Net gou vra, indien daar op die Gebedsbrief gereageer word, stuur asseblief ‘n epos vir my na nuwedag@gmail.com anders gaan jou brief na almal op die gebedslys terug gestuur word.
Dankie dat julle bid en dankie vir elke brief, oproep en bemoediging. Ek waardeer dit oneindig baie.
Hierdie is ‘n ander wêreld as wat ek en Ockert saam geken het, ‘n ander Reni en ‘n ander Oekraine.
Die sorgelose dae van twee jaar gelede is vergete en om ons is daar oorlog, hartseer en soveel vrees. Ek ry Reni alleen binne en in my geestesoog sien ek die Reni van jare gelede. Die dae van vrede en vry wees. Die laning bome in die laatmiddag son. Vrede, rustigheid. Nou is dit padblokkades, soldate, gewere en loopgrawe. Groot yster versperrings in die paaie wat soos dubbeltjies oor die pad verstrooi is en waardeur jy stadig moet vleg. Die vragmotors wat by die hawe wag, trap diep modder spore langs die pad en versper die bad buite Reni. Soms sit ons vir twee ure voor ons Reni kan binne ry.
Party dae, soos vandag voel dit asof daar berge voor my is, waaroor ek nie kan kom nie. Wanneer ek na die berge kyk, groei vrees en wil dit my oorweldig. Ek mis ook vir Ockert so verskriklik baie en soms raak dit net te veel om te dra. Ek weet ek moet laat gaan, dit is al anper ‘n jaar en ‘n half gelede. Ek weet ek moet daaroor kom. Hoe kom mens ooit daaroor? Ek vra, wanneer die berge voor my staan, Here sal U hierdie berge net wegneem? My hulp en krag is in die Here. Sonder Hom sien ek nie kans nie. Ek het Hom so nodig om my elke dag te dra. Ek voel soms so swak en klein.
Vandag is dit 365 dae gelede wat ons 5 uur die oggend wakker gemaak is met die woorde: “Die oorlog het begin!”
Die eerste bomme het begin val en ons almal se lewens is drasties verander binne ‘n dag. Ek het soveel vrede gehad om te bly en net die Here te vertrou. Vandag wil ek net getuig van die Here se goedheid en getrouheid. Hy het ons elke dag beskerm, krag gegee en vir ons voorsien. Dankie vir julle gebede die afgelope jaar. Ek waardeer dit so baie. Dankie vir elke boodskap en bemoediging. Dankie vir elke bydrae wat dit moontlik maak om hier te wees en met die werk aan te gaan.
Vandag sou my en Ockert se 27ste Huweliksherdenking gewees het.
My hart is seer en ek mis hom so verskriklik baie, maar die Here het vir my die wonderlikste kinders gegee. Vanmore is ek wakker gemaak met die mooiste bos rose en scones wat Mari-Alena en my skoondogter Tanya vir my gemaak het. Tanya is Cilliers se Oekraniese vroutjie. Ek is dankbaar vir 25 jaar, vir die voorreg om Ockert se vrou te kon wees. Ek is dankbaar die die pragtige kinders wat die Here ons mee geseën het vir dit wat die Here hier in Reni besig is om te doen. Ek prys Sy naam dat Hy Sy kerk hier oprig om waarlik lig te wees in die donkerste tyd in Oekraine. Ek dank Hom vir elke dag wat Hy ons gee en beskerm in Reni. Die Here sê vir my dat Hy iets nuuts doen en dat ek vorentoe moet kyk en Hom moet vertrou.
Baie dankie vir elke gebed, elke boodskap, Skrif en bemoediging. Dankie vir elke inbetaling en ondersteuning. Ons waardeer dit oneindig baie. Dankie dat julle die pad saam met ons stap.
Meer en meer praat die Here met ons oor Jesaja 60.
“Staan op, skyn, want jou Lig het gekom en die Gemanifesteerde Teenwoordigheid van die Here het oor jou gekom, want let op, duisternis sal die aarde oortrek en ‘n diepe donkerheid die volke, maar die Here sal oor jou opkom en Sy Lig sal oor jou verskyn. Nasies sal na jou lig toe kom en konings na die helderheid van jou opkoms. Lig op jou oë en kyk rondom, hulle kom almal by mekaar, hull kom na jou toe.”
