Michele van Oekraïne se maandelikse Gebedsbrief uit Reni – Maart 2023

Liewe vriende en familie

Party dae, soos vandag voel dit asof daar berge voor my is, waaroor ek nie kan kom nie. Wanneer ek na die berge kyk, groei vrees en wil dit my oorweldig. Ek mis ook vir Ockert so verskriklik baie en soms raak dit net te veel om te dra. Ek weet ek moet laat gaan, dit is al anper ‘n jaar en ‘n half gelede. Ek weet ek moet daaroor kom. Hoe kom mens ooit daaroor? Ek vra, wanneer die berge voor my staan, Here sal U hierdie berge net wegneem? My hulp en krag is in die Here. Sonder Hom sien ek nie kans nie. Ek het Hom so nodig om my elke dag te dra. Ek voel soms so swak en klein. 

Daar is soveel verantwoordelikhede en nood om my en ek weet ek kan dit nie self dra nie. Ek weet ek moet dit net vir die Here gee, maar dit hou my in die nag wakker. Ek bid daaroor en vra dat julle asseblief saam met my sal bid. 

Love Reni lê voor die deur. Dit begin weer 24 April. Ons gaan 13 skole besoek en elke skool gaan weer ‘n video maak. Tydens die Gala konsert 12 Mei, gaan ons die wenners aankondig. Dit is ‘n groot gebeurtenis in die park. 

Tydens Love Reni het ons ook vir die jongmense projekte in die dorp. Ons wil graag bankies langs die Dunau rivier opsit. 

Bid asseblief vir finansies vir al die projekte. 

Gister het Ina, hoof van Raduga gebel en gese dat sy nog ‘n groot bedrag nodig het om die maand af te sluit. Bid asseblief vir finansies vir Raduga en die kerkgebou om alles te betaal wat nodig is. 

Yura, een van ons leiers in die gemeente en ‘n staatmaker het verskriklike angsaanvalle en depressie die afgelope maand uit vrees dat hy opgeroep kan word om in die oorlog te gaan veg. Hy en Zina het 5 kinders wat hulle aangeneem het. Van die kinders is al uit die skool, daarom kan hulle hom oproep. Bid asseblief dat die Here hom sal vry maak van vrees en angstigheid. Hy voel drukking op sy bors en sonder krag. 

Bid asseblief vir Cilliers, my tweede oudste seun wat in New Zealand is, dat sy vroutjie Tanya haar visum spoedig sal kry om by hom aan te sluit. Sy is nog hier by my in Oekraine en dit is vir hulle baie moeilik om so lank uitmekaar te wees. 

Bid asseblief vir Univermaak se aandele om uitgesorteer te word. Dat ons aandele na ons sal terug gegee word en dat die ander aandeelhouers sal doen wat reg is in die Here se oë. 

Die Here is besig om so kragtig te beweeg onder ons vlugtelinge.  Hulle harte word sag en die Here is besig om soveel genesing te bring in die wat alles verloor het. Een van die dames van Baghmut het haar man, kinders en huis in die oorlogverloor. Sy was kwaad vir die Here en ons stap ‘n pad met haar. Die week het sy begin glimlag en rustig gesit en luister. Vroeër het sy haar mening kliphard uitgeskree.  Die Here is besig om haar hart te verander. Bid asseblief vir elkeen van ons vlugtelinge. 

Bid asseblief vir Reni. Dat die Here ons sal beskerm. Ons het vannag deurnag gebed, tot 5 uur môreoggend. 

Hieraan hou ek vas. My hulp is in die Here wat hemel en aarde gemaak het. Hy sal jou voet nie laat wankel nie. Jou bewaarder kan nie sluimer nie. Die Here is jou Bewaarder, die Here is jou skaduwee aan jou regterhand. 

Baie dankie dat julle bid. Dankie vir elke bemoediging en woord. Ek waardeer oneindig baie. 

Liefde en seën. 

Michele 

https://www.facebook.com/michele.potgieter

Whatsapp: +380938126060

Projekte rekening:
Standardbank,
Lynnwood Ridge tak (met kode 012445),
rekeningnommer 014330067 
in die naam Nuwe Dag

My persoonlike besonderhede:
Capitec
MRS M POTGIETER
Savings Account Number: 1554335599
Branch: 470010