Liewe vriende en familie.
Die Here is goed. In Psalm 56:8 sê Dawid dat die Here ons trane in ‘n bottel bymekaar maak en hulle tel! (Amplified Bible) Hy gee soveel vir ons om. Verder sê Dawid, Wat kan mense aan my doen? Ons is in die holte van Sy hand. Die Here is getrou. Elke dag mis ek vir Ockert so baie. Wanneer ‘n mens ‘n paartjie sien, hand aan hand stap, hoe geliefdes mekaar groet. Ons was altyd saam. Altyd hand aan hand alles saam gedoen. Ek het nooit gedink ek gaan…Nou is my woorde op. Ek weet dat Vader elke traan tel.
Ek hou styf aan Hom vas. Soos ek vandag hier begin skryf, sit ek en Ivan erns in Berlyn in ‘n koffie winkel en wag. Ons wag vir Liz wat vroeg vanmôre, uiteindelik oor die grens is na baie lang wag. Sy is van Engeland en Corbin wat saam met haar ry, is ‘n jong seun uit Amerika. Hulle bring medikasie en hulp na Oekraine en het aangebied om vir my en Ivan saam terug te neem Oekraine toe. Hulle het ‘n klein karretjie met waentjie en dakrak vol bokse. Daar lê twee dae se pad tussen ons en Reni. Corbin en Liz dien nog nie die Here nie, maar hulle was al saam met ons in Reni na die dienste. Bid asseblief vir hulle. Ek glo nie dit is toevallig dat ons soveel ure het om saam met hulle in ‘n kar te wees nie. Ons gaan eers Lviv toe en van daar Kiev toe om humanitêre hulp af te laai. Daarna is dit Odessa en Reni. Bid asseblief dat ek en Ivan sonder probleme in Oekraine sal kan ingaan en bid asseblief vir oop deure. Daar is die grens uit Poland na Oekraine. Bid asseblief dat die Here vir ons die deur sal oopmaak. Die pad gaan vol padblokkades, soldate en tenks wees. Bid dat die Here Sy engele voor ons uitstuur.
Dit was goed om my kinders te sien. Dit was goed om onder ‘n boom te sit en roomys eet en lag oor al hulle stories van toe hulle klein was. Cilliers en Tanya bly nou in Duitsland en Mari-Alena het ook gekom. Dit was so goed vir ons almal. Mari-Alena is nou weer terug in Suid-Afrika, maar sy voel alleen. Bid asseblief vir haar.
Bid asseblief vir hierdie lang pad, vir ons beskerming wanneer ons deur Oekraïne ry. Daar was hierdie week soveel missiele wat Zatok getref het. Die plek lê tussen Reni en Odessa, aan die Swartsee.
Reni se hawe was die maand soveel keer in die nuus. Aan die eenkant is ons bly dat die hawe floreer en daar werk is vir soveel mense, maar aan die anderkant maak dit vir Reni ‘n teiken. Daar word soveel graan uitgevoer. Ons hou aan die Here se beloftes vas. Ons vertrou op Hom. Daar is steeds soveel vlugtelinge wat Oekraine verlaat en Reni toe kom. Veral nou van Odessa af. Ons gee steeds elke dag middagetes, kospakkies en klere uit.
Bid asseblief vir ons span wat elke dag kos maak vir nuwe krag.
Selfs die oorlog kon nie ons jeugleiers stop nie. Al kon ons nie hierdie jaar Masada hou nie, aangesien al die kampplekke vol is met vlugtelinge. Hulle het sommer agter in ons erf gekamp. Die meisies in die huis en die seuns in tente. Speletjies was sommer op die dorp se sportgebied. Elke aand het hulle om ‘n vuur gesing en woord gebring. Benjamin Cor en die jeugleiers het woord gebring en ek het soveel getuienisse gehoor van jongmense wat die Here opnuut aangeraak het.
Raduga is nog met groot genade oop en ons is dankbaar dat ons elke dag in soveel kindertjies se lewens kan saai.
Baie dankie dat julle aanhou bid. Dankie dat julle vir ons intree. Dankie vir elke bydrae en ondersteuning. Daar sonder kan ons niks doen nie. Die vurige gebed van ‘n gelowige het groot krag.
Wanneer ek terug kyk oor hierdie jaar, is dit met soveel dankbaarheid. Die Here het so vir ons gesorg in hierdie moeilike tyd. Alle lof en eer aan Hom. Hy is altyd getrou, altyd betyds en altyd so goed vir ons.
Baie liefde en seën
Michele
Projekte rekening:
Standardbank,
Lynnwood Ridge tak (met kode 012445),
rekeningnommer 014330067
in die naam Nuwe Dag
My persoonlike
besonderhede:
Capitec
MRS M POTGIETER
Savings Account Number: 1554335599
Branch: 470010
Whatsapp:
+380938126060
Facebook: