“Maar ons verlang dat elkeen van julle dieselfde ywer toon om te kom tot die volkome sekerheid van die hoop tot die einde toe; sodat julle nie traag word nie, maar navolgers van hulle wat seur geloof en lankmoedigheid erfgename van die belofte is.”
Heb 6:11-12
So dikwels worstel ons met die vraag of ons volkome sekereheid kan hê van ons geloof in God, die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Is dit vir ons moontlik on volkome te vertrou, net soos ‘n drenkeling op sy lewensredder moet vertrou. Kan ons onsself so in totale vertroue en oorgawe aan God gee, en kan ons dan ‘n lewe van oorwinning oor die sonde lewe, te midde van hierdie aandag-afleibare wêreld waarin ons leef.
So dikwels is die antwoord dat ons sondige natuur met ons parte speel. Dat ons sondige natuur maak dat ons keer op keer val en die verkeerde dinge doen en sê. Is dit wat die oorhand oor ons kry, of hou ons ‘n agterdeur oop om tog net ‘n goeie verskoning te hê oor waarom ons keer op keer weer val.
Kan ons ‘n lewe van sondeloosheid lewe? Is dit in enigeen van ons om, vandat ons ons hart in volkome afhanklikheid aan God gegee het, ‘sonder sonde’ te wees? Paulus maan ons om ons geloof gedurig te ondersoek (2 Kor 13:5). Ons krag om die sonde te oorwin, kom van die Heilige Gees af, wat ons daagliks maan om op die regte pad te bly, om regte besluite te neem, en om tot eer en verheerliking van God te leef.
Dit is soos wanneer mens leer fiets ry. Aanvanklik val en struikel mens gereeld, maar sodra jy die tegniek onder die knie gekry het, kan jy ry sonder om te veel daaroor te dink. Dit gebeur deur ‘spier-herinnering’. Net so kan ons lewens verander deur meer en meer na die beeld van Christus te wees. DIt is nooit uit ons eie krag nie, maar deur die krag van die Heilige Gees wat in ons woon. Dit is moontlik om volkome geloofsekerheid te hê, want Paulus noem in Rom 10:9 dat “As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word;”. Vir God, wat ons harte ken, kan ons vra dat Hy ons sal vorm om elke dag nader aan die beeld van Christus te wees, sodat die wêreld kan sien dat ons Sy kinders is.