Stof tot nadenke: Vriendekring…

Vlug weg van die begeertes van die jeug en streef, saam met diegene wat die Here met ‘n rein hart aanroep, na regverdigheid, geloof, liefde en vrede.

(2 Tim. 2: 2220)

Hoe belangrik is vriendskap?

Elkeen van ons weet watter verskil ‘n goeie vriend in mens se lewe kan beteken. Soos Nina Smit dit so mooi stel: ‘’n Goeie vriend is so nodig soos ‘n goeie tandeborsel’. Dis iets wat die lewe die moeite werd maak, en waarsonder ons nie kan klaar kom nie. Ook die bekende anonieme aanhaling: ‘Baie mense sal in en uit jou lewe stap, maar net ware vriende laat hulle voetspore in jou hart’.

Dis daardie mense by wie jy aanklank vind. Nie noodwendig presies dieselfde as jy en al jou oortuigings nie, maar mense wat luister en regtig belangstel. Dit is harts-mense wat die lewe makliker maak vir jou. Dis mense wat jy vir jare nie hoef te sien nie, maar wanneer julle weer ontmoet, is dit asof julle mekaar gister laas gesien het. Dis mense wat jy kan vertrou!

Teksverse:

Ter wille van my broers en vriende sê ek graag: “Mag daar vrede in jou wees!” Ter wille van die huis van die HERE ons God wil ek die goeie vir jou nastreef.” (Ps . 122: 8-920);

Toe het Petrus hulle binnegenooi en as gaste verwelkom. En nadat hy die volgende dag gereedgemaak het, het hy saam met hulle vertrek, en sommige van die broers uit Joppe het hom vergesel. Die dag daarna het hy in Caesarea aangekom. Cornelius was hulle te wagte, en het reeds sy familie en naaste vriende bymekaar laat kom. Toe Petrus binnekom, het Cornelius hom tegemoetgegaan, voor sy voete neergeval en hom begin aanbid. Maar Petrus het hom opgehelp met die woorde: “Staan op, ek self is ook net ‘n mens.”” (Hand. 10: 23-2620)

Hoe kry ons dit reg?

Ook in die keuse van vriende vir ons aardse vriendekring, gee die Bybel duidelike riglyne. Kyk na die betroubaarheid van mense. Moenie vriende kies wat kommer in jou hart wakker maak nie. Moenie vriende kies wat humeurig of opvlieënd is nie, want mens word dikwels soos jou vriende. Waak daarteen om allemans vriend te wees!

‘n Ware, eerlike vriend is nader as ‘n broer aan ‘n mens. Ons word ook daarop gewys hoe belangrik dit is om vir jou vriende te bid. Net soos Job gedoen het, en guns in die oë van die Here gevind het.

Teksverse:

Wie in die geringste betroubaar is, is ook betroubaar waar dit om baie gaan,….” (Luk. 16: 1020);

Kommer in die hart van ‘n mens maak die hart neerslagtig, maar ‘n vriendelike woord beur dit op. ‘n Regverdige soek sy vriende uit,…” (Spr. 12: 25-2620);

Moenie vriende maak met ‘n humeurige mens nie, en met ‘n opvlieënde man moet jy nie saamgaan nie; anders raak jy vertroud met sy paaie en stel jy só ‘n valstrik vir jouself.” (Spr. 22: 2420);

’n Man met baie vriende word geruïneer, maar daar is ‘n geliefde vriend wat nader is as ‘n broer.” (Spr. 18: 2420);

Die Here het Job se lot verander toe hy vir sy vriende gebid het….” (Job 42: 1020)

Hoe behandel ons vriende?

Ons kan nie net van ander verwag om goeie vriende te wees nie. Dit is ook belangrik om gedurig daarna op te let hoe ’n goeie vriend jyself is. Kan mense jou vertrou? Dink hulle in dankbaarheid, liefde en verlange aan jou?

Paulus se skrywe aan die Fillipense verwoord sy ervaring van hulle vriendskap as mede gelowiges. Hy dank God vir hierdie mense wat hom deur dik en dun bygestaan het in goeie en moeilike omstandighede! Hy noem ook dat hy duidelik die werk van die Here in hulle lewens ervaar. Wat ‘n wonderlike getuigskrif is dit nie vir die Gemeente van Filipi nie?

Teksverse:

Genade vir julle en vrede van God, ons Vader, en die Here Jesus Christus. Ek dank my God elke keer as ek aan julle dink. Altyd, in elke gebed van my vir julle almal, bid ek met blydskap oor julle deelname aan die evangelie, van die eerste dag af tot nou, juis hiervan oortuig dat Hy, wat ‘n goeie werk in julle begin het, dit sal voltooi tot op die van Christus Jesus. Dit is immers vir my reg om so oor julle almal te dink, omdat ek julle in my hart hou.” (Fil. 1: 2-720)

Jesus Christus se vriendekring

Die liefde wat Jesus Christus vir sy naby vriende, asook almal wat nie in sy direkte vriendekring was nie, word telkens vir ons uitgebeeld in hoe Hy mense hanteer het. Watter vooreg was dit nie vir die apostels en ander naby vriende nie!

Hy het alles wat God die Vader aan Hom toevertrou het, met hierdie naby vriende gedeel. Al is Hy bietjie voorskriftelik daarin dat hulle Sy bevele moet navolg, doen Hy dit met liefde. Hy wys ons daarop hoe belangrik dit is om grehoorsaam aan die Vader te wees, want dit is hoe ons in die liefde kan bly.

Ons weet dat daar geen groter liefde is om jou lewe af te lê vir jou vriende nie, maar Christus se liefde was groter. Almal van ons wat Hom nie fisies geken het nie, en wat Hom as Verlosser aanvaar het, ook vir ons het Hy Sy lewe afgelê. Ons kan net in dankbaarheid die liefde van Jesus Christus aanvaar en so deel word van Sy vriendekring!

Teksverse:

Julle is my vriende as julle doen wat Ek julle beveel. Ek noem julle nie meer slawe nie, omdat ‘n slaaf nie weet wat sy eienaar doen nie. Ek het julle egter vriende genoem, omdat Ek alles wat Ek by my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het.” (Joh. 15: 14-1520);

Net soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Bly dan in my liefde. As julle my gebooie onderhou, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die opdragte van my Vader gehoorsaam het en in sy liefde bly.” (Joh. 15: 9-1020):

Groter liefde as dit het niemand nie, dat iemand sy lewe aflê vir sy vriende.” (Joh. 15: 1320)