*Indien jy dalk ‘n boodskap aan die einde wil stuur, skryf asseblief vir my na: Nuwedag@gmail.com of Whatsapp na +380838126060
As jy net “reply” druk, kry almal op die verspreidingslys jou brief.
Baie dankie dat julle bid. Baie dankie vir elke bemoediging en boodskap. Baie dankie vir elke bydrae en donasie. Ek waardeer dit alles oneindig baie. Dit is julle wat die werk in Reni moontlik maak. Dankie dat ons saam ‘n span kan wees. Ons het geen sending organisasie of uitstuur gemeente wat ons ondersteun nie. Dit is net ons vriende en familie wat al die jare by ons staan. Vir 26 jaar en veral ook nou, die moeilikste jaar van die 26 jaar. Ek sou dit nooit alleen kon doen nie. Elke bemoediging is vir my so kosbaar en ek dank die Here dat jy in my lewe is. Ek is so verskriklik baie dankbaar.
Die Here se koms is so naby. Hy staan al voor die deur om Sy bruid te kom haal. Ons tyd is so min om die oes in te bring. Bid vir die Here van die oes vir meer werkers in Sy land. Bid ook dat die werkers nie sal moeg word of opgee nie. Vir elke dag se werk genoeg krag.
11 Oktober sal dit ‘n jaar terug wees wat die Here vir Ockert kom haal het. Ek kan dit nie dink nie. Dit voel soos gister. Pappa Hannes en mamma Magda het vir Benjamin Cor gevra om blomme op Ockert se graf te gaan sit terwyl hy in George by Philip en Andiah kuier. Bid asseblief vir my kinders en Ockert se ouers. Dit bly maar seer en ons verlang.
Die Here is so goed en getrou. Dit is my getuies. Hy dra ons elke dag. Hy sê in Sy Woord dat Hy ons onder Sy vlerke weg steek en ons beskerm teen elke plan van die vyand en Hy doen dit. Alle lof en eer aan ons Vader wat so vir ons sorg en voorsien. Dankie vir elkeen wat vir ons intree, wat vir ons bid en wat ons ondersteun op een of ander manier. Dankie dat ons as ‘n span en as ‘n eenheid saam kan werk. Elkeen op sy gegewe plek. Dit is soos die oorlog. Iemand is in die voorkant van die geveg, waar die bomme val, ander stuur, ander dra by op een of ander manier ander bid, todat die oorwinning daar is.
Meer as 6 maande hou hierdie oorlog aan en ons sien hoe Dawid teen die groot Goliat staan en dat die Here klein Dawid sterk maak teen die dreigement van die vyand.
Ons as gemeente hou steeds aan om vir die vlugtelinge kos te maak, te help met verblyf, kospakkies, klere en waarmee ons ook al kan. Meer mense vlug na Reni. Hulle noem Reni die “hemel” want hier is nie soveel sirenes nie en mens voel veilig hier. Ek glo met my hele hart dat dit 26 jaar se gebede is en die Here se teenwoordigheid in Reni. Al is ons hawe ‘n groot teiken, steek die Here ons weg onder sy vleuels.
Die week was en Odessa toe. Ek is uitgenooi deur Odessa streeks hoofde, om ‘n forum by te woon wat aangebied is om dankie te sê vir mense wat bystand en hulp gee aan die mense van Oekraïne tydens die oorlog. Dit was ‘n groot voorreg om ‘n toekenning te ontvang. Alle eer aan die Here wat so getrou is. Mag Hy verheerlik word. Hulle het ook klem daarop gelê dat dit die Christene is wat tot op die voor front gaan om kos en medikasie te neem. Daar was generaals en staatshoofde wat hulle dank en waardering uitgespreek het.
Terwyl ek in Odessa was het daar ‘n paar keer serenis afgegaan. Ek kan nie dink hoe kindertjies onder so ‘n vreesaanjaende geluid probeer slaap nie. Daardie oomblik voel dit so onwerklik asof jy in ‘n tweede wêreldse filmstel is. Mens weet nie waarheenom te hardloop of wat om te doen nie. Meeste mense is al so gewoonden hou net aan met hul alledaagse gang. ‘n Bietjie verder van ons af, in Odessa, het ‘n vriendin van my, vertel dat sy daardie oggend deur haar balkon venster gesien hoe ‘n missiel oor haar woonstelblok trek. Sy se dat sy al die verskillende missiele hoor en uitken.
