Oekraïne Nuusbrief vanaf Michele – Reni Gebedsbrief Mei 2023

Liewe vriende en familie

Net gou vra, indien daar op die Gebedsbrief gereageer word, stuur asseblief ‘n epos vir my na nuwedag@gmail.com   anders gaan jou brief na almal op die gebedslys terug gestuur word. 

Dankie dat julle bid en dankie vir elke brief, oproep en bemoediging. Ek waardeer dit oneindig baie.

Die Here is so goed en getrou. 

Sondag aande is soms die moeilikste. Ek weet nie hoekom mens dan juis so verlang nie. Wanneer die duisternis soos ‘n kombers alles om mens toevou, trek verlange so hard aan my hart. Ek mis vir Ockert so verskriklik baie. Daar is soveel goed wat ek met hom sal wou deel, maar ek deel dit met my Vader en Hy versterk my elke dag. Maandag oggend is alles weer nuut en die Here gee ‘n nuwe week met nuwe uitdagings en moontlikhede. Hy kom en gee mens weer vreugde en soveel vrede. Ek sit net in stilte en wag in Sy teenwoordigheid. Hy gee skrif en Sy liefde vul my hart dat ek so veilig voel in Sy teenwoordigheid. Hy is genoeg. Sy liefde is in oorvloed en bring troos en vrede. 

Love Reni is verby en ons het soveel nuwe vriende gemaak. Ek kon van die skoolhoofde beter leer ken asook van die onderwyseresse. Drie onderwyseresse van verskillende skole het met my oor die Here gepraat en gesê dat hulle Sondae na ons aanlyn diens kyk. Een het gesê dat sy so rustig voel terwyl ons sing en dat sy die woord geniet. Sy se daar kom so vrede oor haar, wat sy nie kan beskryf nie. Dan dink ek, dit is alles die moeite werd! 

Van die skool kinders wil graag na Masada jeugkamp gaan wat vanaf 3 tot 8 Julie plaas gaan vind. Bid asseblief vir elke jongmens wat gaan, dat die Here elkeen sal aanraak.

Bid asseblief vir genoeg finansies vir Masada.

Die Here is so getrou en een vliegkaartjie na Suid-Afrika is reeds gedek! Dankie vir ons gebedsvriende wat so bygedra het. Ons waardeer dit baie. Ek en Ivan beplan om net na Masada Suid-Afrika toe te kom vir die boekvrystelling wat in Pretoria en George gaan plaasvind. In Pretoria gaan dit moontlik op 29 Julie by Highway gemeente in Centurion wees en weer 12 Augustus in George by Exclusive Books wees.  “Sonneblomme en Sneeu” is reeds op die rakke by die meeste boekwinkels soos Bargain Books, PNA en CUM boeke.  Indien dit nie by die boekwinkel naby jou beskikbaar is nie, vra asseblief of hulle dit kan bestel. 

My gebed is dat die Here verheerlik sal word op elke bladsy en dat mense se geloof versterk sal word wanneer hulle ons getuienis lees van die Here se getrouheid. 

Daar is steeds drie klein kindertjies wat by ons in Raduga bly en oorslaap. Hul ma het geboorte gegee aan ‘n 4de baba en sy het die kindertjies alleen by die huis gelos wanneer sy met vriende gaan drink het. Sosiale dienste het die kindertjies na ons gebring. Die kleinste kindjie is ‘n jaar oud en daarna twee, drie en vier jaar oud. Elke jaar het sy ‘n baba gehad. Die mamma het tot sy geboorte gegee het ook in Raduga gebly. Ons stap ‘n pad met haar en leer haar om haar kindertjies te versorg en na hulle te kyk. Na ‘n paar maande sien ons verandering in die mamma. Gaar naam is Aliona. Bid asseblief dat sy haar leefwyse sal verander. 

Bid asseblief vir ons beskerming, vir Reni en vir Lig vir die Wêreld gemeente, vir herlewing in hierdie donker tye. 

Michele Potgieter

Reni, Ukraine

Projekte rekening:
Standardbank,
Lynnwood Ridge tak (met kode 012445),
rekeningnommer 014330067 
in die naam Nuwe Dag

My persoonlike
besonderhede:
Capitec
MRS M POTGIETER
Savings Account Number: 1554335599
Branch: 470010
SWIFT code (CABLZAJJ)

Michele Potgieter
Reni, Ukraine