Oekraïne – Reni Gebedsbrief: Ons is oppad!

Hiermee die nuus dat Michele, Cilliers en Ivan môre na die Oekraïne terugkeer – hulle doen dit met groot geloof dat hulle sal kan ingaan, aangesien die grense vir SA nog toe is. Ons kan vir hulle bid aangesien die risiko groot is dat hulle na Turkye sal moet terugkeer.

Liewe vriende en familie.

Die Here is goed. Alles is in Sy hand. Hy hou ons elke dag vas en vir Hom is alles moontlik. Hy maak deure oop en toe. Hy is almagtig. 

Ek, Ivan en Cilliers vlieg D.V Woensdag, 2 Februarie, Oekraine toe. Dit is ‘n groot stap van geloof, aangesien Suid-Afrika steeds verbied is om in Oekraine in te gaan. Indien die deur wel toe is, gaan ons terugkeer na Turkye waar ons 14 dae sal moet wag. Dan verval my tydelike verblyfpermit en ek kan nie by Night to Shine wees nie. Maar my geloof is groot en ek vertrou op die Here. Hy is almagtig. Hy het al tronkdeur laat oopgaan en mure inmekaar laat stort. Hy het vir Daniel tussen die leeus beskerm en die Egiptenare in die see laat verdrink terwyl Sy kinders deur die see geloop het. Ons dien dieselfde almagtige God wat hemel en aarde gemaak het. As Hy dit toe kon doen, kan Hy dit nou ook doen. Hy is dieselfde en Hy verander nie. Ek vertrou op Jesus, vir wie alles moontlik is. Dit wat in Sy Woord staan is vandag nog dieselfde. Ek vertrou op ‘n Vader wat ons toevou onder Sy vlerke en ons van alle kwaad beskerm. 

Toe die golwe hoog was en die dissipels bang was, het Jesus rustig gelê en slaap. Hy leer ons om op Hom te vertrou, ook in die stoms. Om langs Hom in die boodjie te gaan lê en slaap in die storm, want Hy is met ons.  Al maak Hy nie die storm stil nie, kan ons in Sy vrede rustig wees. Hy leer ons om nie na die golwe te kyk en bang te word nie, want dan sink ons. Hy leer ons om op die water te kan loop. 

Bid asseblief vir oop deure vir ons drie om in Oekraine in te kan gaan. Tree asseblief in vir Oekraine. Bid vir Rusland. Ons bid in geloof dat die Here hierdie oorlog sal stop. 

Bid asseblief vir Mari-Alena wat in Suid-Afrika agter bly. Bid asseblief vir Hannes-Joshua en Anastasia wat vir Ockert se sussie Rynie en haar man Keith in Kalifornië, Amerika gaan help met Christen tv en radio stasies. Hulle het aansoek gedoen vir Religieuse werker visums.

Gewoonlik neem dit maande. Bid asseblief ook vir hulle vir guns en oop deure. Bid vir Benjamin wat vir ons in Oekraine wag. 

Baie liefde en seën. 

Michele