Liewe familie en vriende
Vandag is dit 365 dae gelede wat ons 5 uur die oggend wakker gemaak is met die woorde: “Die oorlog het begin!”
Die eerste bomme het begin val en ons almal se lewens is drasties verander binne ‘n dag. Ek het soveel vrede gehad om te bly en net die Here te vertrou. Vandag wil ek net getuig van die Here se goedheid en getrouheid. Hy het ons elke dag beskerm, krag gegee en vir ons voorsien. Dankie vir julle gebede die afgelope jaar. Ek waardeer dit so baie. Dankie vir elke boodskap en bemoediging. Dankie vir elke bydrae wat dit moontlik maak om hier te wees en met die werk aan te gaan.
Daar was dae wat ek gewonder het of ek die regte ding doen, maar die Here was keer op keer so getrou en het berge versit en deure oopgemaak. Alle eer aan Hom wat nooit sluimer of slaap nie en Sy oë op elkeen van ons hou. Ek voel so klein en so afhanklik van die Here elke oomblik.
In Februarie het ons weer Night to Shine gehad vir ons gestremde mense in Reni en die dorpies rondom. Die aand is geborg deur Tim Tebow Foundation en elke spesiale gas was so dankbaar en het die aand baie geniet.
Ons beplan Love Reni en Masada weer die jaar en gaan in geloof aan met al ons projekte.
Elke dag maak ons gemeente steeds kos vir die vlugtelinge en elke dag is daar nuwe mense wat bykom. Ons deel die Evangelie met hulle en hulle harte is so oop en ontvanklik. Meeste van hulle het alles verloor en het soveel seer. Die Here werk in elkeen se hart.
Die .aand was hier verskye groepe mense wat in ons huis kom bly het. Hier was ‘n groep van vyf dokters van reg oor die wêreld van Ierland, Amerika en Nederland. Ons burgemeester se assistent het gevra of ek hulle kan help met verblyf terwyl hulle ons vlugtelinge help. Nie een van hierdie dokters dien die Here nie, maar ons het oor en oor die geleentheid gekry om te getuig. Tuta Moesia, ek, Andrus en sy vrou Maritza het getuienisse gegee. Ons kon sien dat die Here hulle aanraak met Sy liefde. Andrus en sy gesin is van Suid-Afrika uit Namibië en bly hier by my vir twee maande. Ons kuier lekker saam en maak selfs biltong! Andrus gaan uit na plekke soos Baghmut wat uitmekaar geskiet word en gaan haal mense uit terwyl bomme om hulle val.
Die Here gee ook vir my kontrakte om vir ons seuns uit Reni en uit ons gemeente wat in Baghmut gaan veg, goeie koeëlvaste helmets en baadjies te kry. Iets wat die staat nie vir hulle gee nie. Die soldate moet dit self aankoop. Die week kan ons vir drie van ons seuns toerusting stuur. Een van die seuns se ma werk in ons koffie winkel en was in die kerk toe hy jonger was. Nadat hy dit ontvang het, stuur hy vir my n video terug en ook fotos van hom met my en Ockert toe hy n kind was. Die ander twee is Sveta se twee seuns. Die een seun Sasha het sy aangeneem toe hy nog klein was. Bid asseblief vir hierdie drie seuns en al die soldate. Elkeen het ‘n ma en familie wat vir hulle lief is, aan Rusland se kant en aan Oekraine se kant.
Hou asseblief aan met bid vir ons beskerming en die beskerming van Reni. Ons is nie ver van Transnistrië af nie, ‘n plek met baie Russiese wapentuig. Ons hawe is steeds die grootste werkende hawe in Oekraine.
Die Here is besig om iets wonderlik te doen onder ons jeug. Hulle bid gereeld saam en ons ervaar dat die Here besig is om te beweeg onder hulle.
Bid asseblief vir my en Ivan vir uitkoms met ons Schengen visums wat binne twee weke verval en ons verblyfpermitte wat nog in Odessa is om verleng te word. Indien ons Schengen visums verval, kan ons nie uit Oekraine uitgaan indien nodig nie. Al die ambesades in Oekraine werk nie nou met visums nie. Ek vertrou dat die Here vir ons weer ‘n deur sal oopmaak op die regte tyd.
Die laaste hoofstuk van die boek “Sonneblomme en Sneeu ” het ek gisteraand vir Lux Verbi gestuur. Bid asseblief dat die Here die boek sal seën om mense se geloof weer te versterk in die Here.
Bud asseblief vir elkeen van my kinders dat die Here ook vir hulle sal deure oopmaak daar waar hulle Hom moet dien.
Baie liefde en seën uit Reni
Michele
Whatsapp: +380938126060
Projekte rekening:
Standardbank,
Lynnwood Ridge tak (met kode 012445),
rekeningnommer 014330067
in die naam Nuwe Dag
My persoonlike besonderhede:
Capitec
MRS M POTGIETER
Savings Account Number: 1554335599
Branch: 470010
SWIFT code (CABLZAJJ)


