Stof tot nadenke: “Aanhouer wen…”

As ons saam met Hom gesterf het, sal ons ook saam met Hom leef; as ons aanhou volhard, sal ons ook saam met Hom regeer;….

(2 Tim. 2: 11-1220)

Wedloop van die lewe

Die lewe is een groot wedloop. Elkeen wat aan hierdie lewe vashou, wil die beste wees. Die beste presteer. Die mooiste, of die grootste, of die sterkste, of die bekendste wees. In hierdie lewe is daar egter slegs een kans op wen. As jy nie eerste by daardie wenstreep verby gegaan het nie, is jou kans op oorwinning so dikwels verby. Dis net die persoon wat aanhou, wat die fisiese eindstreep in hierdie lewe bereik.

Ons is so besig om deur die lewe te hardloop, om daardie oorwinning te behaal, dat ons die eintlike en belangrikste wedloop en doel van die lewe mis! Die wedloop om in geloof in Jesus Christus te volhard. Die wedloop om as kind van God gekenmerk te word. Die wedloop, deur goeie en slegte tye aan te hou hardloop. Hier was Job so ‘n goeie voorbeeld. Hy wat getrou gebly het in sy geloof aan God, die Vader.

Teksverse:

Sorg dat julle aanhou groei in die genade en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus. Aan Hom behoort die heerlikheid, nou en ook tot op die dag van die ewigheid. Amen”(2 Pet. 3: 1820);

Elkeen wat uit God gebore is, doen nie meer sonde nie, omdat God se saad in hom bly en hy kan nie meer aanhou sonde doen nie, omdat hy uit God gebore is.” (1 Joh. 3: 920):

Daar is immers niemand soos hy op aarde nie. Hy is onberispelik in sy optrede en opreg, ‘n man wat vir God ontsag het en die kwaad vermy. Hy volhard steeds in sy onberispelike optrede,…” (Job 2: 320);

Kyk, ons beskou hulle wat volhard as gelukkig. Julle het gehoor van Job se volharding, en julle het die Here se einddoel met hom gesien, en dat die Here vol medelye en ontferming is.” (Jak. 5: 1120);

Hierdie slegte volk, wat weier om na my woorde te luister, wat volhard in die verstoktheid van hulle harte, en agter ander gode aanloop om hulle te dien…” (Jer. 13: 1020)

Entoesiasme

Entoesiasme, daardie sterk gevoel van lewendige belangstelling en opwinding oor iets. Dis daardie vermoë van iemand om ander opgewonde te maak oor ‘n onderwerp. Dis aansteeklik. Wanneer iemand besiel is vir ‘n saak, versprei dit dikwels soos ‘n veldbrand. Dit is wat God van ons vra!

Ons moet entoesiasties wees oor ons geloof in die evangelie van Jesus Christus. Entoesiasme gaan dikwels gepaard met blydskap. Dis iets wat pragtig uitkom in die brief aan die Filipense en ook Kolossense. Die wonderlike blydskap wat Paulus, te midde van ongerief en swaarkry, steeds bly handhaaf het. Die blydskap oor wat God vir ons gedoen het, deur die Verlossing wat Jesus Christus vir ons deurgaan het. Ook die nabyheid van die Heilige Gees, wat dit vir ons moontlik maak om teenslae te oorwin, is ‘n bron van vreugde en blydskap.

Teksverse:

Ons bid dat julle vervul mag word met die volle kennis van God se wil, deur al die wysheid en insig wat die Gees gee, om ‘n lewe te lei wat die Here waardig is, en Hom in alles tevrede te stel, terwyl julle vrug dra deur elke goeie werk, en groei in die kennis van God, en deur die mag van sy heerlikheid al die krag ontvang om geduldig in alles te volhard. Met blydskap moet julle die Vader dank.” (Kol. 1: 9-1120)

Volhard tot die einde toe

Daar word nie ‘n pad van net maanskyn en rose belowe nie. Jesus self het die dissipels gemaan dat hulle deur mense gehaat gaan word terwille van se Naam. In dieselfde teks moedig Hy hulle aan om te volhard tot die einde, want dan alleen kan die verlossing in vervulling gaan.

Hoe kry ons dit reg? Net soos die eerste gemeentes dit gedoen het. Hulle het bly volhard in die leer van die evangelie, deur samekomste en gebed. Hulle het mekaar ondersteun en gehelp waar nodig.

Ons het ook die belofte dat God ons sal bewaar in beproewing wat hierdie wêreld mag tref. Ons word telkens daarop attent gemaak dat die God van Vrede met ons sal wees, wanneer ons aanhou om goed te doen, en te lewe soos wat God van ons vra.

Willie Jonker stel dit pragtig: ‘Volharding is ‘n gawe van die Heilige Gees. Dit is die hoop op die dinge wat kom, wat die gelowige die krag gee om uit te hou totdat die wedloop voltooi is.”.

Teksverse:

En julle sal deur almal gehaat word, ter wille van my Naam. Maar wie volhard tot aan die einde, dié sal verlos word.” (Matt. 10: 2220);

Julle sal ook deur almal gehaat word ter wille van my Naam. Daar sal beslis geen haar van julle koppe val nie. Red julle lewens deur te volhard.” (Luk. 21: 17-1920);

Hulle het bly volhard in die leer van die apostels, die verbondenheid met mekaar, die breek van die brood, en gebede.” (Hand. 2: 4220);

Omdat jy aan my opdrag gehoorsaam was om te volhard, sal Ek jou ook bewaar in die uur van beproewing wat oor die hele bewoonde wêreld gaan aanbreek,…” (Open. 3: 1020);

Verder, broers, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat lof verdien, ja, watter deug of watter prysenswaardige saak daar ook mag wees: rig julle gedagtes daarop. Wat julle van my geleer en ontvang en gehoor en in my gesien het: hou aan om dit te doen. En die God van vrede sal met julle wees.” (Fil. 4: 8-920)

Stof tot nadenke: Alle eer…

Daarom, vereer die Here, in die land van die môrelig. Vereer in die eilande van die weste die Naam van die Here, die God van Israel. Van die uithoeke van die aarde af hoor ons liedere – ‘n sieraad vir die Regverdige.” 

(Jes. 24: 15-1620)

Groot praat?  

Ons weet dat mense wat daarvan hou om groot te praat, selde baie geliefd is. Selfs die Bybel noem dat spog verkeerd is, hetsy of dit oor jou eie belangrikheid, jou besittings of jou vele dade is.

Maar interessant genoeg noem Stephan Joubert, dat daar een grootpraat uitsondering op die reël is. Dit is wanneer ons grootpraat oor God. Wanneer ons nie skaam is om vir die hele wêreld te vertel hoe groot en goed God is nie.  

Ons deins dikwels terug van so ‘n grootpratery, want netnou sê die wêreld ons is dweepers. Niemand wil tog so genoem word nie. Maar ons mag so oor God praat. Ons moet so oor God praat, want hy is die enigste wat dit waardig is!  

Teksverse: 

Eer die Here met jou rykdom...” (Spr. 3: 920); 

Die troue liefde van die Here sal ek vermeld, die lofwaardige dade van die Here in ooreenstemming met alles wat die Here aan ons bewys het -.” (Jes. 63: 720); 

Oor die troue liefde van die Here wil ek altyd sing; van geslag tot geslag wil ek u trou met my mond bekend maak. Ja, ek sê dit: Vir ewig word u troue liefde gevestig; in die hemel hou U u trou in stand” (Ps. 89: 2-320); 

Moenie die wêreld, of wat in die wêreld is, liefhê nie. As iemand die wêreld liefhet, is die liefde van die Vader nie in hom nie, want alles in die wêreld – dit wat julle liggame begeer, en dit wat die oë begeer, arrogante spoggery oor besittings – is nie uit die Vader nie, maar uit die wêreld.” (1 Joh. 2: 15-1620); 

Maar nou spog julle oor julle hoogmoedigge optrede. Sulke spog is verkeerd.” (Jak. 4: 1620

Wie is waardig?  

Hoe weet ons dat God waardig is? Joh. 1 stel dit wonderlik, “Alles het deur Hom ontstaan”. Daar is nie nog iemand soos Hy nie. Hy is Almagtig en groots. Sy liefde vir ons is groter as wat ons ooit voor begrip kan hê. 

Ons word telkens in die Woord vertel van die grootsheid van God. Daar is geen ander vegelykbaar met die Drie-enige God waarin ons glo nie. Ons moet gedurig opsoek wees na God se koninkryk en sy geregtigheid, hier waar ons woon. Ons moet Hom so lief hê, dat Hy ons hele wese vul. Hy maak ons bewus en kweek die begeerte in ons harte. Hy alleen is waardig om alle eer te ontvang. Liedboek 207 beskryf dit so mooi: 

Eer aan die Vader, wat alles gemaak het; eer aan die Seun, ons Verlosser en Vriend; eer aan die Gees wat ons lei in die waarheid – Aan God drie-enig ons lof en ons lied.”  

Teksverse

Maar soek eers die koningkryk van God en sy geregtigheid,…” (Matt. 6: 3320); 

“…vir die Here julle God alleen moet julle ontsag hê. Hy is die Een wqt julle sal red uit die hand van al julle vyande.” (2 Kon. 17: 3920); 

In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Hy was van die begin by God. Alles het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het selfs nie een ding wat bestaan, ontstaan nie.” (Joh. 1: 1-320); 

Genade vir julle en vrede van God, ons Vader, en die Here Jesus Christus, Hy wat Homself gegee het vir ons sondes, om ons te red uit die huidige bose bedeling, volgens die wil van ons God en Vader, aan wie die heerlikheid behoort vir ewig en ewig!”(Gal. 1: 3-420); 

Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele verstand en met al jou krag.” (Mark. 12: 3020

Aan wie kom die eer toe? 

Daar is geen ander! God, die Vader, die Verlosser, Jesus Christus en die Trooster, die Heilige Gees moet alle eer ontvang! Die liefde wat ons so onverdiend ontvang, kom van ‘n Almagtige en liefdevolle God. Ook die hemel wesens weet dat God heilig is. 

Ons kan nie anders as om dissipels van God te wees nie, en ons liedere is ‘n heerlike beaaming van God se Almag. Geen ander wese is so groot en so goed nie. Laat ons in nederige dankbaarheid voor die Skepper God neerbuig en die hele wêreld vertel van sy wonderdade. 

Teksverse: 

Die Here het vir Moses gesê “So moet jy vir die Israeliete sê, ‘Julle het self gesien dat Ek uit die hemel met julle praat. Julle mag nie gode van silwer en goud maak en naas My vereer nie; julle mag dit nie vir julle maak nie..” (Eks. 20: 22-2320); 

Daarom, vereer die Here, in die land van die môrelig. Vereer in die eilande van die weste die Naam van die Here, die God van Israel. Van die uithoeke van die aarde af hoor ons liedere – ‘n sieraad vir die Regverdige.” (Jes. 24: 15-1620); 

Jesus het nader gekom en vir hulle gesê: “Aan My is gegee alle mag in die hemel en op die aarde. Gaan dan en maak dissipels van al die nasies, deur hulle te doop in die Naam van die Vader en van die Seun en van die Heilige Gees..” (Matt. 28: 18-1920); 

Ek is die Alfa en die Omega, die Een wat is en wat was en wat kom,”sê die Here God, die Almagtige .” (Open. 1: 820); 

Die vier lewende wesens het elkeen ses vlerke, wat reg rondom en aan die binnekant vol oë is. Sonder om te rus, herhaal hulle dag en nag: “Heilig, heillig, heilig is die Here God, die Almagtige, Hy wat was en wat is en wat kom.” (Open. 4: 820

Stof tot nadenke: “Die klein dingetjies…”

Wie in die geringste betroubaar is, is ook betroubaar waar dit om baie gaan, en wie in die geringste oneerlik is, is ook oneerlik waar dit om baie gaan.

(Luk. 16: 1020)

Die klein dingetjies

In Lukas maak Jesus Christus ons daarop attent dat ons in die kleine betroubaar moet wees, want dan kan ons ook betroubaar wees met die groter dinge. Want die omgekeerde is ook waar. As jy nie met klein goedjies betroubaar is nie, sal jy ook met groter goed onbetroubaar wees. Dit geld ook vir dankbaarheid.

Hoeveel dankbaarheid betoon ons teenoor die klein goedjies in die lewe. Daardie onverwagse nuwe klein blommetjie wat jy nog nooit raakgesien het nie. Die nuwe saailing wat net begin kop uit steek. Of, indien jy die voorreg gehad het om Namakwaland te besoek, die massas en verskeidenheid van kleur en geur in blomme prag. Die skepping se manier om dankbaarheid te betoon vir ‘n ligte reënbui in ‘n baie dor wêreld!

Daardie onverwagse vriendlikheid van ‘n onbekende; die glimlag op ‘n dag wat jy dit nodig het; die oog kontak van iemand, wat jou raaksien; daardie bemoedigende woord op ‘n grou dag; en so kan mens voort gaan. Sê ons gereeld dankie daarvoor?

Teksverse:

God het gesê: “Die land moet groen plante laat uitspruit – gewasse wat saad gee, bome wat op die land vrugte dra, vrugte volgens elkeen se aard, vrugte waarin hulle saad is.” Dit het toe so gebeur. Die land het toe groen plante voortgebring, gewasse wat saad gee volgens elkeen se aard, en bome wat vrugte dra waarin hulle saad is, volgens elkeen se aard. God het gesien dat dit goed is.” (Gen. 1: 1220);

God het gesê: “Kyk, Ek gee vir julle al die gewasse wat saad dra, wat op die oppervlakte van die aarde is, en al die bome waaraan daar vrugte is, wat saad dra. Vir julle sal dit as voedsel dien. En vir al die diere van die aarde en vir al die voëls van die hemel en alles wat rondbeweeg op die aarde waarin lewensasem is, gee Ek al die groen gewasse as voedsel.” Dit het toe so gebeur.” (Gen. 1: 29-3020);

Die Here God het ‘n tuin aangeplant in Eden, in die ooste en die mens wat Hy gevorm het, daar geplaas. Die Here God het uit die grond allerhande bome laat uitspruit – ‘n genoeë om na te kyk en goed om van te eet.” (Gen. 2: 8-920);

Ja, die Here het Sion getroos, Hy het al haar puinhope getroos. Hy het haar woestyn soos Eden gemaak, haar Araba soos die tuin van die Here. Vreugde en blydskap word in haar gevind, dankliedere en die klank van begeleiding.” (Jes. 51: 320)

Dankbaarheid ook vir klein dingetjies

Ons word gereeld in die Woord daaraan herinner dat ons moet dankbaar wees. As gelowige Christen is ons dankbaarheid mateloos, by die blote gedagte aan wat Jesus Christus vir ons aan die kruis kom doen het.

Paulus maan ons om waaksaam te wees en in alle omstandighede dankbaar te wees. Ons kan ook vir al die mooi in die skepping dankbaar wees. Die skepping waaroor God tevrede was nadat Hy dit geskep het.