Raduga was vir ‘n week toe, maar Maandag begin ons weer werk. Daar is ook baie nuwe kindertjies, baie van hulle is vlugtelinge. Ons hofsaak met die brandweer gaan steeds aan oor ons laaste punt, water toevoer indien daar ‘n brand is. Ons begin nou twee putte grawe en pleister groot wat saam 12 ton water te hou.
Lux Verbi uitgewers het my genader om ‘n boek te skryf. Hulle wil hê dat die boek helfte November klaar wees. Bid asseblief vir my, vir kreatiwiteit. Ek kan niks sonder die Here doen nie.
Cilliers en sy vroutjie Tanya was vir so 10 dae in Reni. Hannes-Joshua en Anastasia is nou hier in Reni, vir nog ‘n maand, dan vertrek hulle na Amerika. Met Ivan en Benjamin Cor gaan dit goed. Mari-Alena is in Suid-Afrika en die verlange is groot.
Baie dankie dat julle bid en intree. Dit het groot krag! Die Here doen wat Hy gesê het. Hy is so goed vir ons.
Bid asseblief vir die kernkragsentrale wat in groot gevaar is. Bid asseblief vir ons beskerming
Baie liefde en seën in Jesus
Michele
Projekte rekening: Standardbank, Lynnwood Ridge tak (met kode 012445), rekeningnommer 014330067 in die naam Nuwe Dag
My persoonlike besonderhede: Capitec MRS M POTGIETER Savings Account Number: 1554335599 Branch: 470010
Die Here is goed. In Psalm 56:8 sê Dawid dat die Here ons trane in ‘n bottel bymekaar maak en hulle tel! (Amplified Bible) Hy gee soveel vir ons om. Verder sê Dawid, Wat kan mense aan my doen? Ons is in die holte van Sy hand. Die Here is getrou. Elke dag mis ek vir Ockert so baie. Wanneer ‘n mens ‘n paartjie sien, hand aan hand stap, hoe geliefdes mekaar groet. Ons was altyd saam. Altyd hand aan hand alles saam gedoen. Ek het nooit gedink ek gaan…Nou is my woorde op. Ek weet dat Vader elke traan tel.
Ek hou styf aan Hom vas. Soos ek vandag hier begin skryf, sit ek en Ivan erns in Berlyn in ‘n koffie winkel en wag. Ons wag vir Liz wat vroeg vanmôre, uiteindelik oor die grens is na baie lang wag. Sy is van Engeland en Corbin wat saam met haar ry, is ‘n jong seun uit Amerika. Hulle bring medikasie en hulp na Oekraine en het aangebied om vir my en Ivan saam terug te neem Oekraine toe. Hulle het ‘n klein karretjie met waentjie en dakrak vol bokse. Daar lê twee dae se pad tussen ons en Reni. Corbin en Liz dien nog nie die Here nie, maar hulle was al saam met ons in Reni na die dienste. Bid asseblief vir hulle. Ek glo nie dit is toevallig dat ons soveel ure het om saam met hulle in ‘n kar te wees nie. Ons gaan eers Lviv toe en van daar Kiev toe om humanitêre hulp af te laai. Daarna is dit Odessa en Reni. Bid asseblief dat ek en Ivan sonder probleme in Oekraine sal kan ingaan en bid asseblief vir oop deure. Daar is die grens uit Poland na Oekraine. Bid asseblief dat die Here vir ons die deur sal oopmaak. Die pad gaan vol padblokkades, soldate en tenks wees. Bid dat die Here Sy engele voor ons uitstuur.
Dit was goed om my kinders te sien. Dit was goed om onder ‘n boom te sit en roomys eet en lag oor al hulle stories van toe hulle klein was. Cilliers en Tanya bly nou in Duitsland en Mari-Alena het ook gekom. Dit was so goed vir ons almal. Mari-Alena is nou weer terug in Suid-Afrika, maar sy voel alleen. Bid asseblief vir haar.
Bid asseblief vir hierdie lang pad, vir ons beskerming wanneer ons deur Oekraïne ry. Daar was hierdie week soveel missiele wat Zatok getref het. Die plek lê tussen Reni en Odessa, aan die Swartsee.
