terwyl Hy Petrus se voete was beduie Petrus ook in die rigting van sy kop – “Here, nie net my voete nie, maar ook my hande en my gesig,” pleit hy (13:9).
Maar iets moet ons nie miskyk nie; reg in die middel van die paneel bo-op ‘n hoë pilaar sit ‘n hoenderhaan. Nie net Petrus en Judas sou Jesus verraai nie; in werklikheid sou die haan vir al 12 dissipels kraai. Almal sou Hom verlaat. Die pad vorentoe verloop vir Jesus alleen.
Deel 2
Die Donderdagaand voor Jesus se inhegtenisneming gebeur ‘n paar aangrypende dinge, o.a. begin die Messias sy dissipels se voete was. Ook Judas s’n! Op die ikoon sien jy Judas in die boonste ry aan die regterkant by die deuropening sit. Dit is waar hy sal moet uitglip wanneer Jesus later vir hom sou sê, “Wat jy wil doen, moet jy baie gou doen!” (Joh 13:27).
Sodra Judas uit die vertrek is begin Jesus die oorblywende elf weer leer: “Ek gee julle ‘n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is” (v34).
Dissipelskap is nie ‘n saak om oor te filosofeer nie; dit is ‘n saak van dienend-doen. Dit is ‘n leefwyse. Dit is nie prestige nie. Dit vra nie geleerdheid nie. Die kenmerk van christene is mense met ‘n handdoek om die middellyf. Dit is mense wat versorg en versoen en vergewe. Dit is die enigste manier hoe ‘n mens van vyande en vreemdelinge vriende kan maak.
Ons hou daarvan om die “goeie voetjie” voor te sit; maar Jesus kyk veel dieper – tot daar waar ons ons geheime wegsteek. Soos ons ons skurwe hakke en ons verknobbelte toonnaels eerder in skoene bedek. Of liefs nie ons sokkies voor mense uittrek nie. Maar selfs ons verleenthede is iets wat Jesus met deernis in sy hande neem en was.
Sou ons ooit Jesus se opdrag kon verstaan as Hy dit nie vir ons sélf geïllustreer het nie?
GEBED:
Here, ek sukkel om “soos U” lief te hê. Maar ek wil. Omdat U dit wil.
“I Give You A New Commandment” deur Bob Hurd.
Op Dag 42 van ons Lydenstydreeks #VisioDivina luister ons na ‘n bekende Engelse gesang: “I Give You A New Commandment” deur Bob Hurd.
Die lirieke:
I give unto you
That you love one another
As I have loved you,
That you love one another
As I have loved you.
By this shall all men
Know you are My disciples
If you have love one to another.

Kopiereg: Dr. R.M. Bezuidenhoudt
Hierdie reeks ‘Visio Divina‘ word deur Kopiereg beskerm.
Geen gedeelte van hierdie reeks mag gedupliseer of herversprei word sonder die eksplisiete goedkeuring van die outeur: Dr. R M Bezuidenhout nie.
Indien hierdie reeks u geïnspireer het kan u haar bediening finansieel ondersteun deur die volgende skakel te volg:
https://ronellbezuidenhout.co.za/steun


