“Die Here het vir Jona gesê: “Jy is besorg oor die Komkommer plant waarvoor jy nie gewerk het nie en wat jy nie versorg het nie. Dit het oornag opgekom en oornag is dit dood. Maar ek mag nie besorg wees oor die groot stad waarin daar meer as duisend mense is wat nie weet wat reg of verkeerd is nie, en ook nog baie diere?”
Jona 3: 10-11
So pas het ek ‘n boek voltooi met die naam ‘Hideaway’, of Wegkruipplek as on dit direk sou vertaal. Dit het gegaan oor ‘n afgeleë dorp waar daar lekker wegkruip geleentheid was. ‘n Dorp waar almal kerk toe gegaan het, maar waar daar ook baie geveinsde Christene was, wat meer skade as goed doen aan die gemeenskap van gelowiges. Mense wat ook die geestelike soekende mense genoeg afgeskrik het dat hulle hulleself liewer wou distansieer van enigiets wat te doen het met die kerk. Jona mense. Mense wat dink hulle kan oordeel oor ander, en wat nie kan wag om die oordeel voltrek te sien nie.
Wanneer ons egter hierdie twee verse in Jona lees ruk dit mens tot stilstand. Is dit vir ons as mense om ‘n oordeel oor ander te fel? Het ons die reg om die vergifenis wat God aan ander bewillig het, te stop? Kan ons ongelukkig wees oor ‘n ander, ongeag waar hulle vandaan kom, se redding?
Die een sê-ding in die boek wat my getref het was iets wat ‘n opregte Christen vir ‘n ander soekende persoon gesê het: “Moenie God se kerk oordeel na aanleiding van mense se dade nie, oordeel die kerk van God na aanleiding van God se dade!” Dit pas so mooi aan by hierdie twee verse uit Jona. God se reddende genade moet ons in verwondering laat, en nie in sak en as dompel, omdat ons as mense, in ons menslike swakheid voel dat ‘n ander nie verdien om gered te word of goed genoeg is vir die reddende genade van God nie. Hoe oordeel jy? Of dit die kerk of die ander mense om jou is, sien jy die werk van God raak, en besef jy dat jy nie ‘n aandeel het in die redding van ‘n ander nie, maar dat dit God, die Vader, Seun en Heilige Gees is wat aan werk is. Werk wat nie gestop kan of sal word nie…tot aan die voleinding van die wêreld!


