“Moenie traag wees in julle toewyding nie; bly geesdriftig; hou vol om die Here te dien.”
(Rom. 12: 1120)
Wat laat ons wegdrywe?
Wat laat ons wegdryf van ons geloof? Wat maak dat ons nie wil volhou om ons geloof uit te oefen nie? Dit is ‘n lewenswaarheid dat mens dikwels in moeilike omstandighede nader aan God kom. Mens besef jou tekortkominge en besef dat jy alleen staande kan bly, wanneer God met jou is! Dis asof teenspoed ‘n reserwekrag te voorskyn bring. Dit wat jy nooit eers besef dat jy het nie.
Daarteenoor is dit in voorspoedige omstandighede wat ons dikwels wegdryf van ons afhanklikheid van God af. Voorspoedige en gemaklike toestande het al meer mense geruïneer as wat moeilikheid ooit kan doen.
Ons moet daarteen waak dat ons nie in gemaklike omstandighede stadig, maar seker, wegdryf van God af nie. Ons dink so maklik dat ons self hierdie gunstige omstandighede geskep het. Ons kan self sorg dat dit goed gaan. In die proses verloor ons ons fokus op God. Daar beweeg ‘n seker traagheid in ons lewens in, wat ons volharding in ons geloof aan God kan kniehalter.
Teksverse:
“Toe sê Hy vir hulle: “O, julle wat so sonder begrip is, met harte wat traag is om alles te glo wat die profete gesê het!” (Luk. 24: 2520);
“Hieroor het ons baie om vir julle te sê wat moeilik is om te verduidelik, aangesien julle traag geword het om te luister.” (Heb. 5: 1120);
“Ons begeer dat elkeen van julle enduit dieselfde ywer sal toon om tot volle sekerheid te kom, sodat julle nie traag word nie, maar die voorbeeld volg van hulle wat deur geloof en geduld die beloftes beërf.” (Heb. 6: 11-1220)
Om wegdrywing teë te werk
Ons moet tot die besef kom dat ons moet volhard, in alle omstandighede, in ons geloof; asook ons dankbaarheid op aktiewe manier uitoefen. Ons moet nie die onvrugbare grond word, omdat die lewe ons totaal en al afstomp van ons afhanklikheid van God nie.
Ons moet die nodige vrug dra! Want God het aan ons die verlossing deur Jesus Christus laat verkry; en ook die bystand van die Heilige Gees wat die woord lewendig in ons hou. Ons moet nie afgestomp raak en nie meer God se stem hoor nie. Laat ons mekaar in liefde met geregtigheid en godvresendheid behandel.
Laat ons die belangrikheid van betroubaarheid, sagmoedigheid, en volharding besef en deel van ons lewe maak. Laat ons insig vir mekaar se laste toon, en so ons eenheid in Christus uitleef, in dankbaarheid.
Teksverse:
“Julle het inderdaad volharding nodig….” (Heb. 10: 3620);
“Let op, my geliefde broers, elke mens moet flink wees om te luister, stadig om tepraat, stadig om kwaad te word. Want die woede van ‘n mens bewerk nie geregtigheid voor God nie. Doen daarom in sagmoedigheid afstand van alle morele besoedeling en die kwaad wat gedy, en ontvang die woord wat in julle geplant is, en daartoe in staat is om julle siele te verlos.” (Jak. 1: 19-2120);
“Die saad wat in die vrugbare grond val, is daardie mense wat die woord met ‘n goeie en opregte hart aanhoor, daaraan vashou en met volharding vrug dra.” (Luk. 8: 1520);
“…en volharding lei tot betroubaarheid, en betroubaarheid tot hoop. En die hoop beskaam nie, want God se liefde is in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is.” (Rom 5: 4-520);
“Maar jy, o man van God, vlug weg van hierdie dinge! Streef eerder na geregtigheid, godvresendheid, betroubaarheid, liefde, volharding, sagmoedigheid. Stry die goeie stryd van die geloof; gryp die ewige lewe aan, waartoe jy geroep is en waarvan jy die goeie belydenis voor baie getuies afgelê het.” (1 Tim. 6: 11-1220):
“Lê juis daarom alle ywer aan die dag om by julle geloof deug te voeg, by deug, insig, by insig, selfbeheersing, by selfbeheersing, volharding, by volharding, godvresendheid, by godvresendheid, broederliefde, en by broederliefde, liefde vir alle mense.” (2 Pet. 1: 5-720)