Om te volhard in gebed, is om vas te staan in gesprek met God, die Vader. Dit beteken ons kan om elke hoek en draai, ook waar God se skepping ons verras, dankbaarheid betoon. Ons kan nooit genoeg dankie sê vir alles wat God oor ons pad laat kom nie. Daar is soveel vreugde en liefde oor ons elkeen se pad, wat ons aan God kan herinner.

Teksverse:

Verder, laat die vrede van Christus in julle harte regeer. As lede van een liggaam, is julle juis daartoe geroep. En wees dankbaar.” (Kol. 3: 1520);

Volhard in gebed. Wees waaksaam en dankbaar as julle bid.” (Kol. 4: 220);

Wees altyd bly; bid sonder ophou; wees in alle omstandighede dankbaar; want dit is God se wil vir julle in Christus Jesus.” (1 Thes. 5: 16-1820);

Daarom, terwyl ons ‘n onwankelbare koninkryk ontvang, laat ons dankbaar wees en God daardeur op ‘n welgevallige wyse dien, met eerbiedige onderworpenheid en ontsag.” (Heb. 12: 2820);

Aangesien julle dus in Christus Jesus die Here aangeneem het, bly leef in Hom; in Hom is julle gewortel en in Hom word julle opgebou en versterk in geloof, soos julle geleer is, terwyl julle oorvloedig is in dankbaarheid.”(Kol. 2: 6-720)

God se skepping

Volgens die Woord weet ons dat die ganse skepping saam met ons in afwagting is op die nuwe hemel. Daar is niks wat ons kan skei van die liefde Van die Vader, die Seun, en die wonderlike bystand van die Heilige Gees nie.

Die hele skepping verkondig die evangelie en die skeppingsverhaal. Laat ons in afwagting en met dankbaarheid deur die lewe gaan, sodat die wêreld kan weet dat ons kinders is van die drie-enige God.

Teksverse:

Ons weet immers dat die ganse skepping tot nou toe saam met ons sug, ja, in geboortepyne verkeer. En nie net die die skepping nie, maar ook ons wat die Gees as God se eerste gawe ontvang het , sug innerlik, terwyl ons uitsien na ons aanneming tot kinders, die bevryding van ons liggame.” (Rom. 8: 22-2320);

Maar in alles is ons selfs meer as oorwinnaars deur Hom wat sy liefde aan ons bewys het. Ek is immers daarvan oortuig dat nóg dood, nóg lewe, nóg engele, nóg magte, nóg teenswoordige, nóg toekomstige gebeure, nóg kragte, nóg hoogte, nóg diepte, nóg enigiets anders in die skepping, ons sal kan skei van die liefde van God in Christus Jesus, ons Here.” (Rom. 8: 37:3920);

“Die Seun is die beeld van die onsigbare God, die Eersgeborene oor die hele skepping.” (Kol. 1: 1520);

…maar nou het Hy julle deur sy menslike liggaam met Homself versoen, sodat Hy julle, deur sy dood, heilig en sonder foute en onberispelik voor Hom kan stel – mits julle in die geloof bly, stewig gevestig en standvastig, sonder om weg te beweeg van die hoop wat die evangelie bring. Dit is die evangelie wat julle gehoor het, en wat in die hele skepping onder die hemel verkondig is, …” (Kol. 1: 22-2320)

Stof tot nadenke: “Menslike alleenheid en God se Almag”

Hy sal jou nie in die steek laat nie, julle is nie alleen nie..

(Deut. 31: 620)

Alleenheid van die Mens

Elkeen van ons ken die gevoel van totaal alleen voel. Dit is daardie tye wanneer jy as jongmens voel dat niemand jou verstaan nie. Daar is niemand met wie jy jou gedagtes en drome kan deel nie. Dit is daardie tye wanneer jy deur pynlike ervarings gaan, en wanneer jy voel dat jy met niemand oor jou diepste seer kan praat nie.

Dis daardie tye wanneer jy ‘n lewensmaat aan die dood, of aan die lewe, verloor. Dis ‘n alleenheid wat jy glo jy nie met enigiemand kan deel nie. Jy glo dat hulle nie sal verstaan nie. So ontwikkel ons ‘n, so onnodige alleenheid, wat ons nie altyd weet hoe om te verwerk nie.

Tog is alleenheid nie negatief nie. Terblanche Jordaan stel die mooi: ‘Elke mens is uniek, en ons alleenheid is die keerpunt van hierdie uniekheid. Juis omdat ons uniek is, moet ons iewers alleen wees. Alleenheid is soos ‘n tuin vir ons harte wat smag na liefde. Dit is die plek waar afsondering kan groei en vrug dra. Alleenheid, of dit nou fisiek of emosioneel is, is noodsaaklik vir ons geestelike lewe.

Jesus Christus het daardie menslike alleenheid self deurgemaak. In die tyd voor die kruisiging. Sy dissipels het nie altyd begrip gehad, vir dit wat Hy moes deurmaak nie. Sy alleenheid in die stilte voor die storm om Hom losgebreek het en Hy gevange geneem is. Diè mense vir wie Hy lief was, wat nie eers kon wakkerbly om saam met Hom te bid nie. Tog het Jesus Christus geweet dat Sy redding en krag in die bystand van God lê.

Teksverse:

Toe Naomi se man, Elimelek, sterf, het sy en haar seuns alleen agtergebly.” (Rut 1: 383);

Here, u profete het hulle doodgemaak, u altare het hulle afgebreek. Ek het alleen oorgebly, en hulle soek my lewe.” (Rom. 11: 320);

… want so sê my Heer, die HERE, die Heilige van Israel: “In bekering en rustigheid lê julle redding, in kalmte en vertroue lê julle krag;….” (Hand. 15: 1120);

God se Almag

In die Woord word ons telkens aan die Almag van God herinner. Ons kan ook maar net let op die ongelooflike skepping van God. Dit laat mens telkemaal besef dat daar geen ander Here is behalwe die drie-enige God, wat ons so lief het, dat Hy ons nooit alleen sal los nie. Hy het vir ons Jesus Christus as Verlosser gestuur. En nadat Christus se taak voltooi was, het God vir ons die Heilige Gees gestuur.

Die anonieme aanhaling: ‘Ek kan nie bestaan in my denkraamwerk nie, want met God se almag aan my kant is alles moontlik’ beskryf ons onvermoë om God te probeer verstaan. Een ding is egter seker, daar is geen perk aan God se Almag nie.

Teksverse:

Toe Abram nege-en-negentig jaar was, het die Here aan Abram verskyn en vir hom gesê: “Ek is God, die Almagtige. Leef voor My, en wees onberispelik!” (Gen. 17: 120);

Die Here is immers julle God; Hy is die God van die gode en die Heer van die here; die groot, die magtige, die ontsagwekkende God, wat onpartydig is en geen omkoop geskenk aanvaar nie.” (Deut. 10: 1720);

Want groot is U en U doen wonders; U alleen is God.” (Ps. 86: 1020);

Prys Hom wat groot wonders doen, Hom alleen – want vir ewig duur sy troue liefde -… “(Ps 136: 420);

Here, Heerser oor alle magte, God van Israel, U wat bo die gerubs troon, U alleen is God oor al die koninkryke van die aarde.” (Jes. 37: 1620);

Ja, kyk, Hy wat die berge vorm en die wind skep, wat aan ‘n mens sy beplanning bekend maak, wat die dagbreek duisternis maak, wat trap op die hoogtes van die aarde, die Here, die God wat Heerser is oor alle magte, is sy Naam!” (Am. 4: 1320);

”Ek is die Afla en die Omega, die Een wat is en wat was en wat kom,” sê die Here God, die Almagtige.”(Open. 1: 820)

Ons is nooit alleen nie

God ken ons swakhede en ons onmag. God ken ons menslike alleenheid. Wanneer ons tot hierdie besef kom, kan ons nie meer alleen wees nie, want ons besef dat God altyd daar is om ons by te staan wanneer ons val, seerkry en pyn beleef. Wat ookal die rede vir ons alleenheid is, God is altyd daar om sy beskermende hand oor ons te hou.

Die anonieme aanhaling: ‘As jy bid en tuis is in die huis van jou Vader is jy nie alleen nie.’ verwoord die nabyheid van God, wat wil hê dat ons Hom in gebed moet nader. Sodoende besef ons hoe naby God regtig is! Elke oomblik van elke dag. Hy weet van elke traan wat jy stort. Hy ken jou elke seerkry en pyn.

Teksverse:

…want, Here, U alleen laat my veilig woon.” (Ps. 4: 920);

Maar Hy antwoord: “Daar staan geskryf, ‘Van brood alleen sal die mens nie leef nie, maar van elke uitspraak wat uit die mond van God kom.’” (Matt. 4: 420);

Hy het my nie alleen gelaat nie, omdat Ek altyd doen wat vir Hom aanneemlik is.” (Joh. 8: 2920);

Kyk, daar kom ‘n uur, en dit het reeds aangebreek, dat julle uitmekaar gejaag sal word, elkeen na sy eie huis, en My alleen sal agterlaat. Ek is egter nie alleen nie, omdat die Vader by My is.” (Joh. 16: 3220);

Draai om en sê vir Hiskia, die leier van my volk,’So sê die Here, die God van jou voorvader Dawid: “Ek het jou gebed gehoor; Ek het jou trane gesien…” (2 Kon. 20: 520);

… hulle sal Ek na my heilige berg bring; en Ek sal hulle vreugde laat ervaar in my huis van gebed. Hulle brandoffers en maaltydoffers sal aanvaarbaar wees op my altaar. Ja, my huis sal genoem word ‘n huis van gebed vir al die volke.” (Jes. 56: 720)

Stof tot nadenke: Daar is plek vir almal…

Laat julle harte nie ontsteld wees nie. Glo in God, glo ook in My. In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek voor te berei.

(Joh. 14: 1-220)

Bekering

Wanneer ‘n mens nie in ‘n gelowige huis groot word nie, is die woord bekering ‘n baie vreemde konsep. Want, bekering is om tot die besluit gedring te word om alles wat jy het aan Christus toe te wy. Ons moet dus tot die besef kom dat ons lewe nie in ooreenstemming met God se wil is nie, en van daar ‘n totale omkeer maak na God toe. Dit kan ‘n drastiewe ommeswaai in lewensstyl en uitkyk in die lewe tot gevolg hê.

Selfs wanneer mens in ‘n gelowige huis grootgeword het, is ons as mens nog altyd geneig om so dikwels die verkeerde paaie te kies. Soos Koos du Plessis dit so mooi gestel het: “Elke afdraaipaadjie ken ek…”. Bekering kan in ‘n oomblik plaasvind, maar die pad na volkome toewyding kan lank en moeisaam wees. Want die verleidings om ons kan ons aandag maklik aftrek van God af.

Willie Jonker stel dit so mooi: ‘Bekering beteken dat ‘n mens in jou hart ‘n doelbewuste keuse vir God en sy wil en téén die kwaad en die sonde doen. Dit gaan om ‘n koerswysiging van 180 grade’ en dat dit ‘‘n verandering in feitlik enige situasie bring en die weg open vir ‘n nuwe toekoms’.

Ook Benjamin Whichcote stel die impak van bekering baie goed: ‘Ons verkry nie toegang tot die hemel in die uur van ons dood nie, maar op die oomblik van ons bekering’.

Teksverse:

As iemand My wil dien, laat hy My volg; en waar Ek is, daar sal my dienskneg ook wees. As iemand My dien sal die Vader hom eer.” (Joh. 12: 2620);

Thomas sê vir Hom: “Here, ons weet nie waarheen U gaan nie; hoe kan ons dan die weg ken?” Jesus sê vir hom: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. As julle My leer ken het, sal julle ook my Vader ken. En van nou af ken julle Hom, en het Hom reeds gesien.” (Joh. 14: 5-720);

Want so sê my Heer, die HERE, die Heilige van Israel: “In bekering en rustigheid lê julle redding, in kalmte en vertroue lê julle krag;….” (Hand. 15: 1120)

Geloof

Wanneer ons deur die genade tot bekering gedring word, is dit ‘n opwindende nuwe pad wat ons vat. Dit leer ons uithouvermoë en die opwindende bystand van die Heilige Gees wat ons lei; elke liewe dag. Sonder die Vader se liefde wat dit vir ons moontlik gemaak het om verlos te word, deur Jesus Christus se liefdesdaad, en die bystand van die Heilige Gees se leiding, kan ons nie in ons menslike swakheid die geloofspad loop nie.

Dit is noodsaaklik dat elke mens, wat God gevra het vir vergifnis, hul afhaklikheid van God se nabyheid, elke liewe dag moet besef. Die vreugde van die nabyheid van God, wat belowe dat Hy ons nie uit sy hand sal laat ruk nie, gee ‘n rustigheid en vrede wat mens se verstand te bowe gaan.

Om volkome tot geloof te kom is soms ‘n lang pad, maar elke tree is die moeite werd. Leer die Woord van God ken, waarin alle waarheid vasgelê is.

Die Vader het baie wonings, wat Jesus Christus reeds voorberei het, vir almal wat in Hom glo.

Teksverse:

Glo jy dan nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie? Die woorde wat Ek vir julle sê, sê Ek nie uit Myself nie, maar dit is die Vader wat in My bly en sy werke doen. Glo My dat Ek in die Vader en die Vader in My is; of glo dan op grond van die werke self.” (Joh. 14: 10-1120);

Leer my u pad, Here; ek wil in u waarheid leef. Gee dat ek heelhartig vir u Naam ontsag sal hê.” (Ps. 86: 1120);

Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal tot in ewigheid nooit verlore gaan nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie. My Vader, wat hulle aan My gegee het, is groter as almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie. Ek en die Vader is een.” (Joh 10: 28-3020)

Christus se voorbereiding

Jesus Christus self het vir elkeen wat in Hom glo plek gaan voorberei. Hy staan in vir ons by die Vader. Hy verseker ons dat daar baie woonplek is. So, elkeen wat Hom volg, kan verseker wees van woonplek in die Nuwe Jerusalem.

Teksverse:

En as ek gegaan en vir julle plek voorberei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar ek is. Julle ken die weg na die plek waarheen Ek gaan. ” (Joh. 14: 3-420);

Vader, Ek wil hê dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook saam met My kan wees, sodat hulle my heerlikheid kan sien, die heerlikheid wat U My gegee het, omdat U My van voor die grondlegging van die wêreld liefgehad het.” (Joh. 17: 2420);

Maar God, ryk in barmhartigheid, het ons, alhoewel ons dood was as gevolg van die oortredings, op grond van sy groot liefde waarmee Hy ons liefgehad het, saam met Christus lewend gemaak – uit genade is julle verlos!” (Ef. 2: 4-520);

Toe het ek ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het tot niet gegaan, en die see bestaan nie meer nie. En Ek het die heilige stad, die Nuwe Jerusalem, van God af uit die hemel sien neerdaal…” (Open. 21: 1-220);

Maar ons verwag, volgens sy belofte, nuwe hemele en ‘n nuwe aarde, waar geregtigheid woon.” (2 Pet 3: 1320)

Stof tot nadenke: Genade en Waarheid

En die Woord het vlees geword en onder ons kom woon, en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos dié van die unieke Seun van die Vader – vol genade en waarheid.

