Oekraïne: Michelle se Nuusbrief 13 Februarie 2022

Liewe vriende en familie

Dit is wonderlik om terug te wees in Oekraine. ‘n Week is verby en daar het so baie gebeur.

Dit was ook moeilik en goed om in ons huis te wees.  Dit is ‘n groot aanpassing om self al die besluite te neem.

Nou verstaan ek eers hoe maklik die lewe met Ockert was.  Hy het alles gereel en ek het net saamgery. Maar ek leer om meer en meer my Vader se stem te hoor en Hom te gehoorsaam. 

Ek wou Ockert kas uitsorteer. Ek het dit oopgemaak en net weer toegemaak. Dit is net te moeilik.

Night to Shine was ‘n groot sukses! Ons prys die Here daarvoor. Baie lewens is aangeraak en Jesus se liefde is op soveel maniere gewys deur die loop van die aand. Daar was so 40 gestremde mense van Reni en omliggende dorpies. Elkeen het ‘n volunteur van die kerk gehad wat die aand met hom deurgebring het. Ons het die evangelie deur woord, ‘n drama deur die jongmense en liefde gewys. Light Cafe het die kos gemaak en baie keurig voorgesit. Meisies van One touch Studio, het elkeen se hare mooi gemaak en die plaaslike blommewinkel het vir elkeen ‘n ruikertjie gemaak. Vir die om seuns om aangesteek en vir die meisies om hulle polse. Die eerste jaar maak Tim Tebow foundation dit moontlik vir gemeentes om ‘n rooi tapyt aan te koop met paaltjies en al. Hulle voorsien genoeg vir die kos en alle uitgawes, maar hierdie bedrag word elke jaar kleiner en hierdie jaar moes ons inspring om alles op dieselfde vlak te hou as die eerste jaar, met sakke geloof en baie gebed. Van hier af moet ons nog borge soek om voort te gaan. Die Here weet reeds wat ons nodig het, nog voor ons vra. 

Net voor Night to Shine begin het, het ek huistoe gekom om gou te kom regmaak. Ons kar is stukkend so ek soek oral ‘n geleentheid wanneer iemand my kan kom aflaai of kom haal. Terwyl ek regmaak, bel Vera en sê dat die persoon van die lemosine al daar is en sy betaling wil hê. Ek het op die bed gaan sit en nie geweet wat om te doen nie. Al die kaarte is leeg. Tim Tebow se finansies het vir die kos gegaan en my persoonlike Capitec kaart is al vir ‘n paar dae onbruikbaar om kontant te trek. Wanneer ek hom insit, is daar dadelik die boodskap dat die limiet oorskry is, al het ek nog niks die dag getrek nie. ‘n Minuut later terwyl en nog so sit en dink/bid bel Benjamin my. Hy vra my om batterye te bring vir die mikrofoon en voor hy neersit sê hy, “Onthou om onder die koppie te kyk op die glas tafeltjie. Ek het vergeet dat hy die oggend by die saal vir my gese het, dat ek onder die koppie moet kyk in die kamer. Ek staan op en lig die koppie op. Daar voor my lê ‘n 200 $ en ons het presies nog 150 $ nodig om Night to Shine te hou! “Ek het dit vir Mamma daar gelos as Mamma dalk iets nodig het”.  Voor ek nog kon vra, het die Here klaar voorsien. Ek staan net in verwondering oor Sy goedheid en voorsiening! Sommer so voor my, binne my bereik! Benjamin en nog van die jongmense in die kerk, het vir ‘n  Amerikaanse logistieke firma, oor die internet begin werk. Hulle “laai vragmotors” in Amerika. Hulle is nou 3 wat nou werk en later die jaar gaan nog 5 bykom. Ons is bly dat daar sulke geleenthede vir ons jongmense is en dat hulle nie soos in die verlede verweg na ander lande hoef te gaan werk soek nie.

More oggend moet ek Odessa toe gaan om te probeer om my verblyfpermit te verleng. Ek kon darm in die land kom, maar die tyd om dit te verleng vat 15 werksdae. Hulle het gese dat ek moet wag tot dit verval en dan gaan ek of ‘n boete betaal, of hulle kan vir my sê om die land te verlaat. More oggend 6 uur ry ek. Bid asseblief vir guns en die Here se wil. Soos ek hier sit en skryf het ek hoofpyn, koors en ‘n baie seer keel. Ek voel pap en sonder energie. Ek weet nie hoe ek dit more tot in Odessa gaan maak nie. Dit is so 4 ure se ry en daar in toue staan. Buite is dit nog baie koud. Bid asseblief vir genesing en fisiese krag.

Bid asseblief vir vrede vir Oekraine. Heelwat mense voorspel dat Rusland moontlik of die 17de of die 20ste Februarie, Oekraine sal inval. Rusland het Krimea op die 20ste Februarie oorgevat. Cilliers en Tanya se troue is D.V. op die 20ste. 

Een ding weet ek. Ons is onder Sy vlerke. Geen onheil sal naby ons woning kom nie. Ons vertrou die Here. Ons lewens is in Sy hand. 

Baie liefde en seen.  

Michele Potgieter

Reni, Ukraine