GEBEDSGIDS – OKTOBER 2026

1 Okt – Donderdag – Dankbaarheid vir ons skepping

Hemelse Vader, dankie dat U God van nuwe begin is. Net soos die seisoene verander, vra ons dat U ook ons lewens sal aanraak. Mag die skoonheid van U skepping, ons harte vul met die besef van U goedheid.                                

2 Okt – Vrydag – Gebed vir eernis en ededeelsaamheid

Vader, skenk ons harte vol deernis sodat ons ander se pyn en behoeftes sal raaksien. Laat ons U hande van voorsiening in hierdie gemeenskap wees.

3 Okt  – Saterdag – Aanvaarding en gasvryheid

Jesus, ons bid dat ons gemeente gekenmerk sal word deur aanvaarding. Maak ons harte en ons kerkdeure wyd oop met ware gasvryheid. Mag elkeen wat by ons instap, die warmte van U liefde beleef en weet dat hulle hier hoort.

4 Okt – Sondag – Die broosheid van die ouderdom

Hemelse Vader, in ‘n gemeente met soveel geseënde jare van lewenswysheid, bid ons vir elkeen wat vandag swakheid ervaar. Versterk hulle met die wete dat hulle steeds ‘n onskatbare deel van ons geestelike familie is.                                                             

5 Okt – Maandag – Geloof maak gesond

Vader, skenk asseblief genesing en vrede aan almal wat  wat pyn verduur.  Ons bid ook vir die mediese personeel en families wat hulle met liefde versorg.                                                                                                                      

6 Okt – Dinsdag – Waardering vir gemeenskapswerkers

Vader, ons bid vir ons plaaslike werkers en vir elkeen wat ons dorp skoon en veilig hou. Ons bid vir hul veiligheid en gesondheid in hul daaglikse take.                                     

7 Okt – Woensdag – U Stem van vrede bo die geraas van bomme

Here, ons harte gaan uit na lande wat tans deur die donkerte van oorlog en konflik verskeur word. Dankie vir FEBA wat U Woord deur radiogolwe tot binne-in hierdie geteisterde gebiede indra. Ons bid vir beskerming en vertroosting.

8 Okt – Donderdag – Eensgesinde blydskap in Christus

Ten spyte van ons verskille of die uitdagings van die lewe, is Jesus ons ewige rede tot dankbaarheid – saamgebind in een gees en een geloof.

9 Okt – Vrydag – Jy is geliefd

Jou waarde is nie gekoppel aan jou prestasie nie – dit is vir altyd geanker in die genade van die Kruis. Jy hoef nie die las te dra om perfek te wees wanneer God jou alreeds volmaak liefhet nie.

10 Okt – Saterdag – Nie in jou eie krag nie

Wat ook al swaar op jou hart druk, bring dit vandag eerste na God. Lê dit neer in gebed en staan op in geloof. Hy hoor elke woord wat jy stilweg fluister en Hy beweeg op maniere wat jy nie kan sien nie.

11 Okt – Sondag – Omhels herlewing

Here, ons bid vir ‘n seisoen van geestelike vernuwing. Waar daar dalk ‘n winter van droogtheid, moegheid of afgesonderdheid was, vra ons dat U die lote van nuwe lewe sal laat uitspruit. Mag ons as gelowiges opnuut bloei tot eer van U Naam.

 12 Okt – Maandag – God se liefde is onmeetlik groot

Jesus, U weet presies hoe dit voel om verwerp te wees. Ons bid vir genesing in mense se harte en herinner hulle daaraan dat hulle aanvaarding nie van mense afhang nie, maar dat U hulle reeds onvoorwaardelik gekies en liefhet.

13 Okt – Dinsdag – Die pad lyk dalk tevergeefs

Vader, soms raak die pad vorentoe vir ons te lank en te swaar, en ons voel asof ons wil tou opgooi. Skenk ons vandag die gees van volharding. Wanneer ons kragte min is en die moed ontbreek, hernu asseblief ons innerlike sterkte.

14 Okt – Woensdag – Breek die muur van vyandigheid af                              

Here, ons bid vir versoening waar daar skeiding, bitterheid en gebreekte verhoudings in ons gemeenskap is. Gee ons die wysheid en die nederigheid om die eerste tree na vrede te gee.

15 Okt – Donderdag – Gebed vir vergifnis

Here Jesus, ons bely dat dit dikwels vir ons moeilik is om diegene wat ons te na gekom het, vry te spreek. Help ons om die las van onvergewensgesindheid neer te lê, sodat dit nie ons eie harte vergiftig nie.

16 Okt – Vrydag – Die skerp kant van U liefde

Here, U liefde is gekenmerk deur spykers en ‘n doringkroon. U het alles gegee terwyl ons soms sukkel om selfs ‘n uur van ons tyd af te staan. Smelt ons koue harte met die vuur van U onvoorwaardelike opoffering.