(Joh. 1: 1420)

Genade

Ons hoor dikwels dat die evangelie genade alleen is. Dit is ‘n wonderlike gedeeltelike waarheid, waaraan ons so maklik vashou. Maar as ons net die genade alleen beklemtoon, sonder om ook tot die besef te kom, dat ons nie die sonde kan negeer nie, laat ons foute toe wat vir God onaanvaarbaar is. Dit kan lei tot die gebruik om onsself hoër te ag as God se eer.

Dit word dikwels deur die bekende manier van Christene, wat tog net nie wil aanstoot gee nie, gekenmerk. Ons wil net die vrede bewaar, en dan laat ons dikwels valshede toe, wat tot valse gerustheid in ons Christenwees lei. Dit kan tot die spreekwoordelike ‘kat op ‘n warm-wordende plaat’ lei, deurdat dit kan lei tot ‘ontoelaatbare’ gedrag, wat aanvaar word, ten koste van die waarheid.

Die evangelie van Jesus Christus is beide genade en waarheid.

Teksverse:

Ja, ‘n son en skild is die Here God; genade en eer is wat die Here skenk. Hy hou wat goed is nie terug van hulle wat onberispelik leef.” (Ps. 84: 1220);

Met spotters spot Hy self, maar aan magteloses skenk Hy genade.” (Spr. 3: 3420);

Uit sy volheid het ons almal genade ontvang – ja, genade op genade. Want die wet is deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom.” (Joh. 1: 16-1720);

Maar ons glo dat ons op dieselfde manier as hierdie mense deur die genade van die Here Jesus verlos word.” (Hand. 15: 1120);

Maar God, ryk in barmhartigheid, het ons, alhoewel ons dood was as gevolg van die oortredings, op grond van sy groot liefde waarmee Hy ons liefgehad het, saam met Christus lewend gemaak – uit genade is julle verlos!” (Ef. 2: 4-520)

Waarheid

Volgens Stephan Joubert: ‘Wanneer kerkmense slegs die waarheid kil en kou beklemtoon, raak hulle gou-gou liefdeloos en onsimpatiek’. Dit is ‘n toestand wat die gelowiges ten alle koste moet vermy.

Die aanhaling van Braam Hanekom is ‘n waarheid wat ons nie kan agter weë kan laat nie: ‘Geen verhouding kan blom as die waarheid nie vrylik gedeel kan word nie. Waar eerlike en egte kommunikasie om een of ander rede gesmoor of geïnhibeer word, kan jy maar seker wees dat verhoudings gaan kwyn.’

God is waarheid, en sy liefde en trouheid bewys dit keer op keer. Ons kan nie sonder hierdie waarheid leef nie. Ons moet egter ook besef dat daar straf aan verbonde is, wanneer dinge nie die waarheid reflekteer nie. Dit moet in opregtheid en liefde vir mekaar toegepas word, net soos die Vader ons in liefde bejeën het, en besef het ons is te swak. Van daar die wonderlike genadegawe van Jesus Christus en die teenwoordigheid van die Heilige Gees.

Teksverse:

Die Here het reg voor hom verbygegaan en uitgeroep: “Die Here, die Here, ‘n barmhartige en genadige God, geduldig, oorvloedig in troue liefde en waarheid, wat troue liefde vir duisende bly handhaaf, wat skuld, oortreding en sonde vergewe, maar wat beslis niks ongestraf laat nie, …”” (Eks. 34: 6-720);

Salomo het gesê: “U self het aan u dienskneg, my vader Dawid, oorvloedige troue liefde bewys, omdat hy voor U geleef het in waarheid en geregtigheid, en ook met opregtheid van hart teenoor U…”” (1 Kon. 3: 620);

Leer my u pad, Here; ek wil in u waarheid leef. Gee dat ek heelhartig vir u Naam ontsag sal hê.” (Ps. 86: 1120);

Deur troue liefde en waarheid word sondeskuld bedek, en deur ontsag vir die Here vermy ‘n mens die kwaad.” (Spr. 16: 620);

En ek Nebukadnesar, besing en verheerlik en eer nou die Koning van die hemele, omdat al sy werke waarheid is en sy paaie reg, omdat Hy hulle wat met trots rondloop, kan verneder.” (Dan. 4: 3720);

Dit is wat julle moet doen: Praat onder mekaar die waarheid; beoefen in julle stadspoorte slegs regspraak wat waar is en tot vrede lei.” (Sag. 8: 1620

Genade en Waarheid bring hoop

Die evangelie is genade en waarheid! Jesus Christus self was die genade en waarheid wat as mens hier op aarde vir ons foute kom sterf het. Hierdie een daad van God het dit vir elkeen van ons moontlik gemaak om die verlossings genade te ontvang. Ons is vrygemaak. Ons het egter ook ‘n verantwoordelikheid om mense in liefde tereg te wys, wanneer nodig.

Deur eerlik en opreg, en met ‘n omgee liefde, met iemand oor moontlike ontoelaatbaarhede te gesels, moet aanmoediging tot die hoop in Jesus Christus wees. Laat ons dus nie veroordelend wees nie, maar mekaar sagmoedig hanteer, sodat ons almal se lewenswyse tot eer van God kan wees.

Teksverse:

Deur Hom het ons in geloof ook toegang verkry tot hierdie genade waarin ons vasstaan, en ons beroem ons op die hoop om deel te kan hê aan die heerlikheid van God.” (Rom. 5: 220);

Maar die genadegawe is nie soos die oortreding nie. Want as deur die oortreding van een mens baie gesterf het, het die genade van God, ja, die genadegawe wat deur die een mens, Jesus Christus, gekom het, vir baie mense nog soveel oorvloediger geword. En die genadegawe is nie soos gevolg van een mens se sonde nie; want die oordeel oor een mens het tot vryspraak van baie oortredings gelei.” (Rom. 5: 15-1620);

En God is magtig om alle genade oorvloedig vir julle te laat wees, sodat julle in elke opsig selfversorgend kan wees, en oorvloedig kan bydra tot elke goeie werk.” (2 Kor. 9: 820);

God is Gees, en wie Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.” (Joh. 4: 2420);

Toe het Jesus vir die Jode wat Hom geglo het, gesê: “ As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels, en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.”” (Joh. 8: 31-3220);

Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei… ” (Joh. 16: 1320)

Stof tot nadenke: Wees ‘n omgee-mens

Ons is immers sy maaksel, geskep in Christus Jesus om goeie werke wat God voorberei het, te doen, en daarvolgens te leef.

(Ef. 2: 1020)

Omgee-mense

Het jy al ‘n eerlike en opregte omgee-mens ontmoet? Dis daardie mens wat jou waarlik laat tuis voel. Dis daardie mens wat jou laat voel jy het by die beloofde “groen waters waar rus is” uitgekom. Hierdie mense het die vermoë om elkeen waarmee hulle in aanraking kom, te laat voel dat hier ‘n omgee is wat jy nie altyd verstaan nie. Jy verdien nie soveel omgee nie!

Dit is baie spesiale mense wat die belangrikste kuns in die lewe ontdek het. Hulle het besef dat elke mens nodig het om aanvaar te word. Elke mens het nodig om raakgesien te word. Elke mens wil belangrik genoeg geag word, om ‘n vriendelike groet, ‘n glimlag, of ‘n dankie te kry waar nodig.

Dis mense wat dit in hulle het om ‘n lafenis vir almal om hulle te wees! Maar nie almal het daardie kennis nie.

Teksverse:

In groen weivelde laat Hy my rus; na water waar daar rusplek is, lei Hy my.” (Ps. 23: 220);

…deur elkeen nie net aan sy eie belange om te sien nie, maar ook na dié van ander.” (Fil. 2: 420);

Die Broederliefde moet bly!” (Heb. 13: 120);

Maar almal het nie hierdie kennis nie.” (1 Kor. 8: 720)

Hoe word ek ‘n omgee-mens?

Kan elkeen van ons so wees? Ons het elkeen ons eie persoonlikhede. Ekstroverte, introverte, boelies, en so kan ons aangaan. Ons skuil so graag agter ‘n persoonlikheids-fout, wat ons kan beskuldig, dat ons nie vir ander kan omgee nie. Daarmee kan ons onsself veronskuldig. Ek is te skaam. Ek kan nie so maklik met ander praat nie. Ek kan nie so maklik my emosies vir ander wys nie.

Tog word daar vir ons duidelike riglyne in die Bybel neergelê. Jesus Christus het vir ons kom wys hoe om vir mekaar om te gee! Ons is heeltemal reg dat ons dit nie uit onsself kan doen nie. Maar God self bemoedig ons. Deur die Heilige Gees raak dit vir ons al hoemakliker om die omgee gawe te ontwikkel. Ons kan seker wees as ons die beheer in ons lewens oorgee, sal ons lewenswyse al hoe meer soos Christus s’n wees.

Ons sal minder en minder die verkeerde dinge doen wat die kenmerk van ons ou lewens is, en meer en meer omgee-mense word. Mense wat net die beste vir ons medemense wil hê. Mense wat nie wraakgierig is nie, en net goed vir mekaar wil doen. Mense wat nie leuens oor ander vertel of mense uitbuit nie.

Laat elkeen van ons in gebed nederig voor God vra om ons elke dag by te staan, sodat ons opregte en eerlike omgee-mense kan wees. God het ons oorgemaak deur Jesus Christus. Ons moet goed wees vir mekaar. Jy moet altyd ‘n ander in ag neem, waar jy ookal is. Jy moet tot die besef kom dat jy nie hier is net vir eie gewin nie. jy moet ook ‘n ander se hartseer en pyn verstaan. Jy moet begrip hê vir enigeen wat anders is as jy! God het ons geskep om goed te doen aan ander, sodat ook elkeen van ons ‘n veilige hawe kan wees vir iemand wat die nodig het.

Teksverse:

Hy bemoedig ons in al ons verdrukkings, sodat ons hulle wat in allerhande verdrukkings verkeer, kan bemoedig met die bemoediging waarmee ons self deur God bemoedig word;” (2 Kor. 1: 420);

Wees goedgesind teenoor mekaar, met innige meelewing, terwyl julle mekaar vergewe, soos God in Christus julle ook vergewe het.” (Ef. 4: 3220);

Jy mag nie jou naaste se grens verskuif nie.” (Deut. 19: 1420);

Jy mag nie die reg van vreemdelinge en vaderloses verdraai nie, en jy mag nie die bokleed van ‘n weduwee as pand neem nie.” (Deut. 24: 1720);

Daarom bemoedig mekaar, en laat die een die ander in geloof opbou, soos julle inderdaad doen.” (1 Thes. 5: 1120);

Sorg dat niemand kwaad met kwaad vergeld nie, maar streef altyd na wat goed is vir mekaar en vir alle mense.” (1 Thes. 5: 1520)

Stof tot nadenke: Hoe hanteer ons konflik?

As jou broer teen jou sondig, moet jy hom teregwys waar julle twee alleen is. As hy na jou luister, het jy jou broer teruggewen.

(Matt. 18: 1520)

Konflik?

Elkeen van ons het al met konflik te doen gekry. Dit kan enigiets, van ‘n klein verskilletjie tot iets wat op oorlog uitloop, wees. Ons gebruik dit as metode om ons eie wil op ander af te dwing. Ons wil altyd glo dat ons reg is in ons oordeel oor enige situasie.

As mens kan ons so dikwels ‘n netelige, nietige saak opblaas, tot iets wat skeuring in verhoudings, gemeenskappe of tussen lande veroorsaak. Dit is dikwels ons onvermoë om die ander kant van ‘n saak te begryp of raak te sien.

Teksverse:

Daar is ses dinge waarin die Here ‘n weersin het, sewe is vir Hom afstootlik: hovaardige oë,’n bedrieglike tong, hande wat onskuldige bloed vergiet, ‘n hart wat bose planne smee, voete wat gou is om na die kwaad te hardloop, ‘n vals getuie wat leuens uitryg, en iemand wat tweedrag saai tussen broers.” (Spr. 6: 16-1920)

Hoe hanteer ons konflik?

Ons hanteer konflik so dikwels as ‘ek is reg, en ander is verkeerd!’ Deur hierdie houding in te slaan, maak ons dit bykans onmoontlik om ‘n saak op te los. Dit laat min ruimte vir kommunikasie, sodat die probleem net groter word.

Mense kan ook apaties staan teen konflik. Hulle wil nie betrokke raak nie, en reageer soos ‘n volstruis, wat nie die probleem wil sien nie. Hulle hoop dat die probleem net sal weggaan. Sommige mense sien ook vlug as enigste opsie in moeilike situasies.

Dan kry ons ook die wat dadelik wil aanval. Hulle glo dat aanval die beste verdediging bied. Of hulle saak reg is of nie! Ongeag die gevolge, weier hulle dikwels om na rede te luister. Ons moet egter onthou dat daar altyd meer as een kant aan ‘n konflik situasie is.

Teksverse:

Weerhou jou tong van kwaad en jou lippe daarvan om bedrieglik te praat.“(Ps. 34: 1420)

Kalmte van die tong is ‘n boom van lewe, maar verdorwenheid daarvan breek die gees.” (Spr. 15: 420)

Om as Christen konflik te hanteer

As gelowiges van die evangelie van Jesus Christus moet ons onthou dat ons die perfekte voorbeeld in Christus gekry het. Hoe ons moet optree in elke situasie is ‘n verwagting van God. Die wonderlike liefde en begrip word so dikwels gedemonsteer in die Woord.

Kan ons blindelings mense net veroordeel en afskryf? Is dit in ons vermoë om die regte woorde te vind om ‘n oënskynlike onmoontlike situasie te ontlont? Jakobus verduidelik baie goed dat ons in moeilike tye wysheid van God moet vra.

Ons kan in gebed met nederigheid vra vir ‘n wag voor ons mond, sodat ‘n reeds netelige situasie nie tot iets onherstelbaar ontaard nie. Die Heilige Gees sal ook woorde in ons mond lê, waar en wanneer dit nodig is. Dis dan wanneer dit moontlik is om konflik te ontlont, wanneer ons ook dit aan God toevertrou.

Teksverse:

As enigiemand van julle wysheid kortkom, laat hy dit vra van God, wat aan almal gee, sonder voorbehoud en sonder verwyt, en dit sal aan hom gegee word. Maar hy moet in die geloof vra, sonder om enigsins te twyfel,* want wie twyfel, is soos ‘n golf van die see wat deur die wind rondgeruk en voortgesleep word.” (Jak. 1: 5-620)

Moet oor niks bekommerd wees nie, maar maak in alles julle versoeke deur gebed en smeking met danksegging aan God bekend. En die vrede van God, wat alle begrip oortref, sal in Christus Jesus oor julle harte en gedagtes waak.” (Fil. 4: 6-720)

Julle is immers hiertoe geroep, want Christus het ook ter wille van julle gely; Hy het vir julle ‘n voorbeeld nagelaat,sodat julle in sy voetspore kan volg. Hy wat “nie sonde gedoen het nie,en in wie se mond geen bedrog gevind is nie”; wat, toe Hy uitgeskel is, nie teruggeskel het nie; toe Hy gely het, nie gedreig het nie, maar Homself toevertrou het aan Hom wat regverdig oordeel; wat self ons sondes in sy liggaam aan die kruishout gedra het, sodat ons, noudat ons ons sondes afgesterf het, vir geregtigheid kan leef –…” (1 Pet. 2: 21-2420)

Stof tot nadenke: Die Krag van Gebed…

So is Petrus dan in die tronk bewaak, maar ‘n volgehoue gebed tot God het uit die gemeente vir hom opgegaan.” 

