Stof tot nadenke: Afskeid by die graf

“Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag”
1 Tes. 5: 8

Soos die seisoene in die natuur is daar ook seisoene in ons lewe. Die vreugde van lente by ‘n nuwe geboorte lei die lewe van elkeen van ons as mense in, in hierdie aardse lewe. Dis ‘n siklus wat elke dag herhalend begin en eindig. Die lewe loop soms vir ons onverstaanbare draaie, wat nie altyd van ons menslike perspektief af lekker of aanvaarbaar lyk nie. Tog vra God van ons om te alle tye en in alle omstandighede dankbaar te wees. God het ‘n unieke plan met elkeen van ons se lewe. Elkeen van ons het verskillende voorkeure, smake en idees oor wat aanvaarbaar in hierdie lewe is. Dit is egter belangrik vir elkeen van ons om te vra of dit wat ons doen voor God aanvaarbaar is.

So stap ons deur die somer en herfs tye van ons lewe, so dikwels veroordelend oor ‘n ander se manier van lewe. Luister ons dikwels na die leuenagtige skinderpraatjies oor ander mense, sonder om die waarheid te bevraagteken. Maar het ons enige idee watter pad enigiemand anders gestap het? Wat die hartseer en vernietigende ervarings is wat daardie persoon beleef het? Wat hom of haar gelei het tot wat hulle vandag is? Wat was elkeen van ons se aandeel in wat met ander mense gebeur?

Soms is mens bevoorreg om mense in jou lewe te hê waar jy geen twyfel het dat God hulle aangeraak het met ‘n wonderlike lig om aanvaarding en liefde om hulle te versprei nie. Mense wat die vrede versprei (Kol. 3:15). Wanneer jy uiteindelik by die wintersgraf van so ‘n mens moet staan, kan jy dit met niks anders as dankbaarheid doen nie. Daar is verseker die gemis, wat jy weet jou ewig sal bybly, maar daar is ‘n stille dankbaarheid dat so ‘n persoon jou pad gekruis het, en die herinneringe wat om jou talm bring ‘n rustigheid in jou gemoed.

Wanneer ons by ‘n mens se graf staan word ons altyd weer herinner aan die genadegawe wat Christus hier op aarde vir ons kom bring het. Ons weet dat daar lewe is na hierdie aardse dood, want Christus het dit reeds vir ons oorwin (Mark. 15:46; Luk 24:2; Joh. 20.2; Rom. 6:4; Kol. 2:12). In die vaste geloof en vertroue kan ons dus met reg sê: ‘Dood waar is jou angel?”. Dit moet ons ook as mense laat nadink oor wat ons agterlaat by ons eie dood . Want op hierdie aarde is niks so seker soos die afsterwe van ons menslike liggame nie. Sal daar dankbaarheid wees omdat dié wat agterbly weet waar jy jou bevind, of sal dit dankbaarheid wees omdat jy weg is uit hulle lewe? (Dan. 12:2)