Oekraine – Reni Gebedsbrief Oktober 2022 – Michelle Potgieter

Liewe vriende en familie.

Die Here se koms is so naby. Hy staan al voor die deur om Sy bruid te kom haal. Ons tyd is so min om die oes in te bring. Bid vir die Here van die oes vir meer werkers in Sy land. Bid ook dat die werkers nie sal moeg word of opgee nie. Vir elke dag se werk genoeg krag.

11 Oktober sal dit ‘n jaar terug wees wat die Here vir Ockert kom haal het. Ek kan dit nie dink nie. Dit voel soos gister. Pappa Hannes en mamma Magda het vir Benjamin Cor gevra om blomme op Ockert se graf te gaan sit terwyl hy in George by Philip en Andiah kuier. Bid asseblief vir my kinders en Ockert se ouers. Dit bly maar seer en ons verlang.

Ek was verlede week in Odessa saam met Madeleine wat van Suid-Afrika bietjie kom kuier het. Terwyl ons daar was het ek net weer besef hoe geseënd ons in Reni is en hoe goed die Here vir ons is. Daar het dag en nag serenis wat afgaan. Terwyl ons daar was het ons ook skiettery en ontploffings gehoor. Daar was ‘n aantal hommeltuie oor Odessa wat Oekraine afgeskiet het en dit is ‘n geluid wat ek nie gou weer wil hoor nie. Ons het nie geweet wat om te doen nie. In Reni is dit rustig, behalwe vir ‘n man in Reni wat die week gearresteer is omdat hy vir die Russe gewerk het en kaarte geteken het van plekke om te vernietig.

Net dat almal sien hoe getrou die Here is: Die Here is so goed. Ons sukkel al vir maande lank om genoeg water by Raduga te kry sodat die brandweer tevrede is. Ons het na groot watertenk van hier tot in Izmail gesoek. Die laaste persoon wou ‘n verskriklike groot bedrag hê wat ons nie gehad het nie en dan moes ons die tenk nog van Izmail bring en daar en hier ‘n hyskraan huur om dit op ‘n vragmotors te laai. Dit alles was net ver bo wat ons kan doen. Die Here is so goed! Ons burgemeester het een oproep gemaak en vir ons ‘n 10 ton watertenk gegee. Hy het dit vir ons afgelewer en sy trekkers het ‘n gat gegrawe en vandag is die tenk in die gat! Alles, heeltemal gratis! Ek huil van dankbaarheid. Elke goeie gawe is van ons Vader. Hy is so goed vir ons. Ek prys Sy naam want Hy is so getrou. Die Here verhoor ons gebede!

Hannes-Joshua en Anastasia gaan vanaand oor die grens na Roemenië vanwaar hulle more Amerika toe vlieg. Hulle gaan vir Ockert se sussie Rynie en haar man Keith help met Christen televisie en radio. Bid asseblief dat hulle maklik oor die grense kom en betyds is vir hul vliegtuig more oggend 3 uur. Bid asseblief vir Benjamin Cor oor sy toekoms. Hy wil onder mamma se vlerk uitkom en is ook opsoek na ‘n werk by ‘n gemeente om te help met jeugwerk, maar hy mik ook Amerika toe om naby aan sy oupa en ouma en boetie te wees. Hy is nog besig met sy Teologiese studies. Cilliers en sy vroutjie Tanya is nog in Duitsland, maar hy wil ook skuif. Die lewe in Duitsland is net te duur met die salaris wat hy daar kry dat hulle nie meer kan uitkom nie, veral toe hy hoor hoeveel medies hulle moet betaal. Sy salaris as bedryfs ingenieur is net genoeg om hul woonstel te betaal en die Suid-Afrikaner vir wie hy daar werk betaal hom minder as die minimum salaris. Bid asseblief dat die Here ook vir hulle sal voorsien vir ander werk en blyplek. Bid asseblief dat elkeen van my kinders hulle plekkie sal kry.

Elke dag maak ons nog kos vir die vlugtelinge. Daar is soveel hartseer verhale. Hierdie mense het so swaar gekry.

Baie dankie vir elke gebed, vir elke bydrae en geskenk.
Dankie vir elke brief en bemoediging.

Kontak en bankbesonderhede: 

Epos: nuwedag@gmail.com,

Kontak nr: Op WA +380938126060

Bank: Capitec Rekeningnaam: Mev M Potgieter,

Takkode: 470010,

Rekeningnr: 1554335599,

Soort rekening: Spaar

— ONTHOU ASSEBLIEF: Indien u op hierdie gebedsbrief reageer en ‘n persoonlike boodskap aan ons wil stuur, om die “To” (“Aan”) te verander na nuwedag@gmail.com