“God het gesê: “Die land moet groen plante laat uitspruit -gewasse wat saad gee, bome wat op die land vrugte dra, vrugte volgens elkeen se aard, vrugte waarin hulle saad is.” Dit het toe so gebeur….God het die wilde diere van die aarde gemaak volgens elkeen se aard…God het na alles gekyk wat Hy gemaak het, en kyk, dit was baie goed.”
Gen. 1: 11; 25; 30
Dit is weer lente hier in Suid-Afrika, net soos God dit geskep het. Volgens die aard van elke plant en dier is dit die tyd vir nuwe lewe en nuwe groei. Afhangend van die tye om te saai, is daar ook gewasse wat nou gesaai moet word, en daar is gewasse wat nou ge-oes word. Want God het dit goed gedink om alles volgens hulle eie geaardheid te maak.
Wanneer mens gaan soek na lente (jaarwending) in die 2020 vertaling van die Bybel, is dit die tyd wat daar oorlog onder die mense aangevoor word (2 Sam. 11: 1; 1 Kon. 20: 22; 1 Kon. 20: 26; 1 Kron. 20: 1). Dis die tyd wat die mens dikwels verwoesting aanbring.
Wanneer mens die Bybel deursoek word daar bitter min gesê oor die seisoene, oor al die pragtige perfeksie van die natuur en die hemelruim. Die skepping van God wat Hy as baie goed beskou het (Gen. 1:30). Daardie klein goedjies wat mens so dikwels miskyk. Die voëls wat al meer aktief raak en begin kos soek vir die nuwe klein lewetjies in hul neste. Die omgee van die klein diertjies vir hulle nuwe kleintjies. Die baljaar van die walvis kalfies in die baai. Elke plantjie wat vreugdevol hul blomkoppies oplig om die son te soek.
Elkeen van hierdie dinge wat ons miskyk, spreek van die Grootheid van God. Die Psalmdigter beskryf dit so mooi in Ps. 84:4 “Selfs ‘n mossie vind ‘n tuiste, en ‘n swaeltjie haar nes waarin sy haar kleintjies neerlê, by U altare, Here, Heerser oor alle magte, my Koning en my God”. In die bergpredikasie virseker Christus ons dat as ons na die voëls kyk sal ons sien dat God vir hulle sorg (Matt. 6: 26-27; Luk. 12: 24-25).
Mag ons hierdie lente net die grootsheid van ons Hemelse Vader, die genade van Sy Seun, Jesus Christus en die leiding van die Heilige Gees raaksien en beleef. Dan sal ons elke dag in dankbaarheid kan leef vir die heerlike, wonder van die natuur.


