Oekraïne – Dringende Gebedsbrief: Michele

Liewe familie en vriende

Die Here sê in Johannes 14:27 

Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie.

Ons word vanmore wakker met die nuus dat Rusland op twee plekke Oekraine begin binneval het. Maar die Here se vrede is in ons harte. Ons weet dat Hy ons vashou en beskerm. Ek weet dat ons in Sy wil is.

Ek wil net die Here verheerlik en prys want Hy is so goed en getrou. Hy hoor ons wanneer ons bid en Hy sorg werklik vir my en my gesin. 

Ek was toe verlede Maandag, Odessa toe. 

Ek en Julia, wat saam met my gegaan het, was vroeg in die ry by die immigrasie kantore om my verblyfpermit te verleng. Ek het gedink dat ek net my verblyfpermit kan verleng en ‘n boete betaal, maar die boete is toe al die tyd, om die land te verlaat en nie gedeporteer te word nie. Ek is van gebou na gebou gestuur om net te hoor dat ek oor ‘n week uit die land moet wees. Ek het het so pap gevoel van die griep en koors en kon nie verstaan wat aangaan nie. Hoekom sou die Here die deur oopmaak om net weer dadelik toe te maak? Oral toe deure en daar was niks wat ek kon doen nie. Ek het by elke kantoor mooi gevra by elke plek verduidelik, maar niks het gehelp nie. Ek moes land uit binne 7 dae! 

 Ek en Julia het in ‘n klein koffie winkeltjie gaan sit om warm te word, te rus en te dink. My kop was so seer en ek kon nie eers die warm tee sluk nie, so seer was my keel en gevoel asof die koors al my energie gevat het. Ek moes eintlik in die bed gewees het en nou loop ek my teen mure vas. Wat sou Ockert doen in so situasie? Die Here het met my begin praat. Bel mense by wie julle guns het. Bel mense van vrede wat Ek vir julle gegee het. Ek bel eers vir Skarebregov. Hy is oor Reni en Izmail as streeks hoof en iemand wat die Here dien. Skarabregov gee toe vir my die nommer van Benjamin Ukurian wat ‘n Christen is en ‘n afgevaardigde van die staat, oor die Odessa streek. Benjamin het dadelik sy telefoon geantwoord. Hy sê toe dat hy Night to Shine fotos gesien het en sê dankie vir wat ons doen in Reni. Nadat ek hom verduidelik wat aangaan, het hy vir my gesê om hom oor 15 minute by die hoof van immigrasie se kantoor te kry. Benjamin het in die kantoor ingestap en Hy het die hoof van immigrasie soos ou vriende gegroet. Hy het vir haar begin vertel van alles wat ons deur die jare gedoen het. Van Raduga tot Love Reni. Sy het na my paspoort gekyk en na al my dokumente en gesê dat ek nie uit die land hoef te gaan nie! Ek moes net Woensdag in Izmail wees om my en Ivan se permitte te laat maak! Al was Ivan se tyd ook eintlik te min, het die mense in Izmail uit hul pad gegaan om my te help, toe hulle die hoof van immigrasie in Odessa se naam hoor! Hulle het selfs Saterdag uitgekom om ons dokumente betyds klaar te kry. Ek staan in verwondering oor hoe die Here vir ons guns gee by die owerhede! Hy is so getrou! As Hy sê dat Hy vir ons veg en vir ons intree en guns gee doen Hy dit! Ek is oorweldig met die Here se goedheid en hoe getrou Hy is aan Sy Woord. Met my God kan ek oor ‘n muur spring! 

Dit was Mari-Alena se droom om op Cilliers se troue te wees. Sy het Vrydag nog skool toe gegaan, die middag ‘n semester toets geskryf en daarna lughawe toe gejaag vir haar vlug. In Odessa wou hulle haar natuurlik nie inlaat nie. Sodra sy voor in die ry gekom het, het ‘n “kwaai Russiese tannie” vir haar gesê om weer agter in die ry te gaan staan. Sodra die mense by paspoort beheer sien dat sy van Suid-Afrika kom, stuur hulle haar om agter te gaan staan. Sy was heeltemal alleen en die hele vliegtuig se mense was al weg. Hulle het haar weer kwaai gevra of sy van Afrika is. Sy het al verstaan dat sy terug gestuur gaan word. Oekraine is steeds toe vir Suid-Afrikaners! Sy sê dat sy seker sulke groot oë gehad het en so bang gelyk het en iewers in die vrou se hart het sy vir Mari-Alena jammer gekry. Hulle het haar deur gelaat! 

