Oekraïne: Michelle Potgieter

Liewe familie en vriende 

Vanaand is ‘n koue en reënerige aand in Reni. Dit was ‘n stil dag. Niemand mag uit hulle huise gaan nie. Van Vrydagaand tot Maandag oggend moet almal in die Odessa streek binnenshuis bly. Hulle verwag ‘n lug aanval oor die naweek.
Ons kry af en toe waarskuwings op ons telefone “The Government of Ukraine has issued an air raid alert in your region.” Maar die Here is ‘n muur van vuur om ons en my geloof is sterker as ooit in die Here. Ek weet dat Sy vlerke oor ons is daarom sal ons vanaand rustig slaap. 

More sal dit ses maande wees wat die Here vir Ockert kom haal het.  Soveel het gebeur. Ons lewens is omgekeer. Party dae mis ek hom so dat dit ondraaglik is. Donderdag het ek vir Cilliers en Tanya gaan groet voor hulle Duitsland toe vertrek het. Ek stop die kar weer voor ons huis en sit die ligte af. Terwyl die musiek speel sit ek in die donker en kyk. Nou is ons net drie. Ek, Ivan en Benjamin. Ek sit en kyk na die huis hoe ons 26 jaar hier soveel herinneringe gehad het. Die herinneringe speel soos films voor my af. Hoe ons babas in die arm in en uit die hekkie gegaan het. Vyf kinders, kleuters, babas en dan tieners. Hoe ek en Ockert in die stof straat hand aan hand geloop het. Die blydskap oor elke roos wat in die voortuin blom en die rose wat tot bo ons kamervenster rank. Nou is die roosboom se takke nog lewensloos in die koue. Terwyl ek so in die donker sit en huil, voel ek net die Here se teenwoordigheid by my in die motor. Hy vat die seer weg en vertroos my en droog elke traan af. Hy is so naby aan die wat hart gebroke is. Nader as ooit. 

Die volgende oggend gee Hy nuwe vreugde en ons maak kos vir die vlugtelinge, deel kospakkies uit aan gesinne wat swaar kry.

Hulle se dat daar meer as 15000 vlugtelinge in Reni is. Reni is ‘n toevlugsoord! Ons ontvang elke dag vlugtelinge in ons kerkgebou en maak gratis etes. Ons sit by die tafels en luister na hul stories van hoe hulle gevlug het. Baie keer is dit net met die klere aan hul lywe. Ons gee klere, kos en verblyf. Almal in die gemeente help. Ons nooi hulle kerk toe en hulle kom. Van die mense geuig hoeveel genesing hulle ontvang het. ‘n Vrou vertel hoe sy en haar man en kindertjies gevlug het. Dit was so erk dat sy in die kar flou geword het. Ons het ook warm etes na die grenspos geneem waar vlugtelinge tot drie dae wag om die land te verlaat. Dit is ‘ voorreg om nou hier te kan wees.

Die week het ‘n ander gesinnetjie gekom met twee klein kindertjies. Die twee jarige dogtertjie het ‘n seldsame sindroom wat net 70 mense in die wêreld ooit gehad het. Sulke kindertjies lewe net tot twee of drie jaar oud. Sy weeg maar 6kg en kan nie loop nie. Ek het nog nooit voorheen ‘n baba gesien wat soveel vreugde uitstraal nie. Sy wil net drukkie gee en lag altyd. Die mamma vra hulp indien enige iemand van dokters weet wat met sulke kindertjies werk sodat sy behandeling kan kry. Nou met die oorlog kan hulle amper na enige land gaan as vlugtelinge. 

Mari-Alena is veilig terug in  Suid-Afrika. Cilliers en Tanya is veilig in Duitsland. Hannes-Joshua en Anastasia is oppad Amerika toe, hulle wag nog vir hul christelike werkers visums. En ons drie is veilig in Reni. Pappa Hannes en mamma Magda is veilig in Santa Rosa, Kalifornië. 

Baie dankie dat julle bid en intree. Dankie vir elke boodskap en bemoediging. 

Baie dankie vir elke bydrae en hulp. Ons waardeer dit oneindig baie. Vergewe asseblief as ek lank vat om boodskappe te antwoord. Ek is ver agter. Elke dag is ons besig van vroeg tot laat. Elke aand het ons gebed by die kerk. Ons is so dankbaar vir elkeen van julle. Dankie dat julle ons arms hoog hou.

Die Here is my Rots en my veilige vestig. Ek sal niks vrees nie.

Die Here is met ons. Hy is getrou en goed. 

Baie liefde en seën