Reni se hawe was die maand soveel keer in die nuus. Aan die eenkant is ons bly dat die hawe floreer en daar werk is vir soveel mense, maar aan die anderkant maak dit vir Reni ‘n teiken. Daar word soveel graan uitgevoer. Ons hou aan die Here se beloftes vas. Ons vertrou op Hom. Daar is steeds soveel vlugtelinge wat Oekraine verlaat en Reni toe kom. Veral nou van Odessa af. Ons gee steeds elke dag middagetes, kospakkies en klere uit.
Bid asseblief vir ons span wat elke dag kos maak vir nuwe krag.
Selfs die oorlog kon nie ons jeugleiers stop nie. Al kon ons nie hierdie jaar Masada hou nie, aangesien al die kampplekke vol is met vlugtelinge. Hulle het sommer agter in ons erf gekamp. Die meisies in die huis en die seuns in tente. Speletjies was sommer op die dorp se sportgebied. Elke aand het hulle om ‘n vuur gesing en woord gebring. Benjamin Cor en die jeugleiers het woord gebring en ek het soveel getuienisse gehoor van jongmense wat die Here opnuut aangeraak het.
Raduga is nog met groot genade oop en ons is dankbaar dat ons elke dag in soveel kindertjies se lewens kan saai.
Baie dankie dat julle aanhou bid. Dankie dat julle vir ons intree. Dankie vir elke bydrae en ondersteuning. Daar sonder kan ons niks doen nie. Die vurige gebed van ‘n gelowige het groot krag.
Wanneer ek terug kyk oor hierdie jaar, is dit met soveel dankbaarheid. Die Here het so vir ons gesorg in hierdie moeilike tyd. Alle lof en eer aan Hom. Hy is altyd getrou, altyd betyds en altyd so goed vir ons.
Baie liefde en seën
Michele
Projekte rekening: Standardbank, Lynnwood Ridge tak (met kode 012445), rekeningnommer 014330067 in die naam Nuwe Dag
My persoonlike besonderhede: Capitec MRS M POTGIETER Savings Account Number: 1554335599 Branch: 470010
Die Here is goed en getrou en aan Hom alle eer en heerlikheid. Hy doen wat Hy gesê het en daarvoor prys ons Sy naam. Hy het gesê dat Hy ons beskerm en Hy doen dit.
Ek en Ivan moes sy tydelike verblyfpermit in Odessa gaan haal. Eintlik sou die immigrasie kantoor in Izmail dit kry, maar die vrou in haar bruin uniform het nie eers opgekyk toe sy vir my sê “Gaan haal dit self, ek gaan nie Odessa toe nie!” Sy was besig om deur papiere te soek. Ek was net so dankbaar dat Ivan se permit gereed was en ons het die volgende dag gery.
Oral langs die pad was daar soveel soldate, padblokkades en tenks. Dit voel asof jy ‘n filmster is. Net buite Odessa het ons weer gestop waar soldate al ons dokumente deur gegaan het. Terwyl ons in die ry motors wag, het ons ‘n geskiet gehoor. Dit was na die Swartsee se kant toe. Ek en Ivan het vir mekaar gekyk. Wat moet ons doen? Ons het reeds 5 ure gery om tot daar te kom en ons gaan nie nou omdraai nie! Ons het besluit om net in te ry, die permit te kry en dadelik weer uit te ry. Dit is seker ons kinderlike geloof en besluit om in die middestad in te ry. Odessa was so stil, min mense in die strate. Al die vensters was toegepak met sandsakke, konkreet blokke of met hout toegekap. Gewoonlik in die tyd van die jaar is daar duisende mense in die strate. Van regoor Oekraine kom mense gewoonlik na die Swartsee vir vakansie en daar is ‘n vrolike, somer vakansie gevoel in die lug. Die strande is vol mense en kindertjies wat in die parke speel. Nou is alles stil. Die strand is met landmyne bewapen. Net verlede week het ‘n man dit in die water gewaag terwyl sy kind en vrou op die strand in hul swemklere was. Op die video sien mens net die ontploffing in die water. Dit is oorlog. Oorlog is lelik, wreed. Ivan en ek het uit die kar gespring, die dokument by ‘n vrou met bruin uniform aan gekry en dadelik uit Odessa gery, weer verby al die padblokkades, gewere, soldate. Baie dankbaar vir Ivan se dokument. Later het ons gehoor dat die skiettery die Oekrainiërs was wat Russiese missiele af geskiet het! Ons prys die Here dat Hy Odessa en die hele Odessa streek so beskerm.
