Sendingnuus: Oekraïne – Michelle skryf vir ons uit Oekraïne

Gebedsbrief Junie 2023

Liewe vriende en familie

Baie dankie vir elke gebed. Dankie dat jy deel is van die werk wat die Here hier in Reni doen. Dankie vir elke boodskap en bemoediging. Dankie vir elke bydrae vir Masada. Ons is oneindig dankbaar. 

Ons staan op die vooraand van so baie goed wat gebeur. Die Here is so goed en getrou.

Verlede Sondag gee die Here drie keer vir my deur verskillende mense dieselfde woord uit Joshua 1:

Wees sterk en vol moed. En weer later; Wees sterk en vol moed, wees nie bevrees of verskrik nie, want die Here jou God is met jou oral waar jy heengaan. ‘n Mens hoor dit, neem dit in, maar dit is partykeer so moeilik om toe te pas.

More begin Masada jeugkamp. So gou vergeet ek om dapper te wees. Die eerste Masada sonder Ockert. Daar is soveel reëlings en die voorbereiding is intens.  Meer as ‘n honderd jongmense vir ses dae. Alles word tot op die minuut uitgewerk. Die leier span help en elkeen doen sy deel, maar ek mis vir Ockert. Sy wysheid en die manier hoe hy die kamp georganiseer het. Ek mis my maatjie. Daar is so baie goed om aan te dink, maar ek kry op sy rekenaar programme, alles om aan te dink, sy “moenie vergeet nie lysie” vir Masada. Ek het nie ‘n idee gehad wie die video’s die jaar gaan maak wat Ockert elke jaar so goed gedoen het nie. Elke dag se tema video is so deel van Masada. Gister was ons Izmaiel toe om aankope te doen vir Masada. Op pad terug huis toe begin ‘n migraine my beetpak. By die huis vind ek uit dat die deur toegesluit is en almal weg is kerk toe om vir Masada gereed te maak. Ek sit buite die huis op ‘n bankie en kan die pyn nie verduur nie. Edik, Jura en Zina se seun bring vir my die huis se sleuter en vra of hy vir my kan bid. Hierdie jong seun wie se eie ma hom na geboorte in ‘n boksie buite iemand se huis gelos het, salf my en bid vir my. Ek kom lê op die bed en krul van die pyn. Alles wat ek inneem kom net weer uit. Ek kan nie eers ‘n pil binne hou nie. Masada staan soos ‘n berg voor my, ons visums vir Moldavie staan voor my. Sonder die visums kan ons nie uit Oekraine gaan nie. Al die finansies vir Masada is nog nie in nie en ek het nie ‘n idee hoe ons vir alles gaan betaal nie.  Ek voel ek wil aan niks dink nie en roep net, “Here help my.” Na 12 gisteraand lig die migraine en ek staan op. Die Here herinner my aan Sy woord, Hy sê weer vir my dat Hy by my is en dat ek sterk moet wees.

 Ivan se vir my, “Mamma, ek sal die video’s afneem en maak.” Vanmiddag kom wys hy sy video’s vir my. Ek is sonder woorde! Perfek! Kunstig en so goed gedoen. Die Here is so getrou! En so sorg die Here vir elke klein dingetjie. 

My eerste Masada sonder Ockert, ons het soveel herinneringe by die kampterrein. Soveel pret en lag, sit om die vuur in die aande en warm sjokolade drink. Die mooiste sonsondergang oor die Jalpug meer. Elke jaar was ek en Ockert in verskillende spanne wanneer die leiers ook deur die “Dirty Games” gaan. Ons was gewoonlik van kop tot tone in modder of meel en eier besmeer. Elke jaar het Ockert se span gewen!  Ockert het alles gedoen, Masada het soos ‘n geoliede masjien gewerk. Nou het ek net die olie van die Heilige Gees so nodig.  

Ek het die Here so nodig in hierdie week wat kom. Bid asseblief vir al die leiers van Masada, vir eenheid, wysheid en om Jesus se lig te skyn. Meeste van die leiers is nog jonk, so baie jeug leiers is land uit met die oorlog.

Bid ook asseblief vir die situasie by die Zaparozhzhia kernkragsentrale. Die Russe wat dit beset het het begin om te onttrek en daar is gevaar dat daar ‘n groot kern ongeluk kan plaasvind. Ons is so 7 ure se ry van die kragsentrale. 

Bid asseblief vir elke jongmens. Dat die Here elkeen sal aanraak. Bid vir bekerings. Bid asseblief vir die Here se beskerming, dat niemand seerkry tydens die speletjies nie.

Die burgemeester stuur polisie om die vier busse te vergesel tot by die kampterrein. 

Ons het ‘n wonderwerk nodig. Bid asseblief dat die Here sal voorsien vir al die uitgawes vir die kamp. Die busse werk baie meer uit as wat ons beplan het. 

Bid asseblief vir tuta Moesia wat met hoe bloeddruk en duisligheid nie kan saam gaan Masada toe nie. 

Dankie vir elkeen wat Sonneblomme en Sneeu gekoop het. Hy was die afgelope twee weke onder die top 20 nie-fiksie boeke in Afrikaans in Suid-Afrika. Prys die Here en aan Hom al die eer.

Baie liefde en seen uit Reni.

Michele

Michele Potgieter
Reni, Ukraine

Projekte rekening:
Standardbank,
Lynnwood Ridge tak (met kode 012445),
rekeningnommer 014330067 
in die naam Nuwe Dag

My persoonlike
besonderhede:
Capitec
MRS M POTGIETER
Savings Account Number: 1554335599
Branch: 470010
SWIFT code (CABLZAJJ)