17 Okt – Saterdag – Hy het redding, vrede en die ewige lewe toegewens

Ons bely dat ons dikwels dink U kyk na ons met teleurstelling of oordeel vir al ons tekortkominge. Maar vandag onthou ons dat U blik vanaf die kruis een van oneindige liefde en vergifnis was.

18 Okt  – Sondag – Om die kruis te dra

Here Jesus, U het gesterf sodat ons kan lewe, maar U het ons ook geroep om daagliks ons eie kruis op te neem.  Help ons om ons eie gerief prys te gee ter wille van U Koninkryk. U genade is  vir ons genoeg vir elke dag.

19 Okt – Maandag – Sy bonatuurlike liefde

As ons egter kyk na wat die Skrif openbaar oor Jesus se hart en Sy blik vanaf die kruis, sien ons wat Sy wense is vir ons. Dit is die grootste wonder van die kruis: dat Sy blik oor ons juis goed was, selfs toe ons op ons slegste was.

20 Okt – Dinsdag – Hy het vir ons vergifnis toegewens

Terwyl die skare Hom verwerp en gespot het, was Sy eerste woorde ‘n gebed : “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie”.  Sy blik het verby ons sonde gekyk na ons diepe nood vir versoening met God.

21 Okt – Woensdag – Hy het vir ons herstel en hoop toegewens

Selfs in Sy uiterste pyn het Jesus tyd gehad vir die misdadiger wat langs Hom gehang het. Toe hierdie man na Hom draai, het Jesus hom dadelik verseker: Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees”.

22 Okt – Donderdag – Toevlug en nuwe verhoudings

Toe Jesus Sy ma, Maria, en Sy broer, Johannes, by die kruis sien staan, het Hy selfs in Sy sterwensuur vir hulle gesê: “Daar is u seun” en “Daar is jou moeder” Hy het ‘n nuwe familie (die kerk) vir ons gegee om mekaar te ondersteun.

23 Okt – Vrydag – Ons harte is vol van U vreugde vir die Gemeentekonsert

Jesus, ons wil U loof met musiek, talent en samesyn. Dankie vir die gawe van kreatiwiteit en die voorreg om dit te kan geniet. Seën die geleentheid.

24 Okt – Saterdag – Dankfees – Eer aan die Groot Voorsiener

Here alles wat ons besit, kom uit U hand en dank U vir elke sent wat vandag ingesamel word vir die bou en instandhouding van U kerk.  Vermenigvuldig dit sodat U Koninkryk daardeur uitgebrei kan word.

25 Okt – Sondag – Hy het vir ons volledige bevryding toegewens

Sy laaste uitroep was een van oorwinning, nie van nederlaag nie: “Dit is volbring!” Wat Hy vir ons toegewens het, was totale vryheid van die skuld en mag van sonde. Hy het die prys ten volle betaal sodat ons nooit weer verlate hoef te wees nie.

26 Okt  – Maandag – Loop in nederigheid

Here, U het as ‘n nederige mens tussen ons kom woon. Help ons om hierdie week met nuwe verwondering te kyk na die voetspore wat U vir ons gelos het.

27 Okt – Dinsdag – Onvoorwaardelike liefde en genade

Jesus was volkome gehoorsaam aan die Vader, selfs in moeilike omstandighede.  Om Hom te volg beteken dit om my eie wil prys te gee. Here, Ek bid vandag vir wysheid om U stem duidelik te hoor.

28 Okt – Woensdag – Dankie vir U leiding

Vader, ek is bang om verkeerde keuses te maak en dat ek op ‘n dwaalspoor is.  Deursoek my hart en my gedagtes. Vergewe my waar ek op  my eie insigte staatgemaak het en lei my weg van gevaar.

29 Okt – Donderdag – Dit is wat die Here wil hê

Jeremia 9:23 –  “Die wyse man moet nie in sy wysheid roem nie, die soldaat nie in sy krag nie, die ryk man nie in sy rykdom  nie. Laat hom wat wil roem, daarin roem dat hy insig het en My ken. Ek is die Here, Ek bewys liefde, reg en geregtigheid”.

30 Okt – Vrydag – Ek plaas my keuses in U hande

Here, ek erken dat ek nie my eie voetstappe kan rig sonder U nie.  My eie wysheid is te min en my planne skiet tekort. Rig my voetstappe elke dag volgens U wil.

31 Okt – Saterdag – Ek is niks sonder U nie

Ek vra U nie vir rykdom nie Here, maar vir ‘n skoon hart en gehoorsame gees.  Gee my die krag om die pad te stap wat U vir my kies, selfs as dit opoffering vra.