“Hy (Jesus) sê vir hulle; “Volg My, en Ek sal julle vissers van mense maak! Hulle het onmiddelik hulle nette gelos en Hom gevolg.”
Matt. 4:19-20
Die opdrag van Jesus Christus aan sy eerste dissipels laat mens verbaas. Wie van ons sal alles waarmee ons besig is net so laat staan en agter Christus aanstap. En tog is dit die opdrag. Los alles agter waarmee jy jou dag vul, en volg my. Mens dink so dikwels dat dit beteken dat elkeen van ons nou ‘n prediker moet word, of ‘n sendeling of aktief die woord moet verkondig. Dit het egter ‘n hele paar jaar vir hierdie dissipels geneem, en dikwels sonder begrip, waarheen Christus met hulle oppad was. Dit was eers by die uitstorting van die Heilige Gees (Hand. 2) waar hulle duidelik en met oortuiging Christus se lewe begin verkondig en navolg het.
Ons word dikwels daaraan herinner dat elkeen van ons verskillende gawes ontvang het (Rom 12:6). Dit is hierdie gawes wat ons moet gebruik tot eer en verheerliking van God (Rom 11 35-36), want hierdie gawes en roeping van God is onherroeplik (Rom. 11:29). Die gawes wat ons ontvang kom van die Heilige Gees (1 Kor. 12:3) wat ons lei en krag gee om hierdie gawes reg te gebruik.
Wanneer ons ons hart vir die Here gegee het, en die Heilige Gees verblyf in ons harte geneem het, leef ons al meer en meer soos Christus, sodat die wêreld sal weet dat ons Sy kinders is. Ons moet dus soos die eerste dissipels die verkeerde of onbenullighede agter ons laat en voortgaan om Christus se voorbeeld na te volg. Wanneer ons dan by ‘n oop graf staan, sal almal wat agter bly weet dat dié persoon die wedloop voltooi en die oorwinning behaal het.
Elkeen van ons vervul dus ‘n rol in die verkondiging van Jesus Christus. Deur die gawe van prediking, die gawe om te dien, die gawe van tale, die gawe van genesing, die gawe van geloof, maar ons moet nooit vergeet dat Christus vir ons kom wys het hoe om volkome lief te hê. Dit is die grootste gawe van almal. Wanneer ons nie die liefde vir God en medemens nastreef en uitleef nie, het ons niksseggende klinkende metale en luidende simbale geword (1 Kor. 13), wat baie geraas maak, maar geen impak het waar dit saak maak nie.
Laat ons elkeen uitgaan en deur ons lewenswandel aktiewe vissers van mense wees.