 (Hand 12:520

Wanneer moet ons bid? 

Ons almal weet hoe dit voel om op moedverloor se vlakte te sit. Niemand van ons het nie al tye beleef wat ons laat besef dat ons dit nie kan oorkom in ons eie krag nie. Dis wanneer ons ons behoefte aan ‘n krag buite en baie groter as onsself besef. Ons kan bid in hartseer tye, maar ook om ons dankbaarheid teenoor God te wys. Dis soos om in konstante gesprek met God te leef. 

Ons moet besef dat om uit te styg bo die middelmatige, skynbare geestelike lewe, tot ‘n kragtige vervulling in Jesus Christus, moet ons onself, in gebed, as woonplek aan die Heilige Gees oopstel. Dit kan by ‘n openbare byeenkoms van Christene plaasvind, maar dit kan ook in jou binnekamer gebeur.  

Dit is dan wanneer ons in opregtheid, onder leiding van die Heilige Gees, in dankbaarheid en ooreenstemming met God se Wil, die krag van gebed kan ontdek.  

Teksverse: 

Die offer van goddeloses is afstootik vir die Here. maar die gebed van opregtes geniet sy goedkeuring.” (Spr. 15: 820); 

Die Here is ver van goddeloses, maar die gebed van regverdiges hoor Hy.”” (Spr. 15: 2920); 

…wat die onvergelykbare grootheid van sy groot krag, wat Hy uitgeoefen het in Christus, toe Hy Hom uit die dood opgewek het, en Hom laat sit het aan die regterhand in die hemele, bo elke owerheid en gesag en mag en heerser, ja, bo enige naam wat genoem kan word, nie alleen in hierdie bedeling nie, maar ook in die toekomstige.” (Ef. 1: 19-2120

Verhale van die sukses van gebed 

Daar is menige gebeure in die Bybel waar gebed verhoor is. Ons word daarvan bewus gemaak, dat selfs met die aanvang van ‘n gebed, weet God reeds wat die versoek is, soos in die geval van Daniël. Die Here het dit in sy hand om selfs lewensjare te verleng, indien jou gebed in opregtheid sou geskied, soos die geval was met Hiskia 

Dawid wys ons daarop dat die Here sy getroue volgelinge uitsonderlik behandel en dat die Here hom altyd gehoor het.

Ook Jona het in doodsomstandighede na die Here geroep, en God het hom gehoor. Petrus het ook die vrymakende gebeure beleef, toe die gemeente se gesamentlike gebede vir hom opgegaan het en hy uit die tronk gelei is. 

Waar ons ons ookal bevind, in watter benarde of moeilike omstandighede, niks is vir God onmoontlik nie. Dis die wonderlike vaste vertroue wat ons kan beleef in ‘n lewe saam met God. 

Teksverse

Die woord van die Here het tot Jesaja gekom: “Gaan sê vir Hiskia: ‘So sê die Here, die God van jou voorvader Dawid: “Ek het jou gebed gehoor; Ek het jou trane gesien. Kyk, Ek sal vyftien jaar by jou lewensdae voeg.” (Jes. 38: 4-520); 

Julle moet weet dat die Here sy getroue volgelinge uitsonderlik behandel. Die Here hoor wanneer ek na Hom roep.” (Ps. 4: 420): 

Terwyl ek nog besig was om te praat en te bid, om my sonde en die sonde van my volk Israel te bely, en om my smeekgebed vir die heilige berg van my God voor die Here, my God, te lê, ja, terwyl ek nog praat in die gebed teen die tyd van die aandoffer, het die man Gabriël wat ek, heeltemal uitgeput, in die visioen aan die begin gesien het, my aangeraak. Hy het verduidelik, met my gepraat en gesê: “Daniël, ek het nou uitgegaan om jou tot insig te bring. Aan die begin van jou smeerkgebed het daar ‘n woord uitgegaan, en ek het self gekom om dit te verklaar,...” (Dan. 9: 20-2320); 

Terwyl die lewe uit my vloei, het ek net aan die Here gedink. My gebed het U in u heilige tempel bereik.” (Jona 2: 720

Die Krag van gebed 

Ons word verseker dat as ons in geloof bid, ons gebede verhoor sal word. Ons kan met al ons behoeftes na God toe gaan, want Hy is altyd naby. Ons antwoorde is nie noodwendig so vinnig as wat ons op gehoop het nie, want selfs moeilike omstandighede word oor ons pad gebring om ons nader aan God te bring. 

Ons word ook dikwels gemaan om in eensgesindheid te volhard in gebed, selfs in moeikhede. Dit is dan wanneer die vrede wat alle verstand te bowe gaan, oor ons sal kom. Die gebed van enkele mense het ook al dikwels tot ander se inkeer gekom. Daar is menige verhale van die kragtige uiwerking van gebed. Dikwels van moeders en vaders wat weet dat hulle enigste hoop in God is. 

Wanneer ons ons sondes bely en vir mekaar bid, word ons verseker dat daar kragtige uitkomste kan wees. Dat ons gebede al meer en meer in lyn sal wees met wat God wil hê, wanneer ons onder leiding van die Heilige Gees bid. Ons kan dus die krag van gebed beleef omdat ons deur Jesus Christus ook die krag van God kan ervaar.  

Teksverse: 

Alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang as julle glo.” (Matt. 21: 2220); 

Hulle het almal eensgesind in gebed volhard, saam met die vroue, en ook saam met Maria, die moeder van Jesus, en sy broers.” (Hand. 1: 1420); 

Verbly julle in die hoop; wees standvastig wanneer julle swaarkry; volhard in die gebed.” (Rom. 12: 1220); 

Moet oor niks bekommerd wees nie, maar maak in alles julle versoeke deur gebed en smeking met danksegging aan God bekend. En die vrede van God, wat alle begrip oortref, sal in Christus Jesus oor julle harte en gedagtes waak.” (Fil. 4: 6-720); 

Volhard in gebed. Wees waaksaam en dankbaar as julle bid.” (Kol. 4: 220); 

Bely dan julle sondes teenoor mekaar, en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. DIe gebed van ‘n regverdige is baie kragtig in sy uitwerking.” (Jak. 5: 1620);

Julle soek immers ‘n bewys dat dit Christus is wat deur my praat. Hy is nie swak teenoor julle nie, maar is kragtig onder julle. Hy is weliswaar deur swakheid gekruisig, maar Hy leef deur die krag van God.” (2 Kor. 13: 3-420)

Stof tot nadenke: Groei…

Ek het geplant, Apollos het natgegooi, maar God laat groei. Daarom is nóg hy wat plant, nóg hy wat natgooi iets, maar slegs God wat laat groei.”

(1 Kor. 3: 6-720)

Hoe verstaan ons groei?

Ons assosieer meer dikwels groei met kinders of plante. Babas ontwikkel en groei in die moederskoot; word versorg en opgepas, om te verseker dat hulle normaal en gesond opgroei. Ons plant saad of jong plantjies en hou dit angstiglik dop, om te sien dat hulle die nodige groei toon, sodat ons in die blom of vrugdra seisoen, plesier daaruit kan kry.

Ons is nie altyd ten volle bewus daarvan dat daar konstante verandering is in hierdie groei fases nie. Selfs al sien ons verstommende verandering van bv. ‘n pap babatjie na ‘n tweejarige kindjie, wat reeds alle tekens van eie menswees toon. Dis dieselfde verstommende verandering wat in ‘n plantsaad opgevang lê. Daardie saadjie is ontwerp om ten volle te ontwikkel en blomme te ontwikkel wat dan weer siklies saad voort te bring.

Blote verandering is egter nie op sig self groei nie. Groei is die sintese van verandering en volharding. Dus waar volharding kortkom, is daar nie groei nie. Wanneer mens ophou groei, dis wanneer ons begin sterf.

Teksverse:

Kyk, dit is verplant. Sal dit gedy? Sal dit nie, as die oostewind dit tref, heeltemal verdroog, in die bedding waar dit groei, verdor nie.” (Eseg. 17: 1020);

En Hy het gesê: “Die koninkryk van God is soos ‘n man wat saad op die land uitstrooi, en nag ná nag gaan slaap, en dag ná dag opstaan, en die saad ontkiem en groei – hoe weet hy self nie. Die land bring die graan vanself voort: eers ‘n halm, dan ‘n aar en dan die koring vol in die aar.”” (Mar 4: 26-2820);

Dit is immers u wat my niere geskep het, my in die moederskoot geweef het.” (Ps.139: 1320)

Bybelse voorbeelde van geloofsgroei

Daar is verskeie voorbeelde in geloofsgroei. Ons kan gaan kyk na Petrus en Paulus. Beide mans wat deur God naamsveranderinge ontvang het. Petrus het Jesus blindelings gevolg, maar was ‘n wispelturige en emosionele man. Hy is egter ook deur Christus as die Rots van die evangelie aangewys, Ten spyte van sy verloëning van Christus. Die liefde waamee Jesus hom bejeën het, het Hom uiteindelik ‘n vurige kampvegter en apostel vir die evangelie gemaak, onder leiding van die Heilige Gees.

Paulus is tydens sy vervolging van die Christene, deur Christus tot stilstand geruk, en het ook ‘n draer van die evangelie geword. Hy het gelei en geleef vir die uitdrae van die evangelie, na die destyds ongeoorloofde lande. Die leiding en ondersteuning wat hy van God ontvang het, deur die genade gawe van die Heilige Gees, het hom gedring om aan te hou en te volhard.

Deur die werk van al die apostels, het daar menige mense tot geloof gekom, en ook gegroei in die geloof, soos duidelik uit die briewe van Paulus aan die Efesiërs, Kolosense en Petrus se briewe aan ander midde ooste dorpies. Die groei in geloof was duidelik gestel as mylpaal, “Om soos Christus te wees”, te kom.

Teksverse:

…totdat ons almal kom tot eenheid in geloof en kennis van die Seun van God, en tot volwassenheid wat in ooreenstemming is met die volgroeide gestalte van die volheid van Christus. Die doel hiervan is dat ons nie meer klein kindertjies sal wees nie, wat deur die onstuimige golwe rondgeslinger word en rondgewaai sal word deur elke wind en lering, deur mense se slinksheid en die gekonkel waardeur hulle dwaling beplan; maar dat ons eerder, terwyl ons in liefde aan die waarheid vashou, in alle opsigte na Hom toe sal groei. Hy, Christus, is die Hoof…” (Ef. 4: 13-1520);

…op grond van die hoop wat in die hemel op julle wag, Julle het al hiervan gehoor toe die woord van die waarheid, die evangelie, julle bereik het. Soos oral in die wêreld, het die evangelie, van die dag dat julle van God se genade gehoor en dit werklik verstaan het, ook onder julle begin vrug dra en groei.” (Kol. 1: 5-620);

Daarom dan, van die dag dat ons dit gehoor het, hou ons nie op om vir julle te bid nie. Ons bid dat julle vervul mag word met die volle kennis van God se wil, deur al die wysheid en insig wat die Gees gee, om ‘n lewe te lei wat die Here waardig is, en Hom in alles tevrede stel, terwyl julle vrug dra deur elke goeie werk, en groei in die kennis van God,…” (Kol. 1: 9-1020)

Groei deur verandering

Dit is vir elkeen van ons moontlik om na bekering verder te groei in geloof.

Dat ons gedurig deur moet verander is ‘n voldonge feit. Slegs deur verandering kan ons groei. Ons moet stil raak voor God in gebed en smeking. Dit is wanneer ons lewegewende water van God af ontvang. Dan sal ons kan vrugdra en verder groei in geloof. Dis dan wanneer ons as Christene, diensbaar kan wees in die koninkryk en as voedsel sal kan dien vir ander mense, wat smag na God se lewegewende water. Laat ons almal saam groei in die genade en kennis van ons Here, Jesus Christus.

Ons moet net altyd waak om nie soos die Fariseërs hoogmoedig te word in geloof nie. Ons moet mekaar nederig dien en liefhê. Dis nie uit eie krag dat ons die genade gawe van God ontvang nie, maar in ons swakheid as mens.

Teksverse:

Aan weerskante van die stroom, op sy walle, sal allerhande vrugtebome groei. Hulle blare sal nie verwelk nie, en hulle vrugte sal nie opraak nie. Elke maand sal hulle nuwe vrugte dra, want dit is uit die heiligdom wat hulle water vloei. Hulle vrugte sal as voedsel dien en hulle blare tot genesing.” (Eseg. 47: 1220);

Soos dit gepas is, moet ons God altyd oor julle dank, broers, omdat julle geloof uitermate groei, en een en almal van julle se liefde vir mekaar toeneem.” (2 Thes. 1: 320);

Sorg dat julle aanhou groei in die genade en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus. Aan Hom behoort die heerlikheid, nou en ook tot op die dag van die ewigheid. Amen.” (2 Pet. 3: 1820)

Stof tot nadenke: Bekering?

Of verag jy die rykdom van sy goedheid, verdraagsaamheid en geduld, en besef jy nie dat God se goedheid jou tot bekering wil bring nie.

(Rom. 2: 420)

Wat is bekering?

Per definisie is bekering ‘die handeling van ‘n gesindheidsverandering. ‘n Totale omdraaiing of wegdraai van ‘n sondige lewe en verkeerde weë. Dis die omkeer na ‘n lewe in gehoorsaamheid in God. Dis ‘n daaglikse lewenswyse van vernuwing in denke en gedrag.

Verskeie skrywers het ook sieninge oor bekering geuiter: Willie Jonker meen ‘bekering beteken dat ‘n mens in jou hart ‘n doelbewuste keuse vir God en sy wil en téén die kwaad en die sonde doen. Dit gaan om ‘n koersverandering van 180 grade.’ Dirkie Smit reken: ‘Die evangelie wil ons verbeelding vernuwe, ons maniere van kyk-na-mekaar, van droom-oor-wat-regtig-tel só radikaal vernader dat bekering eintlik die enigste woord is daarvoor.’ Benjamin Whichcote noem dat ‘Ons verkry nie toegang tot die hemel in die uur van ons dood nie, maar op die oomblik van bekering.’

Elkeen van ons kyk vanuit ‘n ander hoek na bekering, maar wat presies is bekering? Kan ons dit uit ons eie wil afdwing? Of is dit ‘n behoefte wat in ons hart deur God self geskep word?

Teksverse:

Want so sê my Heer, die HERE, die Heilige van Israel: “In bekering en rustigheid lê julle redding, in kalmte en vertroue lê julle krag; maar julle weier.” (Jes. 30: 1520);

Jesus het hulle geantwoord: “Gesonde mense het nie ‘n dokter nodig nie, maar wel die siekes. Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering.”” (Luk 5: 31-3220)

Stappe tot bekering

Dit blyk dat daar drie stappe is wat lei tot bekering.

  • Eerstens moet jy tot die besef kom en erken dat jy ‘n sondige lewe lei.
  • Tweedens moet jy opregte berou hê oor jou sonde.
  • Derdens moet jy ‘n besluit neem om weg te draai van ‘n verkeerde lewe.

Bekering beteken om weg te draai van sonde, en lei na weergeboorte.

Hierdie stappe is nie ‘n resep om te volg nie, maar die natuurlike verloop van die genade van God, die Vader, die bewusmaking van die Verlossing deur Jesus Christus, en die leiding van die Heilige Gees in ons lewens.

Ons kan dus nie bekering afdwing voor God nie. Ons kan net in ootmoed en in die bewuswording van die verkeerde dinge in ons lewe, voor God neerbuig en om vergifnis vra. Die Vader wil elkeen van ons as bekeerlinge in Sy koninkryk opneem – in Liefde. Jesus Christus het na hierdie wêreld gekom, nie om te veroordeel nie, maar om te verlos!

Teksverse:

As ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, en daarom sal Hy ons ons sondes vergeef en ons van alle kwaad reinig.” (1 Joh. 1: 920);

Want die droefheid, volgens die wil van God, bewerk inkeer, wat tot verlossing lei, en waaroor niemand ooit spyt is nie; maar wêreldse droefheid lei tot die dood.” (2 Kor. 7: 1020)

Die Here stel nie die belofte uit, soos party mense dink nie. Inteendeel, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê sommige mense moet verlore gaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.” (Fil. 1: 2720);

Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy unieke Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. God het immers nie sy Seun na die wêreld gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom verlos kan word. ” (Joh. 3: 16-1720);

Daarop het Hy hulle vertand daarvoor geopen om die Skrifte te vertaan, en vir hulle gesê: “So staan daar geskryf dat die Christus moet ly en op die derde dag uit die dood opstaan, en dat Sy Naam bekering tot die vergewing van sondes aan alle nasies verkondig moet word.” (Luk. 24: 45-4720)

Kan ons ‘n tweede keer tot bekering kom?

Volgens die brief aan die Hebreërs, het mense wat tot bekering gekom het en die vreugde van die Heilige Gees beleef het, en wat dan afvallig word, min genade in God se oë. Ons moet dus waak teen enige valse profete wat verdraaiings van die ware Verlossing verkondig. Ons moet vasstaan daarin om te groei in geloof, deur meer en meer bewus te word van die geheimenisse van God, wat in die Woord van God vasgevang is.

Dit is vir elkeen van ons moontlik om tot bekering te kom en verder te groei in geloof. Ons moet egter stil raak voor God en vir leiding en openbaring van die Woord vra. Dis dan dat ons die wapenrusting van God ontvang wat ons help in ons groei in ‘n vaste geloof.

Teksverse:

Laat ons dan verder gaan as die eerste beginsels van die boodskap aangaande Christus, en voortgaan na volwassenheid, sonder om weer die fondament te lê van bekering van dooie werke, van geloof in God,… ” (Heb. 6: 120);

Dit is immers onmoontlik om hulle wat eenmaal verlig is, wat die hemelse gawe gesmaak, en deel gekry het aan die Heilige Gees, en wat die goeie woord van God gesmaak het, en ook die kragte van die komende bedeling, en tog afvallig geword het, weer opnuut tot bekering te brin; aangesien hulle wat hulleself betref, die Seun van God opnuut gekruisig en openlik tot skande maak.” (Heb. 6: 4-620)

Stof tot nadenke: “Hou vas aan die Evangelie”

En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en ook Hom wat U gestuur het – Jesus Christus.

(Joh. 17: 320)

Waarom ons moet vashou aan die Evangelie?

Die woorde van die evangelie van Jesus Christus is waarheid. Dit dra die verlossingsboodskap vir elkeen van ons. Daar is geen ander God wat die mensdom liefhet, tot so ‘n mate dat Hy ons as mense wou verlos van ons sonde dade, en om ons verhouding met Hom te herstel. Dit is God wat sy hand na ons toe uitgereik het!

Jesus Christus het vir ons elkeen wat in Hom glo, verlossing gebring. Dié evangelie wat deur die dissipels en apostels na die uitstorting van die Heilige Gees verkondig is. Dit is weer Koningkrykstyd, in die kerklike kalender, en dit vra dat elkeen van ons ons geloof in die evangelie moet verdiep.

Jesus Christus het die dissipels en apostels die evangelie wat God, die Vader, deur hulle verder wou versprei, geleer. Dit is hierdie waarheid waaraan ons moet vashou. Ons moet ook leer om ander mense deur die bril van ons eie verlossing te sien. Dit is in die wete dat ons hierdie genade van God ontvang het, wat ons sal dring om die evangelie van Jesus Christus verder uit te dra en uit te leef.

Teksverse:

In Hom is julle, toe julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle verlossing, gehoor en tot geloof gekom het, verseël met die Heilige Gees, wat beloof is. DIe Gees is die waarborg van ons erfenis, om ons los te koop as God se eiendom, tot lof van sy heerlikheid.” (Ef. 1: 13-1420);

Want so lief het God die wêreld gehaddat Hy sy unieke Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. God het immers nie sy Seun na die wêreld gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom verlos kan word. ” (Joh. 3: 16-1720)

Hoe hou ons vas aan die Evangelie?

Hoe hou ons vas aan hierdie evangelie? Ons moet in meelewing met medegelowiges in eensgesindheid leef. Ons moet sterf aan onsself en in die nederige besef van ons eie swakhede, Jesus Christus en die Heilige Gees se oproep tot aktiewe betrokkenheid, navolg. Ons moet wegdraai van enigiets wat ons aandag aftrek van die enigste ware, en drie-enige God.

Ons moet in ooreenstemming leef met die evangelie, en voorbeeld van Jesus Christus, want daar is geen ander evangelie nie! Ons moet ook soos CS Lewis kan sê: ‘Ek glo in die evangelie van Jesus Christus net soos ek glo dat die son vanoggend opgekom het – nie omdat ek daarna kan kyk nie, maar omdat ek daardeur na alole ander dinge kan kyk.’ Ons ontwikkel die vermoë om ook die son oor ander te sien opkom en besef dat Jesus Christus ons kom dring het om die goeie nuus van die evangelie werklik te verstaan en te leef!

Laat ons vashou aan die enigste Skepper God. Hy wat alles wat ons het, as genadegawes vir ons gegee het, uit liefde.

Teksverse:

Die geheimenisse is nie aan vorige geslagte onder die mensdom bekend gemaak, soos dit tans deur die Gees aan sy helige apostels en profete geopenbaar is nie, naamlik dat heidene deur die evangelie mede-erfgename, medelede van die liggaam en deelgenote aan die belofte in Christus Jesus is. Van dié evangelie het ek dienaar geword, ooreenkomstig die gawe van God se genade wat aan my betoon is volgens die werking van sy krag.” (Ef. 3: 5-720);

…op grond van die hoop wat in die hemel op julle wag. Julle het al hiervan gehoor toe die woord van die waarheid, die evangelie, julle bereik het. Soos oral in die wêreld, het die evangelie, van die dag dat julle van God se genade gehoor en dit werklik verstaan het, ook onder julle begin vrug dra en groei.”(Kol. 1: 5-620);

…Hoe julle omgedraai het na God, weg van die afgode, om die lewende en ware God te dien, en om sy Seun wat Hy uit die dode opgewek het, uit die hemel te bly verwag – Jesus, wat ons red uit die oordeel wat kom.” (1 Thes. 1: 9-1020);

Nog net dit: Tree so op dat dit die evangelie van Christus waardig is, sodat, of ek kom en julle sien, of nie teenwoordig is nie, ek aangaande julle omstandighede mag hoor dat julle in één gees vasstaan, en een van hart en siel saam stry vir die geloof in die evangelie,…” (Fil. 1: 2720)

Stof tot nadenke: Genadegawes

Genadegawes - Stof tot Nadenke

Maar die vrug van die Gees is: liefde, blydskap, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.

(Gal. 5: 2220)

Genadegawes van die Gees

Naas die genadegawe van die Verlossingsdaad van Jesus Christus, het God die Vader, deur Jesus Christus, ook die gawe van die Trooster vir ons bewillig. Deur hierdie genadegawes, het die Vader dit vir ons moontlik gemaak, om die vrugte van die Gees in ons lewens te ervaar.

Teksverse:

Petrus antwoord hulle: “Bekeer julle, en laat elkeen van julle in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van julle sondes gedoop word, en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang.” (Hand. 2: 3820)

Vrug van die Gees

Die vrugte van die Gees word een vir een vir ons in Galasiërs 5: 22 genoem.

  1. Liefde

Daar is verskillende verwysings en woorde om die liefde te beskryf in die Bybel, nl. Eros, Philia, Storge en Agape. Die eerste drie is beskrywings vir ons menslike liefde vir mekaar en vir familie en vriende. Die Agape liefde is egter slegs eie aan die Christendom.

Dit dui op ‘n “onoorwinlike welwillendheid; dat wat iemand ook al aan ons doen deur belediging, pyniging of vernedering, ons niks anders sal soek as wat in dié persoon se beswil is nie.” Dit beskryf die doelbewuste poging – wat ons alleen deur die genade en hulp van God kan regkry – om nooit iets anders as die beste te soek, selfs vir diegene wat die slegste vir ons soek nie.

Die liefde vra altyd: “Wat is die beste, kosbaarste en edelste wat ek kan gee?”

2. Blydskap

Dis so maklik om vrolik en bly te wees wanneer alles om ons goed gaan, maar wanneer dinge begin swaar gaan, verloor ons so dikwels ons lewensvreugde. Habakuk wys ons egter daarop dat al verloor mens alles, al werk niks uit soos jy verwag het nie, kan ‘n mens juig in God, ons Redder. Die Heilige Gees help ons om die krag van vreugde te ontdek.

Wanneer jou lewe deur die genade van God, die bloed van Jesus Christus en die werking van die Heilige Gees gereinig is, sal die vreugde in jou hart jou verstom. Dan sal ons ook soos die Psalmdigter kan getuig: “U wys my die pad van die lewe: oorvloedige vreugde in u teenwoordigheid, lieflikhede in u regterhand, vir altyd.” (Ps. 16: 1120)

3. Vrede

Die vrede van Christus is enig in sy soort, en heeltemal anders as die vrede wat die wêreld ons bied. Dis volkome en oorspan ons hele lewe. Dis ‘n vrede wat selfs te midde van swaarkry jou lewe deurspek. Dis konstant en wissel nie na aanleiding van ons emosionele toestand nie.

Bid dat die Heiige Gees jou hart brandend van verlange sal maak om hierdie vrug as deel van jou lewe te hê.

4. Geduld

Geduld word baie mooi deur Solly Ozrovech beskryf: ‘Dit is volharding wat nooit vrede maak met neerlaag of teleurstelling nie.’ Soos God met ons geduld gehad het deur die eeue, moet ons ook geduld met mekaar hê.

Ook hierdie vrug van die Gees kan ons van Hom vra. Geduld is ‘n noodsaaklikheid in hierdie ongeduldige wêreld. Dit help mens om elke situasie in en om jou te hanteer. Dit gee ons ook ‘n sekerheid van oorwinning. As ongeduld in jou lewe inkruip, vra vir die krag van die Gees om dit te bowe te kom.

Groei in geduld sal jou beskerm teen onreg wat jou aangedoen word, en dit laat die wêrerld onmagtig om jou verder te pynig.

5. Vriendelikheid

Dit is ‘n noodsaaklike deel van die lewe. Dis is ‘n doodgewone vrug van die Gees, maar tog ook uitsonderlik! Dit onderskryf die ander vrugte van die Gees. Ons moet Christus se gesindheid in ons dra. Die Afrikaanse gesegde: ‘Vriendelikheid kos niks’ omskryf dit so goed.

‘n Vriendelike woord kan ‘n heerlike verandering in ‘n ander mens se lewe maak!

6. Goedhartigheid

Goedhartigheid begin wanneer ons ‘n ander se nood en behoeftes raaksien. Die verhaal van die barmhartige Samaritaan, is die duidelikste voorbeeld hiervan. Hierdie vrug van die Gees is een van die ses vrugte wat verband hou met ons optrede teenoor ons medemense. Hetsy of hulle arm, verwerptes, sondaars of enige ander mens is, wat ons pad mag kruis.

Wees fyn ingestel op die behoeftes van ander, net soos Jesus Christus dit so wonderlik aan ons kom demonstreer het. Hy het ander mense raakgesien, en hulle nood en pyn besef en daarop gereageer met ‘n welwillendheid wat ons as mens soms verstom. Dit help ons om mense deur ander oë te beskou!

7. Getrouheid

God verwag van ons om getrou te bly aan Hom. Hy was getrou tot die dood van Jesus Christus aan die kruis, sodat ons verlos kan word. So verwag Hy dat ons aan Hom getrou sal bly.

Cicero het reeds in die vroegste tye genoem dat ‘Niks is edeler, niks is eerbaarder, as getrouheid nie. Getrouheid en waarheid is die mees geheiligde gawes van die menslike denke’ en Moeder Teresa se woorde: ‘God het ons nie geroep tot sukses nie, maar tot getrouheid’ gee dit perspektief. Maak dus getrouheid die fondament van jou lewe!

8. Sagmoedigheid/Nederigheid

Daar is drie belangrike dinge wat ons aanspoor tot nederigheid: a) Die wete dat ons nietige skepsels is voor die Skepper Vader; b) Ons sondigheid voor die Verlosser en Redder, Jesus Christus; en c) Die besef dat ons as geheiligde voor ons heiligmaker, die Heilige Gees staan. Dis dan wanneer ons verhouding tot ons naaste in opregte nederigheid geleef kan word.

9. Selfbeheersing

Dit is die vermoë om volkome meester van jouself te wees. Alleen kan ons dit nie vermag nie. Dit is die vrug van die Gees wat jou in staat stel om in beheer van jou begeertes en hunkeringe te wees. Dit is ‘n deug waar ‘n mens die meeste van hom of haarself kan maak, in diens van ander.

Wanneer ons Jesus Christus in ons lewe inlaat en beheer oorgee, leer ons om onsself te beheer. Die vrug van die Gees wat ons sterk maak in die gewone gang van die lewe. Dis nie ‘n senuagtige gespanne selfbeheersing nie, maar natuurlik en gemaklik, onder leiding van die Heilige Gees.

