Liewe vriende en familie
Hierdie is ‘n ander wêreld as wat ek en Ockert saam geken het, ‘n ander Reni en ‘n ander Oekraine.
Die sorgelose dae van twee jaar gelede is vergete en om ons is daar oorlog, hartseer en soveel vrees. Ek ry Reni alleen binne en in my geestesoog sien ek die Reni van jare gelede. Die dae van vrede en vry wees. Die laning bome in die laatmiddag son. Vrede, rustigheid. Nou is dit padblokkades, soldate, gewere en loopgrawe. Groot yster versperrings in die paaie wat soos dubbeltjies oor die pad verstrooi is en waardeur jy stadig moet vleg. Die vragmotors wat by die hawe wag, trap diep modder spore langs die pad en versper die bad buite Reni. Soms sit ons vir twee ure voor ons Reni kan binne ry.
Dit is ‘n ander wêreld. Ek leer om boontoe te kyk. Om oor dit alles te kyk en my vrede te soek in die Here in ‘n tyd van oorlog. Om te bly staan en in geloof op die water te loop. Ek leer om te vertrou en op te kyk om elke sonsondergang te waardeer en nie in die modder en hartseer om my vas te kyk nie en om hoop te bring in Jesus en vrede uit te spreek oor die wat bitter en sonder hoop is.
Ons skuil onder die vlerke van die Allerhoogste. Hy bly getrou en Ek weet dat Sy arms om ons is en dat Hy ons beskerm. Ons vertrou net in Hom en leer om ons oog net op Hom te hou en nie na die golwe om ons te kyk nie.
Van die vlugtelinge vanuit het alles verloop. Man, kinders, huise staan nie meer nie. Van hulle is kwaad vir die lewe en bitterseer. Elke dag kom eet hulle by ons saam met soveel ander wat alles verloor het. Hulle pak uit en huil en verwoord hoeveel soveel ander se voelens. Ek vertel van Jesus se liefde, van ‘n Vader wat haar styf vashou en soveel vir hulle omgee. Van Jesus wat Sy lewe vir hulle gegee het en nou vir hulle sorg. Van die vyand wat kom steel, doodmaak en verwoes. Dag na dag, maand na maand sien ons ‘n verandering. Harte word sagter, hulle kry weer hoop. Ons bly waarheid saai. Die Here is getrou en dra ons. Hy hou ons styf vas.
Soms spoel die verlang soos ‘n golf oor my kop en soms vergeet ek net. Dit is makliker so. Partykeer gaan ek dae net aan sonder om te diep te dink. Party dae moet ek my verlang en mis in die oë kyk en dit hanteer, maar ek wil nie daardie paadjie afloop nie, ek vermy dit. Wanneer ek dit wel doen kom die Here en vertroos my en hou my vas. Hy is so getrou en gee elke dag nuwe krag en vreugde.
Ons is nou in die middel van Love Reni. Elke dag die afgelope week het ons skole besoek. Elke skool ontvang ons met ope arms, behalwe een skool. Die hoof was vriendelik, maar ongemaklik en het verskoning gemaak dat hulle te besig is om die jaar aan Love Reni deel te neem. Hy het gese dat die kinders nie aan Love Reni wil deelneem nie en hulle nie belangstel om in die video-kompetisie deel te neem nie. Maar die kinders het vir ons gese dat hulle baie graag wil deelneem. Eers later het ons uitgeving dat die priester van daardie dorpie se Ortedokse kerk, teen ons kerk is en teen Love Reni is. Hy regeer die dorpie en daarom was die hoof so ongemaklik.
In Limanskaya se die hoof gister vir my, “Dankie dat jy met Ockert se werk voortgaan. Love Reni is al waarna ons kinders elke jaar uitsien.”
Vrydagaand die 12de Mei gaan die Gala konsert en prysuitdeling vir die wen-video in die park plaasvind. Bid asseblief dat die Here die geleentheid sal seen.
Die 19de Junie begin Masada jeugkamp. Ons is reeds besig om te beplan en bid dat die Here dit ook sal seen. Ons beplan in geloof. Ons loop op die water. Ons het huidiglik nie die finansies vir Love Reni se prysuitdeling of vir Masada jeugkamp nie. Bid asseblief saam met ons.
Maandag het die streekshoof my uitgenooi na ‘n Gebedsonbyt wat gereel is vir die volunteers in Izmail streek. Daar was priesters met lang swart gewade en hoë hoofbedekkings asook soldate en belangrike parlementslede. Ek het so klein soos ‘n wurmpie gevoel toe hulle my vra om ‘n gebed in Oekrainies voor te lees. Dit het gevoel asof my hart het amper by my keel wou uitgespring terwyl en lees, so bang dat ek reg lees en dat mense sal verstaan. Ek kon net voel hoe die here oorvat en was baie bly toe dit Psalm 91 is, wat ek eintlik uit my kop, of liewer hart ken. Ek kon voel hoe die Here my versterk en alle vrees wegneem.
Vir die eerste keer in 27 jaar het ek die hospitaal in Reni as pasient besoek. Die dokter het vermoed dat ek ‘n maagseer het en het my ‘n kameratjie laat sluk. Die medies hier lyk steeds soos iets uit ‘n ou film, net na die tweede wêreldoorlog. Kaal grys gange met dowwe ligte. Na my besoek aan die hospitaal was ek vir ‘n week buite buite aksie. Die hele ervaring was vir my nodal traumaties en dankbaar dat dit my eerste keer was wat ek die hospitaal nodig gehad het na 27 jaar.
Bid asseblief vir gesonheid en krag.
Mense vlug uit Odessa. More 9 Mei, is ‘n belangrike dag hier in Oekraine. Dit is “Oorwiningsdag” en word gevier. Vandag word daar blomme neergele in die park vir die soldate wat gesterf het. Bid asseblief vir more. Die afgelope paar dae is dit asof hulle van vooraf op al die stede skiet. Gister en vanmore was daar ontploffings in Odessa en Zatoka wat so 2 ure van ons af is. Bid ook oor die Zaporizhzhia aanleg, waar mense gevra is om die naby gelee gebiede onmiddelik te verlaat.
My boek, “Sonneblomme en Sneeu” wat deur Lux Verbi uitgegee word, sal 31 Mei op die rakke wees. Bid asseblief saam dat die Here dit sal seen en dat mense wat dit lees aangeraak word, dat hul geloof versterk word deur die getuienisse daarin. Ek en Ivan vlieg D.V. einde Junie na Suid-Afrika vir die boekvrystelling. Bid asseblief ook vir finansies vir ons persoonlik en vir vliegkaartjies.
Dankie dat julle bid en intree. Dankie vir elke bydrae, ons waardeer dit oneindig baie. Ek weet dat die vurige gebede van ‘n gelowige groot krag het.
Liefde en seën
Michele Potgieter
—
Michele Potgieter
Reni, Ukraine
https://www.facebook.com/michele.potgieter
Whatsapp: +380938126060
Projekte rekening:
Standardbank,
Lynnwood Ridge tak (met kode 012445),
rekeningnommer 014330067
in die naam Nuwe Dag
My persoonlike besonderhede:
Capitec
MRS M POTGIETER
Savings Account Number: 1554335599
Branch: 470010


