Stof tot nadenke: ‘Seëninge elke dag’

Die Here sal vir jou sy goeie skatkamer, die hemel, oopmaak om die reën van jou land op tyd vir jou te gee en al jou handewerk te seën.” (Deut. 28: 1220)

Hoe kyk ons na seën?

Is ons ingestel daarop om die seëning wat ons pad kruis raak te sien? Of soek ons net altyd na die negatiewe? Vind ons liewer foute in en om ons? Of is ons daarop ingestel om dié dinge in ons lewe, wat ondersteuning en vreugde bewerkstellig, raak te sien? Daardie dinge wat in ons ‘n passie wakker maak, omdat ons dit as ‘n gawe beskou.

So dikwels waardeer ons nie ‘n vriendelike bedoeling, of wil ons die positiewe hulp nie aanvaar nie. Vriende wat moeite doen met opregte bedoeling word soms bitsig behandel. Is ons agterdogtig oor ‘n ander se bedoeling? Is ons so ingestel op onsself dat ons nie die goeie, wat ons pad kruis elke dag, raaksien nie? Daardie vriendelike groet; die raaksien en opregte belangstelling; die opwindende voëlgesang, of die klein lieflike blommetjie langs ‘n stowwerige pad.

Dis God gegewe seëninge wat God daagliks vir ons gee. Die gesegde van Neville Talbot beskryf dit goed: ‘Afgesien van hoe teneergedruk jy voel, as jy jou seëninge tel sal jy altyd aan die wenkant wees.

Aardse behoeftes teenoor geestelike behoeftes

In die Onse Vader gebed leer Jesus Christus ons dat ons God mag vra vir ons daaglikse brood. Ons kan bid tot God en vra vir wat ons nodig het. Die brood is die beeld van ons menslike en tydelike behoeftes. Dit sluit kos, klere, behuising, gesondheid, en ook ander dinge wat mens se lewenspassies insluit.

Menslike aardse geluk is iets wat momentele lewensvreugde kan gee, maar in ‘n oogwink weggeneem word of vernietiging bring. Tog maan Christus dat ons nie ons te veel moet bekommer oor wat ons sal eet, of wat ons sal aantrek nie. Dit is belangriker dat ons na God se nabyheid moet soek. Dit is belangriker vir ons lewensbestaan om die koninkryk van God te soek en die lewende water in te neem.

Die geluk wat Christus bring is onaantasbaar en onvernietigbaar. God se geluk is dus ‘n standhoudende geluk wat gebore word uit die saam leef met God. Elke oomblik van elke dag. Dit bring ‘n onversteurde kalmte, te midde van lewens-storms. Dit is iets wat deur niks in hierdie aardse lewe of dood weggeneem kan word nie.

Teksverse:

Moet julle daarom nie bekommer en vra, ‘Wat sal ons eet? Of ‘Wat sal ons aantrek?’ nie. Dit is immers alles dinge wat die heidennasies soek. Julle hemelse Vader weet tog wat julle alles nodig het. Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” (Matt. 6: 31-3220);

Gee ons elke dag ons daaglikse brood.” (Luk. 11: 320);

Jesus het haar geantwoord: “Elkeen wat van hierdie water drink wat Ek hom gee, sal tot in ewigheid nooit dors kry nie. Die water wat Ek hom gee, sal in hom ‘n fontein van water word wat opborrel tot die ewige lewe.” (Joh. 4: 13-1420);

Daarom ervaar julle pyn; maar Ek sal julle weer sien, en dan sal julle harte bly wees, en niemand sal julle blydskap wegneem nie.” (Joh. 16: 2220);

Sien ons elke dag se seëninge raak?

Ons moet tot die besef kom, wanneer ons Christene is, dat elke mens, elke gebeurtenis, elke ervaring, deur God oor ons pad kom. Laat ons gedurig soek na die positiewe, die opbouende kritiek, die vriendelike of hartseer mens wat ‘n dringende behoefte het. Die klein blommetjie wat blom, asof net spesiaal vir jou. Daardie voëltjie wat jy al so lankal wil sien wat daar vir jou sit en wag om raakgesien te word. Daardie antwoord op ‘n indringende vraag wat skielik by jou opkom. Laat ons met vreugde na hierdie ontmoetings en antwoorde in ons lewens soek.

Laat ons elkeen daarop ingestel word om die seëninge raak te sien, en nie deur dreigende storms lamgelê word nie. Alleen dan kan ons elke dag met dankbaarheid leef. Soos John C Maxwell dit so mooi stel: ‘’n Dankbare hart is ‘n hart wat tyd gehad het om sy seëninge te tel. Slegs wanneer ons gaan staan en alles oordink, sal ons harte vol lof word vir ons vriende, ons seëninge van die verlede en ons God.

Teksverse:

Lofwaardig is die God en Vader van ons Here Jesus Christus! Dit is Hy wat ons in Christus geseën het met elke geestelike seëning in die hemel.” (Ef. 1: 320);

Al hierdie seëninge sal jy ontvang, en dit sal jou deel word as jy luister na diestem van van die Here jou God. “Geseënd sal jy wees in die veld!…” (Deut. 28: 2-320)