Teksverse:

Geliefdes, laat ons mekaar liefhê, want die liefde is uit God, en elkeen wat liefhet is uit uit God gebore en ken God.” (1 Joht. 4: 720);

…nogtans sal ek jubel in die Here, sal ek juig in die God wat my verlos. Die Here, my Heer, is my krag, Hy maak my voete soos wildsbokke, op hoë plakke laat Hy my loop.” (Hab..3: 18-1920);

Vrede laat Ek vir julle na – my vrede gee Ek julle.” (Joh. 14: 2720);

…deur mekaar met volkome nederigheid en saggeaardheid, en met geduld in liefde te verdra, en julle daarop toe te lê om die eenheid wat die Gees bewerk, te bewaar deur die band van vrede.” (Ef. 4: 2-320);

Kommer in die hart van ‘n mens maak die hart neerslagtig, maar ‘n vriendelike woord beur dit op.” (Spr. 12: 2520);

Die vrug van die lig bestaan immers uit alle goedheid en geregtigheid en waarheid.” (Ef. 5: 920);

Wees getrou tot die dood toe, en Ek sal aan jou die oorwinnaarskrans van die lewe gee.” (Open. 2: 1020);

Versorg soos herders die kudde van God in jylle midde; hou toesig – nie uit plig nie, maar vrywillig, in ooreenstemming met die wil van God; n ie uit skandelike winsbejag nie, maar geesdriftig; nie baasspelerig oor hulle wat aan julle toevertrou is nie, maar as voorbeeld vir die kudde. En wanneer die Groot Herder verskyn, sal julle die erekrans van heerlikheid ontvang, wat nooit sal verwelk nie.” (1 Pet. 5: 2-420);

Maar ek dissiplineer my liggaam en maak dit diensbaar, sodat ek nie, terwyl ek vir ander gepreek het, dalk self gediskwalifiseer word nie.” (1 Kor. 9: 2720)

Mag elkeen van ons biddend die vrugte van die Heilige Gees vra!

Stof tot nadenke: ‘Loof en prys Hom’

Loof en eer Hom Stof tot Nadenke

…gevul met die vrug van geregtigheid deur Jesus Christus tot verheerliking en lof van God.

(Fil. 1: 1120)

Geloofsvreugde

Paulus se wens vir die Fillipense, dat hulle geloofsvreugde sal ervaar, is so ‘n pragtige beskrywing van die rede waarom ons die Vader, Seun en Heilige Gees kan loof en prys. Die genade wat ons as nietige mense ontvang het, omdat God ons so lief gehad het, dat Hy ons nie wou laat verlore gaan nie. Dit is genoeg om ons in vreugde te laat groei. Dit gee ons ook ‘n innerlike vrede.

Om uiting hieraan te gee is so oud soos die berge self. Dit Bybel het menige Psalms waarin daar gejubel word deur die digters. Hier word God se grootheid en getrouheid besing. Dit inspireer nog steeds mense wat tot geloof kom in Jesus Christus, wat sodoende ook die nabyheid van God beleef. Daar is nie keer aan die dankbaarheid wat oorgaan in ‘n skeppingsdrang om alle eer aan God te gee nie.

Liedboek 449 se woord van die 4de vers stel dit onomwonde:

Ons loof U, Vader, Seun en Gees, Ons wil U, Heer, gehoorsaam wees. Aan U behoort ons lewe. Heer driemaal heilig, hoor die lied, Drie-enig God, wat ons U bied -Sing lof, sing al wat lewe!

Die ryke verskeidenheid van liedere in menige tale spreek van ‘n diepe aanraking van gelowiges om tot eer van God te sing en Hom te prys.

Teksverse:

Juis omdat ek hiervan oortuig is, weet ek dat ek hier sal bly, ja, dat ek wel by julle almal sal bly, sodat julle vordering kan maak en geloofsvreugde ervaar.” (Fil. 1: 2520);

…sodat ek kan ingaan na die altaar van God, na die God wat my van blydskap laat jubel, en sodat ek U, o God, my God, kan prys met ‘n lier.” (Ps. 43: 420);

Juig tot eer van die Here, o ganse aarde! Dien die Here met blydskap, kom in sy teenwoordigheid met ‘n gejubel.” (Ps. 100: 1-220);

. ..dié wat deur die Here vrygekoop is, sal terugkeer, hulle sal in Sion aankom met jubelkrete – met ewige vreugde sal hulle gekroon wees. Blydskap en vreugde sal hulle oorweldig, en verdriet en ‘n gesug sal wegvlug.” (Jes. 35: 1020);

Mag die God van hoop julle deur julle geloof met alle blydskap en vrede vervul, sodat julle hoop oorvloedig kan word deur die krag van die Heilige Gees.” (Rom. 15: 1320);

Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie; en al sien julle Hom nie nou nie, glo julle in Hom en jubel julle met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap, omdat julle reeds deel het aan die doel van julle geloof, naamlik die verlossing van julle siele.” (1 Pet. 1: 8-920)

Dankbaarheid se uiting

Dit is wanneer mens tot die besef kom hoe groot die liefde van God vir ons as mens is, selfs te midde van moelike omstandighede, dat mens nie stil gemaak kan word nie. Paulus is so ‘n goeie voorbeeld. Hy wat te midde van vervolging en swaarkry, sy vertroue bly plaas het in God se hand.

Dit is God self wat die lofsange in ons harte plaas. Ons kan nie anders as om die lied en leiding van die Heilige Gees te volg nie. Hier is Liedboek 450 ‘n wonderlike voorbeeld van hoe liedere wat in opregtheid gesing word, geskep is om God te loof en Hom te prys vir Sy genade, so onverdiend!

Liedboek 450: Vers 2:

Woord uit Woord, Lig uit Lig, Kom as mens op aarde. Bo begrip, bo ons verstand is u grootheid, Heer. Eer die Vader, eer die Seun, eer die Gees as God en Heer. Eer ons God as Majesteit; Loof Hom tot in ewigheid.

Mag niemand ons stil kry, wanneer ons lof en eer aan God gee nie. Die lied en sang is ‘n wonderlike manier om God te loof en prys, maar ook ons lewens moet ‘n lofprysing tot eer van Jesus Christus se Verlossingsdaad wees. Hierin kan ons vertrou op die bystand van die Heilige Gees, wat die liefde van Christus in ons bewerk en die woorde in ons harte plaas.

Teksverse:

Lofwaardig is die God en Vader van ons Here Jesus Christus!” (1 Pet. 1: 320);

Jubel hieroor, al moes julle onlangs vir ‘n kort tydjie deur allerhande beproewings bedroef word.” (1 Pet. 1: 620);

Aan U kom ‘n lofsang toe, o God wat in Sion is; aan U moet geloftes betaal word. U wat gebede verhoor – na U moet alle mense kom.” (Joh. 14: 2620);

Hy het ‘n nuwe lied in my mond gelê, ‘n lofsang vir ons God.” (Ps. 40: 420)

Stof tot nadenke: Vervulling en Sekerheid

…Nee, laat die Gees julle vervul, en sing onder mekaar psalms en ander geestelike liedere; sing met julle hele hart tot eer van die Here. Dank God die Vader altyd oor alles in die Naam van ons Here Jesus Christus

(Ef. 5: 18-1920)

Vervulling met die Heilige Gees

Ons het as mense ‘n behoefte om deur die Heilige Gees vervul te word. As gelowige Christene weet ons dat die leiding van die Heilige Gees noodsaaklik is vir ons voortbestaan. Larry Christenson stel dit so goed: ‘Dit is die verskil tussen leef in die Gees en leef in die vlees. In die vlees kan ons sekere dinge aanleer en vaardig word daarin. In die Gees is ons enigste vaardigheid egter die vermoë om die Gees te kan hoor en sy leiding te volg’.

Hoe kry ons dit reg? Duidelik nie uit ons eie krag nie. Ons kan net ons afhanklikheid van God se genadegawe besef en bid dat ons deur die Heilige Gees vervul word. Om tot hierdie besef te kom moet ons leeg word van ons eie ek! Ons moet ons swakhede besef en in nederigheid en opregtheid voor God neerbuig.

Die besef dat ons verlos is deur Jesus Christus help ons op die pad na vervuling deur die Heilige Gees. Dit is juis die Heilige Gees wat ons dring om tot hierdie besef te kom. Hy lei ons na volkome oorgawe.

Teksverse:

As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee – die Vader in die hemel nog baie meer! Hy sal die Heilige Gees gee vir dié wat vra.” (Luk. 11: 1320);

Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.” (Hand. 1: 820);

Toe antwoord Petrus hulle: “Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus, en God sal julle sondes vergewe en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang.”” (Hand. 2: 3820);

”En nou, Here, kyk hoe dreig hulle ons. Gee dat u dienaars met volle vrymoedigheid u woord sal verkondig. Laat u hand genesing bring, en laat daar tekens en wonders plaasvind deur die Naam van u heilige Dienaar, Jesus.” Nadat hulle gebid het, het die plek waar hulle bymekaar was, geskud. Hulle is almal met die Heilige Gees vervul en het met vrymoedigheid die woord van God verkondig.” (Hand 4: 29-3120)

Beheer deur die Heilige Gees?

Dit is wanneer ons toelaat dat die Heilige Gees ons suiwer. Wanneer ons in gebed vra dat die Heilige Gees al meer en meer beheer van ons lewe oorneem, dis dan dat God ons sal gee waarom ons vra. Dit is soms so moeilik om net oor te gee, maar die genade gawes wat saam met so ‘n oorgawe gaan, is kosbaar. Dis dan dat ons as gelowiges kan voortgaan, soms in baie moeilike omstandighede.

Wanneer ons ons harte volkome oorgee en toelaat dat die Heilige Gees beheer neem, dis wanneer ons nie eers hoef te wonder wanneer en wat om te sê in moeilike omstandighede nie. Die Heilige Gees gee die gedagtes, woorde en dade vir ons. Selfs wanneer ons die Woord nie altyd verstaan nie, lê die Heilige Gees vir ons die Waarheid oop, sodat ons kan verstaan.

Teksverse:

Wanneer hulle julle gryp om julle oor te lewer, moet julle julle nie vooruit bekommer oor wat julle sal sê nie, maar julle moet praat soos dit op daardie oomblik aan julle gegee sal word, want dit is nie julle wat praat nie, maar die Heilige Gees.” Mark. 13: 1120);

Daarop gee Johannes aan hulle die antwoord: “Ek doop julle met water, maar my meerdere kom, en ek is nie eers werd om sy skoene los te maak nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop.’” (Luk. 3: 1620);

…en wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.” (Joh. 14: 2620);

As julle julle lewe deur die sondige natuur laat beheers, gaan julle die dood tegemoet, maar as julle deur die Gees ‘n einde maak aan julle sondige praktyke, sal julle lewe. Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God.” (Rom. 8: 13-1420)

Kan ek sekerheid hê?

Kan ek sekerheid hê dat ek met die Heilige Gees vervul is? Jesus Christus, en geloof in Hom en sy verlossingsdaad, is wat my sekerheid kan gee!

Ons word egter tog gemaan om nugter en verstandelik wakker te wees vir enige aanslae om ons weg te ruk van God af. Ons moet heilig wees; dus afgesonder vir God. Ons moet in alles wat ons doen, dink en sê altyd bedag wees of dit tot verheerliking van God sal lei. Dis soms so moelik vir ons as mens, omdat ons dikwels nadenkend dinge sê en doen.

Ons moet ook bedag daarop wees om nie in geestelike hoogmoed ander wat nog nie geestelik volwasse is, te veroordeel nie. Ons kan eerder in afsondering bid vir enigiemand en van God vra dat so ‘n persoon ook in alle opsigte tot die regte insig sal bring. Ons moet mekaar se verskillende stadiums in geestelike groei, in liefde en begrip aanvaar, en vir mekaar ondersteun waar ons kan, onder die leiding van die Heilige Gees.

Teksverse:

Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie.” (Joh. 15: 520);

Wees daarom verstandelik wakker en nugter, en vestig julle hoop volkome op die genade wat julle deel sal word by die wederkoms van Jesus Christus.” (1 Pet. 1: 1320);

Nee, soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in julle hele lewenswandel heilig wees. Daar staan immers geskrywe: “Wees heilig, want Ek is heilig.” (1 Pet. 1: 15-1620);

Broers, ek verbeel my nie dat ek alles het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek uit na wat voor is. Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus. Ons almal wat geestelik volwasse is, moet hierdie gesindheid hê. En as julle in enige opsig anders daaroor dink – God sal ook hierin aan julle die regte insig gee.” (Fil. 3: 13-1520)

Strome lewende Water

Die strome van lewende water wat reeds in Jesaja beskryf word, kry ons van Jesus Christus. Dis alleen deur tot geloof in God, die Vader en die Seun, Jesus Chrustes, wat vir ons verlossing verseker het, dat ons strome van lewende water uit ons binneste kan laat vloei.

Dit is wat die Heilige Gees in ons lewens inbring as genadegawe van God. Laat elkeen van ons in aanbidding vra vir die bystand van die Heilige Gees. Soos Dwight L. Moody die so mooi stel: ‘As ‘n mens sonder die Heilige Gees ‘n Christelike lewe probeer lei, kan jy net sowel sonder ore probeer hoor of sonder longe probeer asemhaal. Dit is onmoontlik.

Teksverse:

Op die laaste dag, die groot dag van die huttefees, het Jesus daar gestaan en uitgeroep: “As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink! Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome van lewende water sal uiit sy binneste vloei.” Hiermee het Hy na die Gees verwys, want die mense wat tot geloof in Hom kom, sou die Gees ontvang….” (Joh. 7: 37-3920);

Die Here sal jou altyddeur lei; selfs in dor streke sal Hy in jou behoeftes voorsien. Hy sal jou sterk maak. Jy sal wees soos ‘n tuin met volop water, soos ‘n fontein waarvan die water nie opdroog nie.” (Jes. 58: 1120);

Stof tot nadenke: Die HERE se Seën

God het, nadat Hy sy Dienskneg Jesus laat opstaan het, Hom heel eerste na julle gestuur om julle te seën, deurdat Hy elkeen van julle sal laat wegdraai van julle booshede.

(Hand. 3: 2620)

Wat verstaan ons onder seën?

Ons het almal ‘n eie idee van wat die seën van die Here beteken. Vir sommige is dit om ‘n finansieël gevulde lewe sonder bekommernisse te hê. Vir ‘n ander is dit om ‘n vol en vervullende lewe met aansien te hê. Vir ‘n ander is dit om mateloos gelukkig te kan wees. Vir sommige is dit net om genoeg te hê om van te lewe, sonder oormaat. ‘n Ander vind dit in wat hulle sien in die natuur en die ander skeppingsmagte van God. So kan ons aangaan met wat ons persepsie van die Here se seën is.

‘n Aanhaling van Duke Ellington verwoord die persepsie van seën baie goed: ‘My ma het my vertel dat ek geseën is, en ek het haar altyd geglo. Om in ‘n vorstehuis gebore te wees kan nie vergelyk word met geseën wees nie. Vorstelikheid word geërf van ‘n ander mens; seën kom van God af’.

Ons het hierdie week weer die oorvloed van God se seën beleef! Dit laat ons soms sidder en beangs wees, as ons sien hoe God se beantwoording van gebede in so ‘n oormaat gebeur. Tog is dit so ‘n groot seën, ten spyte van al die skade aan mensgemaakte strukture. Ons damme is weer tot oorlopens toe vol. Die seemere in die omgewing is weer goed oopgespoel. Die lug is weer skoongewas van alle onsuiwerhede! En die aarde sê dankie vir elke druppel!

Teksverse:

Die seën van die Here – dit is wt ryk maak, en harde werk voeg daar niks by nie.” (Spr . 10: 2220);

Want grond wat die reën indrink wat telkens daarop val, en ‘n bruikbare oes voortbring vir hulle om wie se ontwil dit bewerk word, ontvang God se seën.” (Heb. 6: 720)

Wie het God geseën?