Ons gee steeds elke dag vir vlugtelinge kos, baie van die vlugtelinge se kinders is in Raduga. Meer as 4 maande wat hierdie oorlog aangaan. Daar is steeds duisende vragmotors in Reni en duisende vlugtelinge en ons kan sien hoe die Here Reni bewaar. Al die vlugtelinge is baie dankbaar, hulle word soos familie vir ons. En wanneer hulle Oekraine verlaat groet ons mekaar met trane. Klein Irra wat ‘n seldsame sindroom het wat veroorsaak dat sy nie groei nie, is veilig in Engeland. Sy en haar gesin. Sy is twee jaar oud, maar is so groot soos ‘n ses maande oue baba. Gewoonlik stop hulle hartjies na twee jaar. Vriende van ons in Dover het gesê dat hulle die gesin sal help tot in England en blyplek gee, sodat Ira die beste behandeling kan kry. Ira se mamma, Roeslana wil nou in Engeland ‘n fonds stig met die hulp van die pastore waar hulle bly, om ander Oekrainiese kindertjies te help om behandeling te kry.
Cilliers het in Duitsland werk gekry as industriële ingenieur. Hy en Tanya, sy Oekrainiese vroutjie bly nou daar. Mari-Alena wou graag die vakansie kom kuier, maar sy kon nie vir Oekraine ‘n visum kry oor die oorlog nie. Sy land vandag in Duitsland waar sy vir Cilliers gaan kuier. Ek beplan om vir drie weke in Duitsland te wees en dan weer terug te keer na Oekraine. Benjamin Cor wou in Oekraine agter bly om sy verblyfpermit te kry. Nou sit ek en Ivan op ‘n bus oppad Duidsland toe. ‘n Busrit wat ons amper 48 ure gaan neem. Ons was vannag in ‘n 9 uur lange ry met busse en motors. By paspoort beheer is ek en Ivan in ‘n kantoor ingeroep na die “boss” soos hulle hom noem. Daar was ‘n kamer vol mense wat op stoele sit en lê. Baie van hulle het soos Sigeuners gelyk. Hulle het vir my gesê as jy eers in dié kamer is, stuur hulle jou terug Oekraine toe! Ek het in my binneste begin bid. Nadat die boss my dokumente na gegaan het, het hy gesê ons kan maar gaan. Ek het gesê “Prys die Here” en ek en Ivan het na ons bus gehardloop! Ek het die wet uitgedruk waarin staan dat ‘n persoon, met ‘n tydelike verblyfpermit van Oekraïne tot Augustus in Duitsland kan wees sonder ‘n visum. Duitsland en ander Europese lande, verskaf ook gratis verblyf en vervoer gedurende die tyd.