Almal was verras om haar te sien! Selfs haar boeties het dit nie verwag nie! Ek is so trots op hierdie meisie wat so jonk is en alleen reis met die wete dat sy terug gestuur kan word! Sy was al vrou op die hele vliegtuig. 

Cilliers en Tanya se troue was so mooi! Ek het heeltyd voor my die klein seuntjie gesien met die goeie hart. Toe hy klein was het hy alles met sy ouer boetie gedeel. Tanya is ‘n pragtige meisie met net so mooi hart. Ek is so dankbaar vir die pragtige vrou wat die Here ook vir Cilliers gegee het. Ons het vir Ockert so gemis op die troue. Ek kan net dink hoe Ockert sou huil van vreugde en bly om sy seun gelukkig te sien. Cilliers het trane afgevee toe hy vir Tanya in die paadjie sien afstap. Hulle is al maatjies vir meer as 7 jaar. Toe hulle albei gaan studeer het, het hulle besluit om vir twee jaar geen kontak met mekaar te hê nie en daarby gehou. Toe hulle mekaar weer sien het hulle net geweet…

Raduga kinder sentrum was hierdie week weer in die hof in Odessa. Olga, ons hoof se broer het die hofsaak gaan bywoon. Ons het een punt op die brandweer se lys nie in orde nie. Daar behoort ‘n plek op die terrein te wees waar die brandweer hul waterpype kan koppel wanneer nodig. Dit behoort die dorp eintlik te voorsien, wanneer waterpype aangelê word. Die waterdruk in die krane is baie laag, daarom moet ons drie 1000 liter houers aankoop vir water. Dit moet binne die volgende week gedoen word anders maak hulle ons toe. Raduga se finansies is in die rooi. Meer as die helfte van die kindertjies het reeds nie borge nie en ‘n gemeente wat 16 kindertjies vir baie jare ondersteun het, het die week geskryf dat hulle dit nie meer kan volhou nie. Baie mense het hul werk verloor in die tyd en baie gemeentes trek swaar. Ons is verskriklik dankbaar vir die gemeente wat 26 jaar Raduga so getrou ondersteun het. 

Bid asseblief dat die Here verder sal voorsien. 

Op hierdie stadium saai ek alles wat ek het in die bediening en Raduga en weet nie hoe lank ek dit sal kan volhou nie. Bid asseblief dat die Here sal voorsien in elke behoefte, vir Raduga, Love Reni, die anti aborsie kliniek, hulp vir bejaardes en elke ander bedieninge. Dit is net te veel vir my en te groot, maar ek weet dat alles aan ons Vader behoort en dat Hy sal sorg. As Raduga moet voortgaan sal Hy ‘n deur oopmaak en voorsien. Ons Here is getrou.

Tannie Sofia vertel my van ‘n bejaarde vroutjie wat hulle verlede week gaan besoek het. Sy woon in ‘n klein kamertjie, so groot soos ‘n gangetjie, in ander mense se huis. Sy het geen familie nie. Daar is ‘n gat in die dak en sy het geen verhitting nie. Sy het net ‘n stoeltjie waarop ‘n plaat staan waarop sy kos maak en ‘n bedjie. Dit is al. Sy sit heeldag in die hoekie van haar kamer en probeer warm bly. Sofia se dat sy nog nooit iemand gesien het wat in sulke omstandighede woon nie. Sofia het haar na haar eie huis genooi om te kom bad en vir haar te help klere was, maar die vroutjie wou niks weet nie. Sy is net te skaam. Sofa en ons groepie wat bejaardes besoek het vir haar kos geneem en ‘n verwarmer aangebied. Sy sê toe dat sy die elektrisiteit nie kan bekostig nie en dit van die hand gewys. Ons wil haar graag help met haar elektrisiteit rekening en kos tot na die winter. 

More is daar ‘n dag van vas en gebed deur die hele Oekraine by al die Christen kerke vir vrede in Oekraine. Bid asseblief saam. Die Here kan hierdie oorlog stop.

Baie liefde en seën uit Reni

Michele

E-pos: Nuwedag@gmail.com 

Whatsapp: ±380938126060

Persoonlik:

Capitec

MRS M POTGIETER

Savings Account Number: 1554335599

Branch: 470010

Projekte rekening:

Standardbank,

Lynnwood Ridge tak (met kode 012445),

rekeningnommer 014330067 

in die naam van “Nuwe Dag”.