Ons lees dikwels van seëninge en aan wie dit toevertrou word. In die Ou Testament vind ons dikwels waar God vir Abram en sy nageslag seën. Ook waar God seën wegneem wanneer daar weggedwaal word van Hom af.

Dit klink so maklik, maar dikwels is ons ondankbaar of hoogmoedig. Daar word dikwels gedink dat die mens God nie nodig het nie. Dit is so hartverskeurend om sulke uitsprake te hoor. God is groot en goed. Daar is niemand soos Hy nie. Die Here is mildelik met sy seën as die mens regverdig is en soos ‘n kind glo.

Teksverse:

Ek sal jou ‘n groot nasie maak; Ek sal jou seën en jou naam groot maak, sodat jy ‘n seën sal wees. Ek sal hulle seën wat jou seën,…” (Gen. 12: 2-320);

Die Here se vervloeking rus op die huis van goddeloses, maar die tuiste van regverdiges seën Hy.” (Spr. 3: 3320);

Seëninge is bedoel vir die kop van ‘n regverdige, maar die mond van goddeloses verberg geweld.” (Spr. 10: 620);

Hulle het die kindertjies na Jesus gebring sodat Hy hulle kon aanraak, maar die dissipels het hulle berispe. Toe Jesus dit sien, was Hy verontwaardig en het vir hulle gesê : “Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nnie verhinder nie, want die koninkryk van God behoort aan mense soos hulle. Amen, Ek sê vir julle: Wie die koninkryk van God nie soos ‘n kindjie ontvang nie, sal beslis nie daar ingaan nie.: Hy neem hulle toe in sy arms en seën hulle terwyl Hy sy hande op hulle lê.” (Mark. 10: 13-1620)

Hoe hanteer ons God se seën?

Gebruik ons die seën wat ons van God ontvang om tot seën van ander te wees? Oswald Chambers het dit mooi verwoord: ‘As jy in Jesus glo, sal jy agterkom dat God deur jou magtige strome van seëninge vir ander gee.’ Ook Nina Smit stel dit baie goed: ‘Om bewus te wees van God se seën is een van die geheime van ‘n gelukkige lewe. Maar hierdie seën mag nie vir jouself gehou word nie. Jy moet dit ook deurgee na die mense om jou. Jy moet bereid wees om jou vreugdedae en vreugde uitsprake met jou vriende te deel’.

Hoe gereeld stuur jy jou vriende met ‘n seënwens weg? Die baie bekende Ierse seënwens is ‘n wonderlike voorbeeld hoe jy enigiemand wat jou pad kruis kan seën: ‘Mag die pad voor jou altyd reguit wees. Mag jy die wind altyd van agter kry. Mag die son jou gesig streel en die reën sag op jou lande uitsak. En – totdat ons weer ontmoet – mag God jou in die palm van sy hand vashou’.

Laat ons mekaar altyd net die beste toewens!

Teksverse:

Hy sal hulle wat vir die Here ontsag het, seën – die kleintjies saam met die grotes. Mag die Here julle meer maak, julle en julle kinders. Mag julle geseên word deur die Here wat hemel en aarde gemaak het.” (Ps. 115: 13-1520);

Mag die Here jou seën en jou beskerm. Mag die Here sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees. Mag die Here sy aangesig na jou toe oplig en aan jou vrede gee.” (Num. 6: 24-2620)

Jesus Christus, die seën van die Here

Die aanhaling van Johannes Calvyn beskryf God se seën baie mooi: ‘God het die aardse seëninge tot ons voordeel gemaak en nie tot ons nadeel nie. Hy het al hierdie dinge aan die mensdom gegee sodat hulle sy goedheid sal prys’.

God het ook elke mens geseën met sy liefde, deur ons genadig te wees en Jesus Christus in ons plek te laat sterf, sodat ons verlossing kan kry van ons sondeskuld. Die genade is so groot dat ons dit dikwels moeilik vind om te glo. Kan dit so maklik wees? Ja, dit kan.

God het die behoefte in ons harte geplaas om gedurig na Hom op soek te wees. Elkeen van ons moet net ons hande ophef na Hom en Sy seëninge ontvang in die vorm van genade en vrede!

Ons vier weer hierdie week die herinnering van die Hemelvaart, wat deur die mense wat dit beleef het vir ons nagelaat is. Ons kan dus seker wees dat Jesus Christus opgestaan het uit die dood, en ook opgevaar het na die hemel, waar Hy sit aan die regterhand van God die Vader. Daarmee saam is ook die Heilige Gees vir ons bewillig om ons by te staan totdat Hy weer kom.

Groter seën as hierdie is daar nie!

Teksverse:

Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy unieke Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.” (Joh. 3: 1620);

En mag die God van vrede, wat die groot Herder van die skape, ons Here Jesus, uit die dood uitgelei het deur die bloed van die ewiger verbond, julle toerus met alles wat goed is, sodat julle sy wil kan doen, terwyl Hy in ons dit doen doen wat voor Hom welbehaaglik is, deur Jesus Christus, aan wie die heerlikheid behoort, vir ewig, en ewig! Amen!” (Heb. 13: 20-2120);

Gaan dan en maak dissipels van al die nasies, deur hulle te doop in die Naam van die Vader en van die Seun en van die Heilige Gees, en hulle te leer om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae, tot aan die voleinding van die tyd.” (Matt. 28: 19-2020):

Stof tot nadenke: Vriendekring…

Vlug weg van die begeertes van die jeug en streef, saam met diegene wat die Here met ‘n rein hart aanroep, na regverdigheid, geloof, liefde en vrede.

(2 Tim. 2: 2220)

Hoe belangrik is vriendskap?

Elkeen van ons weet watter verskil ‘n goeie vriend in mens se lewe kan beteken. Soos Nina Smit dit so mooi stel: ‘’n Goeie vriend is so nodig soos ‘n goeie tandeborsel’. Dis iets wat die lewe die moeite werd maak, en waarsonder ons nie kan klaar kom nie. Ook die bekende anonieme aanhaling: ‘Baie mense sal in en uit jou lewe stap, maar net ware vriende laat hulle voetspore in jou hart’.

Dis daardie mense by wie jy aanklank vind. Nie noodwendig presies dieselfde as jy en al jou oortuigings nie, maar mense wat luister en regtig belangstel. Dit is harts-mense wat die lewe makliker maak vir jou. Dis mense wat jy vir jare nie hoef te sien nie, maar wanneer julle weer ontmoet, is dit asof julle mekaar gister laas gesien het. Dis mense wat jy kan vertrou!

Teksverse:

Ter wille van my broers en vriende sê ek graag: “Mag daar vrede in jou wees!” Ter wille van die huis van die HERE ons God wil ek die goeie vir jou nastreef.” (Ps . 122: 8-920);

Toe het Petrus hulle binnegenooi en as gaste verwelkom. En nadat hy die volgende dag gereedgemaak het, het hy saam met hulle vertrek, en sommige van die broers uit Joppe het hom vergesel. Die dag daarna het hy in Caesarea aangekom. Cornelius was hulle te wagte, en het reeds sy familie en naaste vriende bymekaar laat kom. Toe Petrus binnekom, het Cornelius hom tegemoetgegaan, voor sy voete neergeval en hom begin aanbid. Maar Petrus het hom opgehelp met die woorde: “Staan op, ek self is ook net ‘n mens.”” (Hand. 10: 23-2620)

Hoe kry ons dit reg?

Ook in die keuse van vriende vir ons aardse vriendekring, gee die Bybel duidelike riglyne. Kyk na die betroubaarheid van mense. Moenie vriende kies wat kommer in jou hart wakker maak nie. Moenie vriende kies wat humeurig of opvlieënd is nie, want mens word dikwels soos jou vriende. Waak daarteen om allemans vriend te wees!

‘n Ware, eerlike vriend is nader as ‘n broer aan ‘n mens. Ons word ook daarop gewys hoe belangrik dit is om vir jou vriende te bid. Net soos Job gedoen het, en guns in die oë van die Here gevind het.

Teksverse:

Wie in die geringste betroubaar is, is ook betroubaar waar dit om baie gaan,….” (Luk. 16: 1020);

Kommer in die hart van ‘n mens maak die hart neerslagtig, maar ‘n vriendelike woord beur dit op. ‘n Regverdige soek sy vriende uit,…” (Spr. 12: 25-2620);

Moenie vriende maak met ‘n humeurige mens nie, en met ‘n opvlieënde man moet jy nie saamgaan nie; anders raak jy vertroud met sy paaie en stel jy só ‘n valstrik vir jouself.” (Spr. 22: 2420);

’n Man met baie vriende word geruïneer, maar daar is ‘n geliefde vriend wat nader is as ‘n broer.” (Spr. 18: 2420);

Die Here het Job se lot verander toe hy vir sy vriende gebid het….” (Job 42: 1020)

Hoe behandel ons vriende?

Ons kan nie net van ander verwag om goeie vriende te wees nie. Dit is ook belangrik om gedurig daarna op te let hoe ’n goeie vriend jyself is. Kan mense jou vertrou? Dink hulle in dankbaarheid, liefde en verlange aan jou?

Paulus se skrywe aan die Fillipense verwoord sy ervaring van hulle vriendskap as mede gelowiges. Hy dank God vir hierdie mense wat hom deur dik en dun bygestaan het in goeie en moeilike omstandighede! Hy noem ook dat hy duidelik die werk van die Here in hulle lewens ervaar. Wat ‘n wonderlike getuigskrif is dit nie vir die Gemeente van Filipi nie?

Teksverse:

Genade vir julle en vrede van God, ons Vader, en die Here Jesus Christus. Ek dank my God elke keer as ek aan julle dink. Altyd, in elke gebed van my vir julle almal, bid ek met blydskap oor julle deelname aan die evangelie, van die eerste dag af tot nou, juis hiervan oortuig dat Hy, wat ‘n goeie werk in julle begin het, dit sal voltooi tot op die van Christus Jesus. Dit is immers vir my reg om so oor julle almal te dink, omdat ek julle in my hart hou.” (Fil. 1: 2-720)

Jesus Christus se vriendekring

Die liefde wat Jesus Christus vir sy naby vriende, asook almal wat nie in sy direkte vriendekring was nie, word telkens vir ons uitgebeeld in hoe Hy mense hanteer het. Watter vooreg was dit nie vir die apostels en ander naby vriende nie!

Hy het alles wat God die Vader aan Hom toevertrou het, met hierdie naby vriende gedeel. Al is Hy bietjie voorskriftelik daarin dat hulle Sy bevele moet navolg, doen Hy dit met liefde. Hy wys ons daarop hoe belangrik dit is om grehoorsaam aan die Vader te wees, want dit is hoe ons in die liefde kan bly.

Ons weet dat daar geen groter liefde is om jou lewe af te lê vir jou vriende nie, maar Christus se liefde was groter. Almal van ons wat Hom nie fisies geken het nie, en wat Hom as Verlosser aanvaar het, ook vir ons het Hy Sy lewe afgelê. Ons kan net in dankbaarheid die liefde van Jesus Christus aanvaar en so deel word van Sy vriendekring!

Teksverse:

Julle is my vriende as julle doen wat Ek julle beveel. Ek noem julle nie meer slawe nie, omdat ‘n slaaf nie weet wat sy eienaar doen nie. Ek het julle egter vriende genoem, omdat Ek alles wat Ek by my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het.” (Joh. 15: 14-1520);

Net soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Bly dan in my liefde. As julle my gebooie onderhou, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die opdragte van my Vader gehoorsaam het en in sy liefde bly.” (Joh. 15: 9-1020):

Groter liefde as dit het niemand nie, dat iemand sy lewe aflê vir sy vriende.” (Joh. 15: 1320)

Stof tot nadenke: Wees Blymoedig

…as onbekendes, en tog goed bekend, as sterwendes – maar kyk, ons leef; as gekastydes, wat tog nie doodgemaak word nie; as bedroefdes, maar altyd blymoedig, as armes, maar wat baie ander mense ryk maak, as mense wat niks het nie, en tog alles besit.

(2 Kor. 6: 920)

Blymoedigheid

Wanneer ons in die woordeboek kyk na die definisie vir Blymoedigheid lei dit na die beskrywing dat dit “‘n toestand van innerlike vreugde is”. Daarteenoor is Blydskap ‘n diepgaande emosie of gevoel van intense geluk, vreugde en tevredenheid. Blymoedig daarmee saam beteken om opgewek, vrolik, vriendelik en vol lus vir die lewe te wees, dikwels ten spyte van terugslae of moelike omstandighede.

Dit verklaar die motto van vrolike mense ‘Lag en die wêreld lag saam, huil en jy huil alleen.’ baie goed.

Dit dui op ‘n vreugdevolle lewensstyl. In sonskyn dae, maar ook in die donker seerkry dae. Ons almal verkies mense wat in intense innerlike vreugde het. Dit is soveel makliker vir ons wanneer ons na vrolike mense luister, as om die swaar van ‘n ander aan te hoor.

Dit is egter nie die mees korrekte ding om te doen nie. Ons moet ook na ander se swaarkry en seer kan luister. Ons moet hulle kan bemoedig en ondersteuning gee in moeilike omstandighede. Ons moet leer om sonder kla en teenpraat, kan skyn vir Christus as kinders van God.

Teksverse:

…boonop, dit geld vir elke mens aan wie God rykdom en besittings gee om daarvan te geniet, om dit as beloning te ontvang en vrolik te wees by sy inspanning. Dit is ‘n gawe van God. Want hy dink nie baie aan sy lewensdae nie: God laat hom besig bly met wat sy hart verbly.” (Pred. 5: 18-1920);

Al die lewensdae van ‘n magtelose is sleg, maar vrolikheid van hart is ‘n voortdurende fees.” (Spr. 15: 1520);

Helder oë verheug die hart, ‘n goeie berig verfris die liggaam.” (Spr. 15: 3020);

Doen alles sonder kla en teenpraat, sodat julle sonder blaam kan wees, kinders van God, smetteloos, te midde van ‘n krom en ontaarde geslag. Julle skyn onder hulle soos sterre in die heelal.” (Fil. 2: 14-1520)

Hoe kry ons dit reg?

Kan ons self hierdie vreugde in ons harte dra? Nee stellig nie. Dit is ‘n genaddegawe van God. Sonder die vrede van die Verlossing van Christus, val ons so dikwels terug in die moedeloosheid wat hierdie lewe in ons wek. Wanneer ons egter ons afhanklikheid van God, die Vader, die Verlosser Seun en die leiding van die Heilige Gees besef, doen ons dinge nie meer vir ons eie plesier nie. Dit is wanneer ons die lewe in die oë kan kyk.

Dit is dan wanneer ons soos die Psalmdigter kan sê “Begelei my op die pad van u bevele, want daarin vind ek vreugde.”. Ons sal dan ook soos Paulus kan besef dat die lewe vir ons Christus is, en die sterwe wins.

Wanneer ons besef ons hoef nie meer mense te beïndruk nie. Dat alles wat ons doen: is vir God, want by God is daar ‘n toevlugsoord en veiligheid; en daarmee saam oorvloedige vreugde.