Daar is so baie “eerstes” vir my sonder Ockert en elkeen is die eerste keer moeilik, maar die Here is so getrou en dra ons. Verlede week het die Here vir baboeshka Nastia kom haal. Sy was 96. Vir baie jare was sy heeltemal blind, maar elke Sondag, as haar gesondheid dit toegelaat het, was sy in die kerk. Sy het met hande omhoog gestaan en die Here geloof en saam gesing. Sy was vol soveel liefde en dankbaarheid. Haar dogter en almal om haar het dit vir haar weggehou en nie gesê dat die Here vir Ockert kom haal het nie. Hulle het gedink dit Sal vir haar te groot skok wees. Sy was baie lief vir Ockert en het altyd sy hande in haar handjies geneem en sommer begin huil wanneer sy met hom gepraat het. Sy was die laaste paar maande te swak om kerk toe te kom. Laaste wat ek haar besoek het, het sy vir my gesê dat die Here, vir Ockert gaan stuur om haar te kom haal. Almal in die kamer was verbaas. Tydens haar begrafnis was daar oneenheid tussen haar dogter en die res van die familie. Die familie wou haar begrawe op die ou Russies ortodokse manier met soveel rituele en heidense gebruike, terwyl haar dogter haar wou begrawe op die Christelike manier. Gewoonlik bedien hulle by die graf ‘n ete waar hulle glo dat die oorledene saam met hulle eet en hulle sit ook ‘n bord kos en vodka uit vir die oorledene. Terwyl ons in die hittige son staan en die stof ons almal bedek terwyl hulle die graf toegooi, begin van die familie murmureer en ‘n stryery ontstaan. Hulle vra hoekom daar nie eers selfs koekies of lekkers is nie. Dit was so warm alsof jy voel jy gaan omval. Op daardie oomblik voel ek net hoe die Here woorde in my mond lê en ek begin praat. Die Here gee my ‘n bonatuurlike “boldness” en almal word stil. Ek begin deel van baboeshka Nastia se wens dat hulle elkeen gered sal word en van sonde, berou en bekering. Want so lief het God die wêreld gehad….Almal het stil geword en geluister. Daar het ‘n wolk oor ons gekom by die graf. Die hitte en son was weg vir ‘n oomblik. Net asof die Here sê dat Hy daar is. Ek het gevoel hoe die Here woorde in my mond lê en mense het instemmend hulle koppe geskud. Een het hardop gesê, “Sy praat die waarheid.” Alle lof en eer aan die Here wat ons gebruik wanneer ons klein en swak is en wanneer ons so afhanklik is van Hom. Wanneer ons in geloof leef en nie in wat ons gesonde verstand vir ons sê nie. Ons leef nie volgens dit wat ons sien nie, maar in geloof.
Love Reni het goed gegaan onder omstandighede! Die Here is so goed. Die jaar het 10 skole deelgeneem. Ons het elke skool gaan besoek, danse vir hulle aangeleer en elke skool het hul eie video gemaak met die tema: Ek is lief vir Reni, ek is lief vir Oekraine. Ons boodskap is, Oekraine is mense. Ons Gala geleentheid was in die park met oor ‘n honderd kinders wat saam aan ‘n flashmob dans deelgeneem het.
Bid asseblief vir Benjamin Cor wat nou alleen in Oekraïne is vir 3 weke. Bid asseblief dat ons veilig terug sal ry tot by die huis in Reni na hierdie kort vakansie saam met die kinders. Bid asseblief vir Hannes-Joshua en Anastasia. Anastasia se visum vir Suid-Afrika is verby en hulle het meer as 8 maande terug aansoek gedoen en binnenlandse sake in SA beweeg nie. Hulle het in House and Home Tydskrif, ‘n fotografie kompetisie gewen en ‘n reis na Thailand. Hulle week daar is nou verby. Hannes-Joshua kon nie ‘n visum vir Oekraine kry nie. Intussen wag hulle vir hul visum om Amerika toe te gaan om vir Ockert se sussie en haar man Keith in Santa Rosa te help met ‘n Christen televisie stasie. Op die oomblik is die twee gestrand in Thailand. Ockert se sussie het vir hulle nog ‘n week gekry in ‘n goedkoper blyplek. Moontlik sal hy weer moet Suid-Afrika toe gaan om vir hom ‘n Oekraine visum te probeer oopmaak, terwyl Anastasia alleen Oekraine toe gaan. Bid asseblief vir uitkoms vir hulle twee.
Hierdie jaar sal ons nie Masada kan hou nie omdat die kampterrein vlugtelinge huisves. Steeds het ons jeugleiers besluit om ‘n “kamp” in ons huis te hou terwyl ek weg is. Toemaar, ek vertrou hulle. Ek glo dat die huis nog gaan staan wanneer ek terugkeer. Tanya en haar man Steve van New Zealand is daar vir nog drie weke. Die meisies gaan in die huis slaap en die seuns in tente op die erf. Hulle speletjies gaan hulle op die dorp se sportveld doen. Hulle gaan drie keer per dag praatjies hê en die doel is om meer tyd in die Woord van die Here te spandeer en ‘n verdieping in die jongmense se kennis van die Woord.
