Stof tot nadenke: Wat gee vrede?

“Dit is wat julle moet doen: Praat onder mekaar die waarheid; beoefen in julle stadspoorte slegs regspraak wat waar is en tot vrede lei….Verder moet julle waarheid en vrede liefhê.”
Sag. 8: 16 & 19

Vrede. Dis iets wat ons almal soek. Die definisie vir vrede is ‘vryheid van steuring; afwesigheid van konflik; stil en rustig’. Maar die konsep van waar ons vrede soek het so baie fasette. Vrede tussen familie, vrede tussen vriende, vrede tussen gemeenskappe, vrede tussen lande. Vrede tussen mense kan slegs bereik word indien daar nagevolg word wat in Sag. 8 genoem word. Alleenlik wanneer mense onder mekaar die waarheid praat en regspraak aanvoor wat waar is, kan daar vertroue tussen mense ontwikkel wat tot vrede kan lei. Is dit egter die vrede waarvan hier gepraat word?

In Sag. 9: 9-10 word Christus se koms voorspel met die woorde: “Hy sal vrede aan die nasies verkondig.” In Joh. 14:27 sê Christus dat Hy vir ons Vrede nalaat, maar dit is nie die vrede wat die wêreld gee nie. Hy stel die dissipels gerus dat hulle nie ontsteld en bang hoef te wees nie. Watter vrede is dit dan wat Christus hier van praat? In Matt. 10:34 word Christus se woorde ook aangehaal waar Hy noem dat Hy “nie gekom het om vrede te bring nie, maar die swaard”.

Hoe moet ons hierdie teenstrydighede verstaan? Dit is duidelik dat Christus van ‘n vrede praat wat ons nie in ons aardse konteks heeltemal begryp nie. Christus se gesprekke lei na die feit dat ons Hom moet volg. Dat ons ons kruis moet opneem, met ander woorde moet sterf in ons eie waan en Sy dienskneg-skoene moet aantrek. Christus maan ons om ‘sout in ons te hê en in vrede met mekaar leef’ (Mark. 9:50) en “Heerlikheid, eer en vrede wag vir elkeen wat die goeie doen” (Rom. 2:10-11), ongeag wie jy is; want God oordeel nie volgens die uiterlike nie!

“Die denke van ons sondige aard loop uit op die dood, maar die denke van die Gees bring lewe en vrede” (Rom. 6:8). Kom ons streef dan na “die dinge wat onderlinge vrede en mekaar se opbou bevorder” (Rom. 14:19). In Matt. 10: 38-39 maan Christus ons “Wie nie sy kruis opneem en My volg nie, is My nie waardig nie. Wie sy lewe behou sal dit verloor, en wie sy lewe ter wille van My (Christus) verloor, sal dit behou.”

Kan ons ooit hierdie vrede beleef indien ons nie die innerlike vrede wat deur Christus vir ons na hierdie aarde gebring is, in ons harte beleef nie? Die vrede wat deur geloof, hoop en liefde uitgeleef kan word (1 Kor. 13). Die vrede wat alle verstand te bowe gaan. Dit wat ons kan beleef as ons tot verheerliking van God die Vader, navolging van Christus se voorbeeld (Joh. 14:6; Rom. 5:1-2) en onder die leiding van die Heilige Gees (Rom. 6:8) lewe.