“Ek het self ook nie geweet Wie Hy is nie, maar God wat my gestuur het om met water te doop, het vir my gesê : ‘Die Een op wie jy die Gees sien kom en bly, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop. Ek het dit self gesien, en daarom getuig ek: Hy is die Seun van God’”
Joh. 1: 33-34
Die herinnering aan die uitstorting van die Heilige Gees is nou weer agter ons, en met die reeks wat ons in Groot Brakrivier beleef het is ons herinner daaraan dat ons deur die Heilige Gees se aanraking nuwe mense, met nuwe prioriteite sal word. Dat die goue draad van God se beplanning van wat hier gebeur dwarsdeur die Bybel beskryf word. Die lewe staan nie stil nie en ons word dikwils weer vasgevang in ons alledaagse bedrywighede.
Daarom moet ons elke dag opnuut besef, en daaraan vashou, dat ons daaglikse bestaan om die verheerliking van God en Sy koninkryk gaan. Ons moet onthou en besef, net soos Johannes die Doper ons verseker in Joh. 1: 33-34, dat ons alleen deur geloof in Jesus Christus en totale afhanklikheid van God se genade met die Heilige Gees gedoop kan word. Dit is Jesus Christus alleen, die opgevare Seun van God, wat ons vrygekoop het, en wat ons met die Heilige Gees kan doop. Daar is geen ander soos Hy nie!