Hierdie laaste paar maande was verskriklik intens en besig. Terwyl ek nou hier op die bus sit en niks doen nie, gee dit my die eerste keer in baie lank tyd om net te dink, te huil en veral toe ons gister deur Lviv gery het, het ek Ockert so baie gemis. ‘n Jaar terug, net voor ons SA toe is, was ons saam met pappa Hannes en Ma Magda in Lviv. Sonder dat ons geweet het, was dit ons afskeid vakansie. Twee weke in Lviv was ‘n groot geslenterd van die Here vir ons en Ockert se ouers. Nou ry ek daar verby en alles is anders. Soldate, loopgrawe, tenks. Hoe vinnig kan mens se wêreld en lewe heeltemal verander. Ek mis hom so verskriklik baie. Soms kom die verlange soos ‘n wolk wat mens toevou en te veel om te hanteer. Dan lig die Here my kop op en sê om verder te kyk in die ewigheid. Ek weet ons gaan mekaar weer sien. Nou is die verlang net te veel. Maar die Here is goed en getrou tot in alle ewigheid. Hy sal ons trane afvee en ons krag gee om tot aan die einde getrou te wees aan Sy roeping tot die laaste dag wat ons Hom sien. Die dag wanneer Hy vir ons ook sê, kom in, my goeie en getroue dienskneg. Dat ons, ons lewe tot die laaste druppeltjie uitgiet as ‘n lewende offer.
Kontak en bankbesonderhede: Epos: nuwedag@gmail.com, Kontak nr: Op WA +380938126060
Bank: Capitec Rekeningnaam: Mev M Potgieter, Takkode: 470010, Rekeningnr: 1554335599, Soort rekening: Spaar
Vanaand is ‘n koue en reënerige aand in Reni. Dit was ‘n stil dag. Niemand mag uit hulle huise gaan nie. Van Vrydagaand tot Maandag oggend moet almal in die Odessa streek binnenshuis bly. Hulle verwag ‘n lug aanval oor die naweek. Ons kry af en toe waarskuwings op ons telefone “The Government of Ukraine has issued an air raid alert in your region.” Maar die Here is ‘n muur van vuur om ons en my geloof is sterker as ooit in die Here. Ek weet dat Sy vlerke oor ons is daarom sal ons vanaand rustig slaap.
More sal dit ses maande wees wat die Here vir Ockert kom haal het. Soveel het gebeur. Ons lewens is omgekeer. Party dae mis ek hom so dat dit ondraaglik is. Donderdag het ek vir Cilliers en Tanya gaan groet voor hulle Duitsland toe vertrek het. Ek stop die kar weer voor ons huis en sit die ligte af. Terwyl die musiek speel sit ek in die donker en kyk. Nou is ons net drie. Ek, Ivan en Benjamin. Ek sit en kyk na die huis hoe ons 26 jaar hier soveel herinneringe gehad het. Die herinneringe speel soos films voor my af. Hoe ons babas in die arm in en uit die hekkie gegaan het. Vyf kinders, kleuters, babas en dan tieners. Hoe ek en Ockert in die stof straat hand aan hand geloop het. Die blydskap oor elke roos wat in die voortuin blom en die rose wat tot bo ons kamervenster rank. Nou is die roosboom se takke nog lewensloos in die koue. Terwyl ek so in die donker sit en huil, voel ek net die Here se teenwoordigheid by my in die motor. Hy vat die seer weg en vertroos my en droog elke traan af. Hy is so naby aan die wat hart gebroke is. Nader as ooit.
Die volgende oggend gee Hy nuwe vreugde en ons maak kos vir die vlugtelinge, deel kospakkies uit aan gesinne wat swaar kry.
Hulle se dat daar meer as 15000 vlugtelinge in Reni is. Reni is ‘n toevlugsoord! Ons ontvang elke dag vlugtelinge in ons kerkgebou en maak gratis etes. Ons sit by die tafels en luister na hul stories van hoe hulle gevlug het. Baie keer is dit net met die klere aan hul lywe. Ons gee klere, kos en verblyf. Almal in die gemeente help. Ons nooi hulle kerk toe en hulle kom. Van die mense geuig hoeveel genesing hulle ontvang het. ‘n Vrou vertel hoe sy en haar man en kindertjies gevlug het. Dit was so erk dat sy in die kar flou geword het. Ons het ook warm etes na die grenspos geneem waar vlugtelinge tot drie dae wag om die land te verlaat. Dit is ‘ voorreg om nou hier te kan wees.
