Reni Gebedsbrief November 1022
Liewe vriende en familie.
Baie dankie vir elke gebed, elke boodskap, Skrif en bemoediging. Dankie vir elke inbetaling en ondersteuning. Ons waardeer dit oneindig baie. Dankie dat julle die pad saam met ons stap.
Meer en meer praat die Here met ons oor Jesaja 60.
“Staan op, skyn, want jou Lig het gekom en die Gemanifesteerde Teenwoordigheid van die Here het oor jou gekom, want let op, duisternis sal die aarde oortrek en ‘n diepe donkerheid die volke, maar die Here sal oor jou opkom en Sy Lig sal oor jou verskyn. Nasies sal na jou lig toe kom en konings na die helderheid van jou opkoms. Lig op jou oë en kyk rondom, hulle kom almal by mekaar, hull kom na jou toe.”
Die Here roep ons as Sy kinders, as Sy kerk om ligdraers te wees in hierdie donker tye. Om op te staan.
In Oekraine is dit nou letterlik so donker, fisies en geestelik. Elke dag gaan die oorlog aan. Elke dag is daar mense wat sterf. Rusland probeer nou om die winter te gebruik as wapen en teiken kragstasies en gas. Vir dae is Reni en Oekraine sonder elektrisiteit. Dit beteken geen verhitting, water of kommunikasie nie. Ek kyk na soldate wat in die koue in water in loopgrawe staan. Papnat en in modder oortrek van kom tot tone en my hart gaan uit na die wat hierdie winter so moet deurgaan. Elke dag daar die temperatuur. Aan die einde van die week trek Kiev by -7 reën en sneeu word voorspel. Maar iets wat my so tref is die blymoedigheid van die soldate en van die mense. Hulle maak grappies, dans in die koue, lag, staan saam en veg saam, bou dadelik, herstel en oorkom moeilikhede.
In Reni lyk die prentjie nie veel anders nie. Reni was omtrent hierdie hele week sonder elektrisiteit. Hulle het gister vir twee ure elektrisiteit gehad en ons kon bietjie kommunikeer. Hulle verwag nog erger missiel aanvalle en dat hulle dalk vir langer sonder elektrisiteit sal wees. Die burgemeester het twee plekke op die dorp opgerig met kragopwekkers, waar mense hul kan kom sit en warm maak en telefone kan laai. Die plekke is oorvol en almal stroom daarheen. Meeste huise is sonder verhitting. Ons is in die proses om te kyk of ons uit Rominie kragopwekkers kan bekom. Daar is niks te koop in Oekraine nie en die winkels is weer leeg. Ons wil een vir Raduga aanskaf en een vir die kerk waar ons kos maak vir die vlugtelinge. ‘n Ligpuntjie waar ons wil hê mense heen kan kom en warm word, krag kry en ‘n warm bord sop en brood kan kry. Ons het ‘n groot saal en kan baie mense huisves. Ons wil die geleentheid gebruik om te evangeliseer en net liefde te wys vir die gemeenskap. Nou het ons die geleentheid soos nooit tevore nie om LIG te wees in die donker. Daar stroom steeds elke dag meer vlugtelinge na Reni, wat soos ‘n veilige hawe is.
Ons kon vir Raduge 9 ton bikette aankoop vir verhitting, maar sodra die elketrisiteit afgaan, moet hulle die vuur doodgooi, aangesien die pomp ophou om te werk wat die water deur pype deur die gebou laat beweeg. Daarom moet ons vir Raduga ook ‘n kragopwekker aanskaf. Die kragopwekkers gaan natuurlik heelwat brandstof gebruik en daarvoor moet ons ook die Here vertrou.
Ek, Ivan, Mari-Alena en Benjamin is besig om vir ons visums vir Poland te maak, om terug te keer Oekraine toe. Ons wil graag by die mense van Reni wees die Kersfees en Cilliers en Tanya gaan ook moontlik oor Kersfees in Reni wees, so moontlik gaan vier van my kinders by my wees in Reni. Hannes-Joshua en Anastasia is by Ockert se sussie Rynie en haar man Keith in Kalifornië, Santa Rosa waar hulle reeds help met televisie werk. Hannes-Joshua moet nou twee keer ‘n week ‘n Nuus program vir die plaaslike TV saamstel en aanbied. Ons vertrou die Here vir voorsiening vir vlieg kaartjies en om op die regte tyd te vlieg. Elke tree is ‘n tree in geloof. As ons, ons Schengen visas kry, sal ons makliker uit Oekraine kan gaan indien dit nodig is en ek sal self na Rominie kan gaan om humanitêre hulp in Oekraine in te bring. Bid asseblief vir guns. Ons sal die 9 de Desember ons paspoorte terug kry.
Elke dag deel ons mense met die vlugtelinge oor Jesus en mense word gered. Daar is soveel mooi stories. Een man het die week gesê dat hy ‘n Ateïs was, maar nou glo hu in die Bybel en glo hy dit wat ons met die mense deel. Sy hele lewe het omgekeer. Is dit nie wonderlik hoe die Here stukkende vrlore mense na ons toe stuur van oor die hele Oekraine en dat ons nou waarlik lig kan wees. Ons mense in die gemeente staan so saam, soveel eenheid en wanneer alles wegval, alle aardse dinge is net net Jesus. Hierdie vlugtelinge het alles verloor, baie het nie eers ‘n huis om na terug te keer nie, maar hulle ontmoet hulle Skepper en hulle is so dankbaar.
Bid asseblief vir ons om op die regte tyd terug te gaan en dat die Here ons as gesin en Reni sal beskerm.
Bid asseblief vir elke mens wat na ons toe kom vir hulp, dat die Here hulle sal aanraak en dat elkeen gered sal word. Mense is nou so oop.
Bid asseblief vir finansies vir vliegkaartjies.
Bid asseblief vir voorrade en die aankoop van kos vir die vlugtelinge en aankoop van kragopwekkers en brandstof.
Bid asseblief vir my hierdie laaste week. My boek moet die 2 de Desember in wees by Lux Verbi en ek het nog heelwat om te skryf. Die boek se naam gaan glo “Sonneblomme en Sneeu” wees. Bid asseblief dat die Here dit sal seën en dat dit waarlik ‘n getuienis sal wees waardeur mense net nader aan die Here sal kom.
Baie liefde en seen
Michele
Projekte rekening:
Standardbank,
Lynnwood Ridge tak (met kode 012445),
rekeningnommer 014330067
in die naam Nuwe Dag
My persoonlike
besonderhede:
Capitec
MRS M POTGIETER
Savings Account Number: 1554335599
Branch: 470010
.