Teksverse:

Slawe, wees met vrees en bewing aan julle aardse eienaars gehoorsaam, met opregte harte, soos aan Christus – nie met lippediens om mense se guns te wen nie, maar as slawe van Christus wat die wil van God van harte doen, terwyl julle met blymoedigheid julle diens verrig, soos vir die Here, en nie vir mense nie.” (Ef. 6: 5-720);

U wys my die pad van die lewe: oorvloedige vreugde in u teenwoordigheid, lieflikhede in u regterhand, vir altyd.” (Ps. 16: 1120);

”Bedaar en erken dat Ek God is, Ek is verhewe bo die nasies, Ek is verhewe bo die aarde.” Die Here, Heerser oor alle magte, is met ons, ‘n toevlugsoord is die God van Jakob vir ons.” (Ps. 46: 11-1220);

Here, onderrig my in die pad van u voorskrifte, sodat ek enduit daarby kan hou. Gee my insig, sodat ek by u wet kan hou, dit met my hele hart kan nakom. Begelei my op die pad van u bevele, want daarin vind ek vreugde.” (Ps. 119: 33-3520)

Die Liefde wat God ons gee

Wanneer ons onsself verloor en alles doen vir die Here, dis dan wat ons hierdie liefde van God ontvang. Die liefde wat alles bedek, alles glo en alles hoop, en alles verduur.

Die liefde faal nooit wanneer dit ons uitgangspunt van die lewe en vir ander mense is. Dit is die Agapé liefde wat ons alleen kan hê, wanneer ons dit onder leiding van die Heilige Gees kry.

Soos Paulus dit ook so mooi stel in Kolossense: Die liefde is die band wat alles volmaak saambind. Dit gee ons ook ‘n vrede in ons harte wat dit maklik maak om blymoedig te wees!

Teksverse:

…is nie bly oor onreg nie, maar is saam bly oor die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verduur alles. Liefde faal nooit nie.” (1 Kor. 13: 6-820);

Maar beklee julle, bo en behalwe al hierdie dinge, met die liefde, wat die band is wat alles volmaak saambind. Verder laat die vrede van Christus in julle harte regeer.” (Kol. 3: 14-1520)

Stof tot nadenke: God se Vergifnis

As U sondeskuld toereken Here – my Heer, wie kan dan staande bly? Maar by U is daar vergifnis, sodat U ontsag afdwing.

Ps. 130: 3-420

Ons sondeskuld

Elkeen van ons is in sonde ontvang en gebore. Nie een van ons kan ons daarop beroem dat ons nog nooit verkeerde dade gepleeg het nie. Ons leef dikwels in ‘n wanhoop oor dié dinge wat ons verkeerd gedoen het, en dit is so dikwels die moeilkikste om onsself te vergewe.

Ons kan in ons sondeskuld net voor God ons koppe in skaamte laat sak. Hier spreek Lied 239 van die Liedboek se derde vers so goed vir ons:

Leeg, net met my sondelas, hou ek aan U verdienste vas. Ek kom om vergewing vra; U het ook my skuld gedra! U, geslaan tot heilsfontein, wás my, Heiland, maak my rein!

Ook die Psalmdigter, Daniel en Jesaja het geweet dat vergifnis alleen by God te kry is. Dit is God wat na ons toe afbuig en verligting bring. Selfs al het ons baie gely, en pyn en hartseer beleef op die pad, het God ons lief. Hy gee ontferming en vergifnis. Ons moet net glo dat Jesus Christus vir ons sondes gesterf het!

Teksverse:

Here, by ons is daar gesigte vol skaamte – by ons konings, ons hoë amptenare en ons voorouers, omdat ons teen U gesondig het; by my Heer, ons God, is daar ontferming en vegifnis.” (Dan. 1: 8-920);

Kyk, tot vrede het my intense bitterheid gelei; U self het my lewe teruggehou van die kuil van vernietiging, ja, U het al my sondes die rug toegekeer.” (Jes. 38: 1720);

Dit was vir my goed om soveel te ly; U het my lief, U het my uit die dood gered; U het al my sondes vergewe. ” (Jes. 38: 1783)

God se vergifnis

God het na die mens gekom en verbond gesluit. Hy, wat ewig getrou is, beloof dat Hy Sy wet in ons harte sal vaslê. Hy beloof om ons van ons sondeskuld te vergewe. Tot so ‘n mate dat Hy nie weer daaraan sal dink nie. God die Vader en Skepper. Hy wat alles hier op aarde in ritme hou.

God het selfs Sy geliefde Seun gestuur om ons van ons sondeskuld te bevry. Dit was nodig omdat vergifnis nie plaas vind sonder die bloedvergieting nie. Dit was egter die finale bloedvergieting. Daardie een offer van Jesus Christus kan ons elkeen as Verlosser aanvaar. Daardeur het ons God se vergifnis van sondes ontvang.

Christus self het vir ons gewys hoe maklik dit is vir Hom, as gestuurde van God die Vader, om sondes te vergewe en nie meer daarna te verwys nie. Hy het ‘n verlamde man laat opstaan en loop, tot die verbasing van toekykers. Christus was bereid om hierdie dinge te doen, omdat dit tot eer en verheerliking was van die Vader, sodat dit opgeteken kon word vir ons, wat dit nie self beleef het nie.

Teksverse:

”Nee dít is die verbond wat Ek ná daardie dae met die huis van Israel sal sluit, “is die uitspraak van die Here: “Ek sal my wet in hulle binneste gee, en dit op hulle harte skryf. Ek sal vir hulle ‘n God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees. Hulle sal nie meer elkeen sy medemens of sy broer leer en sê, ‘Ken die Here!’ nie, want hulle almal sal My ken, van die kleinste tot die grootste onder hulle,” is die uitspraak van die Here. “Want Ek sal hulle sondeskuld vergewe en aan hulle sonde sal Ek nie weer dink nie.: So sê die Here, wat die son bedags as lig gee, die vaste voorskrifte vir die maan en sterre as ligte snags, Hy wat die see in beweging bring, sodat sy golwe dreun; die Here, Heerser oor alle magte is sy naam:…” (Jer. 31: 33-3520);

God het ons uit die mag van duisternis gered, en verplaas na die koninkryk van sy geliefde Seun – deur wie ons bevryding, die vergifnis van sondes ontvang het.” (Kol. 1: 13-1420);

Feitlik alles is volgens die wet met bloed greinig; ja, sonder bloedvergieting vind geen vergifnis plaas nie.” (Heb. 9: 2220);

Want deur een offer het Hy hulle wat geheilig word, vir altyd vervolmaak. Ook die Heilige Gees getuig teenoor ons; want nadat Hy gesê het, “Dit is dan die verbond wat Ek ná daardie dae met hulle sal sluit, sê die Here: Ek sal my wette in hulle harte gee, en dit op hulle verstand neerskryf,” sê Hy ook: “Aan hulle sondes en aan hulle wettelose dade sal Ek glad nie meer dink nie.” Waar daar vergifnis hiervoor is, word ‘n offer vir sondes nie meer gebring nie.” (Heb. 10: 15-1820);

Wat is makliker, om vir die verlamde te sê, ‘Staan op, tel jou slaapmat op en loop’? Maar sodat julle kan weet dat die Seun van die Mens volmag het om op aarde sondes te vergewe…” (Mark. 2: 9-1020)

Die Heilige Gees

God die Vader het ook vir ons die Heilige Gees bewillig om ons te lei en te leer, na die hemelvaart van die verheerlikte Messias. Hy laat ons nooit alleen nie. Hy help ons om nader en nader aan Hom te groei. Ons moet egter besef dat ons dit nie uit ons eie krag kan bekom nie. Dit is genade alleen wanneer God ons die sonde nie meer toereken nie. En Jesus waarsku ons dat daar een sonde is wat ewig is, naamlik lastering teen die Heilige Gees.

Laat ons daagliks ons afhanklikheid aan God die Vader, die Verlosser Seun, en die Heilige Gees ons Trooster en Leidsman, bely; deur Hom in ons wandel en handel te verheerlik.

Teksverse:

Ek sê vir julle: Alle sondes en lasteringe wat mense ook al uitgespreek het, sal hulle vergewe word, maar wie teen die Heilige Gees laster, kry tot in ewigheid geen vergewing nie, maar bly skuldig aan ‘n ewige sonde.” (Mark. 3: 28-2920);

Iemand wat egter nie werk nie, maar glo in die Een wat die goddelose regverdig verklaar – vir hom word sy geloof as regverdiging toegereken. So noem ook Dawid die mens geseënd vir wie God regverdiging toereken, sonder werke: “Gelukkig is hulle wie se wettelose dade vergewe, en wie se sondes bedek is; Gelukkig is die mens vir wie die Here die sonde hoegenaamd nie toereken nie.”” (Rom. 4: 6-820)

Stof tot nadenke: Stap saam met Christus!

Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is.

2 Kor. 3: 1883

Glo deur saam te stap met Christus

In die tyd van Jesus Christus hier op aarde, was daar menige mense wat die wonderlike voorreg beleef het om Hom persoonlik te ken. Hulle het elke dag saam met Hom geleef en gewandel in die jare wat Hy tot voorbereiding van Sy kruisdood was. Vir hulle was dit ‘n onvergeetlike belewenis. Die belewenisse was asemrowend, soos die stap op die rowwe see, en tog was Hy altyd gerustellend. Vir hulle was dit soms onverstaanbare gebeure en vertellinge. Die belewenisse het hulle tot geloof in Hom gebring, en Later kon hulle baie vertellinge en getuienisse beter verstaan.

Dan was daar menige ander wat lewensveranderende ontmoetings met Jesus Christus gehad het, soos bv. die blinde man wat weer kon sien. Of die Samiritaanse vrou, waar haar hele lewe verander is. Dit was, en is nog steeds, die effek wat Jesus Christus op almal gehad het. Niemand kan onaangeraak bly nie.

Daar was ook die menigtes wat na Jesus Christus se leerstellinge en getuienisse geluister het. Die verdeling van die brood en vis, is hiervan ‘n wonderlike voorbeeld.

Daar was ook dikwels twyfel onder Sy navolgelinge, wanneer hulle nie verstaan het waarna Hy verwys nie. Maar Christus maak dit duidelik dat dit net deur die Gees is, dat iemand na Hom toe kan kom.

Teksverse:

Die volgende dag het Johannes (die Doper) en twee van sy dissipels weer daar gestaan. Toe Jesus verbyloop, het hy stip na Jesus gekyk en gesê: “Kyk, die Lam van God!” Die twee dissipels het hom dit hoor sê, en hulle het Jesus gevolg.” (Joh. 1: 35-3720);

Die volgende dag het Jesus besluit om na Galilea te gaan, en toe Hy Filippus teëkom, sê Hy vir hom: “Volg My!”” (Joh. 1: 4320);

Daar was ‘n man uit die geledere van die Fariseërs met die naam Nikodemus, ‘n leier van die Jode. Hy het in die nag na Jesus gekom en vir Hom gesê: “Rabbi, ons weet dat u ‘n leermeester is wat van God gekom het, want niemand kan hierdie tekens wat u verrig as God nie met hom is nie.”” (Joh. 3: 1-220);

”Hier is ‘n seun wat vyf garsbrode en twee visse het, maar wat is dit vir so baie mense?” Jesus het gesê: “Laat die mense sit.” Daar was baie gras op die plek. Toe die mans gaan sit – hulle was ongeveer vyfduisend in getal. Toe het Jesus die brode geneem, en nadat Hy die seëngebed uitgespreek het, het Hy dit laat uitdeel aan dié wat daar gesit het, en ook van die visse laat uitdeel, soveel as wat hulle wou hê.” (Joh. 6: 9-1120);

Toe hulle sowat vyf-en-twintig tot dertig stadion ver geroei het, sien hulle Jesus op die see loop en tot naby die boot kom, en hulle het bang geword. Maar Hy sê vir hulle: “Dit is Ek; moenie langer bang wees nie.”” (Joh. 6: 19-2020);

Verder het Hy gesê: Niemand kan na My toe kom as dit nie deur die Vader aan Hom gegee is nie.” (Joh. 6: 6520)

Glo die Woord

Johannes maak dit baie duidelik vir ons dat ons in die Woord van God moet glo. Niks wat bestaan, het nie deur God die Vader ontstaan nie. Jesus Christus is na hierdie wêreld gestuur, sodat ons mense kan leef. Dit omdat die Vader ons so lief gehad het!

Daar is geen twyfel dat Jesus Christus hierdie aarde bewandel en hier geleef het. Daarvoor is daar te veel getuies wat dit in daardie tyd beleef het. Ook die feit dat Hy uit die dood opgestaan het, is deur te veel mense beleef.

Daarom kan ook ons getuig dat ‘Christus wel opgestaan het!’ Ons kan ons dus gelukkig ag, omdat ons nie fisies daar was om ‘n pad met Jesus te loop nie, maar tog deur die Heilige Gees gedring is om te glo.

Teksverse:

In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was self God. Hy was in die begin by God. Alles het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het selfs nie een ding wat bestaan, ontstaan nie. In Hom was lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis kon dit nie uitdoof nie.” (Joh. 1: 1-520);

Toe sê Jesus vir hom: “Glo jy omdat jy My gesien het? Gelukkig is hulle wat nie gesien het nie. En tog tot geloof gekom het.” (Joh. 20: 2920);

Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie; en al sien julle Hom nie nou nie, glo julle in Hom, en jubel julle met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap.” (1 Pet. 1: 820);

Jesus het nog baie ander tekens voor sy dissipels gedoen wat nie in hierdie boekrol geskryf staan nie. Hierdie dinge is egter neergeskryf sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en dat julle deur te glo, die lewe in sy Naam kan hê.” (Joh. 20: 30-3120);

Dit het ek aan julle geskryf sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Naam van die Seun van God glo.” (1 Joh. 5: 1320)

Stap elke dag saam met Christus!

God die Vader het ons by Jesus se doop verseker, dat Hy Sy Unieke Seun is, wat Hy lief het. Jesus self het telkemale mense wat Sy pad gekruis het, verseker dat Hy die Messias is. Laat ons ook soos die blinde man uitroep: “Ek glo Here!”

Laat ons elke, enkele dag, die pad in gees saam met Christus stap. Dan sal ons al hoe meer na Sy beeld omvorm word. Dan sal die wêreld kan sien, en weet, dat ons ook vandag en nou, Christus navolgers is. Sodat ons ook waarlik kan lewe!

Teksverse:

Daar kom egter ‘n tyd, en dit is nou, dat die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid, want die Vader wil juis sulke aanbidders hê. God is Gees, en wie Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid. Die vrou sê vir Hom: “Ek weet die Messias kom wat Christus genoem word. Wanneer Hy kom, sal Hy alles aan ons bekend maak” Jesus sê vir haar: “Ek Is, is die Een wat met jou praat.”” (Joh. 4: 23-2620);

Jesus het gehoor dat hulle hom uitgeban het, en toe Hy hom raakloop, het Hy gevra: “Glo jy in die Seun van die Mens?” Hy het geantwoord: “Wie is Hy, Meneer, sodat ek in Hom kan glo?” Jesus het vir Hom gesê: “Jy kyk na Hom. Hy wat met jou praat, dit is Hy. Toe sê hy: “Ek glo Here!” En hy het Hom aanbid.” (Joh. 5: 37-3820)