Die week het ‘n ander gesinnetjie gekom met twee klein kindertjies. Die twee jarige dogtertjie het ‘n seldsame sindroom wat net 70 mense in die wêreld ooit gehad het. Sulke kindertjies lewe net tot twee of drie jaar oud. Sy weeg maar 6kg en kan nie loop nie. Ek het nog nooit voorheen ‘n baba gesien wat soveel vreugde uitstraal nie. Sy wil net drukkie gee en lag altyd. Die mamma vra hulp indien enige iemand van dokters weet wat met sulke kindertjies werk sodat sy behandeling kan kry. Nou met die oorlog kan hulle amper na enige land gaan as vlugtelinge.
Mari-Alena is veilig terug in Suid-Afrika. Cilliers en Tanya is veilig in Duitsland. Hannes-Joshua en Anastasia is oppad Amerika toe, hulle wag nog vir hul christelike werkers visums. En ons drie is veilig in Reni. Pappa Hannes en mamma Magda is veilig in Santa Rosa, Kalifornië.
Baie dankie dat julle bid en intree. Dankie vir elke boodskap en bemoediging.
Baie dankie vir elke bydrae en hulp. Ons waardeer dit oneindig baie. Vergewe asseblief as ek lank vat om boodskappe te antwoord. Ek is ver agter. Elke dag is ons besig van vroeg tot laat. Elke aand het ons gebed by die kerk. Ons is so dankbaar vir elkeen van julle. Dankie dat julle ons arms hoog hou.
Die Here is my Rots en my veilige vestig. Ek sal niks vrees nie.
Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie.
Ons word vanmore wakker met die nuus dat Rusland op twee plekke Oekraine begin binneval het. Maar die Here se vrede is in ons harte. Ons weet dat Hy ons vashou en beskerm. Ek weet dat ons in Sy wil is.
Dit is wonderlik om terug te wees in Oekraine. ‘n Week is verby en daar het so baie gebeur.
Dit was ook moeilik en goed om in ons huis te wees. Dit is ‘n groot aanpassing om self al die besluite te neem.
Nou verstaan ek eers hoe maklik die lewe met Ockert was. Hy het alles gereel en ek het net saamgery. Maar ek leer om meer en meer my Vader se stem te hoor en Hom te gehoorsaam.
Hiermee die nuus dat Michele, Cilliers en Ivan môre na die Oekraïne terugkeer – hulle doen dit met groot geloof dat hulle sal kan ingaan, aangesien die grense vir SA nog toe is. Ons kan vir hulle bid aangesien die risiko groot is dat hulle na Turkye sal moet terugkeer.
Liewe vriende en familie.
Die Here is goed. Alles is in Sy hand. Hy hou ons elke dag vas en vir Hom is alles moontlik. Hy maak deure oop en toe. Hy is almagtig.
Hiermee Michele se nuutste nuusbrief/gebedsbrief vir julle inligting en voorbidding asb. Die vlugte bly maar ‘n kopseer asook die verskillende lande se inperkings. Ons kan saam met hulle bly wees dat die alarmstelsel/ brandtrap asook alles wat daarmee verband hou suksesvol afgehandel kon word. Nou kan ons fokus om saam te bid oor die gebou en dat die harte van mense sal verander – iets wat net Hemel Vader mee kan help.
Hiermee Michele se maandelikse nuusbrief met gebedsversoeke vir julle inligting en voorbidding asb. Die stryd rakende die gebou word net erger, maar ons glo dat die Here vir hulle veg en wat daar gebeur is onwettig. Die stryd gaan al vir langer as 15 jaar aan – maar dit klink vir my op die oomblik dat hulle Ockert se dood nou sien om hulle dreigemente werklik uit te voer. Ons kan maar net saam met Michele – hulle bid.
Liewe gebedsvriende en familie Gister was dit twee weke vandat die Here vir Ockert kom haal het. Presies twintig dae na my pa. Wat ek hierdie maand deur gegaan het, kan ek nie woorde om sit nie. Maar ek gaan probeer. My hart is stukkend, gebreek. Ek kan dit nog nie tenvolle begryp nie. Maar, die Here is goed en Hy is getrou. Hy gee krag. Ek wil net Sy naam loof en prys want Hy dra ons wanneer ons op ons swakste is, dan maak Hy ons sterk.