Oekraïne – Nuusbrief van Michelle 8 Maart 2022

Liewe vriende en familie

Ons is veilig en alles gaan goed onder omstandighede.

Ek wil net eers jammer sê dat ek so lanklaas geskryf het.

Ek kom net nie by al die e-posse uit nie.  Dankie vir elke e-pos, bemoediging en boodskap. Ek sal elkeen nog antwoord.

Elke dag maak ons kos, deel kospakkies uit aan vlugtelinge en ook aan mense in die dorp wat nie kos het nie. Elke dag het ons gebed in die kerk.

Ons het ons gebou oopgemaak en gese dat enige iemand elke dag tussen 10 en gratis kan kom eet. Ons maak lekker Oekraiense sop, asook ‘n warm ete.  

In Reni is alles nog rustig. Ons prys die Here daarvoor. Omdat ons naby aan die grense van Moldavie en Rominie is, is hier soveel vlugtelinge in die dorp. Baie mense het net met die klere aan hul lyf gevlug, terwyl die huise langs hulle of om hulle,  raak geskiet is. Ons het ‘n gesin van 6 in ons huis ingeneem, elke dag hoor jy van nog mense wat inkom en slaapplek soek. Ons is deur mense gekontak wat ‘n weeshuis met 50 kindetjies na ons wou bring en ons het vir hulle plek in Raduga gemaak. Hulle gaan nou eers tot in Lviv ry en kyk hoe die paaie is. As alles veilig lyk, gaan hulle dalk met soldate na Reni gebring word. Maar as die paaie nie veilig is nie, sal hulle vir eers in Lviv bly. MEt ‘n gesone kar is dit ‘n 12 uur se ry, maar in ‘n konfooi met soldate kan dit baie langer neem en ons bid dat die mense wat die besluite neem, mooi by die Here sal hoor wanneer om die kindertjies te skuif en of hulle vir eers daar moet bly. Ek het gister met hul borg gepraat asook Alex wat oor hulle aangestel is. Bid asseblief vir hierdie kindertjies se veiligheid en as dit die Here se wil is dat hulle Reni toe kom, die Here hulle veilig tot hier bring.

Bid asseblief vir ons gesin. Vir Mari-Alena wat moet teruggaan Suid-Afrika toe om met haar studies voort te gaan. Bid vir Ivan, Cilliers en sy vroutjie Tanya, vir Benjamin wat hier by my is. Hulle almal wil vir nou by my bly en help waar hulle kan.Op hierdie stadium het ek nog nie planne om weg te gaan nie, maar om hier te bly vir die mense wat nou soveel nood het.  Bid asseblief vir my vir fisiese krag, genoeg rus. Ek gaan slaap baie laat, word in die nag wakker en is vroeg weer op. Daar is soveel nood, mense wat bel en vra vir kos, klere, babakos, medisyne. Partykeer bel klein Dawid. Sy mamma is ‘n paar jaar gelede oorlede en bly saam met sy ouer broer en oom en tannie wat nie die Here ken nie. Amper elke aand of deur die dag bel hy en soms huil hy omdat hy so bang is. Hy het baie keer kopseer en voel 

naar. Ek bid saam met hom, verseker hom van die Here se liefde, vertroos hom, en sit soos ‘n mamma hom in die bed, so oor die telefoon. Die volgende oggend bel hy en hy voel beter en hy is veilig! Die kinders sien al die beelde op die televisie en dit is erg. Die oorlog kan enige dag nader kom en so baie mense leef in vrees. Maar ek weet dat ons Here ‘n muur van vuur om ons is en dat Hy getrou is. Daar was vanmore gerugte dat Odessa volgende is. Odessa is so vier  ure se ry van ons. In Izmail het al van die Russe se missiele geval en dit is 50 minute van ons af. 

Binne hierdie omstandighede, hoor ons soveel getuienisse. Die mense draai na die Here toe en begin Hom soek. Soveel jaar het ons gebid vir Herlewing en nou het dit begin. Tanya, een van ons leiers vertel dat haar skoonseun altyd gese het dat hy ‘n ateis is en glad nie glo dat God bestaan nie. Een oggend die week het hulle skielik goevoel dat hulle met hul klein knidertjies hul huis moet verlaat. Hulle het in die kar gespring en begin jaag. Agter hulle is hul huis en alles daaom inmekaar geskiet, nadat hulle oor ‘n brug is, is die brug ook afgeskiet. Hulle het gejaag tot hulle by ‘n veilige plek gekom het. Eerste ding wat Tanya se skoonseun gedoen het, was om ‘n kerk te gaan soek. Hy het op sy knieë gaan staan en vir die Here dankie gese. Tanya se dogter het vir haar gese, “Mamma, ek weet nie wat met my aangaan nie. Ek het nie meer ‘n huis nie, ek het niks nie, maar ek het so groot vrede in my wat ek nie kan beskryf nie. Ek het die Here ontmoet”. Vir soveel jaar het Tanya vir jaar kinders gebid en in hierdie donker tyd, skyn die Lig helderder as ooit!

Baie liefde en seen uit Oekraine

Michele en kinders

Baie liefde en seen uit Reni.

Michele Potgieter
Reni, Ukraine