VISIO DIVINA #41
Deel 1
Veral in die Middeleeue was persoonlike gebedeboekies (sg. “Book of Hours”) baie gewild ‘n Voorbeeld is die “Varie Hours” – 11.7 cm x 8 cm groot, 97 blaadjies, almal ryklik geïllustreer. Die boekie dateer uit 1445 en die eienaar was die Fransman, Simon de Varie. Vier verskillende kunstenaars wat in miniatuurkuns spesialiseer het saamgewerk aan die klein illustrasies.
Matteus en Markus se weergawe van die onbekende vrou wat Jesus se voete gesalf het stem bykans woord-vir-woord ooreen (Matt 26:6-13; Mark. 14:3-9). Die Johannesevangelie se weergawe is anders – sy word op haar naam genoem: Maria, die suster van Marta en Lasarus. Dit is juis by Joh 12:1-8 waar hierdie klein illustrasie gevoeg is.
Muurgrootte of miniatuurgrootte, van hierdie vrou word gesê dat sy die eerste volgeling van Jesus was wat Sy boodskap werklik verstáán het.

Deel 2
Die uitbeelding in Deel 1 is so klein dat ‘n mens beswaarlik kan sien waaroor dit gaan. Daarom plaas ek graag ook ‘n groter foto. Kyk mooi, daar is nie net mans om die tafel nie. Hoe vreemd! Die kunstenaars kombineer duidelik twee bybelverhale in een illustrasie. Ons onthou (#VD14) hoe Marta Jesus versoek om haar suster, Maria, te berispe. Weereens is hier spanning tussen die twee susters. Kyk net hoe beskuldigend wys die ouer suster, Marta, met haar hand na benede. Vergroot die uitbeelding dan sien jy dat daar betekenisvolle oogkontak tussen Marta en Jesus is, so asof sy met haar oë vir Jesus wil dwing om iets te sê! Iets soos, “nou kan U self sien … sy steek werklik lyf weg.”
Maar, Maria steek nie lyf weg nie. Sy is in werklikheid die enigste een wat besig is om Jesus te dien!
Deel 3
TEKSVERS:
“Toe het Maria ‘n halfliter egte, baie duur nardusolie gebring en dit op Jesus se voete uitgegiet en sy voete met haar hare afgedroog. Die hele huis is deurtrek met die geur van die reukolie” (Joh 12:3).
Waar Lydenstyd ‘n tydperk van stroping is met die klem op vas en eenvoud en sondebelydenis, is hier ‘n toneel wat presies op die teenoorgestelde dui. Dit is uitspattigheid in oortreffende trap! Dit sluit nie net die onmiddellike vermorsing in nie, maar vir dae lank sal die aroma van die reukolie nog in die huis hang.
Hierdie woorde van Joh 12:3 herinner ons aan ‘n ander deel in die Ou Testament – Psalm 45. Dit is ‘n sg. Messiaanse koningspsalm. Só word van die koning gesê: “Die geur van mirre, aalwyn en kaneel deurtrek al u klere…” (Psalm 45:9).
Maria tree hier op as die profeet. Nie net wys sy Jesus se naderende dood aan. In die Ou Testament het die profeet die koning gesalf; en hier sien ons ‘n vrou wat Jesus as die Messias en Koning salf. G’n wonder dat Jesus sê, “Dit verseker Ek julle: Oral waar hierdie evangelie in die hele wêreld verkondig word, sal daar ook vertel word wat sy gedoen het, tot ‘n herinnering aan haar” (Matt 26:13).
GEBED:
Here, dankie vir elke profeet wat U boodskap getrou kon verkondig! Ook vir hierdie vrou wat dit met olie en trane gedoen het.
“The Psalm Project” – Psalm 45.
Op Dag 41 van ons Lydenstydreeks #VisioDivina luister ons na “The Psalm Project” se verwerking van Psalm 45.
Die “Psalm Project” is ‘n musiekgroep wat al 150 psalms met elke enkele vers per psalm nuut getoonset vir ‘n moderne gehoor.

Kopiereg: Dr. R.M. Bezuidenhoudt
Hierdie reeks ‘Visio Divina‘ word deur Kopiereg beskerm.
Geen gedeelte van hierdie reeks mag gedupliseer of herversprei word sonder die eksplisiete goedkeuring van die outeur: Dr. R M Bezuidenhout nie.
Indien hierdie reeks u geïnspireer het kan u haar bediening finansieel ondersteun deur die volgende skakel te volg:
https://ronellbezuidenhout.co.za/steun


