Stof tot nadenke: “Versoeking en Volharding”

“Beskou dit as ‘n groot vreugde, my broers, wanneer allerhande versoekings julle oorval, omdat julle weet dat, as julle geloof getoets word, dit volharding meebring.”
Jak. 1: 2-3

Ons moet bly wees as ons versoek word? Dat ons geloof getoets word? Dit is ‘n baie interessante stelling wat Jakobus hier maak. Is die feit dat ons versoek word ‘n aanduiding dat ons in geloof begin wen? Dat die vyand dit besef en alles in sy vermoë sal doen om ons van die regte pad af te lei. Dit is dan juis in hierdie omstandighede wat ons moet volhard in ons geloof. Is dit vir ons moontlik in ons eie swak nietige menslikheid?

In Rom. 5: 3-4 noem Paulus ook dat “verdrukking bewerkstellig volharding”, en dat hierdie “volharding lei tot betroubaarheid, en betroubaarheid lei tot hoop”. Ook hierin het Christus ons voorgegaan. In Matt. 4: 1-11, Mark. 1: 12-13 wn Luk. 4: 1-13 wys Christus ons hoe om die versoekings te weerstaan. Onder leiding van die Heilige Gees kon Christus elke aanslag van Satan weerstaan. Onder leiding van die Heilige Gees wat vir Christus elke regte antwoord gegee het om elke liewe aanslag af te weer, het Hy ons gewys hoe volharding lyk.

Ons moet dus die Woord leer ken en leiding van die Heilige Gees vra in aanslae teen ons lewe. Ons moet leer om fyn te luister, want die Satan kom met slinkse en baie mooi praatjis om ons te versoek en te verlei. Ons word in Luk. 4: 8-13 herinner dat ons God alleen moet aanbid en dien en Hom nie onnodig versoek en dinge vra wat nie nodig of belangrik is nie. Ons moet onthou dat die grootste doel van ons as mense is om aan God alle eer te bring.

In Jak. 1: 4 word ons gemaan dat ons volharding tot volledige ontwikkeling moet kom, “sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees, en in geen opsig tekort skiet nie.” Jakobus wys daarop dat ons van God kan vra, maar as dit in twyfel gedoen word sal mens niks ontvang nie, want dit dui op onstandvastigheid in alles wat hy/sy doen.

In Rom. 15: 5-6 word ons ook deur Paulus gerusgestel dat dit God is wat die volharding in ons bewerk, sodat ons eensgesind sal wees, soos Jesus Christus dit gewil het; sodat ons eenparig die lof van God kan besing. Ons kan dus net vra dat God ons harte sal rig op Sy liefde en die volharding van Christus (2 Tes. 3:5). Dan sal ons kan vlug van die versoekings en die goeie stryd kan stry van die geloof (1 Tim. 6 11-12), en mag Christus wanneer Hy weer kom ook van ons sê dat Hy ons dade en liefde en geloof en diens en volharding ken (Open. 2:19).